Kommentaar op gesprek tussen Christen en Moslem

(In die volgende skrywe evalueer ek sommige van die uitsprake in ʼn gesprek tussen Winkelsmidt en sy Moslem-vriend.)

Hallo Winkelsmidt

Wat hier volg (en jammer, dis ʼn redelik lang skrywe) is my kommentaar op wat jou Moslem-vriend aan jou geskryf het. Dis bedoel om as voorbeeld te dien van hoe sekere van jou Moslem-vriend se aansprake voorlopig aangespreek sou kon word. Dis aan jou gerig, maar as jy dit goeddink dan kan jy dit gerus vir jou vriend aanstuur; dalk is hy bereid om met ons in gesprek te tree.

Die eerste aanspraak wat jou Moslem-vriend maak waarop ek kommentaar wil lewer is sy siening van Jesus en God wat hom destyds as Christen gepla het:

“En natuurlik die ding dat ons as Christene, gewone mense en dinge aan God gelykstel en as God naas God dien, aanbid, gehoorsaam, vereer en nogal ons “verlossing” op sodanige mens basseer, ten spyte van God se duidelike bevele in die Ou Testament en Jesus se skynbare beklemtoning daarvan: dit het my gepla so tussen my Bybelstudie en Teologiese studies deur, oor die jare heen.”

Jou Moslem-vriend mag dalk nie met Christene saamstem oor wie Jesus was nie, maar daar is natuurlik geen waarheid in die stelling dat Christene ʼn “gewone mens” aan God gelykstel nie. Die Christelike verstaan is dat Jesus as tweede persoon van ʼn drie-enige God, ʼn menslike natuur aangeneem het. Jesus wat op aarde gewandel het, se tweeledige natuur maak van hom allesbehalwe ʼn “gewone” mens! Jou vriend mag natuurlik sê hy dink dat wat Christene oor Jesus se Goddelike natuur glo, vals is, maar hy kan nie suggereer dat Christene dink dat hulle bloot ʼn “gewone mens” aan God gelykstel om hom dan as God te aanbid en vereer nie.

Vanuit ʼn Christelike perspektief is die idee dat God een is, ʼn konseptuele waarheid oor wat dit beteken om na die term “God” te verwys. M.a.w. ʼn wese soos God kan nie God wees as hy nie as die enigste God bestaan nie. Daar bestaan eenvoudig geen ander God as die een ware God nie. Was dit nie juis die punt van en die konteks waarbinne die eerste drie van die Tien Gebooie neerslag gevind het nie? Dit was ‘n beklemtoning dat die politeïstiese en konseptueel minderwaardige Godsbegrip van die Egiptiese en omliggende kulture, en waaruit Israel van onderdrukking bevry is, vals is (soos ook Elia later so treffend sou illustreer toe hy die Baal-profete op die berg uitgedaag het).

Die basiese punt is dat daar konseptueel nie meer as een God kán bestaan nie. Maar hierdie feit alleen ontken nie die Christelike aanspraak dat die Goddelike natuur deur ʼn ʼn pluraliteit van persone gekenmerk word nie. M.a.w. God se essensiële natuur is ʼn eenheid van drie onderskeibare, maar onskeibare persone. Anders gestel, wat God God maak is die onskeibare eenheid van drie sentrums van selfbewussyn (wat saam as een siel al die Goddelike eienskappe besit). Vergelyk dit met die vraag oor wat ʼn mens mens maak: ʼn menslike natuur bestaan uit slegs een sentrum van selfbewussyn (as ‘n siel) wat aan ʼn fisiese liggaam verbind en daartoe beperk is. ʼn Kat weer het ‘n kat-natuur naamlik ‘n katbewussyn (wat nie selfbewus is nie) verbind aan ʼn fisiese kat-liggaam.

Die hoofrede waarom Christene glo in die drie-enige natuur van God is omdat hulle oortuig is van God se progressiewe openbaring van Homself en wat in Jesus ʼn klimaks bereik het. Natuurlik was Jesus ʼn Jood, en daarom sou hy ook die Shema (Deuteronomium 6:4) gebid het. Maar terselfdertyd het ‘n refleksie oor sy lewe, sy eie selfverstaan, sy lering, sy dood en sy opstanding alles bygedra tot mense se gevolgtrekking dat hier nie maar net sprake was van ʼn “gewone” Jood in eerste eeuse Palestina nie.

Weer eens, ʼn Moslem kan ontken dat al hierdie dinge daarop wys dat Jesus ʼn Goddelike natuur gehad het en ons tree dan graag met mense in gesprek oor waar Jesus dan “in sy regmatige plek” geplaas moet word, soos Moslems dink hulle met Jesus gedoen het.

Dis vir my baie opmerklik hoedat jou Moslem-vriend in al sy kommunikasie aan jou, nie eers basiese elemente van Christelike leerstellings soos die Inkarnasie-leer, Drie-eenheidsleer en Verlossingsleer korrek kan weergee nie. Ongelukkig besig hy hom met karikature, maar ʼn mens verwag werklik meer van iemand wat sê dat hy bepaalde teologiese studies oor die jare heen onderneem het. Hy hoef nie met enige Christelike leer saam te stem nie, maar dan moet hy ten minste weet wat dit werklik is (soos wat hy van jou en my sou verwag oor Islam). Dit lyk eerlikwaar nie of hy doen nie, soos dit weldra sal duidelik word.

Winkelsmidt, na aanleiding van jou vriend se uitnodiging aan jou om te help om die Koran in Afrikaans te vertaal, het jy gesê dat jy soos ʼn verraaier sal voel en wees. Jou Moslem-vriend reageer daarop soos volg:

“Hierdie gevoel van jou dat jy ‘n verraaier is, is natuurlik subjektief, en ek dink jy verstaan dit. Jy voel maar net jy is ‘n verraaier omdat jy opgevoed is om so te dink. Gebore Moslems dink presies so oor die Bybel en dit fassineer my altyd dat meeste van hulle nie eers aan die Bybel wil vat nie: en dan lag ek maar net oor hoe ons almal opgevoed is om skuldig te voel oor sekere dinge.”

Jou Moslem-vriend is natuurlik reg as hy impliseer dat om jouself deeglik te vergewis van wat ander godsdienste glo, nie ʼn slegte ding is nie. Daar is inderdaad by sommige Christene ʼn tipe bygelowigheid of selfs misplaaste piëteit wanneer dit kom by ander gelowe en hul heilige geskrifte. Die onderliggende sentiment is dikwels soos volg: Satan is die vader van die leuen (en loop boonop rond soos ʼn brullende leeu), en dalk word ek mislei as ek my te veel met valse godsdienste bemoei. Hierdie vrees is egter ongegrond as ʼn mens weet hoe om krities om te gaan met idees en waarheidsaansprake. Die probleem is dat die meeste mense, maak nie saak watter godsdiens hulle aanhang nie, juis nie weet hoe om dít te doen nie.

