Mag ek twyfel?

deur Udo Karsten

Christene kan en mag met deeglikheid en bedagsaamheid oor hul geloof nadink. So ‘n stelling klink vir sommige mense vreemd (vir Christene sowel as skeptici), want is om te glo en om te dink, dan nie eintlik twee onversoenbare aktiwiteite nie? Wanneer dit boonop kom by die kwessie van twyfel, dan raak dinge skynbaar nóg meer kompleks.

Mag ‘n Christen twyfel? Kan daar werklik sprake wees van robuuste geloof waar daar ook soms twyfel is? Is twyfel dan nie ‘n teken van ongeloof, ‘n sonde wat bely moet word of ten minste ‘n bedreiging wat besweer moet word nie? Of dalk is twyfel eerder iets wat ons ervaar juis as ons werklik begin dink en nie sommer net glo nie!

Menige Christene wat met twyfel in hulle eie lewens gekonfronteer word, voel daaroor skuldig of word daardeur lamgelê. Hierdie artikel wil ‘n paar algemene oorsake van twyfel van naderby beskou en miskien ook valse persepsies aan die kaak stel. Die vraag is nie of Christene soms twyfel nie, maar wat hulle doen wanneer hulle soms twyfel. Philip Yancey maak die opmerking: “Although we cannot control doubt, which often creeps up on us uninvited, we can learn to channel it in ways that make doubt more likely to be nourishing than toxic.”[1] Hoe ons as Christene oor die idee van twyfel dink en wat ons met ons twyfel maak, het die potensiaal om vir ons Christelike lewenservaring baie te beteken.

Die realiteit van twyfel

Sommige Christene worstel gereeld met vrae en onsekerheid, ander beleef twyfel net in sporadiese oomblikke, maar bykans almal worstel een of ander tyd in hul lewe met gedagtes van twyfel. Ongelukkig is dit so dat nie baie Christene hul twyfel kan of wil erken nie. Os Guinness sê, “The shame is not that people have doubts, but that they are ashamed of them.”[2] Twyfel bring dikwels allerlei negatiewe konnotasies in baie Christene se gemoed op. Dinge soos ongehoorsaamheid, sonde, swakheid en selfs ongeloof is van die woorde en beskuldigings wat ons bang is om dalk te hoor as ons dit sou waag om te erken dat ons twyfel beleef. Daarom swyg ons liewer oor ons twyfel, teenoor onsself en teenoor ander, maar uiteindelik ook teenoor God, in vrees dat twyfel ons van God sal afsny. Twyfel wat so onderdruk word het ongelukkig meestal ‘n negatiewe uitwerking op ons geloofservaring. Onverwerkte of verhulde twyfel neig om te sweer en septies te raak, en in ‘n poging om van die pyn ontslae te raak kan dit inderdaad op ongeloof uitloop.

Hier is wat baie Christene nodig het om te hoor: Twyfel is nie ongeloof nie – ongeloof is die keuse om nie te glo nie; twyfel is ‘n uitnodiging om vrae te vra en onsekerhede te opper met die hoop om in geloof en begrip te groei. Os Guinness in sy boek oor twyfel, God in the Dark, verduidelik soos volg:

Doubt is not the opposite of faith, nor is it the same as unbelief. Doubt is a state of mind in suspension between faith and unbelief so that it is neither of them wholly and it is each only partly. This distinction is absolutely vital because it uncovers and deals with the first major misconception of doubt – the idea that we should be ashamed of doubting because doubt is a betrayal of faith and a surrender to unbelief. No misunderstanding causes more anxiety and brings such bondage to sensitive people in doubt.[3]

Twyfel is ook nie ‘n aanduiding van ‘n defek in iemand se geloof nie – dit is dikwels bloot ‘n gesonde bewuswording dat ons as mense beperkte begrip het wanneer dit kom by iemand soos God. Ons het ook eenvoudig nie ‘n Goddelike perspektief op die wêreld waarin ons leef nie. Twyfel is daarom ook nie opsigself sonde nie, hoewel sonde en ongehoorsaamheid wel tot twyfel kan aanleiding gee. Alister McGrath praat oor twyfel se konneksie met beide sonde en menslike beperking in sy boek, Doubt in Perspective:

