ʼn Gesprek oor God

Hi Udo

God se bestaan en wese is byna net so skriftuurlik gebonde as die sogenaamde drie-eenheid konsep wat in bepaalde teologiese kringe verwerp word, vir die volgende beduidende redes:

  • Die mens verstaan nie en God as identiteit moet vermenslik word, met attributes waarmee hulle sinvol mee kan omgaan. Menslike aspekte soos woede, liefde, liggaamlike behoeftes en funksies, hartseer en afguns/jaloesie word dus karaktereienskappe van God net soos Sy alomteenwoordigheid, alwetendheid en almag. Die proses maak Hom meer aardgebonde en die gelowige massas kan nou identifiseer.
  • Baie beweer dat die Natuur duidelik van God spreek en Sy wese as’t ware in en deur die Natuur vergestalt word. Baie vind die siening onversoenbaar met die temperament van die aarde/natuur as gekyk word na vulkane, tsunamies, elektriese storms, woestyne, tornado’s, aardbewings en stormsterk winde, om net ‘n paar verwysings te meld. Sommige wetenskappe argumenteer dat al hierdie mensvernietigende verskynsels nodig is en die resultaat van ‘n Intelligente Ontwerper moet wees.
  • Derhalwe is slegs die Skrif werklik die bron (Apokriewe en ander werke uitgesluit) van menslike denke betreffende God, Sy drie-eenheid, die skeppingsverhaal en natuurlik die bestaan in die eerste plek van God as Opperwese. Netsoos die drie-eenheidskonsep op interpretasie neerkom, netso is ons menslike konsep van God vasgelê tussen Genesis en Openbaring. Daar is geen “bewyse” buiten die bogenoemde Skrif of Natuur argumente dat God bestaan nie.
  • As God dan bestudeer word, is die vrae wat ek gestel het, nie belaglik of onwenslik nie, maar onomwonde parameters en self katalisties: dit beperk die gespreksterrein, of retarderend of versnellend, afhangende van die diskussie-aard en personas in die vergelyking. Watookal die uitkoms, teologiese gesprekke en die gebruik van gevleulde woorde om Hom duideliker aan die mensdom te bemark, faal beduidend omrede God teoreties nie beskrywe kan word nie, aangesien die oefening God sal reduseer  tot ‘n Wese wat uitgepluis en gerasionaliseer kan word.  In die realm is Hy beslis die God, ‘n wese (nie Wese) wat
    • Foute maak: Hy was jammer dat Hy die mens geskep het. Sy engele het teleurgestel deur menslike vrouens te neem en as reuse die nephilim te baar. Hy moes die hibride met die vloed verdrink, saam met talle ander skepsels, insluitende diere ensomeer. Hy moes dood en bloed laat vloei om klere te maak.
    • Warm kry: Hy het in die koel van die aandwindjie gaan wandel, roepend/soekend na Adam en Eva.
    • Moor: Hy het Israelliete opdrag gegee om goud te neem van verslane stede, almal te dood, ingeslote kinders, slawe en diere. Families is deur die aarde ingesluk wat gelde van Hom weerhou het. Hy het opdrag gegee dat sekeres gedood word deur steniging en ander gruwel metodes.

Bogenoemde aspekte wat God se denke en motiewe bevraagteken, peil egter as die vraag gevra word: “Waar het alles begin?” Dis nou as vrae oor God se oorsprong gevra mag word. Dit bring my terug na my skrywe aan Johan. Is die Oerknal, “Intelligent Design”, Evolusie, Skepping en ander argumente nie almal ekwivalent in die sin dat geen mens nog ‘n universeel aanvaarbare model kon aanbied nie? Aangesien ons almal rondtas, sukkelend met uitdagende dog ontwykende vrae, nie maar almal “reg” en/of “verkeerd” nie? Weereens, is alles nie nader aan opinie as absolute waarheid nie? So glo byvoorbeeld die relatief nuwe Christ in Me of CIM beweging nét hulle is reg en die res op ‘n dwaalspoor.

