Die Pous en Dialoog

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an “exchange of gifts.” There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

– Pope John Paul II

 

 

Goeie more

Johan Erasmus en Roedolf Botha is Dialoog se ankers en geleerde manne met ‘n standpunt oor Jesus. Hulle assosieer met die AntWoord-apologetiek span. Ek is ‘n Christen, en het al van die Antwoord sessies bygewoon en dit waardevol gevind. Hierdie is NIE n offisiële epos nie, net my persoonlike besorgheid in liefde oor julle verwysings na die Pous op julle webwerf.

Vir julle oorweging wil ek graag twee voorstelle maak:

  1. Dat julle alle verwysings van die Pous van julle werf afhaal;  

en/of 

  1. Baie duidelik maak dat daar n kontras is tussen:
  • Wat die Pous sê, en
  • Wat die waarheid behels.
  • Nota: Dit, al wil julle nie sê wat julle glo voor die bywoners by julle forum aankom nie.    

My pleidooi is vriendelik van aard. Die pleidooi is vir die feit dat daar net een absolute objektiewe tydlose vaste waarheid kan wees. Julle forum se leiding as ek https://www.antwoord.org.za/wie-is-ons/geloofsverklaring/ lees, behoort te strook met ten minste AntWoord se lering – of dalk het julle ‘n ander agenda of lering, en as julle het, moet julle dit asseblief oorweeg om julle verwysings van AntWoord se werf af te haal. Forums en hulle leiers kan onmoontlik nie “neutraal” wees nie – dis ‘n logiese onmoontlikheid, of ten minste nie “pseudo” wees nie – dit waarteen meeste van Paulus se briewe waarsku.  

As sou julle die Dialoog-forum as Bybels of Christelik (m.a.w. wat strook met WIE Jesus is) wou voorhou, en ek weet nie of ek in die ontluikende postmoderne kultuur so iets met julle moet aanneem nie, sou ek ten minste, soos ek bo in punte 1 en 2 noem, nie die Pous as neutraal uitbeeld nie en nog minder die Pous se 100% niksseggende / postmoderne idee van dialoog aanhaal nie. Onduidelik en mistiek is nie gelyk aan intelligent of eerlik of allermins Bybels nie.    

Oorweeg asb. in liefde my pleidooi; julle wil tog nie mense eenvoudig in hulle eie sondige dialoog rondlei sonder om vir hulle die absolute waarheid te wys en te voldoen aan Matt 28 nie?

As ek niks van julle hoor nie, neem ek aan my epos val op dowe ore en dan is dit in God se soewereine wil hoe dit gebeur. Oorweeg egter wat ek sê want julle lei mense na Jesus toe of weg van Hom af. Dis ewige lewe waarvan ons praat, of jy nou Arminiaans of Calvinisties is of in die middel aan tjommel – God se swaarder oordeel volg as jy jou ogies toemaak (Jak 3:1).   

Vrede

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Getrou aan die beginsel van ‘dialoog’ wil ek jou graag uitnooi tot gesprek. Jy is ‘n broer in Christus en familie behoort mos met mekaar te kan praat. Daarom waardeer ons ook jou brief – dit val beslis nie op dowe ore nie.

Eerstens iets oor die verhouding tussen AntWoord en Dialoog. Ek dink amper die beste manier om dit te verduidelik is om te sê, “Die hoop is om deur dialoog by ‘n antwoord uit te kom”. Maar dit beteken nie dat bloot alle antwoorde ewe waar of waardevol is nie. Die personeel van beide AntWoord en Dialoog glo in die bestaan van waarheid, dat die Christelike geloof soos dit in die persoon en werk van Christus uitdrukking vind, die Waarheid is. Ons glo dat Hy die sleutel is tot ons diepste vrae en lewensworstelings. Daar is dus niks neutraal aan wat ons glo nie.

Dialoog as ‘n gemeenskap van mense wat gereeld bymekaar kom, gaan in essensie daaroor dat mense genooi word om saam te praat en te dink – daarom dus ‘Dialoog’, om aspekte rondom die waarheid saam te ondersoek. Dit beteken dat Dialoog mense uitnooi om saam met ander oor hulle vrae, besware en pyn te worstel en te dink, hulle twyfel sonder vrees vir veroordeling uit te spreek en dan bepaalde oplossings/antwoorde, met die ondersteuning van ander, voor die uitdagings van die lewe te toets. In hierdie proses gaan daar altyd mense wees wat bepaalde Christelike waarhede nie kan of wil aanvaar nie, maar die uitgangspunt is dat solank sulke mense bereid is om aan te hou om daaroor te dink en daarmee te worstel en daaroor uitgedaag te word, dan is hulle welkom in die familie van Dialoog.

