God: ‘n Godslasterlike Gedagte?

deur Udo Karsten

God het ‘n slegte naam by sommige mense. Vra maar vir ateïste soos George Claassen1 en Piet Croucamp.2 God bestaan nie en hulle sal so sê. Deesdae glad nie vreemd om so te hoor nie.

God het egter ‘n slegte naam by baie ander ook. Dit gaan nie eerstens oor God se bestaan nie, dis dat God anders verstaan moet word. Ander taal is nodig om te beskryf wat met ‘God’ bedoel word. Wat vreemd is hieraan is nie dat mense anders wil dink oor God nie. Dis inherent menslik om God na jou eie beeld te wil skep. ‘n Mens noem dit ‘n afgod.

Moenie verkeerd verstaan nie. As God bestaan en as ons hom (sy, dit?) nog altyd verkeerd verstaan het, dan wil ‘n mens dit tog sekerlik weet. Wie wil hulle tog besig hou met afgode? Dan kan dit net ‘n goeie ding wees om anders oor God te begin dink. En liewer laat as nooit.

Die vlieg in die salf is dat ons eintlik nie werklik oor God kan praat nie. Ons woorde is altyd maar voorlopig. Ons denke is altyd maar verweef met die huidige tydsgees. Ons verstaan word altyd maar gevorm deur ons immer groeiende maar immer gebrekkige verstaan van die wêreld waarin ons woon.

Of só word gesê.

Die implikasie is dat dit eintlik glad nie soveel saak maak dat wat gister oor God gesê was, vandag uitgedien is nie. Of wat vandag oor God gesê word, more weerspreek kan word nie.

Is hierdie gedagte werklik so vreemd? Is dit dan nie voor die hand liggend dat ons altyd maar sal kortkom aan kennis nie? Lê beter insigte nie altyd maar op more se horison nie?

Wat vreemd is, is dat die mensdom skynbaar nog geen vordering gemaak het in ons nadenke oor God nie. Inteendeel, tot dusver weet ons, so hoor ons dit nou al ‘n geruime tyd van sommige teoloë, dat ons eintlik niks van God weet nie.

Vergeet maar eers vir die oomblik dat as jy werklik niks oor God kan sê nie, dan moet jy liewer werklik niks oor God sê nie. Want om te sê, “Ons kan niks van God sê nie,” is om jou mond verby te praat.

Hierdie tipe agnostisisme of skeptisisme, spesifiek oor wat van God gesê of nie gesê kan word nie, is ‘n semantiese doolhof. ‘n Goeie voorbeeld is die geval van Klaas Hendrikse, die Nederlandse predikant wat bely dat God nie werklik bestaan nie. God is nie ‘n entiteit of wese nie, so sê hy.3 God is eerder ‘n woord vir ons ervaring, veral die soort ervaring wat tussen mense gebeur.4

Want soos Humpty Dumpty self gesê het: “Wanneer ek ‘n woord gebruik dan beteken dit net wat ek besluit dit beteken – nie meer of minder nie.”

Waarop Alice toe antwoord: “Die vraag is of jy woorde soveel verskillende dinge kan maak beteken.”5

Inderdaad.

Waarom Hendrikse se definisie van die woord ‘God’ aanvaar? Veral as God wérklik nie bestaan nie, as daar werklik geen ‘skepperwese’ is wat ontologies (in realiteit) geïdentifiseer kan word nie?

Met ‘n siening soos dié van Hendrikse is die konsep van ‘God’ inhoudloos, oorbodig en uiteindelik niksseggend. Om in ander taal oor God te praat, is eintlik ‘n pleidooi vir ‘n groter woordeskat.