Ek dink nie ʼn mens is ʼn verraaier deur byvoorbeeld te help meewerk aan ʼn vertaling van die Koran nie – dit kan juis baie insig bring. Ek dink wat egter by jou die geval mag wees, Winkelsmidt, is dat jy waarskynlik voel dat jy, in lyn met jou spesifieke roeping, jou tyd beter moet benut en daarmee is daar natuurlik niks fout nie.

So as jy getuig dat jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus het, dan kan ek dit verstaan: die waarheid is egter dis jou verbeelding. Mens kan nie met Jesus of God ‘n persoonlike verhouding hê nie: mens maak jouself maar net wys dat jy kan en jy verbeel jou dit, wanneer jy getrou bid, en God loof en prys, en baie getrou die dinge doen wat ‘n toegewyde Christen mos nou maar doen, en soos wat jy mense op jou Facebook blad aanmoedig om te doen. …Mens kan wel, ‘n persoonlike verhouding met Jesus ervaar, maar dit bly jou subjektiewe verbeelding. En ek respekteer dit natuurlik.

Winkelsmidt, ek vind dit uiters ironies dat jou Moslem-vriend gekrenk voel toe jy later aan hom noem dat, ten spyte van sy bewerings, jy nie dink dat hy Jesus ooit geken het of as Verlosser aanvaar het nie. As jou verhouding met Jesus net in jou verbeelding is, dan was syne mos ook! En ek wonder waarom jou Moslem-vriend dink dat dit heeltemal aanvaarbaar is om te sê dat jou huidige geloof ʼn illusie is, maar vir een of ander rede mag jy nie aanvoer dat sy eertydse Christelike geloof ʼn illusie was nie. Klink vir my na dubbele standaarde.

Ek stem egter inderdaad saam met jou, Winkelsmidt. Nie almal wat sê of dink dat hulle wedergebore was, is dit werklik gewees nie. Dis natuurlik nie ʼn poging om iemand as ʼn leuenaar af te maak of hulle opregtheid te betwyfel nie (soos jou vriend ongetwyfeld dink jy doen). Dit gaan oor die logiese implikasie van wat dit beteken om vanuit ʼn Christelike perspektief wérklik wedergebore te wees.

Wedergeboorte is nie maar net uitsluitlik ons subjektiewe ervaring (natuurlik óók ʼn ervaring) soos baie mense dink nie; dit is iets objektief wat God in ons kom bewerkstellig en waarvan die effek blywend is. M.a.w. net soos ons nie iets bygedra het om fisies gebore te word nie, net so het ons niks bygedra om geestelik gebore te word nie – God het dit moontlik gemaak. Miskien is daar ook ‘n wanpersepsie dat ons besluit om God se genade te aanvaar dieselfde is as wedergeboorte. Maar dit is nie. Ons geloofsaanvaarding is iets wat wedergeboorte voorafgaan, maar wedergeboorte self is iets wat slegs God deur sy Heilige Gees bewerkstellig.

Ek het voorheen ʼn gesprek oor hierdie kwessie met iemand gehad (weliswaar iemand wat nou met ateïsme assosieer), so kyk gerus na die volgende artikel waarin die Bybelse konteks opgevolg kan word: Valse wedergeboorte

Jou Moslem-vriend skryf verder:

“Dit is waar nie-Moslems fouteer in hulle waarneming dat Islam en die Koran “verlossing deur werke” voorhou. Dit is gewoon geheel en al onwaar. In die eerste plek verkondig die Koran nie die Leer van die Erfsonde nie, en in die tweede plek stel die Koran dit ook dat geen mens ‘n verlosser nodig het nie en laastens dat geen mens deur sy of haar werke die Hiernamaals sal beërwe nie, maar alleen op grond van God se besluit uit genade.

Die hele premis dus dat die Moslem sy heil probeer verdien is geheel en al ongegrond. Die Koran verkondig presies dieselfde “genade deur geloof in God” en glad nie verdienste deur goeie werke nie. Die Koran maak net nie van die mens ‘n slegte, hopelose, miserabele misbaksel soos die Bybel nie. Inteendeel die goeie werke van die Koran funksioneer presies op die beginsel van [Mattheus 6:19&20]

Weereens, jou hele uitgangspunt is gebaseer op die “Leer van die Erfsonde, “wat van jou as Christen ‘n hopelose, miserabele misbaksel van ‘n mens maak, en wat alle studente van die Teologie en Bybelkunde nou reeds weet gefundeer is op ‘n mite: die verhaal van Adam en Eva is ‘n mite. Daar is nie iets soos erfsonde nie, en God is nie so wreed dat Hy jou as swak mens sal vernietig net omdat jy probeer het nie. Christene dien eintlik ‘n wrede God: nie net verwag die God van die Christene van die mens algehele gehoorsaamheid nie, maar hy vermoor ook sy eie “seun” om sy bloeddorstige behoefte aan perfeksionisme te bevredig. Nou, ek weet dat hierdie gedagte vir jou geheel afstootlik is. Maar dis mos hoe dit is? Die Koran daarenteen verkondig ‘n liefdevolle, genadige God wat die mens uitermate liefhet en versorg nog voordat daardie mens in Hom glo: en dan nog meer liefhet wanneer die mens glo. Daar is nie sulke bloeddorstigheid in die Koran nie: net Genade.

Eintlik is dit die Bybel wat ‘n onhaalbare godsdiens verkondig en nie die Koran nie. Daar is tonne maar liefde en genade in die Koran as in die Bybel. Of dink jy regtig, dat ek die sogenaamde genade van God en die verlossing van Jesus sou opgee vir die God van die Koran as dit nie 100% beter is nie?

Die God van die Koran, is nie Een wat tevrede gestel of gepaai hoef te word nie. Die Dominees en Pastore en Kerkleiers wat hulle mense wou weghou van die Koran af het maar net so ‘n prentjie geskilder, en ons almal onder ‘n vals indruk gebring. Die God van die Koran, die Een wie Jesus en Abraham en Moses gedien het, is ‘n liefdevolle God wat niks meer van enige mens verwag as waartoe hy of sy in staat is nie. Net gewone gehoorsaamheid. En jy as Pa van jou kinders verwag dit tog ook van jou kinders: of is jy hierdie monsteragtig Pa wat perfekte gedrag van jou kinders vereis? Ek dink nie so nie! Nou, die God van die Koran is net so: alles wat God volgens die Koran van ons vra is vir ons eie goed, en niks daarvan, so verduidelik die Koran, is om God tevrede te stel nie.”

