Wat is ‘n Christelike siening van evolusie?

deur Udo Karsten

Hoekom is ‘n gesprek oor evolusie vir Christene dikwels so moeilik? Christene beleef dikwels dat hulle geloof bedreig word wanneer evolusie ter sprake kom. Daar is veral twee redes waarom Christene dikwels ‘n baie sterk reaksie toon teen die gedagte van evolusie:

  • Die evolusieteorie word dikwels deur ateïste en skeptici as ‘n argument gebruik om God se bestaan of betrokkenheid in die wêreld te ontken.
  • Dit lyk of die Bybel ‘n skeppingsverhaal bied wat direk teenstrydig is met die evolusieteorie as verduideliking vir die diversiteit van lewensvorme op aarde.

God en Evolusie

Enige siening of teorie wat God se bestaan of Sy betrokkenheid in die wêreld ontken, is natuurlik teenstrydig met ‘n Christelike wêreldbeeld. Kan ʼn mens egter God se bestaan of sy betrokkenheid ontken op grond van wetenskaplike waarneming of by ‘n gebrek daaraan?

Dikwels hoor ons ook by sommige ateïste dat die wetenskap met die objektiewe feite werk en dat gelowiges subjektiewe opinies handhaaf. Die implikasie is dat as ons wil weet hoe die wêreld eintlik is, dan is die wetenskap die enigste geldige manier om iets betroubaar daaroor uit te vind. So ʼn siening word sciëntisme genoem. Maar is die enigste betroubare kennis daardie kennis wat ons deur empiriese waarneming en eksperimentering bekom? Nee, geensins nie. Watter eksperiment moet ons byvoorbeeld doen om te kan weet dat sciëntisme waar is? Wat van morele waarhede? Watter eksperiment moet ons doen om te weet dat dit verkeerd is om moord te pleeg? En as God per definisie nie ʼn fisiese, materiële wese is nie, watter wetenskaplike eksperiment sou gedoen kon word om kennis oor God te verkry?

Wetenskaplike kennis is beslis nie die enigste soort kennis wat in ag geneem kan word wanneer ons wil uitvind hoe die wêreld werklik is nie (m.a.w. waaruit realiteit bestaan). As God bestaan en as hy homself kan geopenbaar in iets soos die Bybel, dan verteenwoordig dit geldige kennis oor God. Natuurlik is die vraag óf God bestaan en óf hy homself geopenbaar het, maar dis nie ʼn vraag wat deur ʼn empiriese werkswyse beantwoord kan word nie.

Die feit is dat ‘n mens nie ‘n uitspraak oor God kan maak, hetsy oor sy bestaan of sy betrokkenheid, deur jou te beroep op rou wetenskaplike data nie. Die rede hiervoor is dat ‘n ondersoek na die aard, bestaan en intensies van God (‘n nie-fisiese, persoonlike entiteit) en ‘n ondersoek na die aard van die fisiese wêreld, nie gebruik maak van dieselfde metodologie nie. ‘n Mens kan wel van wetenskaplike data gebruik maak as deel van ‘n filosofiese ondersoek na God se bestaan, maar die punt is dat jy dan filosofiese uitsprake maak (waarin die konklusies bo redelike twyfel vasgestel behoort te word) en nie meer besig is met wetenskaplike aansprake (wat benaderde verduidelikings bied oor die aard en funksionering van die fisiese werklikheid) nie.

Dit beteken dat evolusie as ‘n wetenskaplike teorie oor die ontwikkeling en diversifisering van biologiese lewensvorme oor tyd heen, opsigself niks kan sê oor óf God bestaan en óf Hy betrokke is in die wêreld nie (later meer hieroor). Daarom is die idee dat die evolusieteorie summier die Christelike wêreldbeeld in twyfel trek in sover dit oor God se bestaan of sy betrokkenheid in die wêreld gaan, eenvoudig vals.

Daar moet ook iets gesê word oor die term evolusionisme. Evolusionisme is ʼn voorbeeld van naturalisme. Wat is naturalisme? Naturalisme is die idee dat alles in die wêreld ʼn natuurlike verduideliking moet, kan of sal hê. ʼn Belangrike aspek van evolusionisme is dus dat alle aspekte van wie ons as mense is deur die prosesse van evolusie verduidelik kan word. As die prosesse van evolusie ʼn verduideliking van alles gee, dan bied dit byvoorbeeld ook ʼn verduideliking van mense se geloof in God. Hiervolgens is die idee van ʼn “God” die verstandelike produk van ons evolusionêre verlede waarin ons probeer sin maak het van die wêreld om ons. Dit weerspieël byvoorbeeld voorwetenskaplike verklarings vir natuurlike fenomene en is projeksies van ons diepste vrese en begeertes (Freud). Die God-idee kan ook die byproduk wees van mense se toenemende koöperatiewe en altruïstiese gedrag. M.a.w. die groep wat beter oorleef as ander is die groep wat geleer het om beter oor die weg te kom met mekaar. Dis ook hierdie groep wie se “God-gene” behoue bly, want in die proses om beter oor die weg te kom met mekaar, het hierdie groep bepaalde reëls begin opstel wat later so deel geword het van die groep se oortuigings dat dit in die formele denkstrukture wat ons vandag as “godsdiens” beskryf, ontwikkel het.

