As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so?

Hallo

Ek sit bietjie met ‘n dilemma. Toe Christus gekruisig is het Hy (so verstaan ek) die bose en bose magte oorwin. Ons leer God is in beheer. Ek het nog altyd ‘n bevredigende antwoord vir myself gehad, want ek wil glo as Christen is God in beheer van my lewe. Maar ‘n ateïs vra my anderdag wat ek bedoel met God is in beheer – kan ek nie sien in watter toestand die wêreld is nie?  En wat van onskuldige mense (ook Christene) wat ly? Ens, ens? Wil God dan nie hê dit moet goedgaan nie? Het Hy dan nie die sonde oorwin nie? 

So: wat beteken dit dat God in beheer is? Hoe antwoord ek iemand?

En dan die groot vraag: As God liefde is en alle mense liefhet – waarom die geweldige geweld en moord (op Sy bevel, let wel, lees ons) deur Israeliete op ander mense (waaronder vroue, kinders, babatjies?). Ek sukkel om die God van die OT te versoen met Jesus se leer en lewe in die NT. 

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie mense wat hierdie tipe vrae vra, verwag dikwels ‘one-liner’ tipe antwoorde. Ongelukkig bestaan daar nie ‘maklike’ antwoorde nie, inteendeel, sulke antwoorde doen dikwels meer skade as goed. Aan die einde van hierdie skrywe gee ek ‘n lys skakels na ‘n paar webwerwe wat ek besonder behulpsaam gevind het in my eie denke oor die onderwerp. Ek sluit ook ‘n hele reeks skakels in wat spesifiek gaan oor God en die Israeliete se rol in die geweld waarvan ons in die Ou Testament lees.

Vervolgens my eie gedagtes oor jou vraag.

Hoekom lyk die wêreld so? Dis die mees natuurlike vraag wat enige mens kan vra, en almal vra dit. Elke mens op aarde word die een of ander tyd met die realiteit van kwaad en lyding in die wêreld gekonfronteer, in hul eie lewens sowel as dié van ander. Hoekom is die wêreld vol kwaad en lyding en hoekom is daar so baie daarvan? Afhangend van ‘n mens se wêreldbeeld (wat jy glo oor die aard van die realiteit waarin jy leef) is daar verskillende antwoorde op hierdie vrae.

Daar is twee basiese wêreldbeelde: 1) realiteit bestaan uit twee aspekte, naamlik die natuurlike en bo-natuurlike (‘n teïstiese wêreldbeeld), en 2) daar is slegs ‘n natuurlike realiteit (‘n naturalistiese wêreldbeeld). (Bykans alle ander wêreldbeelde is ‘n variasie op een van hierdie twee wêreldbeelde.) Vir iemand wat in die bestaan van God glo (‘n teïstiese wêreldbeeld), is die vraag eerstens na die oorsprong van die kwaad en lyding: Is God die oorsaak daarvan? Tweedens worstel die gelowige met die redes vir waarom God die kwaad en lyding in die wêreld sou toelaat, as Hy nie die oorsaak daarvan is nie. Die teïstiese gelowige worstel met hierdie vrae omdat ons glo dat God persoonlik, liefdevol, almagtig en alwetend is; Hy is ook die Skepper van alles wat bestaan.

In teenstelling hiermee is daar mense wat met ‘n naturalistiese bril na die wêreld kyk (soos wat die meeste ateïste en baie agnostici doen) en wat die gelowige graag daarop wys dat daar nie soseer ‘n vraag is oor die kwaad en lyding nie, maar eerder ‘n probleem. Die probleem vir die teïs is dat die realiteit van die kwaad en lyding juis die bestaan van God in twyfel trek. ‘n Liefdevolle God sal tog alle kwaad en lyding in die wêreld wil verhoed as Hy kan, en ‘n almagtige God sal tog alle kwaad en lyding kan verhoed as Hy wil. Maar juis omdat daar kwaad en lyding in die wêreld is (en so baie daarvan), is dit ‘n bewys dat ‘n God wat beide liefdevol en almagtig is, in werklikheid nie bestaan nie. (Miskien is iets anders die skepper van alles, maar iets wat nie almagtig of volkome liefdevol is nie, is per definisie nie wat ons bedoel as ons van ‘God’ praat nie.)

Die ateïs is met bogenoemde redenasie oortuig dat die gelowige se worsteling en vrae oor God se betrokkenheid by die kwaad en lyding, heeltemal onnodig is, indien nie irrasioneel nie. God bestaan nie, en die kwaad en lyding is bloot ‘n onmiskenbare feit van die wêreld waarvoor geen verdere verduideliking nodig is nie.

Maar wag ‘n bietjie, sou die gelowige kon reageer. Is dit werklik so dat daar geen verdere verduideliking nodig is vanuit ‘n naturalistiese siening vir die kwaad en lyding in die wêreld nie? Het die ateïs nie juis self ‘n groot probleem om die kwaad en lyding in die wêreld te verklaar nie?