Om sinvol op iemand te reageer wat, soos in hierdie geval, die idee van Christelike verlossing nie verstaan nie, is dit nodig om eers ʼn kontekstuele raamwerk te skep waarvolgens bepaalde aansprake geevalueer kan word. Daar is verskillende maniere om dit doen, maar my eie benadering, na aanleiding van die essensie van die Christelike boodskap, is hier soos volg:

Die sleutel tot ʼn korrekte verstaan van die kern van die Christelike geloof, het te doen met die idee van die verhouding tussen God en mens. Die heel basiese vertrekpunt, in die konteks van die Bybel as geheel, is dat God die mens gemaak het vir ʼn intieme verhouding met Hom. Dit is slegs in ʼn verhouding met God dat ʼn mens sy mensheid ten volle kan aktualiseer. Die tweede belangrike punt is dat die mens weens sy sonde egter in sy verhouding tot God totaal vervreemd is. Die verhaal van die sondeval van die mens in Genesis 3 verduidelik iets van die realiteit van hierdie gebroke verhouding wat tussen God en mens bestaan, m.a.w. elke mens staan in ʼn gebroke verhouding tot God. Elke mens wat eerlik is met homself sal erken dat hy in vergelyking met God se volmaakte en goeie natuur (Sy Heiligheid), baie ver tekort skiet. Die implikasie is dat dit eenvoudig onmoontlik is vir ons as sondige wesens om ʼn intieme en betekenisvolle verhouding te hê met ʼn moreel volmaakte wese soos God. Dis slegs as daar iets gedoen kan word aan ons sonde, as dit op ʼn manier geneutraliseer of verwyder kan word, dat ʼn verhouding tussen God en mens herstel kan word.

So, hoe dan gemaak met die probleem van sonde? Wel, baie mense dink dat ʼn opregte strewe om aan God gehoorsaam te probeer wees, ʼn manier is om die sonde minder erg te laat lyk so asof God volgens so ʼn opregte strewe die sonde sal oorsien (as Hy genadig is, dan sal Hy mos). Vanuit ʼn Christelike perspektief is die probleem dat enige so ʼn strewe steeds nie ʼn verhouding met God moontlik maak nie, want ons sonde, wat so ʼn verhouding onmoontlik maak, bly steeds ʼn realiteit in ons lewens. Wat is die doel van ‘n strewe om God aan gehoorsaam te wees as ons steeds nie ʼn verhouding met Hom het nie?

ʼn Slaaf wat sy meester se bevele gehoorsaam, het geen intieme verhouding met sy meester nie. Sulke gehoorsaamheid is onvermydelik gekoppel aan die hoop dat die meester beïnvloed kan word om die slaaf goed te behandel. Maar so ʼn verstaan van die verhouding tussen meester en slaaf, en die plek van gehoorsaamheid, is fundamenteel anders as byvoorbeeld die idee van ‘n verhouding tussen ouers en hul kinders, of tussen ʼn man en sy vrou. In hierdie tipe verhoudings wil die kind graag aan sy ouers gehoorsaam wees, of wil die egpaar mekaar gelukkig maak, nie omdat hulle iemand se guns probeer wen of iemand wil paai nie, maar omdat hulle deur die intieme verhouding waarin hul staan gemotiveer word.

Die probleem, volgens die Christelike geloof, is dat die mens niks kan doen om van sy eie sonde ontslae te raak nie, hy is eenvoudig daarin vasgevang en bly in ʼn gebroke verhouding met God. Kan die mens egter uit so ʼn netelige situasie verlos word?

Die Christelike antwoord op laasgenoemde vraag en die goeie nuus is – ja! Volgens die Christelike geloof neem God die inisiatief om die mens te verlos. Hier is ʼn metafoor om te verduidelik wat God se oplossing is: Gouderts word gesmelt sodat al die onsuiwerheid wegbrand totdat net die suiwer goud oorbly wat in ʼn ring gemaak kan word vir die Koning se vinger. Dit is presies wat met ons sonde moet gebeur; dit moet ook wegbrand, sodat ons in ʼn suiwer toestand met God in intieme verhouding kan tree.

Die enigste probleem is dat as ons sonde wegbrand, dan word ook óns in die proses vernietig. Geen mens kan die smeltoond (d.i. die dood) se vernietigende effek oorleef nie. Dis presies hier waar God vir ons intree. Hy wat eintlik suiwer goud is (die Seun van God), word in Jesus soos ʼn stuk gouderts (hy neem ʼn menslike natuur aan en daarmee saam ons sonde op hom sonder om self ooit sonde te doen). Dan onderwerp hy homself vrywilliglik aan die pyn en vernedering van die vuuroond (die kruisiging) waartydens ons sonde weggebrand word wanneer Jesus in sy menslike natuur sterf. Dis egter die goud (Jesus se Goddelike natuur) wat die temperatuur in die smeltoond deurstaan en waardeur Jesus die dood oorwin. Jesus se opstanding en verheerlikte liggaam dien dan as onmiskenbare teken dat God deur Jesus met die mens se sonde afgereken het.

Hierdie inisiatief van God om ons van sonde te verlos sodat ons in ʼn intieme verhouding met God kan tree, is wat die Christelike geloof met God se genade, sy onverdiende goedheid, bedoel. Dit word die mens vryelik aangebied en kan daarom ook vryelik verwerp word. Diegene wat dit verwerp, verwerp die enigste manier waarop ʼn mens in ʼn intieme verhouding met God kan tree.

Nou, jou Moslem-vriend se verwysings na die Christelike konsep van Verlossing laat my regtig wonder of hy dit al ooit regtig verstaan het. Kom ons kyk na wat hy sê.

  • “[D]ie Koran [stel] dit ook dat geen mens ‘n verlosser nodig het nie”…“Die Koran verkondig presies dieselfde “genade deur geloof in God” en glad nie verdienste deur goeie werke nie.”

Nee. Wat die Koran sou verkondig as “genade deur geloof in God” verskil hemelsbreed van wat die Nuwe Testament daaroor leer. In Johannes 1:16-17, Romeine 5:2, Efesiërs 2:1-10, Titus 2:11 en Titus 3:6-7 word God se genade direk verbind aan Jesus se verlossingswerk. So as die Koran ontken dat ons verlossing nodig het of dat Jesus vir ons sonde gesterf het, en as verlossing van sonde die kern uitmaak van wat God se genade impliseer, dan word daar mos nie eers naastenby dieselfde “genade deur geloof God” verkondig nie. Dis onbegryplik dat jou vriend dit eers kan suggereer.

Jou vriend is korrek om te sê dat ‘n Moslem nie ʼn gehoorsame lewe probeer lei om Allah se genade te verdien nie – genade, selfs in Islam se konsep daarvan, is immers nie iets wat verdien kan word nie. Die probleem is egter dat Allah se genade heeltemal arbitrêr is en dat ʼn gehoorsame lewe en die goeie dade wat daaruit voortvloei daarom inderdaad in berekening gebring word op die oordeelsdag (sien die konsep van skale in die Koran: Sura 23:102-103, Sura 21:47). Die feit dat geen Moslem kan weet of hy/sy die ewige lewe gaan betree nie (met uitsondering van iemand wat ‘n jihad onderneem), selfs al lewe hulle ʼn goeie lewe, maak die konsep van Allah se genade arbitrêr (dit word bevestig deur die implikasies van gedeeltes soos die volgende: Sura 9:51, Sura 57:21-23, Sura 2:6-7, Sura 3:73b-74, Sura 5:40-41, Sura 6:107, Sura 6:149, Sura 7:178, Sura 32:13, Sura 10:99, Sura 7:29-31, Sura 81: 28-29). As die beste is wat ʼn Moslem kan doen om te hóóp dat die genade van Allah hom of haar te beurt sal val, maar nooit daarvan seker kan wees nie, hoe is Allah genadig?