So Udo, my los en vas idees hierbo genoem, samevattend postuleer:

  1. Ons is nie seker oor die God/drie-eenheid van die Bybel nie
  2. Ons is nie seker oor die onstaan van die bekende heelal nie
  3. Ons onsekerheid neem vorm in die aantal denominasies wêreldwyd
  4. Niemand kon nog ‘n universele onbetwiste waarheid voorlê nie
  5. Die aarde was nie in Genesis geskep nie maar hoogstens herskep aangesien God dit donker, woes en leeg gevind het. Sal God dan nie alleenlik perfek skep nie? Waarom die verwysing “en alles was goed en dit was die derde dag”?
  6. Die Ou testament God is wreed en vergeldend. Dink Xenofobie. Die Nuwe Testament God is Agape, vergewensgesind en opofferend. Is dit dieselfde God?

Die laaste twee punte gebaseer op ‘n geloof/belydenis in God as almagtige.

Ek waardeer werklik jou tyd en bereidheid om met ‘n plank soos ek om te gaan!

Rustige dag verder!

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink natuurlik glad nie jy is ʼn plank nie en hopelik beleef jy darem ook nie my gesprek met jou as ʼn poging tot meerderwaardigheid nie. Ek verskil natuurlik baie sterk van jou op verskeie punte, maar terselfdertyd probeer ek my redes daarvoor uiteensit. Ek het nie alle wysheid in pag nie en verwelkom enige regstelling. Maar ja, ek glo dat ʼn mens suksesvol in kritiese gesprek betrokke kan wees, sonder dat ʼn mens persoonlik hoef te raak of op die emosionele wa begin ry.

Ek begin my reaksie op jou skrywe deur daarop te wys dat daar in die teologie dikwels verwys word na God se algemene openbaring en sy spesifieke openbaring van homself. God se algemene openbaring dui daarop dat wanneer ons reflekteer oor die aard van sekere aspekte van die wêreld waarin ons woon, dan vind ons dat die verduideliking vir die aard van daardie aspekte, meer geloofwaardig wanneer ʼn persoonlike agent soos God bestaan, as wat hy nie sou bestaan nie. God se spesifieke openbaring dui daarop dat God dit so bewerkstellig het dat ons in die woorde wat mense oor hul ervaring van en interaksie met God neergepen het, tot meer spesifieke kennis kan kom (in vergeleke met ʼn algemene openbaring) van wie God is en wat sy bedoelinge is. As God bestaan en as God homself aan mense geopenbaar het, dan is dit dus redelik om te dink dat ons uit sodanige openbaring iets kan aflei van wie God is.

Die skeptiese persoon kan op enige van die volgende manier op bogenoemde reageer:

  1. God bestaan nie, daarom is daar geen openbaring van God nie.
  2. As God bestaan, dan weet ons nie wie of wat God is nie – God is nie ʼn openbaarmakende God nie.
  3. As God bestaan, dan het hy homself nie duidelik genoeg op ʼn algemene manier geopenbaar nie, want daar is nie konsensus oor wat die beste verduideliking is vir bepaalde aspekte van die wêreld waarin ons woon nie.
  4. As God bestaan, dan het hy homself nie duidelik genoeg op ʼn spesifieke manier geopenbaar nie, want daar is nie konsensus oor hoe om die Bybel te interpreteer nie.

Uit jou skrywe aan my lyk dit vir my asof jy ʼn saak probeer uitmaak vir aansprake soos die van 3 en 4. Jy is skepties oor wat van God gesê word en gebruik, hoofsaaklik, die argument dat omdat mense verskillende aansprake maak wat op God betrekking het, niemand daarom regtig kan weet nie.