Die feit is dat daar baie mense is wat nooit die geleentheid gegun word om oop en eerlik met (ander) Christene te gesels oor wat hulle pla of waaroor hulle wonder nie. En selfs al is daar geleentheid, is die reaksie ongelukkig dikwels een wat neig om vrae en twyfel te onderdruk of simplisties daarmee om te gaan sodat mense dikwels voel dat hulle nie gehoor of aanvaar word weens hul worsteling nie.

Om gehoor en aanvaar te word is sentraal tot Dialoog se etos. Dit beteken nie ‘n verloëning van die waarheid nie, want die Christelike boodskap is die raamwerk en motivering waarbinne Dialoog na mense uitreik om hulle te bedien.

Dialoog is inderdaad ‘n unieke manier om ander te dien en is natuurlik geensins volmaak nie. Iemand wat egter kritiek wil lewer op Dialoog se werkswyse word aangemoedig om eers ‘n paar sakke sout te eet saam met diegene wat daarby betrokke is en eerstehands te ervaar watter verskil dit in hul lewens maak.

Daarmee ‘n baie kort agtergrond tot die motivering vir ‘Dialoog’.

Kom ons kyk vervolgens na jou brief en die opmerkings wat jy daarin maak. Die lyk of jou besorgheid geheel en al fokus op die aanhaling van die Pous wat onderaan Dialoog se webblaaie verskyn. Ek wil graag ‘n paar opmerkings maak en dan jou kommentaar daaroor vra.

  1. Dit is implisiet aan die gebruik van aanhalings dat wanneer ‘n mens iemand oor iets aanhaal, dit nie beteken dat ‘n mens alles wat daardie persoon dalk elders mag gesê het, goedkeur nie. Veronderstel Dialoog het ‘n eerder ‘n aanhaling van Mahatma Ghandi op hul webwerf geplaas: “To believe in something, and not to live it, is dishonest.” Sou hierdie opmerking van Ghandi minder waar wees net omdat ‘n Hindoe dit gesê het? Is waarheid nie God se waarheid waar dit ook al gevind word nie?
  2. Jy dink egter dat wat die Pous in die aanhaling sê ‘n “100% niksseggende / postmoderne idee” is. Ek dink jy is heeltemal oorhaastig en onnodig onsimpatiek in jou lees van die aanhaling en hierdie baie sterk uitspraak wat jy maak. Dink jy werklik dat die manier waarop ons met mense in gesprek tree, en of en hoe ons vir hulle bid, niks met mekaar te doen het nie? En soos wat ‘n mens ander se stories en worsteling hoor en hulle versugtinge leer ken in dialoog met hulle, dink jy nie dat ons dan selfs méér rede het om te bid en dat dit ons gebede selfs méér kragtig maak nie? ‘n “100% niksseggende / postmoderne idee”? Sjoe, Winkelsmidt, ek dink jy is ons ‘n verduideliking verskuldig.
  3. Die leierskap van Dialoog is nie Rooms Katoliek nie en dink beslis nie dat die Pous onfeilbaar is in enige van sy uitsprake nie. Maar terselfdertyd hoef ons nie te dink dat die Rooms Katolieke Kerk of die Pous, die Antichris is nie. ‘n Mens hoef nie met alles wat die Roomse kerk bely, saam te stem om te kan sien dat daar ook baie toegewyde Katolieke Christene is nie (sien bv. hier). Protestante en Katolieke kan met mekaar in dialoog tree sonder om met aggressiewe afwysing teenoor mekaar te reageer wanneer hulle oor iets verskil. Dialoog is nie ‘n alternatief tot die Waarheid nie, maar ‘n manier om wat waar is saam te ondersoek en tot duidelikheid daaroor te kom.

Winkelsmidt, ek dink werklik nie die aanhaling van die Pous op Dialoog se webwerf is ‘n verleentheid vir die Evangelie of verdien die smaad waarmee jy dit bejeën nie. Maar laat weet gerus van jou, dan gesels ons verder.

Groete

Udo

(Red: Ongelukkig het hierdie uitnodiging tot gesprek toe inderdaad op dowe ore geval…)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.