Hierdie idee van Allah se genade is in merkbare teenstelling met die sekerheid wat elke persoon kan hê, ten spyte van jou Moslem-vriend se aanspraak, wat God se genade in Christus aanvaar: 1 Johannes 5:11-13, Romeine 8:14-17, Johannes 14:17, 1 Johannes 4:6, Johannes 1:12, Efesiërs. 1:7, Romeine 5:8-11, Romeine 3:23-26, Johannes 3:18, 36, 2 Korintiërs 5:18-21, Handelinge 10:43, Titus 3:5-7.

  • “Die Koran maak net nie van die mens ‘n slegte, hopelose, miserabele misbaksel soos die Bybel nie.”

Die menslike kondisie vanuit ʼn Christelik perspektief word nie verduidelik deur bloot ʼn klomp byvoeglike naamwoorde aanmekaar te ryg en dan te dink dat jy iets noemenswaardig gesê het nie:

  • Is die mens sleg? Nee, dit is die sonde wat sleg is en die feit is dat alle mense sonde doen (terloops, ʼn mens hoef nie in ‘erfsonde’ te glo om te kan glo dat alle mense sonde doen nie). Die mens opsigself, as geskapene van God, is nie sleg nie.
  • Is die mens hopeloos en miserabel? Die mens is hopeloos en miserabel in sover dit die gevolge van sy sonde aanbetref – m.a.w. hy kan homself nie daarvan bevry nie. Maar die mens is natuurlik nie sonder hoop nie, want God het hom van sy sonde verlos.
  • Is die mens ʼn misbaksel? Allermins. Die mens is na die beeld van God gemaak (Genesis 1:26-28) en met glorie en eer gekroon (Psalm 8:5, Hebreërs 2:6-8). Hierdie beeld van God is nie iets wat selfs die sonde ongedaan kan maak nie.

 

  • “God is nie so wreed dat Hy jou as swak mens sal vernietig net omdat jy probeer het nie.”… “Die God van die Koran, die Een wie Jesus en Abraham en Moses gedien het, is ‘n liefdevolle God wat niks meer van enige mens verwag as waartoe hy of sy in staat is nie. Net gewone gehoorsaamheid. En jy as Pa van jou kinders verwag dit tog ook van jou kinders: of is jy hierdie monsteragtig Pa wat perfekte gedrag van jou kinders vereis?”

Inderdaad is God nie so wreed om ons as swak mense te vernietig wat probeer om hom te gehoorsaam nie. Maar dis omdat Hy weet dat ons nie enige sulke pogings kán aanwend om in ʼn verhouding met Hom te tree nie! Dit is presies hier waar die verskil tussen Islam en die Christelike geloof lê: Allah vra gehoorsaamheid en onderdanigheid; God die Vader nooi ons uit na ʼn intieme verhouding met Hom en dis vanuit so ʼn verhouding dat ons gehoorsaam wil en sal wees. Dit is ook juis die rede waarom God, soos ʼn liefdevolle Pa wat weet sy kinders is swak, die inisiatief geneem het om ons van ons sonde te verlos. Die probleem is eintlik nie dat ons net te swak is nie – ons is totaal onvermoënd om sonder God se verlossingsdaad in ʼn verhouding met Hom te tree.

  • “Christene dien eintlik ‘n wrede God: nie net verwag die God van die Christene van die mens algehele gehoorsaamheid nie, maar hy vermoor ook sy eie “seun” om sy bloeddorstige behoefte aan perfeksionisme te bevredig.”

Weer eens, konteks is belangrik. Verwag God van die mens (nie net Christene nie) algehele gehoorsaamheid? Ja, want dit is die enigste kondisie waaronder enige mens met ʼn Heilige God ʼn intieme verhouding kan hê. Maar dis juis omdat alle mense tekort skiet weens hul sonde en niemand dus daardie volmaakte standaard kan handhaaf nie, dat alle mense in ʼn gebroke verhouding tot God staan. God se genade deur Jesus se versoeningswerk verteenwoordig egter die manier waarop die sonde uitgewis word, wat in pad staan van ʼn verhouding tussen God en mens.

Beteken dit dat ʼn Christen (wat God se genade deur geloof aanvaar het) volkome gehoorsaam kan wees aan God? Ja, en wel op die volgende manier. Wanneer God na die mens kyk, dan kyk Hy as’t ware na ons deur die “filter” van Jesus se dood ter vergewing van ons sonde; daarom kan Hy met ons ʼn verhouding hê. Wanneer ons tot God nader dan doen ons dit ook deur die “filter” van Jesus se versoensingswerk. Dit beteken dat ons ʼn verhouding met God kan hê, al is ons nie sondeloos nie, want al ons sonde (van die verlede, hede én toekoms) is vergewe en weggeneem deur Jesus se versoeningswerk. Natuurlik beteken dit nie dat ons doelbewus sal wil sondig nie (dis ‘n weerspreking van ʼn Christen as ʼn verloste mens wat deur die krag van die Heilige Gees leef), maar dit beteken dat wanneer ons wél sondig, dan kan ons dit bely en weet dat dit nie meer sonde is wat tussen ons en God staan nie.

Tweedens, die idee dat “God sy eie seun vermoor om sy bloeddorstige behoefte aan perfeksionisme te bevredig” het ‘n oorsprong op een van twee plekke: totale onkunde of doelbewuste kwaadwilligheid. Geen persoon wat die Christelike leer of die Evangelie verstaan (wat nog te sê van iemand wat homself ʼn voormalige Christen noem), sal hom met so ʼn karikatuur besig hou nie. Jou vriend is jou ʼn verduideliking verskuldig oor waar die oorsprong lê vir sy onverskoonbare en growwe mistasting as die Bybel sélf presies die teendeel beskryf in o.a. Johannes 10:18, Filippense 2:6-8, Matteus 20:28, Matteus 26:26-28, Johannes 6:51, 1 Timoteus 2:6 en Galasiërs 3:13.

  • “Die Koran daarenteen verkondig ‘n liefdevolle, genadige God wat die mens uitermate liefhet en versorg nog voordat daardie mens in Hom glo: en dan nog meer liefhet wanneer die mens glo.”

Jesus se selfopofferende (!) dood sodat ons ʼn intieme verhouding met God kan hê is juis ʼn bewys van God se liefde vir ons – dit het niks met enige wreedheid of bloeddorstige behoeftes te doen nie. Natuurlik beskryf die Koran ook ʼn genadige God en ʼn God wat sonde vergewe. Maar die Koran se konsep van God en van die mens veronderstel ʼn oppervlakkige omgaan met die Heiligheid van God, die sondigheid van die mens, die totale gebrokenheid van die verhouding tussen God en mens, en die radikale aard van God se besorgdheid en liefde om ons in ʼn verhouding met Hom te bring. In vele opsigte is die Allah van die Koran ʼn makgemaakte idee van God en daarom ʼn dowwe refleksie van die Bybelse God.