Doubt reflects the continued presence and power of sin within us, reminding us of our need for grace and preventing us from becoming complacent about our relationship with God… Yet there is more to it than this. It is not entirely correct to describe doubt as simply due to human sinfulness. It is also a reflection of human frailty. We are human beings – and, quite frankly, this means we operate under limits. There are many things we cannot do, and many we cannot see, simply because we are human, not divine… And because we can’t fully grasp something, we sometimes doubt whether it is true… Faith assures us that, though we do not see the picture totally, we nevertheless see it reliably (1 Corinthians 13:12).[4]

Dit help ook om die onderskeid te tref tussen twyfel en skeptisisme. ‘n Christen se twyfel kan beskryf word as ‘n plek vanwaar iemand vrae het as gelowige omdat hulle nie op daardie oomblik kan verduidelik waarom hulle iets glo nie. Skeptisisme, aan die ander kant, is die plek vanwaar iemand vrae vra oor dit wat hulle nie glo nie en dikwels ook nie belangstel om te glo nie. ‘n Christen se twyfel moet dus nie met skeptisisme verwar word nie. Skeptisisme is ‘n vorm van ongeloof wat van buite af vyandige vrae oor geloof vra. Natuurlik het sommige skeptici wel soekende tipe vrae en daarom is dit goed as Christene altyd skeptici se vrae ernstig opneem, tot en met ‘n mens kan vasstel of die vraagsteller werklik in antwoorde geïnteresseerd is. Theo Geyser som dit goed op: “Die verskil tussen gesonde en ongesonde twyfel (seker ook tussen gesonde en ongesonde sekerheid) is dat die een ‘n soektog is, en die ander ‘n verskoning.”[5]

Wanneer twyfel in die regte perspektief geplaas word, bevry dit ons om ondersoek in te stel na ons geloof en kan twyfel op ‘n sinvolle manier hanteer word. Elke gelowige se twyfel is uniek, maar daar is ‘n paar algemene oorsake wat hier genoem moet word wat dikwels ‘n rol speel in waarom ons as gelowiges dikwels twyfel ervaar.

  1. Ondeurdagte geloof

Die bedoeling is nie om onnodig krities te wees nie, maar dit is ongelukkig so dat die meeste volwasse mense wat hulleself Christene noem, nie werklik kan verduidelik wát hulle glo nie, en nog minder wáárom hulle dit glo. Hierdie feit alleen is die oorsaak van baie twyfel. Os Guinness stel dat, “Many people doubt because they have left out something important in the way they have come to believe. Believe in God for wrong reasons or for no reason at all and you cannot expect to be free from doubt.”[6]

Verder het Christene baie keer ‘n gebrekkige verstaan van geloof sodat wanneer dit onder die minste druk verkrummel, die gelowige in geweldige twyfel gedompel word. Sommige Christene dink dat geloof nie veel met die rede en begrip te doen het nie. Geloof wat egter van die rede losgemaak word, is iets wat dan net sowel kan plek maak vir allerlei irrasionele geloofsoortuigings. Geloof sonder denke is nie net naïef en onverantwoordelik nie, maar kan daarom ook uiters gevaarlik wees, soos menige stories oor die kultusse sal bevestig.