Die probleem vir die ateïs, so wys die teïs op sy beurt, is dat die ateïs wat God se bestaan ontken, nie meer ‘n basis het vanwaar hy ‘n onderskeid kan tref tussen morele konsepte soos ‘goed’ of ‘die ‘kwaad/boosheid’ nie. Hoe kan die ateïs iets as boos beskryf as alles in ‘n naturalistiese wêreld maar net is hoe dit is? Waarom dink dat dit anders moes wees? Die enigste manier om te sê dat iets in ‘n naturalistiese wêreld anders behoort te wees, is om jou te beroep op ‘n standaard wat nie self deel is van hoe die naturalistiese wêreld in werklikheid is nie. Dis daarom ironies dat die realiteit van boosheid in die wêreld, juis ‘n aanduiding is vir God se bestaan: ‘n al-goeie, bo-natuurlike God is die enigste goeie gronde vanwaar ‘n mens sinvol en objektief kan onderskei tussen idees van ‘goed’ en ‘kwaad’, en tussen ‘reg’ en ‘verkeerd’.

Verder, om vanuit ‘n naturalistiese wêreldbeeld empatie te toon met ander se lyding, is om uiteindelik ook eerlik te erken dat daar ten diepste geen rede is vir die lyding wat iemand sou ervaar nie, dit is maar net hoe die wêreld is: soms bots onpersoonlike kragte en kans-gebeure vind plaas wat ons soms soos slagoffers laat voel. So ‘n verduideliking bied geen troos of emosionele sluiting wanneer mense dikwels ervaar dat die lyding in hul lewe (of in die lewens van ander) wel om verduideliking vra, dat dit regtig nie is hoe dinge, veral voorbeelde van ongeregtigheid, behoort te wees nie. Hierdie intuïtiewe ervaring of bewustheid mag dalk in werklikheid net ‘n illusie wees (soos sommige ateïste dink) as God nie bestaan nie. Indien God egter wel bestaan, ‘n God wat liefdevol en almagtig is, dan is dit ten minste redelik om te glo dat hierdie ervaring van dinge wat nie is soos dit behoort te wees nie, nie ongegrond is nie.

Ons het goeie redes om te glo dat God bestaan (in die vorm van argumente, sien bv. Is God real? en veral ook die volgende video-reeks: The Problem of Suffering and Evil: Part 1, Part 2, Part 3, Part 4 wat spesifiek ook na hierdie argumente vir God se bestaan verwys). En soos ek genoem het, die feit dat ons iets ‘boos’ kan noem is opsigself ‘n aanduiding vir God se bestaan. Die teïstiese wêreldbeeld is beslis nie sonder gronde nie. Die probleem wat die ateïs vroeër genoem het, verdien egter steeds ons aandag: Is die realiteit van kwaad en lyding onversoenbaar met die bestaan van ‘n liefdevolle en almagtige God wat skynbaar nie die kwaad of lyding in die wêreld kan of wil keer nie?

Die kort antwoord vir waarom die bestaan van kwaad en lyding nie onversoenbaar is met die bestaan van ‘n liefdevolle en almagtige God nie, is omdat God goeie redes mag hê vir waarom hy ‘n wêreld geskep het waarin Hy toelaat dat daar boosheid en lyding voorkom. As daar sulke redes is, dan word sy almag of goedheid/liefde dus nie in twyfel getrek nie. Die belangrike punt om hier te verstaan is vir ‘n alwetende en alwyse God om sulke redes te hê, nie beteken dat ons as beperkte mense toegang sou hê tot God se redes nie (soos die verhaal van Job so duidelik illustreer), of selfs kán of behóórt te hê nie. Ten beste kan ons dalk algemene idees vorm oor wat sulke redes kan wees (die tegniese benaming vir sulke redes is teodisieë; sien voorbeelde hiervan in die artikel, ‘Why me, God?’ Understanding Suffering), miskien juis as ons in retrospeksie daaroor nagedink het, maar meestal is ons in die donker oor waarom spesifieke gevalle van kwaad en lyding in die wêreld plaasvind.

Goed, maar wat sal ‘n voorbeeld wees van waarom God die kwaad of lyding in sy almagtigheid en goedheid sou toelaat?  Wel, een voorbeeld sou wees as God ‘n tipe wêreld wou skep waarin daar kreature soos ons bestaan wat die vermoë het om morele keuses te kan maak. Die Bybel gaan oor hoe God mense geskep het vir ‘n verhouding van liefde met Hom (en hoe hy daardie verhouding herstel het, nadat ons Hom geminag het). As geskape wesens kan ons God egter slegs liefhê as ons kan kies om Hom lief te hê. In effek beteken dit dat dit logies onmoontlik is vir God om ‘n bewuste wese te skep wat nie anders kan as om Hom lief te hê nie. Dit het niks met God se almag te doen nie; God kan ook nie, vir dieselfde rede, ‘n vierkantige sirkel maak nie (dis nie ‘n moontlikheid wat geaktualiseer kan word nie). So so selfs nie God kan iemand so máák dat hulle nooit teen hom wil kies nie, want om iets met ‘n wil te skep (eerder as om iets soos ‘n robot te programmeer), beteken per definisie dat daar ‘n werklike en vrye keuse uitgeoefen kan word. God kon dus geweet het dat daar in enige tipe wêreld wat hy kon kies om te skep, mense sou wees wat hul wil sou gebruik om téén Hom te kies. Hy kon dit egter steeds goed geag het om hierdie spesifieke wêreld te skep. Die filosoof Alvin Plantinga verduidelik dit so:

