Jesus en Superman

Ek het ‘n vraag. Dis aangaande iets wat besig is om my binneste op te eet. En ek wil weet hoe ek, as Christen, ‘n verskil kan begin maak in hierdie stad waar ek tans werk.

Twee dae gelede het die daaglikse Metro-koerant ‘n dubbelblad skildery gehad van Jesus en Superman in ‘n vurige omhelsing (sien hier).  Een – EEN! – mens het die guts gehad om vir die koerant te skryf, en te sê hy vind die skildery uiters “offensive and evil.” Vandag is die reaksie oorweldigend en aanvallend: “You’re actual complaint is that you find the picture of two men kissing, offensive and evil.” “How could you find a picture of two fictional characters kissing offensive?” Ens. ens. ens.

Ek probeer hard om nie te huil nie. My hart breek vir hierdie mense wat so, so blind is. Maar erger nog: ek voel of ek die Een vir wie ek sê ek die liefste het, verraai. Want hoe verdedig ek Hom? Hoe kan ek vir Hom opstaan en nie soos so baie ander my rug draai en hoop dit gaan weg nie? Hoe sal ek reageer as ek so iets sien/lees aangaande een van my ouers?  Wat doen ek?

Casting Crowns se liedjie draai al heeloggend in my kop:

“But if we are the body
Why aren’t His arms reaching?
Why aren’t His hands healing?
Why aren’t His words teaching?
And if we are the body
Why aren’t His feet going?
Why is His love not showing them
There is a way…?”

Ek voel soos ‘n baie lam, baie nuttelose liggaamsdeel op die oomblik…

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Daar is vir my twee belangrike vrae in die gedeelte wat jy geskryf het: Hoe is ons getrou aan die Here wanneer ons met sekere dinge in vandag se lewe gekonfronteer word en hoe reik ons uit na mense wat die Here nie ken nie, of, nie wil ken nie?

Ons is getrou aan die Here wanneer ons, as ons dinge sien wat ons Christelike geloof en waardes verdraai of aanval, nie maar net, soos jy tereg opmerk, te hoop dat dit sal weggaan nie. Ons behoort beslis daarop te reageer. Maar hier is die uitdaging: hoe ons daarop reageer gaan grootliks bepaal of mense ons as reaksionêre sentimentaliste ervaar, of as mense met ‘n intelligente en deurdagte standpunt wat verdien om gehoor te word. Wanneer ons na mense uitreik wil ons tog hê dat hulle na ons sal luister. Natuurlik beteken dit nie dat mense noodwendig ons antwoorde of standpunte gaan aanvaar nie. Dit beteken wel dat ons ander nietemin met respek en integriteit sal benader, selfs al bewys hulle nie dieselfde aan ons nie. Sonder hierdie respek en integriteit kan ons nie hoop om ‘n impak in die lewens van mense te maak nie.

Die skildery wat in die advertensie verskyn het, is beslis ‘n geleentheid om betrokke te raak by mense en die idees waaraan hulle glo. Kuns het die inherente vermoë om sterk emosie by ‘n mens uit te lok. Vir ‘n Christen is die emosie wat die skildery van Jesus en Superman se omhelsing uitlok, natuurlik baie akuut. Ons eerste reaksie is om woorde soos “offensive” en “evil” te gebruik en dan te dink dat ons Jesus teen ‘n immorele of ateïstiese wêreld verdedig het. Maar om bloot net ons emosies op mense uit te blaker lyk vir baie mense soos ‘n twee-jarige se tantrum. En hoe hanteer ‘n mens so ‘n kind? Hy kry ‘n raps op die boud of word bloot geignoreer!

As ons mense wil aanspreek, maar dan eintlik net ‘n emosionele tirade voer, dan moet ons nie verwag om ernstig opgeneem te word nie. Ek probeer nie sê dat ons ons eie emosies moet onderdruk of dit vir ander wegsteek nie. Wat egter beter sal wees is om eers vir ‘n oomblik bietjie terug te staan vir beter perspektief en te vra: wat is eintlik hier aan die gang?

Wanneer ons dit doen dan besef ons gou dat alle kunstenaars, soos elke ander mens, ‘n bepaalde wêreldbeeld het wat hulle soos ‘n bril dra waardeur hulle na die lewe kyk. Dit beteken dat hierdie kunstenaar deur wat hy geskilder het, daarin geslaag het om uitdrukking te gee aan ‘n bepaalde manier van kyk na die lewe (heel waarskynlik verteenwoordigend van sy eie wêreldbeeld). Daarom is daar twee goed wat my onmiddellik opval en wat die kunstenaar na my mening baie goed reggekry het. Eerstens is die identifikasie van Jesus met Superman teen ‘n bepaalde agtergrond, so asof hulle in ‘n ruimtelose, suurstoflose niks hang – ‘n uitstekende uitbeelding van hoe baie mense dink dat Jesus ook maar net ‘n fiktiewe karakter soos Superman sou wees. Jesus het dus, net soos ‘n Superman wat nie regtig bestaan nie, nie werklik enige Goddelike eienskappe gehad nie (daar kan selfs ‘n suggestie wees dat hy selfs as mens ook net ‘n fiktiewe historiese figuur was). Tweedens is die omhelsing en soen van die sentrale figuur in die Christelike geloof, bedoel om as kragtige protes te dien teen ‘n deel van Christelike moraliteit wat baie mense onaanvaarbaar vind.

Natuurlik kan ek as Christen myself hoegenaamd nie met hierdie kunswerk of die idees daaragter identifiseer nie. Ek kan en moet egter probeer verstaan hoekom ander mense so doen. Bogenoemde observasies (en ander) vorm deel van die onderliggende elemente van ‘n bepaalde wêreldbeeld en is die basis vanwaar ‘n mens op intelligente wyse met iemand in gesprek kan tree. So byvoorbeeld is die vraag oor die identiteit van Jesus (asook die bestaan van God) iets wat in die gemoed van baie mense leef en behoort op ‘n sinvolle en eerlike manier aangespreek te word. Ook is die kwessie van homoseksualiteit iets wat vir baie mense al baie pyn veroorsaak het. En ongelukkig het die kerk in die breë hieroor nie ‘n goeie reputasie van ondersteuning en begrip nie. Mense het nodig om te hoor hoe ‘n verantwoordelike omgang met die Bybel hierdie kwessie aanspreek, sonder dat hulle die gevoel kry dat Christene bloot dogmaties, homofobies, veroordelend en liefdeloos is.

Die Here wil hê dat ons getrou sal wees deur op te staan vir wat ons glo. Dit beteken dat ons op intelligente wyse aan ander sal kan verduidelik wat ons glo en hoekom dit redelik is om so te glo. Dit beteken ook dat ons na ander mense met belangstelling en omgee sal uitreik, selfs al word ons geaffronteer deur wat hulle doen en sê. Mense mag op die ou end steeds nie ons boodskap aanvaar nie. Maar dit mag nie so wees omdat hulle nie kon hoor wat ons sê omdat ons so vasgevang was in ons eie emosionele reaksies nie. Mag die Here ons dus die krag en wysheid gee om op ‘n bedagsame manier ‘n verskil in die wêreld te probeer maak.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.