Ateïsme, morele gronde en ander wêreldbeelde

Hi Udo

Ek was Sondag aand by Dialoog om na Andre se praatjie te luister. Praatjie was baie, baie goed en insiggewend, en ek’t ook die opset en atmosfeer daar geniet. Het bietjie met Johan ook gesels.

Ek het ‘n vragie vir jou. Soos jy weet is ek nuut in hierdie soeke na geloofwaardige antwoorde en verduidelikings, so verskoon maar my ‘ignorance’ oor meeste van die aspekte.

Ek’t gisteraand weer gesels met wie se oortuiging in haar sieninge (haar verstaan) van spirituele dinge fassinerend is, hoewel ek nie noodwendig saamstem met sekere goed nie.

Sy is baie intensief betrokke by die ‘Art Of Living’ kursusse en hul ‘gemeenskap’ al vir ‘n paar jaar. Ek’s nie seker of ek haar sieninge dan reg klassifiseer as New Age nie?

Dit was nou haar agtergrond, ons het gisteraand bietjie gesels oor ateïsme, en toe laat my gebrek aan kennis my in die steek, so kan jy my asseblief bietjie inlig oor die volgende?

  • ‘n ‘textbook’ ateïs glo daar is nie ‘n god nie? M.a.w. nie ‘n Skepper nie?
  • Kan so ‘n ateïs sê daar is ‘n ultimate reg en verkeerd? Hoekom kan hy so sê of hoekom nie?
  • As hy sê elke mens word gebore met ‘n ‘morele kompas’ (hoe groot of hoe klein die morele waarde is maak nie nou saak nie), wat sou ek sê?
  • Sou ek sê dat ek glo die ‘morele kompas’ waarmee elke mens gebore word kom eksklusief van God af?
  • Sou hy sê die morele kompas kom nie van ‘n goddelike wese af nie, ‘n mens word daarmee gebore net soos jy met arms en bene en ‘n brein gebore word, hoe sou ek dit kan verdedig (neem nou aan ek is oortuig dat dit van God af kom)

‘n Heeltemal ander ‘topic’ wat ook al opgekom het en wat ek nog nooit oor seker was hoe om te beantwoord nie:

  • Wanneer iemand sê dat die God wat ons (Christene) aanbid is dieselfde god as wat Moslems aanbid (hulle noem hom net ‘n ander naam – Alah), wat sal my antwoord wees?
  • Het dit iets te doen met die beloftes aan Abraham? Waarna die Moslems ook mos kan verwys?
  • Wanneer New Age mense verwys na die God wat Christine aanbid, en sê dis dieselfde ‘higher power’ wat hulle ook na verwys in hulle gelowe, wat is my antwoord?

Ek sal nou vir eers daar stop met die vrae, maar ek sal verseker nog stuur later.

Ek hoop dit maak sin, en ek sien uit om van jou te hoor.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmdit

Dis baie lekker om van jou te hoor. En dis lekker om te sien dat jy so aktief besig is om na te dink oor ‘n klomp sake en te soek na antwoorde wat spreek van integriteit. Ek sal my bes doen om jou in so ‘n strewe by te staan. Maar hoewel ek my nuwe titel (antwoordmeester) terdeë geniet, sou ek natuurlik nooit wou voorgee dat ek ‘n meester van enige antwoorde is nie. Maar hopelik kan ek jou ten minste in die regte rigting beduie en na ouens verwys wat wel uiters bekwaam is in hul begrip van spesifieke sake. Jy moet ook asseblief nooit huiwer om vir meer verduideliking te vra oor iets wat ek sê of van my te verskil oor bepaalde sake nie. Die proses van dialoog wat dan volg is dikwels iets waaruit beide deelnemers baie kan leer.

Ek is nie retig bekend met Art of Living nie, hoewel ek bewus geword het van die webwerf artoflivingfree.blogspot.com wat skynbaar ‘n sterk reaksie is op die kultiese elemente in hierdie organisasie of dan ten minste by sekere van die leierskap. Maar ja, ek dink die vertrekpunte stem grootliks ooreen met die van ‘n panteïstiese (alles is God) wêreldbeeld, waarby die New Age inkoop.

Net so ietsie oor die idee van ‘n wêreldbeeld. Elke wêreldbeeld bied baie spesifieke antwoorde op bepaalde vrae soos, Waar kom alles vandaan?, Wat is die doel van die lewe?, Hoe onderskei ons tussen reg en verkeerd?, Wat is aard van die mens?, ens. Die vraag is of ‘n bepaalde wêreldbeeld in die antwoorde wat dit bied werklik sin maak van die realiteit waarin ons leef, of is dit eerder ‘n arbitrêre, teenstrydige of onleefbare perspektief op realiteit. Wanneer ‘n mens in gesprek is met iemand wat vanuit ‘n ander wêreldbeeld leef en dink (en ons het almal ‘n bepaalde wêreldbeeld wat grootliks bepaal hoe ons leef en dink, al is ons nie noodwendig daarvan bewus nie), help dit geensins om bloot iemand se wêreldbeeld af te skiet of belaglik te maak wanneer ons nie met aspekte daarvan saamstem nie. Die kuns is om op ‘n belangstellende en nie-konfronterende wyse saam met iemand na aspekte van hul wêreldbeeld te kyk en dit te ondersoek vir integriteit (en in die proses jou eie wêreldbeeld te herevalueer). Natuurlik is dit nie iets wat in een gesprek gebeur nie en as daar nie eers ‘n vertrouensverhouding gevestig word nie, dan is sulke gesprekke dikwels baie moeilik indien nie onmoontlik nie.