Hierdie soort skeptisisme is nie werklik rasioneel nie. Enige aanspraak oor God (wel, enige aanspraak oor enigiets) moet op meriete ondersoek word. Die feit dat daar mense is wat van my verskil oor die waarheid rondom ‘aanspraak X’ is geen rede om my oortuiging rakende ‘X’ summier prys te gee nie. Ja, daar mag dalk rede wees om my oortuigings te herevalueer, of selfs te laat vaar, in die lig van bepaalde kritiek of verweer, maar ʼn aanspraak is nie weerlê bloot omdat daar kritiek is nie.

So, ek is regtig nie besonder gepla as iemand sê hulle verwerp iets waarvan ek oortuig is of dat hulle bepaalde dinge onversoenbaar vind nie. Ek stel belang in die redes waarom hulle dit verwerp of onversoenbaar vind. Ek is daarom geheel en al onbeïndruk wanneer iemand alles relativeer tot ‘opinie’ of omdat ʼn spesifieke persoon nie sekerheid oor iets het nie, dit sou impliseer dat almal anders onder soortgelyke onsekerheid gebuk moet gaan. Die enigste manier om bepaalde aansprake te ondersoek is op grond van meriete. Meriete kan gedebatteer word, maar om ʼn beredeneerde standpunt te handhaaf is beslis nie dieselfde as om bloot ‘n  opinie te hê nie.

Dis heeltemal waar dat geen menslike verstand ʼn wese soos God volledig kan uitpluis nie. Maar daar is ʼn groot verskil tussen ‘nie volledig verstaan nie’ en ‘glad nie verstaan nie’.  As God ʼn wese is wat gekies het om homself aan wesens soos mense te openbaar, dan is dit tog redelik om te dink dat Hy homself sal openbaar juis met die doel en wete dat ons ten minste iets van hom kan verstaan. As verskillende mense God egter op verskillende maniere verstaan, en as nie alle sienings oor God kan reg wees nie, waarom word hierdie probleem voor God se deur gelê? Lê die probleem nie veel eerder by die mens nie? Is daar nie allerlei faktore by die mens self wat kan bydra tot ʼn wanpersepsie oor wie God is nie? Wat van dinge soos, om enkele voorbeelde te noem, onkunde, apatie, selfdienende outonomie, of doelbewuste en reaksionêre ongeloof? Hoe beïnvloed sulke ingesteldhede en faktore mense se persepsie van wie of wat God is? Hoef ons dan enigsins verbaas te wees dat mense tot verskillende gevolgtrekkings kom?

Die feit dat daar na God in die Bybel in vermenslike taal gepraat word, is minder problematies as wat iemand mag dink. Hoe anders openbaar God iets van homself aan mense as in terme van dit wat deur mense verstaan kan word? Vermenslike taal oor God beteken egter nie dat bepaalde menslike eienskappe sommer so onnadenkend op God teruggeprojekteer kan/sou word nie. Dit sou ʼn simplistiese omgaan wees met die volle spektrum van data oor God se openbaring van homself (in die skepping sowel as in sy Woord), trouens dit kán nie daarvan sin maak nie.

Die konteks waarbinne daar op spesifieke maniere oor God in Bybel gepraat word, is van kardinale belang. Daar word op ʼn magdom maniere na God in die Bybel verwys, in allerlei stylfigure soos o.a. metafoor, antropomorfisme/personifikasie, vergelyking, analogie, argetipe, direkte en indirekte karakterisering, epiteton, ens. Dit is in die sistematisering en eksegese van hierdie data, en nie in die isolasie van ʼn bepaalde beskrywing nie (en dit is waarom jy ongelukkig erg fouteer in jou verwysing na Genesis 6:6 as dat dit sou impliseer dat God foute maak of Genesis 3:8 dat God ʼn fisiese wese soos ‘n mens sou wees wat warm kry), dat ʼn prentjie begin vorm van wie God is. Voeg hierby die grense van ʼn deurdagte konseptuele analise van wat met die term ‘God’ bedoel word (soos deur perfect being theology) en ʼn mens begin sien hoe daar tog op ʼn robuuste wyse na bepaalde eienskappe van God verwys kan word. Dan begin ʼn mens verstaan dat God die tipe wese is wat eienskappe het wat hy op ʼn analogiese wyse met die mens deel (hy is persoonsmatig, rasioneel, gevoelsmatig, ens.) en ons verstaan inderdaad iets van hierdie eienskappe omdat dit deel is van ons eie menslike ervaring. Terselfdertyd behoort ons dan te sien dat God ook eienskappe het wat hy nie met die mens deel nie (hy is onafhanklik, alwetend, alomteenwoordig, almagtig, onveranderlik, ewig, ens.), maar waarvan ons tog ʼn konseptuele begrip kan vorm sonder om direkte ervaring van sulke eienskappe te hê.