“A world containing creatures who are significantly free (and freely perform more good than evil actions) is more valuable, all else being equal, than a world containing no free creatures at all. Now God can create free creatures, but He can’t cause or determine them to do only what is right. For if He does so, then they aren’t significantly free after all; they do not do what is right freely. To create creatures capable of moral good, therefore, He must create creatures capable of moral evil; and He can’t give these creatures the freedom to perform evil and at the same time prevent them from doing so. As it turned out, sadly enough, some of the free creatures God created went wrong in the exercise of their freedom; this is the source of moral evil. The fact that free creatures sometimes go wrong, however, counts neither against God’s omnipotence nor against His goodness; for He could have forestalled the occurrence of moral evil only by removing the possibility of moral good.” (God, Freedom and Evil)

Die implikasie van die mens se morele kapasiteit is dus dat ons slegte keuses kan maak wat ons teen onsself, ons medemens, ons omgewing of teen God kan gebruik. Sulke slegte keuses het bepaalde gevolge wat ander kwaad kan aandoen. Om jou vrye wil te kan uitoefen is terselfdertyd ook afhanklik van ‘n spesifieke tipe wêreld wat op ‘n bepaalde manier met reëlmaat en voorspelbaarheid funksioneer. Dit beteken dat wanneer ek ‘n slegte morele keuses uitoefen om iemand anders kwaad aan te doen, dan word my intensies volgens bepaalde natuurwette geaktualiseer deurdat ek fisies optree. Byvoorbeeld, die moordenaar se intensie om iemand dood te skiet word geaktualiseer deurdat hy die pistool se sneller trek (‘n fisiese voorwerp) en waarvolgens die koeël volgens voorspelbare en berekenbare effek (volgens bepaalde natuurwette) die bedoelde skade aanrig.

Die tipe wêreld wat dit moontlik maak om kwaad aan ander te doen, is egter dieselfde wêreld wat die konteks bied om goeie dinge te doen (moreel en materieel). Alle morele kwaad is eintlik parasities van aard: om die kwaad te kan doen of te bedink is afhanklik van die goeie wat reeds bestaan (soos die vermoë om keuses te maak, of die wonderlike van die fisiese wêreld en hoe dit funksioneer). Die implikasie is dus dat die kwaad nie iets is met ‘n eie bestaansreg nie; die kwaad is altyd ‘n gebrek aan die goeie wat daar behoort te wees. (Dink aan die aftakelende effek van roes as ‘die kwaad’, maar hoedat dit slegs kan bestaan omdat die goed, naamlik die yster bestaan.) Die kwaad is dus nie iets wat God geskep het nie, maar die gevolg van die ondermyning en verwringing van die goeie, deur die mens se toedoen, wat deur God geskep is.

Dit behoort nou duidelik te begin word vir waarom God nie kán verhoed dat mense mekaar, hulself of die wêreld kwaad aandoen nie en waarom dit niks met sy almag te doen het nie. As God die natuurwette ophef elke keer as iemand met slegte morele intensies optree (soos wanneer enige moordenaar se pistool sal weier om te skiet as hulle die sneller trek), dan is die vraag of iemand dan nog die vermoë het om te kan kies. Iemand wie se keuses geen gevolge inhou nie, het in effek tog nie die vermoë om werklik enige sinvolle keuses te maak nie.

Of wat daarvan as God alle mense wat immoreel optree, dadelik uitwis? Dan sal daar tog soveel minder boosheid en lyding in die wêreld wees. Dalk kan God selfs méér proaktief wees en ook mense met bose intensies uitwis nie, want alle bose optrede word tog voorafgegaan deur bose intensies. Natuurlik is geen intensie aanvanklik so boos dat dit dadelik tot bose optrede lei nie. Maar as God mense met matige bose intensies uitwis, dan kan hy net sowel mense met minder bose intensies uitwis, want alle werklik bose intensies (wat lei tot bose optrede) het hul oorsprong in minder bose intensies wat stelselmatig al erger word. Trouens, die beste tipe voorkoming sou wees as God die vermoë tot bose intensie (van watter graad ook al) verhoed, want dan is daar nie eers die moontlikheid vir bose intensies nie; dan is die probleem heeltemal opgelos en is die wêreld ‘n veilige plek.

