Wat gebeur ná die dood?

Hi Udo

Ek het onlangs my suster aan die dood afgestaan en my hart is stukkend. Ek het dus baie vrae waaroor ek wonder. Sal jy asb my kan help om dit meer te verstaan?

Ok, eerstens wil ek weet of jou siel dadelik hemel toe gaan en of dit eers by die wederkoms gebeur?

Dan, kan ‘n siel sien wat hier op aarde aangaan, soos kan my suster ons sien. As sy kan, dan sal dit sekerlik nie vir haar lekker wees om te sien hoe hartseer ons is nie?

Wanneer ek eendag doodgaan, sal ek in die hemel weet wie my sussie is? Sal sy ons ken – haar man, kinders en familie? Ek sukkel baie om dit te verstaan en dit maak my baie negatief.

As ek met haar praat, hoor sy my, weet sy ek praat met haar? Jammer ek weet dit klink stupid.

Mense sê ook dat dit nie die Here is wat ‘n mens siek maak en laat dood gaan nie, dis die duiwel. Is dit so?

Ek het nog nooit die Bybel bevraagteken nie, want ons verstand is te klein om te verstaan, maar ek sukkel baie. Help my asb!

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie dat jy geskryf het. Ek kan hoor dat dit vir jou ‘n baie moeilike tyd is en dat jy jou sussie baie mis. Om geliefdes aan die dood af te staan is altyd hartseer, veral onder tragiese omstandighede en mense in die fleur van hul lewens.

Eerstens wil ek sê dat dit regtig okay is om vrae te vra en met die Here te worstel wanneer ons hartseer en ontnugtering beleef. Ja, ons menslike verstand is nie by magte om alles te peil nie en sekere vrae sal onbeantwoord bly. Terselfdertyd is daar wel antwoorde op sommige vrae wat ons kan help om gesonde perspektief te kry. So jy hoef glad nie te dink dat enige van jou vrae stupid is of dat jy ontrou is aan die Bybel as jy vrae het nie. Inteendeel, ek dink dis goed om vrae te vra, want dis altyd goed om dinge (beter) te verstaan. Hoe anders verstaan ons dinge beter as om vrae daaroor te vra?!

Om jou vrae te beantwoord sal dit help om eers te verstaan wat dit beteken om ‘n mens te wees. Om ‘n mens te wees is om ‘n liggaam en siel te hê. ‘n Mens kan sê dat my liggaam wys hoe ek lyk, maar dat my siel wys wie ek is. Die punt is dat die Here ons gemaak het om wesens te wees met beide ‘n siel en ‘n liggaam. Ek is dus nie ten volle mens as ek nie beide ‘n siel en ‘n liggaam het nie.

Die tragiese effek van die dood is dat dit ons menswees in twee skeur – by die dood skei die liggaam en siel. Dink vir ‘n oomblik oor die implikasie hiervan. ‘n Liggaam wat nie meer werk nie, kan nie meer ‘n siel huisves nie, en dit vergaan. Dit beteken nie ons siele vergaan nie, maar dit beteken wel dat ons (in ons suiwer sielstoestand) nie meer kan funksioneer soos wat God bedoel het ons moet funksioneer nie. Ons het dan nie meer liggame waarmee ons dinge kan doen nie, ons het nie meer sintuie en ‘n brein waarmee ons dinge kan waarneem en prosesseer nie, ons het ook nie meer die vermoë om ons gedagtes aan ander te kommunikeer nie (soos ons normaalweg sal doen deur ons spraakorgane te gebruik nie). Die punt is, as ek die Bybel reg verstaan, dat ‘n mense-siel sonder ‘n fisiese liggaam, ‘n onnatuurlike en beperkte bestaansvorm is.

Almal wat kinders van die Here is, is bestem om eendag om op ‘n nuwe aarde met verheerlikte fisiese liggame te leef. Ons sal dus net soos Jesus uit die dood opstaan sodat ons liggame en siele weer met mekaar verenig sal word (dit is juis omdat ons weer liggame sal hê, dat ons mekaar sal herken). Dit sal verheerlikte liggame wees soos wat Jesus ná sy opstanding gehad het (en in daardie opsig skynbaar nie heeltemal dieselfde soort liggame wat ons tans het nie); die punt is dat dit ‘n fisiese liggaam is. Gaan lees gerus 1 Korintiërs 15 waar Paulus hieroor skryf.