Dit bring ons terug by die skeptiese persoon se vier opsies:

  1. Hy kan God se bestaan ontken, maar dis ʼn kennisaanspraak wat behoorlik verantwoording vra.
  2. Hy kan ontken dat ons iets van God kan weet, selfs al bestaan hy. Ook dit is ʼn aanspraak wat eksplisiet verdedig moet kan word.
  3. Hy kan ontken dat ons iets van God kan weet, as Hy bestaan, uit God se algemene openbaring van homself. Hierdie aanspraak sal ʼn verduideliking moet gee wat, in die afwesigheid van ʼn wese soos God, beter sin maak van sekere aspekte van ons wêreld soos o.a. waarom die heelal begin ontstaan het, waarom mense hulle in ʼn omgewing bevind wat die gevolg is van baie spesifieke kosmologiese parameters wat dit geskik maak vir menslike lewe (selfs ten spyte van allerlei potensiële bedreigings in die natuur, sien bv. As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so?) en waarom ons in ʼn morele heelal sou leef waar daar werklik ʼn objektiewe morele verskil is tussen, om slegs een voorbeeld te noem, naasteliefde en xenofobie (m.a.w. dis meer as net die subjektiewe en relatiewe aard van sosio-biologiese kondisionering, individuele voorkeure of gekodifiseerde samelewingswaardes).
  4. Hy kan ontken dat ons iets van God kan weet uit God se spesifieke openbaring van homself. Hierdie aanspraak sal ʼn verduideliking moet wees vir waarom die gesistematiseerde data in die Bybel en sorgvuldige eksegese daarvan, tesame met konseptuele analise, nie enige insig kan bied vir waarom God werklik sekere eienskappe sou hê of sou kón hê nie (insluitend God se Drie-enige natuur sowel as Jesus se Goddelike natuur). Terloops, hoe is dit om iets van wie God weg te neem (die sogenaamde redusering waarna jy verwys) om uit laasgenoemde onder andere tot die gevolgtrekking te kom dat God in wese liefdevol, heilig, getrou, alwetend, ewig en alomteenwoordig is? Niks hiervan, as dit wáár is, beteken dat ons God uitgepluis het nie – dit beteken maar net dat ons iets wat waar is van God ontdek het omdat hy homself vir sodanige rede geopenbaar het.

Let wel dat die antwoord wat die skeptikus sou gee, nie maar net ʼn tipe siniese verwysing kan wees na die feit dat daar verskillende opinies of interpretasies oor hierdie sake is nie. Ek beklemtoon dit weer: die blote feit dat daar verskillende opinies/aansprake is, of die feit dat daar geen universele aanvaarding is van ʼn spesifieke aanspraak is nie, het geen betrekking op die waarheidsgehalte van daardie spesifieke aanspraak nie. Sommige opinies/aansprake is waar en ander is vals, sommige interpretasies is goed en ander is swak, en die enigste manier om te bepaal wat werklik die geval is, is om die getuienis vir ʼn bepaalde aanspraak, of die gronde vir ʼn bepaalde interpretasie, op meriete te ondersoek.