Om te glo en om te dink kan nie van mekaar geskei word nie. Natuurlik is geloof, en meer spesifiek die objek van geloof, grootliks in misterie gehul. Wanneer iemand oor die natuur van God nadink of God se doen en late bepeins, dan is dit, om ‘n ontoereikende analogie te gebruik, soos om te dink dat ‘n insek oor die aard en motiverings van die mens moet nadink. Dit beteken egter nie dat dit nie moontlik is om bo redelike twyfel vas te stel of dit wat ons glo ooreenstem met wat werklik so is nie. Christene glo byvoorbeeld dat die persoon Jesus Christus tweeduisend jaar gelede fisies uit die dood opgestaan het. Dit beteken nie dat daar bloot iets misterieus plaasgevind het en dit nie werklik saak maak of Jesus se beendere nog êrens in ‘n graf lê nie. Nee, Jesus het liggaamlik uit die dood opgestaan, of hy het nie; dit het so gebeur, soos oorvertel, of dit het nie. Indien dit wat oorvertel is, nie werklik gebeur het nie, dan is om dit te glo, valse geloof. ‘n Christen behoort iemand te wees wat net glo wat waar is en om die aanspraak te maak dat iets waar is, beteken om goeie redes te kan gee vir waarom dit wat geglo word sou ooreenstem met wat werklik so is. Baie Christene wat twyfel beleef oor wat hulle glo, is eenvoudig daarvan onbewus dat wat hulle glo goeie historiese en filosofiese gronde mag hê. Die Christelike geloof is nie blind of irrasioneel nie, maar is in ooreenstemming met wat ‘n redelike mens kan glo werklik die geval is.

Dit beteken nie dat alles wat Christene glo netjies deur die rede of deur bewyse en ondersoek uitgepluis kan word nie. Om misterie en menslike beperking te erken is nie om ‘n maklik uitweg te hê wanneer ons met moeilike vrae gekonfronteer word nie. Robert Wennberg, ‘n Amerikaanse filosoof, skryf hieroor soos volg in sy baie insiggewende boek, Faith at the Edge – A Book for Doubters:

Many Christians, when confronting for the first time theoretical problems associated with their Christian faith, find this unsettling, much like this student who was troubled by complexities associated with the doctrine of the Trinity. They may be assuming that for a belief to be confidently and rationally held it must either be virtually free of theoretical problems or beset by problems that avail themselves of quick and easy responses. But this is not the case for almost all beliefs that we hold, including our most basic and commonsense beliefs. A good introductory course in philosophy will be quick to disabuse one of the notion that serious skeptical challenges are limited to belief in God and objective moral standards. In point of fact, when it comes to exploring the nature and existence of God, we should expect to find puzzles and perplexities. Indeed, if physicists in exploring the nature of matter or light confront puzzles, how much more should we expect to confront puzzles when exploring not the mere subject matter of physics but the nature and reality of an infinite God. Should there be no serious intellectual perplexity, everything falling neatly into place, then we might very well conclude that we are not dealing with God, or at best we are doing so in a superficial way.[7]

Christene wat nog nie besonder diep oor hul geloof nagedink het nie, is dikwels baie ontvanklik vir die kritiek van skeptici en word gevolglik ook maklik die slagoffers van twyfel. Baie Christene word byvoorbeeld beïnvloed deur die populêre skrywes van vergramde ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris en Christopher Hitchens wat die afgelope dekade die lig gesien het. Hul argumente teen die Christelike geloof is bytend eerder as ondermynend, tog voel sommige Christene geïntimideer en verval hulle in twyfel weens hierdie skrywers se fynbesnaarde retoriek. Hoef Christene egter regtig terug te deins vir hierdie vyandigheid? Alister McGrath merk op:

First, the popular reaction to an idea has no bearing on whether it is true or not. People may ridicule your faith in God – but that doesn’t mean it is wrong. Most people have little understanding of what Christianity is all about. Very often, they reject a caricature of the gospel, not the gospel itself. You may well find that once you begin to explain what Christians believe (and why they believe it!), some of the hostility and lack of understanding begins to disappear. ‘We have got used to the fact that people make fun of things they don’t understand’ (Goethe). It isn’t as if everyone has tried Christianity, and decided it is no good. Nor is it as if they’ve all thought deeply about it, and decided it can’t be right. Most people give Christianity little thought, and very often base even that on misunderstandings.[8]

Dit is jammer dat baie skeptici eenvoudig glad nie belangstel in wat ingeligte Christene se antwoorde is op die besware wat hulle opper nie. Christene wat met die vyandige skrywes van skeptici te doen kry, hoef egter onder geen illusie te verkeer dat die intellektuele gewig aan die kant van die skeptici lê nie. Dit is eenvoudig nie waar nie, daar is verskeie Christelike denkers met die hoogste kwalifikasies in hul akademiese velde wat met die uiterste bekwaamheid en kennis aan die evangelie van Christus toegewyd is.