ʼn Bespreking van die meriete van hierdie teorieë kan nie hier gedoen word nie, maar die belangrike punt om te besef is die volgende. Om te verduidelik hoe iemand in God begin glo het (die oorsprong van geloof in God), beteken nie per definisie dat God daarom nie regtig bestaan nie. Hoe iemand tot oortuiging gekom het van die waarheid oor iets, is nie opsigself ʼn aanduiding dat daardie oortuiging waar of vals is nie. Hier is ʼn voorbeeld om die punt te illustreer. ʼn Vyfjarige kind kan glo dat die aarde rond is bloot omdat Sylvester in ʼn program van Tom & Jerry op TV so gesê het. Is haar oortuiging dat die aarde rond is daarom vals omdat sy dit van Sylvester (wat meestal nie baie betroubaar is nie) gehoor het? Nee, hoe sy tot die oortuiging gekom het dat die aarde rond is, maak nie dáárom die feit dat die aarde rond is, ongedaan nie.

Die evolusieteorie as wetenskap

Is die evolusieteorie, as ‘n wetenskaplike teorie, ‘n goeie wetenskaplike teorie?

Die vraag na die meriete van die evolusieteorie is eerstens ‘n wetenskaplike vraag. Is dit ‘n goeie wetenskaplike teorie as verduideliking van hoe fisiese prosesse (soos o.a. natuurlike seleksie en mutasies) vir die “boom van lewe”, d.i. die gemeenskaplike afkoms van alle lewensvorme, verantwoordelik sou wees?

Dis belangrik om te verstaan dat daar selde na ‘n ware of valse teorie in die wetenskap verwys word, maar eerder na goeie of beter teorieë, afhangende van die mate waartoe ‘n bepaalde teorie ‘n goeie verklaring bied vir die grootste hoeveelheid data (‘n teorie se verklaringskrag en verklaringsomvang). Dit is dus in die aard van teoretisering dat ‘n wetenskaplike teorie nooit in absolute terme uitdrukking vind nie, omdat daar in beginsel altyd nuwe data ingesamel kan word wat die potensiaal het om ‘n teorie op bepaalde maniere te wysig, te nuanseer of selfs, in uitsonderlike gevalle, te weerlê.

Nog ‘n belangrike punt is dat wanneer dit by enige wetenskaplike teorie kom, dan word die meriete daarvan gewoonlik op gepaste wyse deur gekwalifiseerde persone oorweeg. Die proses van kollegiale toetsing (peer review) is grotendeels effektief vir die rapportering van akkurate navorsingsdata en vir die interpretasie van daardie data waardeur bepaalde hipoteses bevestig of dalk gediskrediteer word en wat bydra tot die formulering van spesifieke teorieë. Terselfdertyd is geen wetenskaplike of selfs wetenskaplike gemeenskap, egter immuun teen bevooroordeelde interpretasies of skeefgetrekte gevolgtrekkings nie, omdat alle data geïnterpreteerde data is. M.a.w. nie net is dit feilbare en beperkte menslike verstande wat interpretasies doen nie, maar ons bring altyd ‘n sekere stel vooropgestelde idees na enige ondersoek. Wetenskaplike data is nie self-interpreterend nie en daarom moet wetenskaplikes bewuste aandag gee aan pogings tot objektiwiteit.