Ja, dis dalk veilig, maar is dit beter? Dit bring ons terug by Plantinga se stelling: “A world containing creatures who are significantly free (and freely perform more good than evil actions) is more valuable, all else being equal, than a world containing no free creatures at all.” Die probleem is dus dat ‘n wêreld waarin daar nie die moontlikheid vir bose intensies en optrede is nie, is ‘n wêreld sonder morele keuse en morele goedheid, en sal daarom ook ‘n wêreld wees sonder mense!

Terloops, dieselfde fisiese kondisies wat morele optrede moontlik maak is ook die rede vir waarom ons aan die destruktiewe gevolge van onpersoonlike natuurkragte en prosesse soos aardbewings, tsoenami’s, orkane, predasie, siektes en ander natuurlike omstandighede blootgestel is wat nie toegeskryf kan word aan die gevolg van ‘n persoonlike agent se morele intensies nie. Baie van hierdie gebeure in die natuur is die gevolg van natuurlike sikliese prosesse waartydens bepaalde balanse in die natuur herstel word (wat vir die ekologie van die aarde ‘n baie goeie ding is – verwys na naslaanskakels aan die einde). Die lyding van mense wat op tragiese wyse in hierdie prosesse vasgevang word (hierdie ervaring word soms as die gevolg van ‘natuurlike kwaad’ beskryf, hoewel die term ietwat van ‘n oksimoron is), mag dalk na blote toeval lyk, of erger, dat God maar net onsimpatiek toekyk en toelaat dat dit gebeur. Ons mag dalk dink ons weet hoe God in bepaalde omstandighede moet optree om die kwaad en lyding te voorkom, maar ons intuïsies hieroor mag eenvoudig verkeerd wees. Dalk moet ons eerder die moontlikheid oorweeg dat ‘n alwetende en alwyse God kennis dra van die moontlike ongewenste gevolge wat ons as mense nie kán voorsien nie, as hy in spesifieke situasies op bepaalde maniere sou ingryp. Dis soortgelyk aan wanneer ons dink dat dit ‘n goeie ding sou wees as God alle bose optrede verhoed deur die natuurwette wonderbaarlik op te hef op die oomblik dat iemand hul bose intensies wil aktualiseer. Die probleem is dat so ‘n toedrag van sake mense van hulle morele verantwoordelikheid en aard ontneem!

Natuurlik beteken dit nie dat God nie soms wel bonatuurlik ingryp ten tye van mense se bose optrede of tydens natuurrampe nie (Hy kan en Hy doen), maar die feit dat Hy dit nie meer gereeld doen nie, tel nie teen Sy goedheid nie, net soos dit ook nie teen Sy goedheid tel dat Hy dit nie alle gevalle doen nie.

Die vraag is dus ook nie werklik of God wil verhoed dat daar enige kwaad en lyding in die wêreld is nie, maar of al die goed wat in hierdie huidige wêreld teenwoordig is, werklik moontlik kon wees sonder die gepaardgaande kwaad en lyding weens die vrye keuses van mense en weens hoe die natuurlike wêreld fisies funksioneer. Miskien moet ons juis vanweë ons beperking erken dat ‘n al-goeie en alwetende God sou weet dat enige wêreld wat Hy kan skep waarin daar geen of minder kwaad en lyding is as in hierdie wêreld, terselfdertyd ook noemenswaardig minder goed as in hierdie wêreld sou hê, en daarom nie ‘n wêreld is wat hy goeie rede het om te skep nie (let wel dat ons ons nie hier op ‘n vae wyse beroep op misterie nie, maar op dit wat ons weet van God se karakter). As hierdie verduideliking ‘n moontlikheid is, dan beteken dit dat ons nie in enige posisie is om God se goedheid en liefde sowel as sy almag te bevraagteken op grond van die kwaad en lyding wat ons in hierdie wêreld sien en ervaar nie (in hierdie verband is dit baie insiggewend om Josef se verhaal in Genesis te lees en dan veral Josef se gevolgtrekking in Genesis 50:20).

Die implikasie is dat God wél in beheer is van die wêreld, nie deurdat Hy ingryp om alle morele of natuurlike kwaad of die gevolglike lyding te verhoed nie; ook nie dat hy maar net toelaat dat dinge gebeur soos ‘n belangelose toeskouer nie – maar deurdat hy van altyd af geweet het dat die tipe wêreld wat hy sou skep, een is waarin Hy “alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe” (Romeine 8:28). Hierdie gedeelte beteken egter nie dat enige persoon, selfs nie ‘n persoon in ‘n intieme verhouding met die Here, gevrywaar is van die gevolge van die kwaad en ander teenspoed nie. Inteendeel, slegs ‘n paar verse verder in Romeine 8, skryf Paulus dat niks ons ooit van die liefde van Christus skei nie en lys dan ‘n klomp dinge, ‘n kombinasie van morele kwaad en natuurlike toestande (Romeine 8:35-39) wat ons nooit van God se liefde kan skei nie. Sy bedoeling is nie dat ons nooit met hierdie dinge gekonfronteer sal word nie; die punt is dat wanneer hierdie dinge gebeur (nie óf dit gaan gebeur nie), dit nie opsigself ons verhouding met die Here skade kan doen nie. (Daar is verskeie ander gedeeltes in die Bybel wat dit duidelik maak dat kinders van God ontbering en lyding te wagte kan wees). Die rede waarom lyding en moeilike omstandighede nie ons lewens en gedagtes hoef te beheer nie, is omdat ons lewens nie betekenis kry in ‘n strewe na geluk nie (m.a.w. ‘n lewe sonder pyn of lyding), maar ons lewens kry betekenis deur in kennis van God te groei deur ons verhouding met Hom.