  1. Verwaarloosde geloof

Nog ‘n oorsaak van twyfel het te make met ‘n geloof wat afgeskeep word, geloof wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar word maar nie regtig beoefen word nie. Os Guinness noem ‘n lys van dinge wat twyfel veroorsaak en sê, “The fifth doubt enters right there – when Christians do not go on, when they do not grow, when they fail to experience and express their new life, when they simply fail to practice the truth.”[9]

Baie Christene is as jong volwassenes meestal baie entoesiasties en meelewend in hulle geloof. Die jare gaan verby en sien sommige van hierdie Christene toenemend met twyfel worstel. Dit mag skynbaar lyk (soos hierdie Christene verkeerdelik daaroor mag begin dink) dat hulle nou bloot ‘n meer volwasse uitkyk op die lewe het, ‘n minder naïewe wêreldbeeld as toe hulle jonger was. Die feit is dat hierdie Christene dikwels baie min of self niks in hulle Christelike lewe en begrip gegroei het nie. Guinness is hieroor taamlik berispend:

Nothing is more pathetic that the sight of a Christian of forty or fifty attempting to get by on the faith he had when he was twenty, especially since the intervening years have seen development and maturity in every other area. Such faith is little more than a memory.[10]

Dit is eenvoudig maklik om stadig te begin wegdobber op die see van agteloosheid en dit kan ‘n ontnugtering wees om later te besef dat ons op die strand van twyfel uitgespoel het. Guinness: “This is the way that many people doubt, little by little, choice by choice, thought by thought. Faith is not torn up, it is merely frayed. It is not eaten away suddenly but nibbled at the corners. It is not hit by a bolt of lightning, it is the victim of the slow erosion of many winters.”[11]

Die gevaar is inderdaad dat iemand heeltemal kan wegdryf van die Christelike geloof, en daarom vra C.S. Lewis tereg, “If you examined a hundred people who had lost their faith in Christianity, I wonder how many of them would turn out to have been reasoned out of it by honest argument? Do not most people simply drift away?”[12]

Die Christelike geloof gaan in die eerste plek oor ‘n verhouding met God en soos met enige verhouding is dit nodig om voortdurend daaraan te werk, dit te bevestig en te verdiep. Twyfel kan dus partykeer ‘n skerp aanduiding wees dat ons ons verhouding met die Here afgeskeep het. Twyfel is dan eintlik ‘n oproep om weer vernuwing en verdieping te soek. Om aan enige verhouding te werk het natuurlik bepaalde uitdagings, maar dit help om te onthou dat bykans niks in die lewe wat werklik betekenisvol is sonder uitdagings is nie.

Jesus se gelykenis van die saaier in Markus 4 is hier baie insiggewend. Die gelykenis toon aan dat daar verskeie uitdagings is wat kan verhoed dat geloof regtig posvat en groei. Jesus se boodskap met hierdie gelykenis is nie maar net dat ons uitgelewer is aan bepaalde omstandighede wat dreig om geloof te verhoed of te kelder nie. Ons word aangemoedig om vir onsself af te vra hoe die grond lyk waarin ons geloof veronderstel is om te groei en floreer. Is daar klippe en dorings en honger voëls wat by ons twyfel veroorsaak? Wanneer ons erns maak met ons verhouding met God, dan sal ons ook erns maak om klippe uit die pad te rol, dorings uit te trek en voëls te verjaag.