Jy wonder oor wat ateïste nou eintlik glo. Die term “ateïs” kom van die Griekse woord “atheos”. “Theos” beteken “god” en die voorvoegsel “a” beteken “sonder” – dus “sonder god”. Tradisioneel verwys die term “ateïs” na iemand wat nie glo in die bestaan van God (of gode) nie. God as skepper in ‘n teïstiese konteks verwys na ‘n wese wat alles wat bestaan geskep het omdat hy gekies het om te skep (dis ‘n persoonlike wese met ‘n wil), by magte was om alles uit niks te skep (dis ‘n unieke en magtige wese) en wat onafhanklik van sy skepping bestaan (dis ‘n absolute en ongeskape wese). Ek sou sê dat die ateïs iemand is wat die bestaan van o.a. so ‘n persoonlike, magtige en absolute skepperwese sal ontken. Let wel dat die ateïs ‘n kennisaanspraak maak (God bestaan nie), soos ook die teïs (God bestaan) en gewoonlik gaan kennisaansprake gepaard met goeie redes ter ondersteuning. Om sulke kennisaansprake te begin evalueer sou ‘n mens wou weet wat die redes is om te kan aanvoer dat God nie bestaan nie en dit dan opweeg teen die redes om te glo dat God wel bestaan. Terloops, daar is ook die term “agnostikus” (a-gnosis = sonder kennis) wat verwys na iemand wat sê dat hulle nie weet of God bestaan nie. Dis ‘n nederige en aanvaarbare standpunt om te handhaaf en so ‘n agnostikus behoort ten minste oop te wees vir die moontlikheid dat daar wel bekombare kennis te vinde is oor God se bestaan. Sommige agnostici gaan egter so ver as om byna dogmaties te verklaar dat niemand kan weet of God bestaan nie. Dis natuurlik ook ‘n kennisaanspraak wat hulle op ‘n manier moet kan verdedig, maar ek het nog nie ‘n oortuigende argument daarvoor gehoor nie.

Jy vra of die ateïs werklik kan sê dat iets absoluut reg of verkeerd is. My oortuiging is dat die ateïs beslis ‘n morele lewe kan lei en dus soos enigiemand anders werklik kan glo dat sekere dinge reg of verkeerd is, sonder dat die ateïs in die bestaan van God hoef te glo. Maar ek is ook van oortuiging dat wanneer iemand die bestaan van God as absolute verwysingspunt, m.a.w. as die objektiewe standaard wat reg en verkeerd van mekaar onderskei, ontken, dan is dit onmoontlik om iets werklik te beskryf as reg of verkeerd in ‘n objektiewe sin van die woord (m.a.w. dat iets byvoorbeeld verkeerd is ten alle tye, vir alle mense en in alle omstandighede en selfs al glo niemand dat dit verkeerd is nie). Die punt is dus dat die ateïs morele optrede by homself en ander kan herken, sonder om in God te glo, maar dat die ateïs nie in staat is om te kan verduidelik, in die afwesigheid van ‘n absolute standaard, waarom sulke optrede juis in objektiewe kategorieë soos “moreel” of “immoreel” hoort nie.

Die idee van ‘n ingebore morele kompas maak vir my sin indien God wel bestaan, maar nie as God nie bestaan nie. As Christen sou ek aanvoer dat omdat mense na die beeld van God geskape is (Genesis 1:27), maak dit sin dat die mens iets van God se morele karakter reflekteer (selfs al dra ons ook die onmiskenbare kenmerke van ‘n gebroke/sondige natuur). Daarom glo ek dat mense dikwels intuïtief weet dat iets reg of verkeerd is (sien bv. Romeine 2:14-15). Maar die aanwesigheid van so ‘n inherente morele kompas maak nie regtig sin as God nie bestaan nie. Ek sou hierdie intuïsie dan nie ‘n morele kompas kon noem nie (want ek verstaan die term “moreel” as verwysend na ‘n objektiewe beoordeling van reg en verkeerd), maar eerder ‘n soort gekondisioneerde sosiale bewussyn of dalk selfs ‘n biologiese instink met bepaalde oorlewingsgerigtheid. M.a.w. die idee van reg en verkeerd is dan ‘n subjektiewe aangeleentheid en iets wat dalk my algemene welstand bevorder in soverre ek voldoen aan die reëls en voorskrifte van die spesifieke samelewing waarin ek woon. Maar niks dwing my om te glo dat my samelewing se waardes of my eie voorkeure dan enige objektiewe morele waarheid verteenwoordig nie. As ek in ‘n ander samelewing gebore was (soos Nazi-Duitsland byvoorbeeld) of as die evolusionêre proses dalk effens anders verloop het, dan het ek dalk ‘n ander waardesisteem nagevolg. En wie is ek of my samelewing in so ‘n geval om ‘n oordeel te vel oor wat die verpligtinge en waardes van ‘n ander samelewing of individue behoort te wees?

