Ander heelal, ander wette?

Hallo Udo

God het die mens, see, hemel en aarde (die Heelal) geskape en dag van nag geskei. Die reël van nag/dag, sonde en verlossing, lig se gewig,  aantrekkingskrag, ens., is net van toepassing in ons sonnestelsel . Watter wette en reëls geld vir die mens in ‘n ander stelsel? Kan ons daaroor gedagtes ruil?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die natuurwette wat vir ons heelal geld (nie net in ons sonnestelsel nie), het baie spesifieke waardes en aanvangskondisies wat dit op die ou end vir intelligente lewe soos ons geskik maak om op planeet soos aarde te kan leef. Uit die wetenskap (volgens die antropiese beginsel) blyk dit dat as hierdie wette se waardes en kondisies ‘n fraksie anders was, dan sou dit ‘n totaal ander heelal tot gevolg gehad het (o.a. een waarin koolstofgebaseerde lewe nie moontlik sou wees nie).

Ek dink daarom vir bg. rede dat dit moeilik is om te spekuleer oor menslike bestaan in ‘n ander heelal. Ek dink egter dat ‘n Christen met die aanname kan werk dat ons huidige fisiese heelal asook die mens se geestelike kondisie, nie iets is wat maar toevallig so is nie (of iets wat God onverhoeds betrap het nie), maar dat God hierdie spesifieke heelal geskep het (met mense soos ons daarin) omdat dit die heelal is waarmee hy sy uiteindelike en goeie doel die beste kon bereik. As God werklik goed is, dan hoef ons nie te dink dat daar ‘n ander heelal kon wees waarin ons beter af sou wees nie (as daar was, dan sou ‘n goeie God dit geskep het, eerder as hierdie een).

Ek weet nie of ek jou vraag dalk heeltemal verkeerd geïnterpreteer het nie, maar jy is welkom om verder met my te korrespondeer.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.