  1. Emosies

C.S. Lewis was baie eerlik oor sy eie worsteling met twyfel en vestig die aandag hier op iets waarmee baie Christene kan identifiseer:

I think the trouble with me is lack of faith. I have no rational ground for going back on the arguments that convinced me of God’s existence: but the irrational deadweight of my old skeptical habits, and the spirit of this age, and the cares of the day, steal away all my lively feeling of the truth, and often when I pray I wonder if I am not posting letters to a non-existent address. Mind you I don’t think so—the whole of my reasonable mind is convinced: but I often feel so.[13]

Lewis skryf later in sy mees bekende werk, Mere Christianity, egter ook die volgende:

Faith, in the sense in which I am here using the word, is the art of holding on to things your reason has once accepted, in spite of your changing moods. For moods will change, whatever view your reason takes. I know that by experience. Now that I am a Christian I do have moods in which the whole thing looks very improbable: but when I was an atheist I had moods in which Christianity looked terribly probable. This rebellion of your moods against your real self is going to come anyway. That is why Faith is such a necessary virtue: unless you teach your moods ‘where they get off,’ you can never be either a sound Christian or even a sound atheist, but just a creature dithering to and fro, with its beliefs really dependent on the weather and the state of its digestion.[14]

In die loop van die lewe met al sy uitdagings en probleme voel dit baie keer net nie vir ons of God bestaan of dat ons geloof eg is nie. Ons beleef hierdie tipe twyfel dikwels baie intens omdat gevoelens so ‘n persoonlike ervaring is. As mense is ons natuurlik ook emosionele wesens, nie maar net rasionele masjiene nie. Ons ervaar die lewe op ‘n bepaalde manier en dink nie net daaroor nie (hoewel emosies en denke altyd ‘n wederkerige verband het). Gelowiges se twyfel is dikwels ‘n emosionele reaksie, deel van die op en af van die lewe, maar is nie noodwendig ‘n betroubare aanduiding van wat geglo en nie geglo behoort te word nie, of wat waar en nie waar is nie. Die uitdaging is om ons emosionele belewenis in die regte perspektief te plaas, anders kan dit bydra tot ‘n skeefgetrekte beeld van realiteit.

Ons innerlike emosionele belewenis is ‘n aanduiding van die manier waarop ons ons eksterne omstandighede interpreteer en is iets waaroor ons meestal nie onmiddellike beheer het nie. Wanneer iemand sê dat hulle baie van ons hou, dan ervaar ons blydskap; as ‘n onbedagsame bestuurder voor ons inry dan ervaar ons frustrasie. In hierdie gevalle is die emosies van blydskap en frustrasie die uitdrukking van die subjektiewe betekenis wat ons gee aan dit wat met ons gebeur en mag dit heeltemal gepas wees. Dit gebeur egter soms dat ons ons omstandighede op ‘n sekere manier interpreteer en dan emosies mag ervaar wat nie pas by wat ‘n mens sou verwag om te ervaar as al die objektiewe feite tot ons beskikking was nie. Iemand smeer ons dalk heuning om die mond om ons te manipuleer en nie regtig omdat hulle van ons hou nie, of die onbedagsame bestuurder is dalk ‘n ouer wat pas gehoor het dat sy kind in die hospitaal is.

Dit is natuurlik selde dat iemand altyd al die feite tot hul beskikking het en daarom is ons emosies normaal, selfs al stem ons interpretasies nie heeltemal ooreen met wat werklik besig is om met ons te gebeur nie. Ons emosies is egter in ‘n sekere sin altyd voorlopig. Hoewel ons meestal nie beheer het oor ons onmiddellike emosionele belewenis nie, is ons ook nie uitgelewer aan ons emosies nie. Ons kan byvoorbeeld leer om op enige gegewe oomblik bewus te wees van ons emosies, dit te identifiseer en die moontlike oorsake daarvan vir ‘n oomblik te evalueer (om hierdie proses te kan inisieer word in die sielkunde beskou as ‘n aanduiding van ‘n persoon se emosionele intelligensie) en sodoende tot ‘n groot mate beheer kry oor ons emosionele belewenis.

Hoewel ons omstandighede dus dikwels ons onmiddellike emosionele reaksie bepaal, hoef emosies nie onvermydelik ons gedrag of dit wat ons glo te bepaal nie. Niemand word deur die ervaring van ‘n bepaalde emosie geforseer om hul omstandighede of die data tot hul beskikking, slegs op een manier te verstaan nie – ons het die vermoë om dit te evalueer en tot beter insigte te kom. Hierdie insig help Christene om twyfel wat soms as ‘n emosionele ervaring manifesteer, versigtig te evalueer en nie toe te laat dat hul emosies op hol gaan en hul geloofslewe stoomroller en ondermyn nie.