Nou, terug by jou vrae. Dit sou blyk dat daar ‘n noemenswaardige bewussynsgaping is tussen die siele van mense wat reeds gesterf het en ons wat beliggaamde siele is. Daarmee bedoel ek dat ‘n siel sonder ‘n liggaam nie op dieselfde manier bewus is van die fisiese wêreld as wat ‘n beliggaamde siel is nie. Dit beteken verder dat die liggaamlose siele van afgestorwe mense nie regtig met ons as beliggaamde siele kan kommunikeer nie, en andersom. Inteendeel, die Bybel moedig ons nie aan om met mense wat reeds gesterf het te probeer kommunikeer nie, maar verbied dit eerder (sien bv. Deuteronomium 18:11, 1 Samuel 28:1-25, 1 Kronieke 10:13-14). Ek weet dat dit nie is wat jy probeer doen wanneer jy met jou sussie praat nie; ek dink dat jy deur met haar te praat, probeer om jou gevoelens te verbaliseer as ‘n manier om haar dood vir jouself te verwerk. Moet egter nie bekommerd wees oor of jou sussie jou hoor nie; wat saak maak is dat die Here jou hoor, dat jy oor tyd heen genesing vir jou hartseer sal vind en dat jy as Christen met die hoop leef om by die wederkoms weer met haar verenig te wees.

Die Bybel gee nie enige volledige beskrywing van waar ‘n mens se siel is na die dood nie, behalwe om te sê dat kinders van die Here “by God” sal wees. In ‘n sekere sin is ons dan reeds in die “hemel”, maar onthou dat die siel sonder ‘n liggaam net ‘n tydelike bestaansvorm is, want uiteindelik is ons bestem vir ‘n nuwe, herskepte aarde waar ons siele met ons nuwe liggame verenig sal wees. Ek dink daarom nie dat ons bekommerd hoef te wees oor geliefdes se welstand, of ons eie, in hierdie tydelike periode nie – ons is direk in die Here se sorg.

‘n Laaste saak: Is dit die Here of die duiwel wat ‘n mens siek maak of laat doodgaan?

Die vraag na wie verantwoordelik is vir hoe en wanneer ons sterf, asook hoekom ons soms lyding, siekte en tragedie beleef, is kompleks omdat daar baie faktore is wat ‘n rol kan speel. God, die duiwel, ons eie keuses, die keuses van ander en die sameloop van omstandighede in ‘n gebroke wêreld, is alles faktore wat ons welsyn beïnvloed. Daarom is dit meestal verskriklik moeilik om in enige spesifieke geval ‘n beslissende antwoord te gee vir waarom iemand siek word of op ‘n bepaalde tyd gesterf het. Die belangrike vraag is natuurlik of ons kan glo dat God in beheer is van wat met ons gebeur; kan ons God vertrou met wat in ons lewens gebeur?

Ek dink ons as Christene kan glo dat God altyd ons, as sy kinders, se beste belange op die hart dra. Hy wil hê dat ons ‘n oorvloedige lewe sal leef (sien Johannes 10:10). Dit beteken egter nie dat slegte dinge nooit met ons sal gebeur nie, want ons leef in gevalle en gebroke wêreld – ‘n wêreld wat nie is soos God bedoel het dit moet wees nie, maar wat gebroke is weens ons sonde. Ons beleef dikwels die spesifieke gevolge van sonde (die dood is die uiteindelike gevolg van sonde en daarom sterf ons almal eendag, sien Genesis 2:17) in die vorm van ons eie sondige keuses en die sondige keuses van ander. Die feit is dat as God ons elke keer moet beskerm teen ons eie slegte keuses of dié van ander, dan beteken dit dat ons eintlik glad nie morele keuses sou kon maak nie. Dan is ons egter eintlik nie meer mense nie, want om ‘n mens te wees is om die vermoë te hê om morele keuses te maak, om tussen reg en verkeerd te kan onderskei en daartussen te kan kies. Die punt is dus dat God ons nie vrywaar van ellende in ‘n gebroke wêreld waar die gebrokenheid juis die gevolg is van slegte morele keuses nie.

Die heel belangrikste is egter dat ons God kan vertrou om ten spyte van ons lyding steeds oorvloedige lewens te leef. Hierdie waarheid is vir die meeste mense baie moeilik om te verstaan, omdat die meeste mense glo dat ‘n oorvloedige lewe direk gekoppel is aan hoe goed dit met my gaan. Mense glo dis hulle omstandighede wat hulle gelukkigheid bepaal. Dit is egter nie die Christelike boodskap nie. Om gelukkig te wees kom van binne en word gegenereer deur die beoefening van Christelike geloof, liefde en hoop. Dis die erkenning deur geloof dat ek in God die krag het om my omstandighede te dra, die besef dat om liefde aan ander te gee, eerder as om te verwag om dit te ontvang, ware betekenis aan die lewe gee, en om die hoop te verstaan dat God se plan vir die herstel vir hierdie gebroke wêreld (en my eie gebrokenheid) beslis sal aanbreek. Dit beteken nie dat ons nie met tye steeds met God kan worstel oor die pyn in ons lewe en hartseer kan wees nie – ons mag beslis, maar dit beteken wel dat my omstandighede en lyding nooit uiteindelik sal bepaal of ek ‘n sinvolle en oorvloedige lewe kan leef en of ek geloof, liefde en hoop kan hê nie.

Winkelsmidt, skryf gerus weer as jy verder wil gesels.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*