Het ons die wederkoms gemis?

Hallo Udo

In Matteus 16:28, Lukas 9:27 en Markus 9:1 sê Jesus dat party van die mense met wie Hy gepraat het, nie sou sterf voordat hulle die koninkryk van God sien kom het nie. M.a.w. dit klink asof Jesus se wederkoms in die leeftyd van die mense met wie hy gepraat het sou plaasvind.

Dus my vraag: Het die wederkoms reeds plaasgevind en indien wel, hoe het ons dit dan gemis as dit veronderstel was om met die oordeelsdag saam te val (2 Tessalonisense 1:6-7, Judas 1:14-15, Judas 1:21, Openbaring 22:12)? Of indien die wederkoms nog nie plaasgevind het nie, het die Evangelie-skrywers Jesus dan verkeerd verstaan oor wanneer hy weer sou terugkeer? (Ek neem hier aan dat Jesus, as die Seun van God, nie valse voorspellings sou maak of doelbewus gelieg het nie.)

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Nee, ons het nie die wederkoms gemis nie, en interessant genoeg het die apostel Paulus juis gewaarsku teen diegene wat in sy tyd al gesê het dat die wederkoms reeds plaasgevind het (sien 2 Tessalonisense 2:1-3).

Dis ook nie die geval dat die Evangelie-skrywers Jesus verkeerd verstaan het nie. Die probleem lê by twee haastige aannames wat mense dikwels maak wanneer hulle hierdie gedeeltes lees. Die eerste gaan oor die betekenis van die term “die koninkryk van God wat kom” en die tweede gaan oor presies wie die mense is waarna Jesus verwys as “party van dié” wat die koninkryk van God sou sien voor hulle sterf.

Lukas 17:21 help ons om die term “koninkryk van God” te verstaan. Wat was Jesus se antwoord toe die Fariseërs vir hom gevra het oor wanneer die koninkryk van God sou kom? Jesus se antwoord was dat die koninkryk van God reeds daar by hulle was. Hy het dus na homself verwys as die koningryk wat gekom het – wat in ooreenstemming is met Jesus se woorde by ‘n ander geleentheid:

Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Lukas 11:20)

In Matteus 3:2 praat Johannes die Doper van die “koninkryk van die hemel wat naby gekom het” en daarmee word spesifiek na Jesus verwys (die ‘koninkryk van die hemel’ was vir die Jode sinoniem met ‘koninkryk van God’). M.a.w., met Jesus se geboorte het die koningryk van God op aarde aangebreek in die sin dat Jesus as die koning op aarde teenwoordig was.

Let egter op dat in dieselfde gesprek met die Fariseërs in Lukas 17 verwys Jesus ook na homself as die Seun van die mens wat ook in die toekoms gaan kom (Lukas 17:24-37). Soos met die Fariseërs het Jesus ʼn soortgelyke gesprek met sy dissipels in Lukas 9 oor sy terugkeer sowel as die feit dat hyself die koninkryk van God is wat reeds gekom het. Oor sy wederkoms sê hy vir sy dissipels die volgende:

Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. (Lukas 9:26)

Hierdie gedeelte verwys spesifiek na sy terugkeer êrens in die toekoms (sien veral Matteus 24:30-31, Markus 14:62) en hoe dit met heerlikheid sal geskied (sien ook Filippense 3:20, Kolossense 3:4, 1 Tessalonisense 2:8 en Titus 2:13).

En dan gaan Jesus verder:

Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.” (Lukas 9:27)

Nou, wat weet ons reeds van die term “die koninkryk van God” volgens Lukas 17 en ander gedeeltes? Wel, dat dit reeds gekom het en dat Jesus na homself verwys. So wanneer Jesus praat van die ‘koninkryk van God’ wat sommige van diegene wat daar staan sal sien (v. 27), dan gee dit ons rede om baie versigtig te wees en nie onmiddellik tot die gevolgtrekking te kom dat Jesus verwys na wanneer die Seun van die mens kom soos die vorige vers (v. 26) aandui nie. In sy gesprek met die Fariseërs het hy ʼn baie duidelike onderskeid getref tussen hierdie twee dinge, so waarom sou dit nie hier ook die geval wees nie?