  1. Lyding en God se verborgenheid

Die realiteit van lyding in die wêreld is vir baie mense ‘n groot bron van twyfel. Is God dan nie ‘n God van liefde nie? En as God dan nog boonop almagtig is, waarom keer Hy nie al die lyding, veral die ooglopend sinlose lyding, in die wêreld nie? Miskien is dit omdat God dalk nie werklik liefdevol óf almagtig is nie? Of is dit miskien bloot omdat God in werklikheid nie regtig bestaan nie?

Lyding en hoe dit met die bestaan van God versoenbaar is, word elders hanteer. Baie Christene worstel egter dikwels intens met God oor sy persoonlike betrokkenheid (of skynbare gebrek daaraan) in hul eie lewe: waarom voel God dikwels so ver en stil, en waarom word ons gebede nie beantwoord nie? Dit is skynbaar omdat God homself nie aan ons verduidelik nie – en ons voel al te dikwels dat God ons ‘n antwoord verskuldig is – dat ons baie keer begin twyfel. Os Guinness is baie oplettend wanneer hy beskryf hoe hierdie proses dikwels werk:

If suffering without explanation creates doubt, doubt is a makeshift explanation for suffering. If we are hurting and can get no answer from God, the best way to get back at God is to doubt his goodness. We then have a picture of God at which we can throw the blame. Doubt becomes a counterfeit answer to suffering, for if God is like that, he is to blame. Now at least one of the questions raised by suffering is crossed off our list.[15]

Ons moet besef dat ons idee van God dikwels heeltemal ontoereikend is. Ons verwag dikwels van God om aan ons dinge te verduidelik asof ons God se gelyke is, met die kapasiteit om sy Goddelike besluite te deurgrond. In ons misplaaste dunk van onsself staan ons dikwels gereed om God se doen en late te evalueer en dan ‘n uitspraak te maak oor waar dinge nie heeltemal op standaard is nie.

Die rede vir ons twyfel het nie soseer met God se stilswye te doen nie, maar met ons verwagting van hoe God behoort op te tree. Frank Viola sê, “I’ve met scores of Christians who were ready to give their teeth for Jesus in their 20s, only to turn their backs on Him in their 30s. Why? Because their commitment to Jesus was based on the supposition that He would perform a certain way. That He would take care of them and meet their needs in a certain way.”[16]

Aan die wortel van hierdie verwagting is daar dikwels die kwessie van vertroue. Dis nie dat ons nie met onbeantwoorde vrae kan saamleef nie (ons kan en ons doen so in byna alle ander aspekte van die lewe), dis dat ons wil weet dat ons God regtig kan vertrou. John Ortberg skryf in sy boek, Faith and Doubt:

We all think we want certainty. But we don’t. What we really want is trust, wisely placed. Trust is better than certainty because it honors the freedom of persons and makes possible growth and intimacy that certainty alone could never produce.[17]

Kan ons God vertrou? Ja, maar hierdie antwoord kry eers werklik vir iemand betekenis wanneer die persoon sélf die risiko neem en met God in ‘n verhouding tree. Dis slegs in ‘n verhouding met God, met groei oor ‘n lang tydperk en in die skool van baie ervarings, dat ons werklik sal uitvind hoe betroubaar God is. Dis meestal ook net in ‘n deurleefte verhouding dat ons werklik die waarde van God se stilte sal besef (ja, God is inderdaad met tye stil en verborge), of werklik vergenoeg kan wees in tye wanneer dinge anders verloop as waarvoor ons gehoop en gebid het. Hierdie dinge is alles deel van die Christelike ervaring, maar nie almal wat hulleself Christene noem maak erns met die Christelike ervaring nie. Ongelukkig is sommige dikwels meer geïnteresseerd in die Christelike byvoordele.