“Jou weerstand teen die Koran is aangeleerde gedrag. Ons is almal sagkens so gekondisioneer dat ons die Koran as boos beskou, en net die Bybel as “Woord van God” aanvaar. Feit is egter dis onwaar: en dit het ek nie in die Koran ontdek nie maar tydens my studies in Teologie. Of hoekom dink jy het manne soos ons eie SA’e Professor Spangenberg en Professor Julian Muller en andere, reeds handdoek ingegooi as gelowiges en as ongelowiges weggestap? En moenie hierdie manne se geloof laag vat nie: hierdie is manne wat waarlik soos jy ‘n diep persoonlike geloof in die Christelike Godsdiens en Jesus gehad het. Ek is baie jammer dat ek nou hier aan jou moet staan en ruk en pluk: maar ek sal vir jou jok as ek nie my persoonlike pynlike ervaring as liefde-Jesusmens met jou deel nie.”

Daar is baie mense in die akademie soos Sakkie Spangenberg wat die ortodokse Christelike geloof vaarwel geroep het, of soos Julian Muller wat nog steeds met die Christelike kerk assosieer, maar belangrike dele van ortodokse Christelike geloof ontken. Maar wat daarvan? Daar is ʼn magdom Christene in die akademie wat Spangenberg en Muller se argumente onoortuigend vind. Eintlik beïndruk dit niemand om te sê sus en so aanvaar of verwerp dit en dat nie. Dit gaan oor of die redes vir waarom hulle dit doen, gewig dra.

“Minus nou natuurlik die aangelasde briewe van Paulus: want Paulus verkondig nie die Evangelie nie: Paulus verkondig Paulinisme.”

As Paulus nie die evangelie verkondig het nie, wie het dan en wat was dit? ʼn Mens wonder oor hoe jou Moslem-vriend sou verduidelik waar die woord euangelion vandaan kom, wie dit die eerste keer gebruik het m.b.t. Jesus en wat die spesifieke betekenis daarvan was. Hy gaan ook sy bronne vir sulke verduidelikings behoorlik moet aandui, maar ek voorsien dat dit nie te doen gaan hê met enige van die vier kanonieke evangelies wat blykbaar almal verdraai is nie.

Miskien is dit op hierdie punt goed om daarop te let dat die Koran op verskeie plekke met groot eerbied na “Die Evangelie” verwys en wel as iets wat dit as God se vroeëre, geopenbaarde Skrif bevestig (sien Sura 5:47-48, Sura 3:3, Sura 7:157, Sura 5:68, Sura 10:94,). Die probleem is dat alle Moslems vandag glo dat “die Evangelie,” Christene se geopenbaarde Skrif, nie meer betroubaar is nie (ten spyte van gedeeltes soos Sura 6:114-115 en Sura 18:27 wat skynbaar aandui dat niemand God se woorde kan verander nie). Die vraag is egter oor hoekom die Koran sou aandui dat “die Evangelie” Skrif verteenwoordig (m.a.w. woorde van God), as dit reeds in Mohammed se leeftyd verdorwe en onbetroubaar was. Trouens, Sura 5:47 verwys spesifiek na die “Mense van die Evangelie,” mense wat in dieselfde tyd as Mohammed geleef het, en per implikasie die woorde van God in “die Evangelie” in hul besit gehad het (dit word ook bevestig deur Sura 5:68).

Presies wanneer is “die Evangelie” dan so verdraai dat dit onbetroubaar geraak het? Om te sê dat dit eers ná Mohammed se leeftyd verdraai is, is uiters problematies aangesien ons uit tekskritiese navorsing weet dat die Griekse manuskripkopieë vóór en ná Mohammed se leeftyd byna identies is en dat die verskille wat daar wel is hoegenaamd nie die betekenis van die teks verander nie, maar kopieerfoute en ander onbeduidende variasies verteenwoordig.

Iemand het die implikasies van hierdie probleem soos volg verwoord: “The Qur’an affirms the inspiration, preservation, and authority of the Christian scriptures (including the Torah and the Gospel). Yet the Qur’an contradicts the Christian scriptures on fundamental doctrines (e.g., Jesus’ death, resurrection, and deity). By affirming scriptures that contradict Islam, the Quran self-destructs.” (Sien What Does the Quran Say About the Crucifixion of Jesus? en The Quran, the Bible, and the Islamic Dilemma) (Sien gerus ook Mike Licona se artikel, The Death of Jesus & the Defeat of Islam wat op soortgelyke manier wys wat die implikasie daarvan is dat die Koran Jesus as ‘n ware profeet uitbeeld.)

“Doen jouself die guns: haal jou bril met vooroordele af en kom lees ons vars nuwe vertaling van die Koran en besluit dan, soos wat dit jou goeie reg is, of jy steeds ‘n Christen gaan wees. Wat jy ook al besluit is wonderlik. Tydens die Opstandingsdag sal God vir ons almal eens en vir altyd uitklaar wie, en wie nie, korrek was: en ons sal daar staan skouer aan skouer, jy, ek, Moses, Jesus, Abraham, Mohammed en wie jy ook al jy graag daar naby jou wil sien staan. Want oor en oor in die Koran waarsku God dat die oordeel ons nie toekom nie, maar dat Hy dan die saak sal uitklaar.”

Soos ek reeds genoem het is dit ʼn goeie ding om ʼn mens te vergewis van wat in die Koran staan en daarom kan ʼn “vars, nuwe vertaling van die Koran” dalk baie nuttig wees. Maar hier is my probleem. In wat jou Moslem-vriend sover kwyt geraak het, het hy gewys dat hy meestal ʼn karikatuur van die Christelike geloof verwerp. As dit werklik is wat die Christelike geloof leer, dan het ek en jy dit óók verwerp! Wat jou vriend sover gesê het, bied absoluut geen rede of motivering om dit wat ons as Christene werklik glo, te verwerp nie. As ek en jy soekers is na die waarheid en as ons goeie redes het om te glo dat die Christelike leer waar is, dan het ons ook ʼn goeie rede om te glo dat die teendeel van wat waar is, vals is. So, iemand soos jou vriend sal ons eerstens moet oortuig dat die Christelike geloof inderdaad vals is (ja, sonder om van karikature gebruik te maak) en dan tweedens sal hy moet verduidelik waarom ons Islam moet omhels.

“Die boek “Mattheus” in die Bybel is een van die hordes onbetroubare boeke in die Bybel: een van die vier evangelies wat uit ‘n hele aantal evangelies gekies is omdat hierdie vier evangelies, wat toe uiteindelik in die Bybel vervat is, dieselfde verhaal basies vertel het. Die Mattheus evangelie waarop jy jou standpunt wil bou is so onbetroubaar dat jy byna nie eers die numering van die verse daarvan kan vertrou nie. Ek het bloot daaruit aangehaal omdat dit al taal is wat jy dalk sal verstaan. En jy fouteer: ek het nog nie eers naasteby die Koran nader getrek nie. Ek verwys nog net na die materiaal waarin jy glo so asof dit uit die hemel uit geval het.