Die woord ‘God’ as metafoor, of verwysend na een of ander warm gevoel, kan dan ewe goed, indien nie méér beskrywend nie, vervang word met woorde soos ‘verwonderde misterie’, ‘onpeilbare kompleksiteit’ of ‘onvoorspelbare potensiaal’. (Woorde wat dan eufemisties dalk eerder wys op die mens se wetenskaplike onkunde?) En met ‘n bietjie introspeksie is daar ook uit ‘n hele spektrum van woorde te kies vir allerlei gemoedsaandoenings waarin ons belewenisse uitdrukking kan vind. Glad nie nodig om dinge te kompliseer of te reduseer met woorde soos ‘God’ nie.

Ook Suid-Afrikaanse teoloog Julian Müller dink dat God in ander kategorieë moet uitdrukking vind: ons moet bevry word van die “verknegting van die teïsme”.6 Hy argumenteer dat die antieke drieverdieping wêreldbeeld, waarbinne ‘n teïstiese verstaan van God onstaan en gefunksioneer het, argaïes is. Hierdie voorwetenskaplike wêreldbeeld was die teelaarde vir geloof in ‘n teïstiese God en vandag ‘n “vasgeloopte” Godsbeeld.

Müller se antroposentriese aanname is dat God veel eerder ‘n menslike geloofskonstruk7 as ‘n openbaarmakende God is. Die Bybel is nie God se openbaring, die Woord ván God nie, maar woorde óór God. Wat van God gesê word, is menslik “selfgeproduseer”8 en wat menslik is, is feilbaar en ontoereikend.

Maar wag ‘n bietjie. Wat as daar werklik ‘n God bestaan wat werklik gekies het om homself openbaar te maak? En wat as hierdie God geweet het dat hy homself sou moes akkommodeer in sy kommunikasie (à la Aquinas en Calvyn) júís omdat sy skepsels se insig beperk en hul eie verstaan van die wêreld (voorwetenskaplik of nie) altyd te kort sal skiet? Wat as God sodoende tog dinge van homself kon openbaar wat heenwys na iets wat werklik waar is van God? Wat as God dit kon doen selfs al sou die mens ook antropomorfiese (soos van ‘n mens) en fenomenologiese (hoe iets voorkom) taal gebruik in hul spreke oor God?

Is dít regtig só ondenkbaar? Wel, hang af of jou Godsbeeld dit toelaat.

Teoloë soos Müller pleit vir ‘n post-teïsties verstaan van God. Hulle vind elemente van die teïstiese Godsbeeld problematies en soek na alternatiewe taal en denke oor God vir ‘n hedendaagse wêreld.

Presies wie of wat is die God wat die post-teïsme liefs wil agterlaat? Dis ‘n belangrike vraag, want in die besware teen die teïsme, herken ‘n mens dikwels nie die teïstiese God wat klaarblyklik aan’t uitsterwe is nie. Dis meestal ‘n karikatuur en ten beste word implikasies uitgestippel of gesuggereer wat eenvoudig nie deel is van verantwoordelike teïstiese besinning nie.

Neem byvoorbeeld Müller se verduideliking:

“[Post-teïstiese] Christene wil nie meer praat van God as manlik nie; of van God iewers daarbo nie; of van God wat ons hier op aarde moet besoek nie. Ons wil ook nie deelneem aan ‘n godsdiens wat maak asof God van iewers af ingeroep moet word om hier op aarde wonderwerke te kom verrig nie. Ons wil ook nie aan God dink as die een wat openlik of agter die skerms vir lyding en swaarkry verantwoordelik is nie.”9

Dis nie nodig om hier vas te kyk in die feit dat hierdie kort verduideliking van die teïstiese God dalk vir ‘n vierjarige kind gepas sou wees nie (maar eintlik grootliks karikatuuragtig). Dis belangriker om eerder te probeer verstaan wat die kern is van dit waarteen iemand soos Müller se post-teïstiese verstaanraamwerk dit het. Dis om te dink dat God persoonsmatige eienskappe (of enige eienskappe) het.