Dit is waarom God in beheer is. As God alwetend is, dan weet Hy presies hoe mense sou reageer wanneer hulle hulself in bepaalde omstandighede bevind. Volgens hierdie kennis kon God ‘n bepaalde wêreld aktualiseer waarin mense se keuses in sameloop met die funksionering van die fisiese wêreld, daartoe lei dat hulle in kennis van God kan groei. Dit is die getuienis van tallose mense dat die tye toe hulle voor die uitdagings van boosheid en lyding in hul lewens te staan gekom het, terselfdertyd ook die tye was met die potensiaal vir die meeste groei in hul verhouding met die Here (en in baie gevalle het dit gelei na ‘n aktiewe soeke na Hom waar hulle hom voorheen geïgnoreer het).

Die belangrikste is dus nié om te probeer ontdek wat die spesifieke rede is vir waarom ons spesifieke lyding ervaar nie (dit sal in die meeste gevalle vir ons verborge wees bloot omdat ons nie toegang het tot die tipe kennis wat God in sy alwetendheid en alwysheid het nie.) Die belangrikste is eerder oor hoe ons op ons omstandighede gaan reageer, of ons God juis weens ons verhouding met Hom, kan vertrou en kan afhanklik bly van Sy Gees wat in ons leef en werk.

Baie mense kies egter om God bitterlik te blameer vir al die pyn en hartseer in hul lewe (en vir ander se lyding) en hulle doen dit meestal vir twee redes.

Eerstens het baie mense ‘n onakkurate en simplistiese verstaan van God se betrokkenheid in die wêreld, soos wat hierdie hele bespreking probeer aandui. Mense vra dikwels vrae wat aandui dat hulle ‘n persepsie het van God se rol in kwaad en lyding wat enige sinvolle antwoorde eintlik byvoorbaat verhinder. Een van hierdie persepsies is dat God se almag beteken dat hy ter enigertyd enigiets kan doen en daarom ook direk aanspreeklik is vir alles wat gebeur (maar wat nie die geval is nie, soos ons gesien het). Vrae soos, ‘Hoekom straf God my met hierdie siekte?’, ‘Hoekom stuur God so ‘n ramp oor my pad?’, ‘Hoekom het God toegelaat dat die rower my geliefde doodskiet?’, of ‘Hoekom het God nie gekeer dat ek in daardie motorongeluk was nie?’ is alles vrae wat maklik die komplekse wisselwerking tussen God se alwetendheid en alwysheid, die aard van morele wesens, en die aard van die fisiese werklikheid waarin ons leef,  miskyk of minimaliseer.

Sonder om te verstaan wat dit beteken vir God om in beheer te wees, gegewe laasgenoemde kompleksiteit, is die onuitgesproke persepsie dikwels dat God die oorsaak van morele kwaad is, selfs al het hy dit net toegelaat, of dat God se almag die logies onmoontlike kan vermag, as hy maar net wil. As verduideliking vir waarom God in ‘n bepaalde geval dan nie wou nie, is die antwoord dikwels bloot ‘n vae verwysing na die onnaspeurlike misterie van God, sonder dat iemand daarmee regtig insig óf troos gekry het.

Die tweede rede waarom mense God dikwels blameer vir die pyn in hul lewe is dat hulle, bo en behalwe vir ‘n foutiewe begrip van God se betrokkenheid by die kwaad en lyding in die wêreld, ook nie werklik ‘n verhouding met die Here het nie. Dit is maklik om iemand vir iets te blameer wanneer ons nie enige ervaring het dat daardie persoon ons beste belange op die hart dra of vertrouenswaardig is nie. Om enige persoon te leer vertrou is egter iets wat slegs met die verloop van tyd in die konteks van ‘n verhouding ontwikkel. Die probleem is dat baie mense nog nooit geleer het wat dit beteken om die Here werklik te vertrou of werklik in ‘n verhouding met Hom te leef nie. Baie mense se verhouding tot God is soos ‘n gelukbringer. Wanneer dit goed gaan is, is dit omdat hulle ‘n gelukbringer om my nek dra (hulle glo immers in God se bestaan!), maar wanneer dit sleg gaan is dit tyd om van die gelukbringer ontslae te raak en aan die wêreld te vertel dat dit nie werk nie!