Natuurlik mag ons vrae vra na oorsprong, maar om te vra na die oorsprong van God is eenvoudig ʼn kategorie-vergissing. Dis soos om te vra, ‘hoe lyk ʼn vierkantige sirkel?’ ʼn Sirkel is per definisie nie vierkantig nie en daarom maak die vraag nie sin nie. God is per definisie nie ʼn wese met ‘n oorsprong nie, en daarom maak die vraag oor waar hy vandaan kom nie sin nie. Ons kan wel die vraag ondersoek oor of God se selfbestaande en onafhanklike aard konseptueel sin maak, maar dis nie ʼn vraag na God se oorsprong nie.

In samevatting sou ek dus soos volg op jou postulate reageer:

  1. Ons is nie seker oor die God/drie-eenheid van die Bybel nie” Mense verskil oor allerlei dinge vir allerlei redes. Ek is daarom nie in die minste verbaas as mense nie oor die Drie-eenheid en die Bybelse begronding daarvan saamstem nie. Maar die feit dat ander onsekerheid beleef hieroor, beteken nie dat ek dieselfde onsekerheid beleef of moet beleef nie.
  2. Ons is nie seker oor die onstaan van die bekende heelal nie” Weer eens, waarom moet iemand anders se onsekerheid vir my ʼn probleem wees?
  3. Ons onsekerheid neem vorm in die aantal denominasies wêreldwyd” Verskillende opinies bring slegs onsekerheid mee as die waarheidsgehalte van daardie opinies nie ondersoek kan word nie of bloot persoonlike voorkeur is. Ja, ek stem saam dat daar ʼn klomp randsake is waaroor Christene verskil wanneer dit kom by ʼn verstaan van sekere gedeeltes in die Bybel (en daarom een rede vir die magdom Christelike denominasies), maar daar is terselfdertyd ʼn klomp kernsake wat hulle met mekaar deel en waaroor daar wel ondersoekbare duidelikheid is.
  4. Niemand kon nog ‘n universele onbetwiste waarheid voorlê nie” Eerstens is daar is bitter min dinge wat as “onbetwiste” waarheid kwalifiseer (die wiskunde of teoretiese fisika, of sekere aspekte van logika, sou uitsonderings wees) – verskillende aansprake is daarom glad nie uniek aan die domein van godsdienstige aansprake nie. Daarom, tweedens, word die waarheidsgehalte van baie aansprake nie verbind met ‘absolute sekerheid’ nie, maar ‘sekerheid bo redelike twyfel’. Byvoorbeeld, as die standaard vir skuldigbevinding in ‘n hof ‘absolute sekerheid’ was, dan sou byna niemand krimineel vervolg kon word nie. Derdens is die feit dat daar nie ʼn universele aanvaarding is van ʼn spesifieke aanspraak nie, nie ʼn aanduiding dat daardie aanspraak per definisie vals is nie (ek herhaal dit al soos ʼn mantra, maar elke aanspraak moet op meriete ondersoek word).
  5. Die aarde was nie in Genesis geskep nie maar hoogstens herskep aangesien God dit donker, woes en leeg gevind het. Sal God dan nie alleenlik perfek skep nie? Waarom die verwysing “en alles was goed en dit was die derde dag”? Die skeppingsverhaal in Genesis 1 dui tog op ʼn proses van 6 dae en hoe alles op aarde, wat aan die begin woes en leeg geskep was, geleidelik en uiteindelik vorm aangeneem het presies volgens dit wat God op elke dag beveel het. Jou beswaar hier maak werklik nie enige sin nie.
  6. Die Ou testament God is wreed en vergeldend. Dink Xenofobie. Die Nuwe Testament God is Agape, vergewensgesind en opofferend. Is dit dieselfde God?” Ja, dis dieselfde God, maar jou beskrywings “wreed” en “vergeldend” is oorhaastig en bevooroordeeld. Dit hou nie rekening met die volle konteks van God se optrede en intensies in die Ou Testament nie (sien weer eens Geweld in die Ou Testament) Die Ou Testamentiese verhale is ook nie voorbeelde van xenofobie nie. Gaan lees gerus eers maar die artikels wat ek vir jou gelys het, dan kan ons verder hieroor gesels.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*