Nie alle vrae verdien ‘n antwoord nie

Nie alle vrae verdien ‘n antwoord nie

Die onderstaande is ‘n voorbeeld van kommentaar en vrae waar Christene liefs onderskeiding aan die dag moet lê wanneer hulle met ‘n vyandige reaksie te make het. Christene behoort alle idees sorgvuldig te kan evalueer en dan ‘n gepaste antwoord daarop kan formuleer. Wanneer hierdie idees en die evaluasie daarvan egter in die konteks van ‘n verhouding of persoonlike gesprek weergegee word, dan is dit nie altyd voor die handliggend dat alle mense regtig oop is om na ‘n gespreksgenoot te kan of wil luister nie. Ons moet altyd bewus probeer wees van ‘n gesindheid by mense wat nie werklik in respekvolle dialoog belangstel nie. Anders gebeur dit alte maklik dat ons voor die versoeking swig om met sulke mense in sinlose argumentasie betrokke te raak waar gemoedere hoog loop, maar waar geen opbouende gesprekvoering plaasvind nie. Christene probeer nie in die eerste plek argumente wen nie, maar stel hulleself beskikbaar as instrumente om deur God gebruik te word in die lewens van mense wat eerlik opsoek is na Hom, mense wat nederig genoeg is om te erken dat ons altyd by ander iets kan leer.

Die volgende aanmoediging uit 2 Timoteus 2:23-25 (God’s Word) is gepas:

“Don’t have anything to do with foolish and stupid arguments. You know they cause quarrels. A servant of the Lord must not quarrel. Instead, he must be kind to everyone. He must be a good teacher. He must be willing to suffer wrong. He must be gentle in correcting those who oppose the Good News. Maybe God will allow them to change the way they think and act and lead them to know the truth.”

Die artikel “Bekende ateïs verander sy opinie” het betrekking:

Mmmm ja. Wat kan mens sê? Die meeste mense bo 75 is in een of ander staat van seniliteit, en julle maak groot gewag van 1? Verder lees ek nie op hierdie blad ‘n dooie woord oor die geskatte gemiddeld van ten minste een per dag voorheen gelowige wat alle idees oor God en gebod oorboord gegooi het nie? Winkelsmidt.

Beste Winkelsmidt

Jou antagonisme is tasbaar. Mag ek net reageer deur te sê dat seniliteit, statistiek of iemand se persoonlike geloofsoortuiging, geen argument is vir of teen die bestaan van God nie.

Groete
Udo

Liewe Udo,

Ek is al te oud om platgeslaan te word met antwoorde soos gewaande antagonisme. Ek vertel jou maar net hoe dit werklik is. Eensydige en ondeurdagte beriggewing is al so 30 jaar uit die mode.

Nie my skuld as jy agter ‘n god se onderrok wil skuil net omdat jy nie antwoorde het nie.

So, wanneer gaan jy op Antwoord skryf van die aantal mense wat deesdae die kerk en godsdiens verlaat?

Ek sien jy soek ‘n argument vir die bestaan van ‘n god? Vigs. Grootste argument as bewys dat daar nie so iets is nie. Kort op die hakke daarvan – natuurrampe, peste, plae, droogte en hongersnood.

Dan kom natuurlik die eienaardige gedrag van gelowiges wat dink hulle moet god se stryd vir hom hier op aarde stry, omdat, al is hy ‘n god, hy totaal onmagtig is om iets te kan doen sonder die hulp van goedgelowige mense.

‘n Ander eienaardige feit is dat die god ‘n sogenaamde satan as bondgenoot het om genoeg vrees in te boesem.

Taamlik gewaande diktatoriale gedrag, dink jy nie? So as daar ‘n god is, hoekom sou dit nodig vind om so alte menslik op te tree?

Sterkte met die hoop op niks, want op die keper beskou, sal jy nooit weet nie.

Winkelsmidt

Beste Winkelsmidt

Ek word steeds verras deur jou ongebreidelde vyandigheid. Dit maak enige gesprek onmoontlik. Maar ek sien nou (en verskoon tog my traagheid) dat jy nie bedoel vir gesprek nie, maar vir gal uitbraak.

Groete
Udo

Leave a Reply

*