Wie was “Johannes?” Wie het die boek genaamd “Johannes” geskryf? Wie het die boek “Johannes” geredigeer? Jy weet nie, en tog vat jy dit vir die waarheid?

Jy lê woorde in Jesus se mond wat hy waarskynlik nooit eers gesê het nie. Alle SA’se Teoloë (om dit nou maar net binne SA te hou) en Bybelkundiges weet dat die verhaal van Jesus, soos wat enige boek in die Nuwe Testament en in besonder die Evangelies dit weergee, is suiwer subjektiewe weergawes van die outeurs en redakteurs daarvan, wat ‘n punt wou maak: “Jesus is God.” Of het jy dalk opnames, of videokassette of DVD’s van ooggetuieverslae, wat my argument hier verkeerd kan bewys? ‘n mens kan tereg ook vra hoekom die ander “evangelies” nie ook in die Bybel vervat nie, en net hierdie vier?”

Daar bestaan eenvoudig onhoudbare spanning tussen die Historiese Jesus en die Jesus wat die Vier Evangelies van hom probeer maak.”

Okay, hier kom ons by een van my gunsteling onderwerpe, naamlik die betroubaarheid van die Nuwe Testament. Om mee te begin, een van die belangrikste redes vir waarom die drie sinoptiese evangelies sowel as die Johannes-evangelie van so vroeg as die tweede eeu n.C. deur die vroeë kerk uitgesonder is, is omdat dit apostoliese gesag gehad het. Dit beteken dat die vroegste getuienis was dat hierdie evangelies deur ʼn apostel of ʼn medewerker van ʼn apostel geskryf is. Wat byna geen historiese navorser betwyfel nie is dat hierdie vier evangelies almal in die eerste eeu n.C. geskryf is, dus êrens tussen 20 tot 65 jaar na Jesus se dood en daarom almal in die apostoliese era, dit is, terwyl daar apostels was wat nog geleef en bedien het. Verder is daar boonop geen historiese getuienis vir enige kompeterende evangelie-skrywes in die eerste eeu nie. M.a.w. daar was eenvoudig nie enige ander evangelie-skrywes in die eerste eeu wat die rondte gedoen het en waaruit daar sommer na willekeur net vier uitgekies sou kon word nie. Hierdie vier evangelies is dus nie gekies bloot omdat hulle dieselfde verhaal vertel het, soos jou vriend dit simplisties stel nie, maar hulle is gekies omdat dit die enigste verhaal was om van te kies!

Daar het natuurlik later ander sogenaamde “evangelies” verskyn en veral die gnostiese evangelies was baie gewild. Hulle is egter almal eers in die tweede eeu n.C. geskryf, ongeveer 120 tot 150 jaar na Christus se dood en ten minste 50 jaar na enige van die apostels of skrywers van die kanonieke evangelies nog geleef het. Hierdie evangelies was egter baie duidelik nie op historiese feite gegrond nie, en die rede waarom dit nooit in die vroeë Christelike kerk gebruik is of aanvaar is nie (enigiemand wat hierdie “evangelies” met die kanonieke evangelies vergelyk, sal vir hulleself kan sien en hoef nie te wonder oor waarom hulle verwerp is nie). Die vroeë kerk het of sou dus nie sommer lukraak sekere evangelies kies of verwerp nie. Dit was duidelik dat hulle bewus was dat watter ʼn betroubare oorsprong verteenwoordig het en watter nie.

Is die Matteus-evangelie onbetroubaar? (Terloops, vers-numering het niks met enigiets te doen nie. Die Bybel se verse en hoofstukke is eers in die laat Middeleeue genommer en beïnvloed die betroubaarheid van die teks op geen manier nie. As vers-nommering ʼn probleem is, dan is dit net so ʼn probleem vir die Koran.) Dis natuurlik baie maklik om bloot te sê, soos jou vriend doen, dat die Evangelies onbetroubaar is (soos Moslems geïndoktrineer word om te aanvaar), maar veel, veel moeiliker om te wys waarom.

Dis byvoorbeeld gerieflik om kritici op populistiese wyse na te praat en te sê dat ons nie kan weet wie die outeurs van die evangelies was nie, en dat omdat ons nie weet nie, die evangelies onbetroubaar móét wees. Of dat redaksie in die evangelies onbetroubaarheid impliseer. Of dat die skrywers se teologiese motiewe gelyk is aan onbetroubare subjektiwiteit. Of dat Jesus nie dit of dat sou gesê het of kón gesê het nie. Maar iemand wat die kwessies ondersoek sal gou agter kom hoe kritici hul eie baie spesifieke vooroordele na die tafel bring en dat sake glad nie so eenvoudig is as wat hulle dit dikwels wil laat klink nie.

Jou Moslem-vriend dink naïwelik dat slegs ʼn video-opname van gebeure in die eerste eeu goed genoeg is om die waarheid te bepaal. Ek het egter my bedenkinge oor of hy regtig verstaan hoe historiese navorsing werk en hoe en waarom geskiedkundiges tot bepaalde gevolgtrekkings kom.

In elk geval, ek het sommige van hierdie kwessies reeds elders vlugtig aangeraak, met verwysings na dieper ondersoek, so as jy belangstel dan kan jy na die volgende artikel kyk: Wie het die Evangelies geskryf?

“Of dink jy regtig, dink jy regtig, bo alle twyfel, dat die Enige God van die OTestament wat honderde mense laat vermoor het, omdat hulle Hom as Enige God nie erken en gedien het nie, die feit dat hy toe nou nooit “Enig” en “Een” is nie, geheim sou gehou het totdat dit hom pas? Besef jy hoe groot is hierdie breuk tussen die God van die OT en die God(Vader) van die NT?

Jy sien, dis hoekom ek my nie meer kan assosieer met hierdie weird God wat die Christene aan my wil voorhou, en wat ek vir 52 jaar van my lewe baie opreg gedien en vertrou en liefgehad het, nie. Die een oomblik, vir duisende jare dring die God van die OTestament daarop aan dat Hy alleen God is, dat niemand enigiets aan Hom mag gelykstel nie en die volgende oomblik, eis hierdie bloeddorstige God van die volk Israel wat lam op lam en dier op die vir Hom moes offer, dat ‘n moord gepleeg sal word sodat Sy behoefte aan “geregtigheid” bevredig sal word?”

Ons het al gepraat oor wat Christene verstaan met verwysing na God as enigste God. Maar hier is ʼn aanspraak wat jou Moslem-vriend skynbaar uit sy duim suig naamlik dat God “honderde mense laat vermoor het, omdat hulle Hom as Enige God nie erken en gedien het nie”. Alle verwysings na God se oordeel op met mense en waarin hulle gesterf het, het te make met God se oordeel op mense se sondige lewens/dade. Selfs al was ‘n deel van God se oordeel omdat mense hom as enige God verwerp het, dan was dit omdat hulle agter ander gode aangeloop het wat nie bestaan het nie, omdat hulle hul eie sondige begeertes wou navolg en regverdig.