  • Post-teïsme: God is nie manlik nie. Repliek: In die teïsme is God in wese immaterieel en dus onbeliggaamd (d.i. God is gees). God is daarom inderdaad nie “manlik” of enigsins geslagtelik nie. Dit beteken egter nie dat antropomorfiese taal oor God met akkommoderende en kulturele funksies (soos God as ‘Hemelse Vader’) noodwendig onvanpas is nie. Ook beteken dit nie dat ‘n immateriële wese nie ook ‘n ‘persoon’ kan wees en ons daarom eerder van God as ‘n ‘dit’ moet praat nie.
  • Post-teïsme: God besoek nie die aarde nie. Repliek: Die verstaan van die inkarnasie van God in die historiese persoon van Jesus – God se selfvernederende identifisering met die mens ter wille van die mens – staan sentraal tot Christelike teïsme. Die inkarnasie is nie maar net ‘n terloopse “besoek”, asof van ‘n belangelose wese vanuit êrens in die donker heelal nie, maar volgens die Christelike teïsme ‘n Godbedinkte inisiatief van lewensveranderde omvang.
  • Post-teïsme: God is nie iewers daarbo nie. Repliek: Die teïsme benadruk God se transendensie (God is ontologies onderskeibaar en onafhanklik van sy skepping) en immanensie (God is altyd en oral teenwoordig en aktief in sy skepping) in gelyke mate (sien bv. Ef. 4:6).10 Hiervolgens is God dus nie êrens gelokaliseer nie en daarom dra “iewers daarbo” niks by tot verantwoordelike denke oor die teïstiese God nie.
  • Post-teïsme: God is nie-kommunikatief en onbetrokke. Repliek: Die idee om God van “iewers af in te roep”, klink soos die optower van ‘n gees uit Aladdin se lamp om te hiet en gebied. Maar met die aard van ‘n dinamiese gebedsverhouding met God as ‘n persoonswese wat wel betrokke is in die wêreld, het dit niks te doen nie.
  • Post-teïsme: God is impotent. Repliek: Die teïsme ontken nie die problematiek rondom die versoenbaarheid van God se natuur, sy betrokkenheid in die wêreld en die realiteit van lyding in ons wêreld nie. Om egter aan God te dink as “die een wat openlik of agter die skerms vir lyding en swaarkry verantwoordelik is” is om naïef te wees oor voorgestelde perspektiewe vanuit die teïsme op die teodisee-vraagstuk.11

Hieruit is dit duidelik dat daar in Müller se post-teïsme nie aan God gedink word as ‘n wese met persoonskenmerke en intensies nie. Die persoonskenmerke wat so sterk figureer in die teïstiese Godsbeeld sou, volgens Müller, eintlik maar net metafore wees “om oor die onvoorstelbare en onbeskryfbare God te probeer praat.”12 Eintlik is dit heeltemal onnodig en onsinnig om uitsprake oor die bestaan of nie-bestaan van God te maak.

Müller sê hy vind aansluiting by die Switserse teoloog Emile Brunner wat gestel het dat God nie ‘n verskynsel is wat ‘n mens kan beskryf nie, maar ‘n misterie om te ontdek.13 Vir Müller is die metafoor van God as die “Moontlike” (wat terselfdertyd ook die “on-Moontlike” is) verkieslik, want dan “skryf ons Hom nie meer vas in een of ander eienskap nie”.14 Die meeste wat van God gesê kan word is dat Hy “Liefde en Gees” is.15

So, wat is die grense vir ‘n nuwe denkraamwerk oor God waarvoor ons die oue dus vaarwel sou roep?

  • God is ‘n misterie.
  • God is Gees, ‘n misterie.
  • God is tegelykertyd die Moontlike en die on-Moontlike; hoe, waar en óf God werksaam is dus ‘n misterie.
  • God het nie eksistensie of essensie nie; God is dus onvoorstelbaar en onbeskryflik.16 En tog, op een of ander misterieuse manier, weet ons van God genoeg om te weet dat hy onvoorstelbaar en onbeskryflik is.
  • God is liefde, maar nie liefdevol nie. (Liefdevolheid is ‘n persoonskenmerk en God is nie ‘n persoon of wese nie.) ‘n Misterie. Veral ook omdat God onvoorstelbaar en onbeskryflik is.17