Gevolgtrekking: In twyfel nie alleen nie

Die Bybel en die geskiedenisannale is vol verhale van gelowige mense wat by tye met twyfel geworstel het en tog dikwels ook as voorbeelde dien van geloofshelde. Selfs iemand soos Tomas wat eers die merke aan Jesus se liggaam wou voel, is nie weens sy twyfel vermaan of weggewys nie. Robert Wennberg se woorde is daarom besonder bemoedigend:

Few things are more dangerous for the Christian life than belief that good Christians, doing all the things that good Christians are supposed to do, will never experience prolonged, disturbing doubt. For if we believe that we are one of the few Christians who doubt, then we will tend to see our doubt as being far worse than it really is. This is not to minimize its seriousness unduly. Nevertheless, when we see it as something that has been shared by others, including some of the very best of our number, then we will be able to begin to put it in perspective, to put it in place, so to speak.[18]

Ter afsluiting, twyfel is nie iets waaroor ons langdurig hoef te tob of skuldig hoef te voel nie. Twyfel kan ons motiveer om ons geloof beter te verstaan. Soos altyd, het Os Guinness hierdie wyse woorde:

Of course, faith is much more than the absence of doubt, but to understand doubt is to have a key to a quiet heart and a quiet mind. Anyone who believes anything will automatically know something about doubt. But the person who knows why he believes is also in a position to discover why he doubts. The Christian should be such a person.[19]

 

Verwysings:

[1] Philip Yancey, Reaching for the Invisible God: What Can We Expect to Find? (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2009), 43.

[2] Os Guinness, In Two Minds (Downers Grove, Ill.: InterVarsity Press, 1976), 61.

[3] Os Guinness, God in the Dark: The Assurance of Faith Beyond a Shadow of Doubt (Westchester, IL: Crossway Books; 1996), 25-26.

[4] Alister McGrath, Doubt in Perspective: God is Bigger Than You Think (Leicester, England: InterVarsity Press, 2006), 17-19,21.

[5] Theo Geyser, “Twyfel,” LIG, Mei 2009, 63.

[6] Guinness, God in the Dark, 39.

[7] Robert N. Wennberg, Faith at the Edge: A Book for Doubters (Wm. B. Eerdmans Publishing Company, 2009), 6.

[8] McGrath, 110-111.

[9] Guinness, God in the Dark, 114.

[10] Guinness, God in the Dark, 120.

[11] Guinness, God in the Dark, 119.

[12] C.S. Lewis, Mere Christianity (London: Collins, 1995), 122.

[13] Walter Hooper, ed., The Letters of C. S. Lewis to Arthur Greeves (1914-1963) (New York: Collier/ Macmillan, 1986), 398-399.

[14] C.S. Lewis, Mere Christianity (New York: Macmillan, 1952) 123-124.

[15] Guinness, God in the Dark, 190.

[16] Frank Viola, There is No Proof of God’s Existence, http://www.patheos.com/blogs/frankviola/godsexistence (toegang verkry op Januarie 27, 2013).

[17] John Ortberg, Faith and Doubt (Zondervan, 2008), 137.

[18] Wennberg, 21.

[19] Guinness, God in the Dark, 224.

 

Bibliografie

Guinness, Os. God in the Dark: The Assurance of Faith Beyond a Shadow of Doubt. Westchester, IL: Crossway Books; 1996.

Habermas, Gary R. The Thomas Factor: Using Your Doubts to Draw Closer to God. Hashville, Tennessee: Broadman & Holman Publishers, 1999.

Lewis, C.S. Mere Christianity. London: Collins, 1995.

McGrath, Alister. Doubt in Perspective: God is Bigger Than You Think. Leicester: InterVarsity Press, 2006.

Ortberg, John. Faith and Doubt. Zondervan, 2008.

Taylor, Daniel. The Myth of Certainty: The Reflective Christian & The Risk of Commitment. Downers Grove, Ill.: InterVarsity Press, 1992.

Wennberg, Robert N. Faith at the Edge: A Book for Doubters. Wm. B. Eerdmans Publishing Company, 2009.

Yancey, Philip. Reaching for the Invisible God: What Can We Expect to Find? Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2009.

 

Sien ook die volgende:

 

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.