Daar is dus nie werklik ʼn breuk tussen die God van die Ou Testament en die Nuwe Testament nie, maar wel voller openbaring in die Nuwe Testament. Hierdie konsep is nie vanuit ʼn Islamitiese perspektief vir ʼn Moslem vreemd nie – Mohammed sou immers die grootste en finale profeet wees waarin Allah homself die duidelikste en volste geopenbaar het. Die probleem is net dat die Koran ʼn simplistiese weergawe van God voorhou.

Diereoffers was van die vroegste tye gemaak. Abel het in Genesis 4 al ‘n diereoffer aan God gebring; ook Noag (Genesis 8) het offers aan God gebring. Maar waarom diereoffers in die eerste plek? Die hele idee met ʼn offer was om te wys op die koste verbonde aan die wegneem (of vergifnis) van sonde (Hebreërs 9:22) en was uiteindelik ʼn skadubeeld van die volmaakte offer wat Jesus sou bring (Hebreërs 7:26-28) om die mens se sonde weg te neem (Hebreërs 10) en sodoende ʼn verhouding met God moontlik te maak. Nêrens, maar nêrens, is daar sprake van moordpleging waaruit ʼn wrede God afgelei kan word nie, behalwe in die karikatuur waarvoor jou vriend so lief is.

“Jesus sou homself so nooit as te nimmer aan God gelykgestel het nie. Sien jy wat jy hier argumenteer? Jy sê in effek dat die God van jou Bybel, die God van Abraham, Isak, Jakob en Jesus, nie regtig dit bedoel het dat Hy alleen God is nie en dat Jesus, jou Jesus, dit nie ernstig bedoel het toe Hy sy volgelinge beveel het om God, met hulle hele hart en siel lief te hê en te dien nie. So jy maak nie net jou eie Ou Testamentiese God tot leuenaar nie maar ook jou Nuwe Testamentiese God?”

Die God van die Bybel, die God van Abraham, Isak, Jakob en ja, selfs van Jesus, het inderdaad bedoel dat Hy alleen God is wat hulle met hulle hart en siel moet liefhê en dien. Wat jou vriend duidelik nie verstaan nie is dat die drie-enige natuur van God nie hiermee in konflik staan nie. Daar is net één entiteit wat God genoem word, maar God se natuur word gekenmerk deur drie onderskeibare, maar onskeibare persone. Dit is die gevolgtrekking waartoe die vroeë Christene gekom het juis omdat hulle met gedeeltes soos Johannes 8:56-59 en Johannes 10:30-33 en ander geworstel het (en dan praat ons nie eers van waarom die Evangelie-skrywers genoop gevoel het om so oor Jesus te skryf nie). Jesus verteenwoordig een van die persone m.b.t. God se natuur, selfs al het die Seun van God ook ʼn menslike natuur aangeneem. Jesus en God is dus nie twee aparte Goddelike entiteite asof daar twee gode is nie. Nee, Jesus as immateriële persoon is Goddelik en onlosmaaklik verbind aan die ander twee persone waardeur God se natuur gekenmerk word, terwyl hy ook ʼn menslike natuur en fisies liggaam aangeneem het.

Winkelsmidt, vervolgens net weer ʼn verwysing na waar jy die volgende vir jou Moslem-vriend skryf. Jy sê:

“As jy Jesus nie so ken of wil verstaan nie, dan verwerp jy Hom. Dan het jy Hom nooit geken en as Verlosser aanvaar nie, alhoewel jy so beweer.”

Jou vriend reageer daarop soos volg:

“Nee, hierdie veroordeling kom jou nie toe nie! Ek weet dat dit jou baie seermaak dat ek jou Jesus so verinneweer, maar jy sal my met dieselfde empatie moet behandel as ek vir jou. Ek weet presies hoe hierdie tipe inligting jou ontstel, dis hoekom jy my van jou af wil wegstamp. Maar sulke gedrag pas nie by ‘n volgeling van Jesus, wat jy aanspraak maak om te wees, nie! Cool it! …Ek het baie ondervinding in ons gesprek; en gewoonlik wanneer die een gespreksgenoot baie bedreig voel dan val hy die ander gespreksgenoot aan en kraak hy die integriteit van die ander deelnemer af: en dis wat jy nou doen. En jy kan dit nie doen nie. As jy van my verwag om jou as opregte en egte volgeling van Jesus te erken, dan verwag ek van jou om my daardie selfde erkenning te betoon, vir my eertydse Christenwees. Ek betwyfel nie jou integriteit nie, en beskuldig jou nie van valsheid nie: so jy kan my ten minste dieselfde respek betoon. ☺”

Ek het reeds verwys na die ironie dat jou vriend dink dis okay om jou belewenis van God in twyfel te trek, maar dat jy dit nie mag durf waag om syne in twyfel te trek nie. In elk geval is dit geensins so dat jy sy integriteit aanval nie, maar dat jy bloot die implikasies vir die idee van ʼn ware wedergeboorte tot sy logiese uiteinde voer. En jy is hierin heeltemal korrek.

“Dink jy ek sou eerlik wees as ek die Bybel nog nooit gelees het nie, maar dit verwerp slegs op grond van ander “kundiges” se evaluasies daarvan. Of is dit hoe jy karre koop, huise en trou? Jy lees die kartydskrifte oor jou geliefde motor, jy lees tydskrifte oor huise en jy luister na wat ander mense jou vertel oor hierdie mooi meisie en op grond van ander mense se opinies koop jy jou kar, jou huis en trou jy met ‘n vrou wat jy van geen kant af ken nie. Hmmmmm kan nie werk nie!”

Ons maak natuurlik almal staat op die kundige evaluasie van ander mense in baie van die besluite wat ons maak, bloot omdat ons nie eksperts in alles kan wees nie. Trouens, wanneer ons daardie “kartydskrif oor [ons] geliefde motor” lees, dan doen ons juis so omdat ons waarde heg aan die kundigheid van sommige skrywers in daardie tydskrif, sonder dat ons self enige spesifieke motor al bestuur het of fisies ondersoek het. Net so kan ons staat maak op kundiges wat krities met die Koran omgaan sonder om dit self te lees. Wat sulke kundiges sê is tog nie vals of onbetroubaar net omdat ons as onkundiges dit nie geverifieer het nie? Die feit is dat ons dikwels juis van die kundiges afhanklik is om ons te help om dinge beter te verstaan omdat hulle kennisagtergrond breër en hul begrip dieper is.

Natuurlik is daar ook “kundigheid” wat ʼn mens nie op laasgenoemde manier kan bekom nie. Sekere dinge leer ken ons slegs deur persoonlik daarby betrokke te wees en dit sélf te ervaar, soos ʼn verhouding met ʼn ander mens of met God. Juis daarom dat ek en jy onsself Christene noem. So, tensy ek en jy werklik rede het om te glo dat ons verhouding met Jesus ʼn illusie is, is daar geen rede om te dink dat die God van die Koran miskien die ware God is nie (en dalk is een van die ander godsdienste se godsbegrip eerder korrek).

