Twyfel, vrae en geloof

Hallo Udo,

Ek probeer regtig die Here voluit dien met ‘n opregte hart. Daar is dikwels egter so baie vrae waarmee ek worstel en dan sukkel ek met my geloof en is ek bang dat ek my geloof kan verloor. Die vrae wat ek vra is nie omdat ek moeilik wil wees nie. Dis net dat ek wil hê dinge moet vir my sin maak. Ek wonder oor hoe God werk! Het jy enige raad?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Jy sê in jou brief dat jy met jou geloof sukkel, maar dat jy daarna streef om die Here voluit te dien met ’n opregte hart. Ek glo as dit enigiemand se strewe is dan is daar werklik niks om voor bang te wees nie. Jy behoort aan Christus en dit is Hy wat vir jou sal sorg. Romeine 8:31-39 is ’n wonderlike belofte hiervan.

Ek moet sê dat ek eintlik beïndruk is met jou gesindheid. Ek bedoel nou die feit dat jy vrae vra omdat jy sê jy wil hê dinge vir jou moet sin maak. Ek hou baie van jou woorde dat jy “wonder oor hoe God werk.” Inderdaad! Ek dink meer Christene moet so ‘n benadering hê. Dis tog wanneer ons vrae vra dat ons iemand leer ken, en God wil hê dat ons Hom sal leer ken. Die feit is dat God nie verniet gesê het dat ons Hom ook met ons “verstand” (Mat. 22:37) moet liefhê nie. Dit impliseer dat God nie van ons verwag om irrasionele dinge te glo nie. Baie mense dink dat geloof presies dit beteken: om in dinge te glo wat nie regtig waar is nie. Maar geloof is presies die teenoorgestelde: dis om in sekere dinge te glo OMDAT dit waar is (m.a.w. daar sal redes wees vir waarom dit waar is.) Dit beteken natuurlik nie dat ons alles rondom God sal kan verstaan nie – ‘n skepsel kan immers nooit sy Skepper ten volle verstaan nie – maar as die skepsel na die beeld van sy Skepper gemaak is (Gen. 1:26-27), dan kan ons tog sekerlik verwag om darem sekere dinge te verstaan.

Met betrekking tot die vrae waarmee jy worstel: Ek wil dit aan jou stel dat sulke vrae jou eintlik tot baie seën kan strek. Ek dink die feit dat jy vrae het kan juis tot die versterking van jou geloof lei en is iets waarvoor jy glad nie bang hoef te wees nie. Hoekom sê ek so? Kom ek verduidelik.

Ek dink daar is te veel mense wat glad nie nadink oor wat hulle glo nie. En nou praat ek van beide gelowiges en nie-gelowiges. Hulle aanvaar bloot alles wat vir hulle gesê word en weet later nie meer hoe om te onderskei tussen wat waar en vals is nie. Om nie krities na te dink oor wat jy glo of nie glo nie, is om die gevaar te loop om ’n verwarde en doellose mens te word. Daarom is twyfel nooit iets waarvoor ons bang hoef te wees, asof dit ‘n teken sou wees dat ons ons geloof verloor het of ons godsdiens verloën het nie. Dink so daaraan: iemand wat nie soms twyfel nie, is iemand wat dink dat hy alles weet en verstaan! Die probleem is dat niemand alles weet nie en iemand wat so seker is van homself is eintlik baie arrogant en onleerbaar. Daarom is twyfel, die feit dat ons soms oor goed wonder en vrae daaroor vra, eintlik ‘n goeie ding. Dit is ‘n teken dat ons na die redes soek vir waarom iets waar is en nie maar net sommer enige ding vir soetkoek opeet nie. En ek dink God beloon sulke soeke – dink maar aan hoe Jesus vir Tomas (Joh. 20:24-31) met sy twyfel gerusgestel het!

Ek is oortuig daarvan dat ons as Christene dus moet weet wat ons glo en hoekom ons dit glo. Daar is veral twee redes hiervoor:

1) Dit versterk ons geloof om te weet dat ons geloof sin maak, dat dit nie in botsing is met die intellek wat God ons gegee het nie. Ons is nie besig met feë-verhale of legendes en mites nie, maar met ’n ware God wat homself en die werklikheid op rasionele maniere aan ons openbaar (dikwels sukkel ons om alles van so ‘n openbaring te verstaan, maar ek dink nie dis ooit irrasioneel nie).

2) Wanneer ons weet wat en hoekom ons glo maak dit ons getuienis en die waarheid van die evangelie vir nie-Christene soveel meer aantreklik. Wanneer ons daarna streef om eerlike en geloofwaardige antwoorde op mense se besware teen die Christelike geloof te gee, dan is hulle veel meer geneig om ons geloof in ’n ernstige lig te beskou en die waarheid daarvan te oorweeg. Alhoewel ons niemand met argumente kan oortuig om die waarheid te glo nie (dit is die Heilige Gees se werk), kan ons dit tog vir mense help makliker maak om later wel die stap van geloof te neem tot ‘n verhouding met God.

Baie skeptici dink dat omdat hulle moeilike vrae het, dit hulle rede gee tot permanente twyfel en ongeloof. Die feit is egter dat as die Christelike geloof waar is, dan behoort daar goeie antwoorde op sulke vrae te wees. Die probleem is nie die vrae nie, maar hoe bereid iemand is om te soek en te luister na die antwoorde op daardie vrae.

Dit lyk in elk geval of dit presies is wat jy probeer doen. Jy soek na antwoorde. Nie al die antwoorde gaan jou onmiddelik tevrede stel nie, maar hou aan soek. God sal jou beloon (Matt 7:7,8).

Skryf gerus weer met enige kommentaar of verdere vrae. (Sien ook “Wat is twyfel?”)

Goeie wense

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.