Vanuit Christelike geledere is daar basies drie sienings oor die teorie van evolusie:

  • Sommige Christene (soos o.a. Jong Aarde Kreasioniste sowel as Ou Aarde Kreasioniste) voer aan dat daar geen wetenskaplike getuienis is vir makro-evolusie nie. Dit beteken daar is geen evolusionêre verandering in ʼn populasie van organismes waarin een spesie in ʼn volgende ontwikkel nie. Daar is slegs sprake van mikro-evolusie, m.a.w. variasies van kenmerke binne dieselfde spesies. Alles spesies is egter in ‘n oomblik en in ‘n sekere vaste vorm deur God geskep.
  • Sommige Christene en aanhangers van Intelligente Ontwerp voer aan dat wetenskaplike navorsing ontdekkings gemaak het van molekulêre en biologiese strukture wat as voorbeelde dien van “gespesifiseerde kompleksiteit”. Dit beteken dat daardie strukture eienskappe toon wat slegs die produk van intelligensie kan wees, en nie van natuurlike prosesse in samewerking met natuurwette nie. Die ontwikkeling van een spesie uit ʼn ander (makro-evolusie) word egter nie per definisie hiermee ontken nie.
  • Sommige Christene en aanhangers van Teïstiese Evolusie (of Evolusionêre Kreasioniste) voer aan dat natuurlike prosesse wel verantwoordelik kan wees vir uiters komplekse strukture. Selfs al is daar gevalle waar die prosesse nie tans verstaan word nie, so word verduidelik, word die wetenskaplike werkswyse gekenmerk deur ʼn stadige, moeisame, maar volhardende strewe om sin te maak van hoe die fisiese wêreld werk. Hoe hierdie prosesse funksioneer is egter ‘n uitdrukking van die wyse waarop God te werk gegaan het om biologiese diversiteit te skep.

Genesis en Evolusie

Die tweede rede, soos reeds genoem, vir waarom sommige Christene die evolusieteorie bevraagteken is omdat dit lyk of die Bybel ‘n skeppingsverhaal bied wat direk teenstrydig is met die evolusieteorie as verduideliking vir die diversiteit van lewensvorme op aarde.

Daar is ʼn persepsie (by sommige gelowiges sowel as skeptici) dat daar ʼn onvermydelike konflik bestaan tussen wat in die Bybel staan (of wat Christelike leer is) en wat die wetenskap leer oor die aard en funksionering van die wêreld. Maar is daar regtig sulke konflik?

ʼn Belangrike deel van ʼn Christelike beskouing van die wêreld is dat hoe God die wêreld geskep het om te funksioneer, oop is vir ondersoek. Om aan so ʼn ondersoek van die fisiese wêreld deel te neem word die “wetenskaplike werkswyse” genoem.

Wat God se spesifieke doel is met die wêreld wat Hy geskep het (en veral met ons as mense as die kroon van sy skepping), is egter iets wat ons nie bloot uit die feit dat daar ʼn wêreld is, kan aflei nie. Dit is iets wat, volgens die Christelike wêreldbeskouing, God aan die mens geopenbaar het deur sy Woord.

Die belangrike punt om hier te besef is dat daar volgens die Christelike wêreldbeeld uiteindelik geen konflik kan bestaan tussen ʼn bestudering van hoe die wêreld funksioneer (die wetenskap) en ʼn bestudering van God se Woord om uit vind oor wie God is en wat sy spesifieke doel met die wêreld (die teologie) is nie. Tog is daar veral twee redes, wat twee radikale pole van hierdie saak verteenwoordig, vir waarom mense (gelowiges sowel as skeptici) ervaar dat die wetenskap en die Bybel in konflik staan:

  • Sommige mense lees die Bybel vanuit ʼn moderne bril wat na 21 eeuse, wetenskaplike aansprake soek in die geskrifte (of moderne wetenskaplike kennis teruglees in die teks) van ʼn pre-moderne era wat vanuit ʼn literêre, kulturele oogpunt en vir teologiese redes, nie primêr gemoeid was met so ʼn moderne wetenskaplike uiteensetting nie.
  • Sommige mense beoefen die wetenskap en leef hul lewens met sulke sterk naturalistiese vooroordele, dat die idee van die bestaan van ʼn immateriële, almagtige, alwetende, alomteenwoordige, ewige en persoonlike wese wat kommunikatief betrokke is in die lewens van mense, nie enige lewensvatbare waarde in hul denke het nie.

Die vermeende konflik tussen die wetenskap en die Christelike wêreldbeeld, het dus te doen met bepaalde interpretasies en onderliggende aannames wat in konflik staan. Aan die een kant is daar dus ʼn bepaalde interpretasie van wat God in die Bybel aan ons sou kommunikeer en aan die ander kant ʼn bepaalde interpretasie van wat ons uit die wetenskap oor die wêreld waarin ons leef, kan leer. Wanneer een of albei van hierdie interpretasies oor ʼn bepaalde saak nie akkuraat is nie, dan ontstaan daar konflik. (Vir ‘n kort genuanseerde uiteensetting, sien Bible vs. Science: Seven Approaches.)