Die vraag is egter: as mense dan reeds die koninkryk van God wat gekom het kon sien (in die persoon van Jesus), waarom sê Jesus dat daar sommige is wat die koninkryk sal sien kom voordat hulle sterf, so asof hulle deur na hom te kyk, nie reeds die koninkryk sien nie. Die antwoord op hierdie vraag lê in die direk daaropvolgende verse 28-36.

Lukas 9:28-36 wat onmiddellik op vers 27 volg beskryf Jesus se verheerliking op die berg. Jesus, in sy wysheid, wou spesifiek net aan sommige van dié wat daar gestaan het (by name, Petrus, Johannes en Jakobus) demonstreer hoe die heerlikheid waarmee hy beklee gaan wees by sy koms as die Seun van die mens waarvan hy in vers 26 gepraat het, sou lyk. M.a.w. net hulle sou ʼn voorsmaak van die koninkryk van God in heerlikheid kry, net soos dit sal wees by sy terugkeer. Daarom dat hierdie drie dissipels die voorreg gegun was om te sien en ervaar hoe Jesus saam met Moses en Elia in “hemelse glans” aan hulle verskyn (v.31) en hoe “die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit” (v. 29) geword het. Al die ander dissipels wat daar gestaan het sou uiteindelik sterf sonder dat hulle die koninkryk van God in hierdie heerlikheid sou sien; dis slegs drie van die dissipels (d.i., party van dié wat daar gestaan het) wat Jesus se heerlikheid sou sien!

Interessant genoeg maak die einste Petrus later in sy brief spesifiek melding van die verheerliking op die berg en trek presies dieselfde verband tussen Jesus se heerlikheid en majesteit by die berg van verheerliking, en Jesus se wederkoms (sien 2 Petrus 1:16-17):

Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

Petrus het Jesus se heerlikheid eerstehands gesien (terloops, ook Johannes verwys hierna, sien Joh. 1:14), en daarom kon hy met gesag praat van die wederkoms van Jesus en die krag waarmee dit sou gepaard gaan. (Sien byvoorbeeld al die ander gedeeltes waar Petrus, soos in 2 Pet. 1:16, na die wederkoms van Jesus verwys: 1 Petrus 1:5, 1 Petrus 1:13, 1 Petrus 2:12, 1 Petrus 4:13, 1 Petrus 5:4, 2 Petrus 3:3, 2 Petrus 3:10.)

Markus, volgens tradisie, was die Evangelie-skrywer wat ʼn metgesel van Petrus was (sien bv. 1 Pet. 5:13) en dus heel waarskynlik vir Petrus as sy primêre bron geraadpleeg het in die skryf van sy Evangelie. Dit is dus nie toevallig nie dat beide Markus en Petrus spesifiek die woord “krag” gebruik (in teenstelling met Matteus en Lukas) in verwysing na die verheerliking op die berg:

  • Markus 9:1: “gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het”
  • 2 Petrus 1:16: “die krag van ons Here Jesus Christus…met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien”

Om op te som. Jesus het aan die Fariseërs gesê dat daar nie voortekens was dat die koninkryk gekom het nie. Daar was egter bevestigings dat die koninkryk gekom het, naamlik die doop van Jesus (ʼn publieke gebeurtenis) en Jesus se verheerliking op die berg (ʼn private gebeurtenis waarby slegs drie dissipels betrokke was). In beide hierdie gevalle is Jesus as die Seun van God deur ʼn stem uit die hemel bevestig.

Jesus het sy verheerliking op die berg gebruik as ʼn kragtige bevestiging aan Petrus, Johannes en Jakobus (die enigste drie wat nie sou sterf voordat hulle die koninkryk van God op so ʼn kragtige manier sou sien nie) van hoe sy terugkeer in die toekoms sal geskied – met dieselfde krag en heerlikheid.

Ek sluit af met die woorde in Hebreërs 9:28:

“As [Christus] die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.”

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.