Kan ons God se bestaan wetenskaplik bewys?

Sjoe Andre,

Ek was opsoek na inligting vir my kind se wetenskap ekspo en het besluit op Termodinamika omdat ek dit hoegenaamd nie op universiteit kon verstaan in my tweede jaar nie. Daardie jare was daar natuurlik nie google en die internet nie en ek het vergeefs probeer verstaan. Ek het gedink nou kan ek die “ding” aanpak en miskien voel ek beter daaroor dat ek nooit Fisiese Chemie op universiteit kon onder die knie kry nie.

Ek het eksperimente gegoogle om die tweede wet van termodinamika te bewys en kom toe op hierdie page en artikel af.  Alhoewel dit niks met my ekspo soeke uit te waaie gehad het nie, kon ek eenvoudig nie ophou lees nie…

Wat ‘n fantastiese artikel!!!!!!!  Ek oorweeg nou om dalk my onderwerp te verander.  Dit het tog alles met wetenskap uit te waaie.  Sal heerlik wees om liewer meer oor alles wat jy hier geskryf het te weet.  Het jy dalk ‘n goeie wetenskaplike bewys wat vir jou absoluut uitstaan ter stawing van God se bestaan wat jy kan aanbeveel en waaroor ons baie inligting kan kry en moontlik self ook mee kan eksperimenteer?

Baie groete
Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou kommentaar op André se artikel. Ek is nie seker of ‘n argument vir God se bestaan so lekker sal afgaan by die spesifieke doelstellings van ‘n wetenskap ekspo nie! 😉 Maar ek is baie bly jy het die artikel insiggewend gevind. N.a.v. jou navraag wil ek graag die volgende paar opmerkings maak.

Die argumente vir God se bestaan moenie verstaan word as “wetenskaplike argumente” nie, maar eerder as filosofiese argumente. Dit beteken nie dis minder geldig of waar nie, maar ‘n mens moet die wetenskaps-element daarin reg verstaan. Kom ek verduidelik.

Streng gesproke is daar nie iets soos ‘n wetenskaplike argument vir God se bestaan nie. Dit is omdat die wetenskaplike metodiek te doen het met eksperimentering en empiriese waarneming van die materiele wêreld en die verhouding tussen die fisiese komponente. God is per definisie nie ‘n empiries (sintuiglik) waarneembare entiteit waarop of waarvoor ‘n mens fisiese eksperimente kan doen nie. M.a.w. dit is eenvoudig onwetenskaplik om vanuit wetenskaplike navorsing of teoretisering direkte uitsprake te maak oor God se bestaan al dan nie.

Die twee argumente wat André uiteengesit het, maak egter gebruik van sekere wetenskaplike uitsprake wat as ondersteuning vir die geldigheid van bepaalde stellings (premisse) in ‘n argument vir God se bestaan gebruik word. Dit is dus nie die geval dat ‘n mens sommerso direk vanuit ‘n wetenskaplike uitspraak (soos bv. ‘die astrofisika dui op ‘n tydruimtelike oorsprong’) bloot kan sê dat God daarom bestaan nie.

Die punt wat ek maar net wil beklemtoon is dat wetenskaplike ontdekkings dalk implikasies sou hê vir bepaalde argumente vir God se bestaan, maar die argumente as geheel is opsigself nie wetenskaplik van aard nie, maar filosofies.

As jy egter die argumente verder wil navors waarin bepaalde wetenskaplike stellings ‘n belangrike rol speel, dan kan ek nie ‘n beter plek aanbeveel as die Christen-filosoof William Lane Craig se uiteensetting daarvan nie. Dr. Craig is besonder op datum met die wetenskaplike onderbou van die stellings wat hy in sy argumente gebruik, selfs al is hy nie, en gee hy nie voor, om ‘n wetenskaplike te wees nie.

Die twee argumente wat jy van naderby kan bekyk is dus 1) die Kalaam Kosmologiese Argument (waar die tweede wet van termodinamika ter sprake kom) en 2) die Argument vir die Fyn-Ingestelde Heelal.

Vir ‘n volledige bespreking hiervan vir die leke persoon verwys ek jou na die volgende webblad: http://www.reasonablefaith.org/defenders-2-podcast/s4

Op hierdie webblad is ‘n reeks van 35 oudio lesings, maar elkeen is ook getranskribeer as jy dit eerder wil lees (wat vinniger sal wees). Die lesings wat op bogenoemde twee argumente van toepassing is, is vanaf nommer 6 – 18 (klik maar net op ‘transcript’ om die teks daarvan te lees).

Wat jy egter heel eerste kan doen is om na die volgende twee baie kort YouTube videos te kyk om jou ‘n goeie oorsig te gee van die elemente wat in die twee argumente ter bespreking gaan kom:

The Kalam Cosmological Argument (4 min)

The Fine Tuning of the Universe (7 min)

Laat weet gerus as ek verder van hulp kan wees of as jy enige ander vrae het.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.