Ons reaksie op die geweldige lyding wat ons in hierdie wêreld beleef en sien, behoort een van vertroue te wees, vertroue in God se karakter en daarmee ‘n vaste hoop dat die goeie uiteindelik sal seëvier al kan ons dit nie sien nie, en dat ons uiteindelik (by die wederkoms) sal deel kry aan die vrug van ‘n lewe waarvan die kwaad en lyding onvermydelik deel was. Natuurlik is dit ‘n proses van worsteling. God verwag nie van ons om ons eie pyn of die pyn van ander met stoïsynse gelatenheid sonder hartseer en trane te aanvaar nie. Hy wil hê dat ons sal worstel met Sy liefde, goedheid en almag te midde van die aaklige gebrokenheid van die wêreld, maar om uiteindelik by Hom ons troos te vind.

So ‘n worsteling is egter nie ‘n skeptiese bevraagtekening nie, maar eerder ‘n soekende oopheid na hoe God in ons lewens besig is, selfs al het ons nie enige finale antwoorde op waarom ons so swaarkry nie. Verder wil God hê dat ons ook verantwoordelikheid sal aanvaar om oral en altyd teen die bose te stry en oral en altyd waar ons kan, ander se lyding sal help verlig. Die bose en die dood is beslis deur Jesus se dood aan die kruis klaar oorwin, maar tot en met die wederkoms wanneer God volkome herstel bring, leef ons steeds in ‘n gebroke wêreld (die direkte gevolg van ons sondige keuses in ongehoorsaamheid aan God). Ons is egter nou reeds agente van hoop vir God se uiteindelik genesing vir die wêreld.

Niks van wat hier gesê is, gaan egter regtig as pastorale hulp dien vir iemand te midde van die worsteling met erge lyding nie. Wat mense wat swaarkry meestal die nodigste het, is die teenwoordigheid en praktiese ondersteuning van die mense naaste aan hulle, nie allerlei spekulatiewe antwoorde en verduidelikings nie. Om een of ander tyd ‘n rustige refleksie te onderneem oor God se almag en liefde en die teenwoordigheid van die kwaad en lyding, het egter baie waarde. Die dag wanneer ons dan wel in die storms van die lewe vasgekeer voel, dan mag die ure van ons sorgvuldig nagedink het oor hierdie sake, die verskil beteken tussen ‘n wanhoop in ‘n koue, ongenaakbare wêreld wat maar net is hoe dit is, en die geloof, vertroue en hoop in die God wat óns sowel as hierdie wêreld gemaak het.

Lees gerus die volgende baie insiggewende artikels oor die probleem van die kwaad en lyding vanuit ‘n Christelike perspektief:

Jy kan ook na die volgende twee artikels kyk:

Met betrekking tot jou vrae oor die geweld in die Ou Testament, kan jy gerus die volgende plekke besoek en wat uiteenlopende opinies verteenwoordig, maar wat jou ‘n goeie idee sal gee van die verskillende aspekte rondom hierdie saak.

Daar is ook twee oudio-files waarna jy kan luister op AntWoord se webblad:

Gesels asseblief verder met my as jy wil.

Beste groete

Udo

 

Hallo Udo

Ek waardeer jou terugvoer – baie dankie!  Dis geweldig (no pun intended) sinvol.  Ek het dit uitgedruk en wil dit vanaand rustig en ongestoord lees en verteer.   

Ek het baie vrae op die oomblik. Terwyl ek so lees aan jou skrywe, duik hulle spontaan op. ( Ek moet regtig leer om nie so ‘ongefokusd’ te wees en slordig te dink nie.)  Ek gaan voordat ek verder vrae vra, eers party van hierdie skakels volg en myself vergewis van dinge. 

Jong, ek vra baie vrae.  My ma het altyd gesê “My kindjie, VERTROU…glo soos ‘n KIND”; dan dink ek ja, vir wat martel ek myself so met al die vrae waarvoor daar dalk waarskynlik (vir baie) nie antwoorde is nie ?

Kom ons sê ek beleef ‘n soort eksistensiële krisis. My ma, wat ek net kan beskryf as ‘n Goddelike vrou by gebrek aan ‘n beter beskrywing, is verlede jaar dood aan kanker.  Dis nie die kanker wat my probleem is nie – dis hoe sy gesterf het.  Ek was by haar,  het met haar gesels.  Sy’t terrible gelyk. Geroggel. Geel.  Haar oë omgedop.  Ek het probeer rondkyk in die kamer – waar was die Heilige Gees? Waar was haar vrede, haar innerlike kalmte? – het ek gewonder. Hoekom  moet SY, van alle mense, so onseremonieel en ‘koud’ die ewigheid ingaan? Sy het so alleen en verlore gelyk. Toe is sy net weg – met daai vreeslike oë.  Ek het  ‘n vreeslike beklemmende gevoel – Is alles waar? Is daar ‘n hemel?  Is alles nie maar net ‘n blote versinsel van om die harde werklikheid te probeer hanteer nie? En daar – net mooi daar – het hierdie ding, hierdie  ‘reis’ begin. Van voor af. Nadat ek gedink het alles is 100%.