Wanneer dit by evolusie kom is daar dikwels ʼn groot stuk agterdog teenoor Christene wat lyk asof hulle evolusie aanvaar. Dalk het ons grootgeword met ʼn bepaalde siening van Genesis en dat iemand wat daarmee verskil, die Woord van God ondermyn. Maar het ons al werklik die moeite gedoen het om ander se perspektiewe te probeer verstaan en hoe hulle eintlik oor dinge dink? (Sien die volgende Ten Things You Need to Know About the Creation-Evolution Debate deel 1 en deel 2)

‘n Goeie beginpunt vir ‘n Christen wat die meriete van die evolusieteorie wil ondersoek en wat glo in die bestaan van ‘n God wat ‘n aktiewe rol speel in die ontstaan en voortbestaan van Sy skepping, is om die volgende paar vrae te oorweeg:

1.  Is daar iets in die Bybel, as God se kommunikasie aan die mens, maar terselfdertyd ‘n produk van ‘n bepaalde era en kultuur, en geskryf is vir ‘n spesifieke gehoor en met baie spesifieke teologiese en kulturele intensies, wat wys dat daar in beginsel ‘n konflik bestaan tussen Bybelse interpretasie en die resultate van verantwoordelike wetenskaplike navorsing oor hoe die fisiese wêreld funksioneer? Om hiermee te help kan die volgende kundige perspektiewe oor ‘n verstaan van die skeppingsverha(le) in Genesis van waarde wees. ‘n Mens hoef egter nie met alle aspekte van enigiemand se spesifieke siening saam te stem om bewus te word van die wye verskeidenheid faktore en genuanseerde kompleksiteit wat ‘n rol speel in ‘n verantwoordelike interpretasie van hierdie gesofistikeerde teks nie:

2.  Kon God deur evolusionêre prosesse geskep het wat in akkoord is met volledig fisiese prosesse soos die evolusieteorie dit voorhou? Selfs al verwerp iemand so ‘n moontlikheid, dan kan wetenskaplikes, as wetenskaplikes, steeds nie ‘n uitspraak dat die evolusieproses ‘n ongeleide proses is nie. Die rede is dat so ‘n uitspraak gepaard gaan met filosofiese aannames wat nie uit die wetenskaplike data self afgelei kan word nie. Vanuit ‘n teïstiese perspektief kan God verantwoordelik wees vir die aanvanklike kondisies wat nodig is vir evolusionêre prosesse om te kan plaasvind en as God daarvolgens dus sou weet wat die eindresultate sal wees van daardie prosesse (wat onder ander kondisies heeltemal ander resultate tot gevolg sou hê), dan is die proses duidelik nie ongelei nie, selfs al laat die kompleksiteit van die kondisies en prosesse dit so lyk. (Hier is paar skakels waar hierdie gedagte meer breedvoering bespreek en gedebatteer word: Evolutionary Theory and Theism en Who Speaks for Science? (twee artikels deur William Lane Craig). Dan is daar ‘n gesprek tussen Alvin Plantinga en Jay Richards (altwee is Christene) oor hierdie onderwerp: een, twee, drie, en vier. Vervolgens ‘n paar skakels na plekke waar Christene hul sienings uiteensit oor ‘Evolutionary Creation’:

3. Is daar enige beperkings in die meganismes waarvolgens evolusionêre prosesse soos ons dit vandag verstaan, funksioneer en waar die evolusieteorie dus tekort sou skiet as ‘n volledig koherente wetenskaplike teorie? Veral Christene in die “Intelligent Design” beweging (Discovery Institute, Uncommon Descent, Evolution NewsAccess Research Network) en tot ‘n sekere mate Hugh Ross se Reasons to Believe, is gemoeid met hierdie vraag, hoewel hulle baie weerstand ervaar vanuit die breër wetenskaplike gemeenskap. Die vraag is opsigself ‘n baie geldige wetenskaplike vraag, selfs al dink baie wetenskaplikes dat hierdie vraag vanuit die ‘ID’-beweging bloot deur ‘n godsdienstige agenda gedryf word. Miskien is daar wel wetenskaplik verantwoordbare antwoorde in die lang duur op ál die vrae wat ID vra, maar dit help nie om dit net te veronderstel soos wat sommige wetenskaplikes doen nie. Daarom is hierdie gesprek nodig, al dink baie mense verkeerdelik dat ID bloot ‘n anti-wetenskaplike mentaliteit het.

(Ter wille van volledigheid kan ook die volgende genoem word: 1) Vir goeie inligting oor die verhouding tussen godsdiens en die wetenskap in die algemeen: Christians in Science, The Faraday Institute for Science and Religion – hier en hier – asook Last Seminary; 2) Vir die sienings van die sogenaamde ‘Jong Aarde Kreasioniste’, sien Answers in Genesis en The Institute for Creation Research. Sien ook hier.)

