Volmaakte God, volmaakte Bybel?

Udo,

As die eerste outeur van die Bybel, ’n volmaakte God is, dan moet die Bybel mos ook volmaak wees? Nie waar nie?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die verwysing na ‘n “volmaakte Bybel” is vanuit ‘n menslike perspektief baie problematies. Wat is ‘n “volmaakte Bybel”? Aan wie se standaarde van volmaaktheid moet die Bybel voldoen? Waarom kan die kompleksiteit waaronder die Bybel tot stand gekom het (gegewe dat dit nie bloot uit die hemel geval het nie) nie presies wees hoe ʼn alwetende en almagtige God dit beplan het nie?

As dit God se doel was om met die Bybel wat ons tans het, diegene te bereik wat bereikbaar is, waarom moet ons besorg wees oor of daar dalk eerder ‘n ander Bybel moes gewees het as God geweet het dat geen ander Bybel in staat sou wees om álmal te bereik nie (m.a.w. nie almal sou dit aanvaar nie)? As dit die geval is, as dit bereik wat God daarmee wil bereik, dan is die Bybel volmaak vanuit God se perspektief en nie omdat dit aan een of ander mens se standaard van volmaaktheid voldoen nie.

Daar is talle voorbeelde van hoe dieselfde Bybel wat vir een persoon so onbetroubaar is, deur God gebruik word om ʼn ander te oortuig met die lewensveranderende boodskap daarin en waarby talle mense boonop goeie getuienis vind wat juis die betroubaarheid daarvan ondersteun.

Die argument veronderstel eintlik dat dit vir ‘n volmaakte God (as eerste outeur) onmoontlik is om onvolmaakte mense (as sekondêre outeurs) te gebruik om sy spesifieke doelstellings te bereik. Die aanname is daarom verder dat as ons moet moeite doen om sekere dele van die Bybel en die Bybel as geheel, reg te verstaan (met goeie hermeneutiese metodiek), en as die Bybel deur mense geskryf is met hul eie unieke perspektiewe, motiverings en kontekste, dan kan niemand werklik weet wat God vir ons deur die Bybel probeer sê nie.

Dit impliseer eintlik dat God glad nie aan mense kan kommunikeer nie, want enige kommunikasie, skriftelik of selfs deur direkte verbale inset (selfs ‘n stem uit die hemel – sien bv. Joh 12:28-29 en mense se verskillende reaksies daarop), is onderhewig aan interpretasie. En waar daar mense is wat interpreteer gaan daar verskille wees oor hoe iets verstaan moet word. Maar sou iemand daarom wou aanvoer dat dit regtig onmoontlik is vir enigiemand om werklik te verstaan wat met bepaalde kommunikasie bedoel word, net omdat sommige dit nie verstaan nie of dalk nie wil verstaan nie?

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.