Dit net ter agtergrond. Jy sal weer van my hoor! En weer eens dankie vir jou tyd.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek besef jy het tyd nodig om eers verder te lees en na te dink, maar ek wou graag net vinnig ‘n paar opmerkings maak op wat jy gesê het. Jy skryf:

My ma het altyd gesê “My kindjie, VERTROU…glo soos ‘n KIND”; dan dink ek ja, vir wat martel ek myself so met al die vrae waarvoor daar dalk waarskynlik (vir baie ) nie antwoorde is nie ? 

Ek dink vrae is ALTYD ‘n goeie ding. As daar nie regtig sinvolle antwoorde op ons vrae is nie, of as bepaalde idees vals is, dan is die enigste manier om dit uit te vind deur ondersoekende vrae te vra. Vrae kan ‘n probleem raak wanneer mense eintlik hul gedagtes klaar opgemaak het, lank voordat hulle die kwessies ter sprake regtig probeer ondersoek het, en allerlei vrae dan bloot as ‘n wapen gebruik om sinvolle antwoorde mee af te weer.

Met baie respek aan jou ma, ek wonder hoeveel mense besef dat kinders die meeste vrae van almal vra. Hulle is natuurlike vraagstellers! Kyk maar na kinders se reaksie as ons enigste antwoord op hul vrae bloot is: “Omdat ek so sê!” of “Sommer!” (die ekwivalente van “Glo maar net!”). Kyk gerus na die volgende kort artikel juis oor hierdie kwessie: Moet ‘n Christen soos ‘n kind glo?

Jy skryf:

Kom ons sê ek beleef ‘n soort eksistensiële krisis.  My ma, wat ek net kan beskryf as ‘n Goddelike vrou by gebrek aan ‘n beter beskrywing, is verlede jaar dood aan kanker.  Dis nie die kanker wat my probleem is nie – dis hoe sy gesterf het.  Ek was by haar,  het met haar gesels.  Sy’t terrible gelyk. Geroggel. Geel.  Haar oë omgedop.  Ek het probeer rondkyk in die kamer – waar was die Heilige Gees? Waar was haar vrede, haar innerlike kalmte? – het ek gewonder. Hoekom  moet SY, van alle mense, so onseremonieel en ‘koud’ die ewigheid ingaan? Sy het so alleen en verlore gelyk.  Toe is sy net weg – met daai vreeslike oë.  Ek het  ‘n vreeslike beklemmende gevoel – Is alles waar?  Is  daar ‘n hemel?  Is alles nie maar net ‘n blote versinsel van om die harde werklikheid te probeer hanteer nie?  En daar – net mooi daar – het hierdie ding, hierdie  ‘reis’ begin.  Van voor af. Nadat ek gedink het alles is 100%.

Die meeste van ons beleef een of ander tyd eksistensiële krisisse, want ons is eksistensiële wesens. Dis hoe ons gemaak is. En om ‘n geliefde op so ‘n tragiese wyse te sien sterf, skud die fondasies van ons eksistensiële harte. Dit wat ek egter vervolgens vir jou wil sê oor jou ervaring met jou ma se afsterwe, is glad nie om dit te minimaliseer nie, maar om juis te beklemtoon dat jy baie rede het om jou vuiste te bal en in frustrasie uit te skree teen die lyding wat sy beleef het. Kom ek verduidelik.

Dis een van die basiese leerstellings van die Christelike geloof dat die mensdom se verhouding met die Here tragies geskeur het met die ongehoorsaamheid van Adam en Eva (as ons verteenwoordigers) in die Tuin van Eden (die sondeval). Dit was die begin van die kwaad en lyding in die mens se bestaan op aarde. Ons lewe in ‘n gebroke, stukkende wêreld as gevolg daarvan.

Waarop ek jou aandag wil vestig is die tekens wat God aan Adam en Eva (en deur hulle ook aan ons) gegee het om hulle te herinner dat hulle in ‘n gebroke wêreld leef, dat dit nie is soos wat dit deur God bedoel is om te wees nie. Daar was verskeie dinge wat as sulke tekens sou dien (sien Genesis 3:14-19): die vrees wat ‘n slang by mense inboesem, die pyn van geboorte, die gebroke dinamiek tussen man en vrou in die huwelik, die frustrasie van die proses om in ons lewensonderhoud te voorsien, die ongenaakbaarheid van die natuur en die dood van elke mens.