So, weereens, die idee van ‘n morele kompas (‘n morele intuïsie dat sekere dinge, soos byvoorbeeld verkragting, in ‘n objektiewe sin verkeerd is en dat morele waardes of verpligtinge dus nie afhang van die tipe samelewing waarin ek groot geword het of bloot die produk is van ‘n evolusionêre drang tot oorlewing nie) maak vir my eenvoudig net meer sin as God bestaan as dat Hy nie bestaan nie.

(Ek weet jy is nie ‘n groot leser nie, maar as jy eendag besonder geïnspireerd voel en met een van die groot Christelike denkers van die vorige eeu wil kennis maak, lees gerus die eerste derde van Mere Christianity van CS Lewis. Dit behandel spesifiek die bogenoemde saak onder bespreking. Vir meer oor die gronde vir moraliteit, sien ook hier en hier.)

Dan kom ons by jou vraag oor hoe verskillende godsdienste oor God dink. Daar is baie mense (godsdienstige pluraliste) wat sê dat gelowiges uit al die verskillende godsdienstige tradisies eintlik dieselfde God aanbid, maar dat hulle bloot verskillende (maar almal geldige) perspektiewe op die “goddelike” het, dat hulle die goddelike dus op verskillende maniere verstaan en daarom ook op verskillende maniere aanbid. Dis belangrik om te verstaan waarop die pluralis in werklikheid hier aanspraak maak. Die pluralis is van mening dat die enigste aanvaarbare perspektief is om te sê dat alle godsdienste almal geldige perspektiewe het op ‘n verstaan van die goddelike. Die pluralis wéét dus dat enige godsdiens wat op ‘n perspektief oor God aanspraak maak wat ander perspektiewe uitsluit (soos wat byna alle godsdienste in werklikheid doen), noodwendig verkeerd is. Die pluralis se onderliggende aanname is inderwaarheid dat slegs hy God goed genoeg verstaan om te kan sê dat alle perspektiewe oor God geldig is.

Dit klink baie verdraagsaam om te sê dat almal eintlik dieselfde God aanbid, maar waarom is ons verplig om te glo dat wat die pluralis sê, werklik so is? Hoe weet die pluralis byvoorbeeld dat alle perspektiewe oor God geldig is? Miskien is slegs die Joodse perspektief reg, of dalk is alle perspektiewe verkeerd. En wat van teenstrydighede? Is om te sê dat God ‘n persoonlike wese is (soos Christene doen) en om te sê dat God die onpersoonlike en absolute realiteit is van alles wat bestaan (soos Boeddhiste doen), bloot maar verskillende perspektiewe of is dit eerder ‘n onversoenbare teenstrydigheid?

So byvoorbeeld handhaaf Christene ‘n drie-enige verstaan van God (drie onderskeibare persone wat een Goddelike natuur deelagtig is), terwyl Moslems so ‘n verstaan van God ten sterkste verwerp. In ‘n sekere sin glo Moslems, Jode en Christene almal in dieselfde God van Abraham, Isak en Jakob in die mate waartoe God homself op spesifieke wyse aan Abraham, Isak en Jakob geopenbaar het. Maar die Jode en Moslems ontken dat God homself in verdere openbaring nog meer spesifiek bekend gemaak in die persoon van Jesus en in die persoon van die Heilige Gees. Dis daarom dat dit nie regtig sin maak om te sê dat Moslems en Christene dieselfde God aanbid nie, self al het Christene tog soms ‘n soortgelyke verstaan van sekere van God se eienskappe (soos o.a. dat hy ‘n skeppergod is, ongeskape is, ewig is en almagtig is).

Christene glo ook dat God ‘n wese is met persoons-eienskappe soos ‘n wil, morele karakter en rasionaliteit. Die New Age idee van ‘n “Higher Power” is onversoenbaar met so ‘n persoonsbenadering tot God, want in watter opsig kan daar byvoorbeeld gesê word dat ‘n “Higher Power” keuses kan maak, kan lief wees vir iets, of rasionele vermoëns het? New Age spiritualiteit vind aansluiting by ‘n Oosterse wêreldbeeld (waarvan Hindoeïsme en Boeddhisme voorbeelde is) waar alles deel uitmaak van ‘n onpersoonlike goddelike realiteit (so ‘n siening staan bekend as panteïsme) en waar die hoogste strewe is om uiteindelik afstand te doen van die illusie van individualiteit/onderskeid en een te word met “dit wat is” (oftewel met Ultimate Reality).

Okay, laat weet gerus as jy oor enigiets meer wil weet of verder oor iets wil gesels. En stuur gerus jou ander vrae soos wat jy gereed is (jammer, my reaksie is soms nie blitsvinnig nie, want die antwoordmeester het ook bepaalde beperkinge…)

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.