Elke Christen se verantwoordelikheid: ʼn proses van ondersoek

Om die antwoorde op bogenoemde vrae as denkende en ondersoekende leke te kan evalueer, moet ons besef dat ons op die skouers staan van kenners op verskeie gebiede.

Dis daarom onvermydelik dat ons sal en moet hoor wat diegene te sê het wat gemoeid is met die bestudering van die antieke kulture, tale en godsdienste van die Ou Testamentiese tydperk en daarmee saam ook van teoloë wat daarvolgens verantwoordelike hermeneutiese toepassing op die teks van die Bybel probeer maak.

Ons staan ook op die skouers van natuurwetenskaplikes (ja, ook nie-Christene) in die kosmologie, geologie en die biologiese wetenskappe. Enige nie-wetenskaplike het daarom die verantwoordelikheid om homself deeglik te vergewis van die redes vir waarom die evolusieteorie in wetenskaplike kringe as ‘n goeie teorie beskou word (en dit kan nie summier aan ‘n ateïstiese agenda verbind word nie – daar is baie toegewyde en ortodokse Christene wat die evolusieteorie onderskryf). Enige kritiek op die evolusieteorie behoort daarom gedoen te word in die lig van ‘n ingeligte verstaan van wat die evolusieteorie as ‘n wetenskaplike teorie werklik sê en waar die probleemareas werklik lê.

Hierdie proses van ondersoek is uitdagend vir veral twee redes: 1) Die relevante data wat betrekking het op spesifieke twispunte is dikwels baie tegnies van aard en die hoeveelheid tyd wat dit neem om ingelig te wees, is nie onbeduidend en die proses nie moeiteloos nie. 2) Die moddergeveg tussen teenstanders en voorstanders van die evolusieteorie (en dis nie net tussen Christene en nie-Christene nie, maar tussen Christene onderling) word dikwels so sterk onderlê deur ʼn kombinasie van bepaalde voorveronderstellings en diep emosie, dat dit die taak nie enigsins makliker maak om by ʼn verantwoordelike en gebalanseerde siening van sake uit te kom nie.

Gevolgtrekking

Ek het probeer om kortliks slegs ʼn paar gedagtes te wissel oor hoe ʼn Christen die kwessie van evolusie kan benader. Maar hier is geen maklike antwoorde nie. Inteendeel, die hoeveelheid onkunde wat in maklike antwoorde oor hierdie onderwerp onder Christene in openbare forums uitdrukking vind, is nie net verstommend nie, maar bejammeringswaardig. Dit doen die saak van die evangelie geweldige skade, self al het Christene die beste van intensies.

Ek dink dit sal die Christelike gemeenskap en ons beeld na buite, soveel meer ten goede strek om nie bloot reaktief en demoniserend te reageer soos dikwels die geval is wanneer dit kom by die idee van evolusie nie. Ons het dikwels allerlei persepsies oor die ondermynende invloed van die evolusieteorie op die Christelike geloof se aansprake oor realiteit en moraliteit, sonder om ooit die moeite te doen om die kwessies werklik te probeer verstaan en werklike probleemareas in die oog te hou.

My advies aan enige Christen sou wees om nie te gou onverbiddelik standpunt in te neem met betrekking tot evolusie nie, maar eerder eers wyd te lees en verskillende opinies met ʼn oop gemoed te ondersoek. Mettertyd, soos kennis toeneem, sal ʼn mens wel waardering kry vir die kompleksiteit wat hier ter sprake is en waarom dit raadsaam is om nie te gou en met mening uit te vaar teen diegene wat van jou verskil nie. Om vanuit ‘n beperkte kennisfondasie ʼn benadering te volg waarvolgens ons klaar besluit het dat ander verkeerd is, en daarom nie belangstel om na hulle te luister nie, is ʼn benadering wat tot onnodige verdeeldheid lei. Onthou ook dat niemand ‘n Christen is omdat hulle juis evolusie, as sulks, aanvaar of verwerp nie.

Ondersoekende gesprek onder Christene (of tussen enige persone met verskillende sienings) oor hierdie onderwerp is veel meer werd as ʼn polariserende benadering wat neig om ander te vervreem en te verketter. Die doelbewuste strewe en bereidheid om na ander te luister om die meriete in hul saak te probeer raaksien, beteken nie dat ons ons eie oortuigings hoef prys te gee nie, maar dit wys wel dat ons bereid is om te leer en ten minste beïnvloed te word vir verdere nadenke.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*