Waarom sou hierdie post-teïstiese Godsbeeld18 vir die hedendaagse mens méér sin maak of aantreklik wees?19 Hoe help dit om verantwoordelik oor ‘God’ na te dink deur ‘n string woorde aanmekaar te ryg waarin ‘misterie’ gereeld voorkom en dan te dink daar is iets noemenswaardig gesê of ontdek? Is dit miskien, soos reeds genoem, omdat die woord ‘God’ vir baie beteken wat ookal hulle wil hê dit moet beteken?20

Die tradisioneel ortodokse Godsbeeld is nie outomaties korrek nie, maar dis ook nie, bloot omdat dit tradisioneel of ortodoks is, summier verdag nie. Inteendeel, die tipe besware (of dit nou a-teïsties, anti-teïsties of post-teïsties is) wat daarteen geopper word is gereeld oppervlakkig en karikatuuragtig.

Natuurlik kan Christelike teïste ‘n groter poging aanwend om hul sienings beter te artikuleer. Net omdat sommiges dit nie doen nie (uit apatie of as stoepsitters) of swak werk maak daarvan (met liefdeloosheid of uit onkunde), beteken nie dat dit nie gedoen word of gedoen kán word nie. Simplistiese sondagskoolformules en vroom kerktaal is in elk geval nie goed genoeg om enige hedendaagse mens die kans te gee om te hoor wat gesê word nie.

Die Christelik teïsme kom al te ver en daar is al te wyd en te diep gedelf om dit sommer vir ‘n pot lensiesop te verkoop.21 Natuurlik kan daar na ander perspektiewe geluister word. Elkeen het en mag immers ‘n opinie hê. In die proses mag alle partye selfs iets leer. Maar laat niemand asseblief voorgee dat alle opinies reg is nie. Selfs al kom dit van teoloë en predikante in ons midde.