Met die uitsondering van die dood, wat God heel aan die begin gesê het die resultaat sou wees van Adam en Eva se sonde, is dit insiggewend om op te let dat geen van die ander dinge inherent sleg is nie, maar aanvanklik deel gevorm het van God se goeie skepping. Dit is omdat sonde deel van die wêreld geword het, dat dit tekens geword het van gebrokenheid en die lyding wat daarmee gepaard gaan:

  • ‘n Slang is nie inherent sleg nie (dis ‘n goeie skepping soos enige ander dier), maar dit het ‘n teken geword van gevaar, vrees en weersin.
  • Om geboorte te skenk is ‘n baie goeie ding, tog word dit met geweldige pyn geassosieer.
  • Die huwelik is ‘n wonderlike, Godgegewe instelling, tog is konflik en onvervulde verwagtinge en begeertes nooit afwesig nie.
  • Werk is opsigself ‘n baie betekenisvolle aktiwiteit wat vervulling en voorspoed kan bring, maar mislukking, frustrasie en probleme is dikwels ‘n daaglikse realiteit.
  • Ons vind baie vrede en vreugde in dit wat die natuur vir ons bied en tog is ons dikwels blootgestel aan prosesse in die natuur wat ons lewens bedreig en omverwerp (van siektes soos kanker tot verwoestende weersomstandighede).
  • Laastens is die dood die grootste teken van die wêreld se gebrokenheid, dis die duidelikste teken van ons sondige natuur en die gevolg van sonde.

Die eerste punt wat ek wil maak is dat ons elke dag met hierdie tekens van gebrokenheid gekonfronteer word, en vir ‘n baie spesifieke rede. Deur bewus te raak van hierdie tekens, is om bewus te wees van die sonde en al die aaklige gevolge wat sonde in die wêreld gebring het. Toe jy jou ma so sien ly het, het dit geweldige emosie in jou aangewakker; jy het in opstand gekom teen die aaklige, koue, onseremoniële aard van haar lyding; jy het dalk in geweldige frustrasie jou eie magteloosheid ervaar om haar pyn te help verlig of om noemenswaardige troos te bied, veral as sy later nie meer volle bewussyn gehad het nie.

Ons natuurlike reaksie is om hierdie emosies op God te wil projekteer en te eis dat hy onmiddellik iets daaraan doen (of reeds moes gedoen het om dit te keer). En as Hy nie doen nie, dan is Hy liefdeloos en impotent, en as dit die geval is, dan is hy nie God nie, en as hy nie God is nie, dan bestaan hy nie eintlik nie. Dis hoe die onnadenkende redenasie dikwels gaan (soos ek in my vorige skrywe probeer verduidelik het).

Maar hopelik kan jy sien (juis ook n.a.v. my vorige skrywe) dat ons opstand en emosies eintlik teen die aard en bestaan van sonde (die kwaad) gerig behoort te wees. Ek wil weereens beklemtoon dat ons heeltemal geregverdig is om sulke emosie en opstand te ervaar en daaraan uitdrukking te gee. Jesus sélf het meer as een maal erg emosioneel geraak oor die aaklige gevolge van sonde (Joh. 11:33, Matt. 23:37, Matt. 26:37-44), maar hy het nooit die vinger na God gewys nie.

Die tweede punt om te maak is dat wanneer ons bewus word van die tekens van gebrokenheid en sonde, dan moet ons terselfdertyd ook bewus word dat dit net die helfte van die storie is. Die tekens van Genesis 3 het eintlik ‘n dubbele funksie omdat dit ons ook herinner aan die ander helfte van die storie: dat God iets aan die sonde gedoen het, dit oorwin het en dat hoewel ons nog die gevolge van die sonde beleef, ons die hoop het om eendag heeltemal daarvan vry te wees. Ons kan egter nou reeds deel hê aan hierdie oorwinning deurdat ons met alles in ons sal stry teen die sonde, teen lyding in wêreld, en ja, ook teen die Bose Een wat dikwels ‘n rol speel in die lyding wat ons beleef. Wanneer ons dus in die aangesig van lyding (ons of ander s’n) huil en skree van frustrasie, hartseer en magteloosheid, dan gee ons uiting aan die feit dat hierdie wêreld gebroke is en dat dit heeltemal onaanvaarbaar is. Ons moet en mag dit maar doen! Maar in stiller oomblikke wanneer ons emosies bedaar het, kan en moet ons ook die betekenis van die evangelie bevestig (God se liefde vir ons) en die hoop wat dit bring (oorwinning oor die dood en sonde), en dat ons aardse woning tydelik is, dat God herstel gaan bring en elke traan sal opdroog (ons verwag ‘n verheerlikte bestaan op ‘n nuwe aarde wat God gaan skep).

Om op te som. Die tekens van gebrokenheid wat ons daagliks ervaar, is daar om ons te herinner aan wat verkeerd gegaan het in die wêreld (sonde), maar dis ook daar om ons te herinner aan wat God gedoen het (ten koste van Homself), en nog sal doen, om herstel moontlik te maak. Daarom is dankbaarheid, ten spyte van lyding, nie maar net ‘n onhaalbare sentiment nie, maar behoort dit ‘n realiteit te kan wees in ons as Christene se lewens te midde van erge lyding.

Winkelsmidt, ons praat weer wanneer jy reg is.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.