  1. Buitengewone aansprake verg buitengewone bewyse, Rapport, 15 April 2009
  1. A Critical Analysis of Piet Croucamp’s Case Against God
  1. Interview with atheist Dutch reverend
  1. Dutch rethink Christianity for a doubtful world, BBC News, 5 Augustus 2011
  1. http://en.wikipedia.org/wiki/Humpty_Dumpty
  1. Dít wat ons nié dink, Julian Müller, 12 Maart 2010
  1. Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk, Julian Müller, Tafelberg uitgewers (2014), hfst. 4
  1. Dít wat ons nié dink, Müller
  1. Geloof anderkant Sondag, hfst. 4. Müller en ander teoloë praat graag van ‘post-teïstiese Christene’. Die woord ‘Christen’ of ‘Christelik’ kan skynbaar net so konteksloos en betekenisloos aangebied word soos die woord ‘God’ en kan daarom met byna enige inhoud gevul word. Sien ook ander voorbeelde: Christian Atheism, Christian Buddhism?, ‘I am both Muslim and Christian’.
  1. God se transendensie dui ook beslis daarop dat God groter is as wat volledig met menslike begrip vasgevang kan word. Dis egter glad nie dieselfde as om te sê God is “onbeskryfbaar” of dat God geen identifiseerbare eienskappe het nie. In terme van God se immanensie, sien hierdie kort uiteensetting: Omnipresence
  1. Sien byvoorbeeld As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so? as ‘n poging om die kompleksiteit wat hier ter sprake aan te raak.
  1. Geloof anderkant Sondag, hfst. 4
  1. Ibid, hfst. 4
  1. Ibid, hfst. 4. In teenstelling met Müller, is dit interessant om die volgende opmerking oor ‘n God sonder eienskappe te lees. So skryf die 19de eeuse ateïstiese filosoof, Ludwig Feuerbach: “A being without qualities is one which cannot become an object to the mind; and such a being is virtually non-existent. Where man deprives God of all qualities, God is no longer anything more to him than a negative being. To the truly religious man, God is not a being without qualities, because to him he is a positive, real being. The theory that God cannot be defined, and consequently cannot be known by man, is therefore the offspring of recent times, a product of modern unbelief. . . . On the ground that God is unknowable, man excuses himself to what is yet remaining of his religious conscience for his forgetfulness of God, his absorption in the world: he denies God practically by his conduct, – the world has possession of all his thoughts and inclinations, – but he does not deny him [God] theoretically, he does not attack his existence; he lets that rest. But this existence does not affect or incommode him; it is a merely negative existence, an existence without existence, a self-contradictory existence, – a state of being which, as to its effects, is not distinguishable from non-being. The denial of determinate, positive predicates concerning the divine nature is nothing else than a denial of religion, with, however, an appearance of religion in its favour, so that it is not recognized as a denial; it is simply a subtle, disguised atheism. The alleged religious horror of limiting God by positive predicates is only the irreligious wish to know nothing more of God, to banish God from the mind.” (The Essence of Christianity, p.12-13)
  1. Dít wat ons nié dink, Müller
  1. Iets met geen eksistensie of essensie nie, d.i. geen bestaan of eienskappe nie, kan van niks gesê word nie. As daar egter niks van God gesê kan word nie, dan is die woord ‘God’ sonder inhoud of verwysing, dus ‘n betekenislose begrip. Sien eindnota 14.
  1. Ook Abel Pienaar van Renaissance Gemeente, wat Müller as een van sy eerste mentors beskou, dink nie aan God as ‘n persoon nie, maar eerder as ““iets soos energie, die energie van die liefde” (sien Stef se see of Johnny s’n, Die Burger, 26 Maart 2010). Pienaar se “energie van die liefde” is bloot ‘n kategorie-vergissing en soos Müller verval hy ook in strooipop-besware teen teïsme (sien Kop & Hart: ‘Jy is ‘n ateïs’)
  1. In sy artikel, Dít wat ons nié dink, vereenselwig Müller die post-teïsme met panenteïsme (‘n wêreldbeeld gevoed vanuit die proses-teologie) waarvolgens alles in God is en God in alles (God is egter méér as alles en daarom nie bloot panteïsties nie). Beide panenteïstiese en panteïstiese teologie het egter ‘n monistiese onderbou (soos baie Oosterse geloofsisteme) waarvolgens daar nie onderskei word tussen die natuurlike en die bonatuurlik nie. Vir ‘n volledige bespreking van die panenteïsme deur nog ‘n Suid-Afrikaanse teoloog wat daarmee simpatiseer, sien Johan Buitendag se Panenteïsme as ’n funksionele, induktiewe konstruk in die gesprek tussen die teologie en die (natuur)wetenskap
  1. Sien William Lane Craig se antwoord op ‘n vraag: Panentheism
  1. Hierdie vraag word nie neerhalend bedoel asof verantwoordelike en reflektiewe mense God bloot na willekeur uit hul duime sou suig nie. Dit gaan oor ‘n aanvaarding van anti-realisme en die relativerende aard daarvan. M.b.t. God sou die anti-realisme stel dat God nie onafhanklik bestaan van die mens se denke oor hom nie. Dis ook onderliggend aan godsdienstige pluralisme, m.a.w. dat alle godsdienste geldige maniere van dink oor God is.
  1. Sien William Lane Craig se inleiding tot ‘n bespreking van ‘The Infinite-Personal God

1 Comment

  1. Hi Udo

    Ek was al n paar keer by funksies wat julle gereel het (Ramsden en Lennox) – was baie goed georganiseer en die inligting prysloos, mag die Here julle werk seen.

    Dit is n uitstekende artikel, hoop Rapport of een van die ander koerante kan die artikel dra , hulle publiseer so maklik enige gebrabbel van Abel Pienaar en kie.

    Ek het Antwoord op my Facebook maar dit baie stil – is daar n ander forum wat julle op praat ?

    Groete en God se rykste seeninge.

    Andre

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.