“En ek sê vir jou: die God van die Koran is ‘n liefdevolle God en verseker niemand se “Vader” nie. Maar ek kan nie sien hoekom jy ‘n probleem met die “vader” deel sal hê nie, want in die hele OT word God nie eenkeer as enigiemand se “vader” uitgebeeld nie. Eers in die NT kom hierdie bose leuen na vore en word God voorgehou as vader. Nou vra ek jou weer: maak dit vir jou sin? Hoe kan die God van die Ou Testament in jou eie Bybel, vir duisende jare daarop aandring dat Hy nie met enigiets of enigiemand vergelyk of gelykgestel wil word nie, en skielik, woeps, hier in die NT skielik is hy die “vader” van al wat leef en beef en word die woord “vader” nie net aan Jesus toegedig nie, maar Jesus word sommer so woeps-waps ook skielik die “seun” van God, so asof die Ou Testament nie vol sogenaamde “seuns van God” is nie?”

Jou Moslem-vriend sê dat “in die hele OT word God nie eenkeer as enigiemand se “vader” uitgebeeld nie” Regtig?! Ek wonder wat hy met al die volgende gedeeltes in die Ou Testament maak wat almal na God se vaderskap verwys of dit impliseer:

Jer 31:9 They shall come with weeping, and with supplications will I lead them: I will cause them to walk by the rivers of waters in a straight way, wherein they shall not stumble: for I am a father to Israel, and Ephraim is my firstborn.

Isa 64:8 But now, O LORD, thou art our father; we are the clay, and thou our potter; and we all are the work of thy hand.

Isa 63:16 Doubtless thou art our father, though Abraham be ignorant of us, and Israel acknowledge us not: thou, O LORD, art our father, our redeemer; thy name is from everlasting.

Deu 32:6 Do ye thus requite the LORD, O foolish people and unwise? is not he thy father that hath bought thee? hath he not made thee, and established thee?

1Ch 29:10 Wherefore David blessed the LORD before all the congregation: and David said, Blessed be thou, LORD God of Israel our father, for ever and ever.

Jer 3:19 But I said, How shall I put thee among the children, and give thee a pleasant land, a goodly heritage of the hosts of nations? and I said, Thou shalt call me, My father; and shalt not turn away from me.

Mal 1:6 A son honoureth his father, and a servant his master: if then I be a father, where is mine honour? and if I be a master, where is my fear? saith the LORD of hosts unto you, O priests, that despise my name. And ye say, Wherein have we despised thy name?

Mal 2:10 Have we not all one father? hath not one God created us? why do we deal treacherously every man against his brother, by profaning the covenant of our fathers?

Pro 3:12 For whom the LORD loveth he correcteth; even as a father the son in whom he delighteth.

Psa 103:13  Like as a father pitieth his children, so the LORD pitieth them that fear him.

Hos 1:10 Yet the number of the children of Israel shall be as the sand of the sea, which cannot be measured nor numbered; and it shall come to pass, that in the place where it was said unto them, Ye are not my people, there it shall be said unto them, Ye are the sons of the living God.

Isa 1:2 Hear, O heavens, and give ear, O earth: for the LORD hath spoken, I have nourished and brought up children, and they have rebelled against me.

Exo 4:22,23 And thou shalt say unto Pharaoh, Thus saith the LORD, Israel is my son, even my firstborn: And I say unto thee, Let my son go, that he may serve me: and if thou refuse to let him go, behold, I will slay thy son, even thy firstborn.

Deu 14:1 Ye are the children of the LORD your God: ye shall not cut yourselves, nor make any baldness between your eyes for the dead.

Hos 11:1 When Israel was a child, then I loved him, and called my son out of Egypt.

Psa 82:6 I have said, Ye are gods; and all of you are children of the most High.

Winkelsmidt, dan sê jy vir jou Moslem-vriend die volgende:

“Ek bid nou hier vir jou voor ek die brief afstuur. Miskien sien jy weer (of dalk vir die eerste keer) die ware lig, die ware waarheid, die ware lewe.”

Jou vriend reageer dan soos volg:

“Watter arrogansie! Sulke arrogansie en hoogvaardigheid pas glad nie by jou nie. Jy het jouself voorgehou as ‘n persoon wat belangstel in my en in kennis, soos wat ek van enige navolger van Jesus kan verwag. Nou skielik raak jy meerderwaardig en gee jy aanstoot?”

Winkelsmidt, ten spyte van jou vriend se protestering, is dit nie arrogant of hovaardig om te dink dat jy reg en hy verkeerd is oor wat die waarheid is nie. Hy dink immers hy is reg en jy is verkeerd! Dat hy aanstoot neem is vreemd, want uit sy vervloë Christen-dae behoort hy te weet dat Christene graag vir ander mense bid dat hulle tot die waarheid sal kom en dat ons motivering daarvoor nie as meerderwaardigheid vertolk hoef te word asof ons dink dat ons inherent beter is as enigiemand anders nie.

Dan skryf jou Moslem-vriend die volgende:

“Lukas 22:41&42: “En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! “

Nou vra ek: as Jesus homself dan afgesonder het, hoe weet die skrywer van hierdie verslag so presies wat Jesus gebid het? En wie het gesien dat sy sweet soos bloeddruppels geval het, as daar nie elektriese ligte was in daardie dae nie, en die enigste mense van wie hy afgesonder was, ‘n klipgooi vêr van hom af was?

En wat meer is, sy dissipels, die enigste mense wat dalk binne hoor- en sigafstand was, het intussen aan die slaap geraak.

Ek wil graag glo dat die inligting waarop ek my Ewige Lewe en my Geloof in God bou, betroubaar is, en die mees waarskynlike moontlikheid vir die waarheid is. Nou, iets is met hierdie verslag verkeerd. Maar, kom ek gee jou nou eers die kans om dit vir my op te klaar. Want onthou volgens jou, neem ek aan as ek mag, is die Bybel nie net die onfeilbare Woord van God (God verbatim aan die woord,) nie, maar dit bevat ‘n akkurate, 100% betroubare verslag oor God, oor God se “seun” en God se betrokkenheid by alle mense van alle eeue.”

Dis regtig nie so moeilik om aan baie redelike moontlikhede te dink oor hoe ons kan weet wat Jesus sou gesê het in die oomblikke wat hy alleen was nie. Eerstens is dit so eenvoudig as dat Jesus sekere dinge sélf later aan sy dissipels sou vertel het (soos bv. oor sy versoeking in die wildernis, Matt 4). Ook oor die gebeure in Getsemane kon Hy op ʼn latere stadium, ná sy opstanding en tydens die 40 dae voor sy hemelvaart, genoeg tyd gehad het om aan sy dissipels te vertel oor wat daardie aand gebeur het. Dalk is hy daaroor uitgevra of dalk het hy uit sy eie daaroor gepraat ter wille van die dissipels se geloofsversterking. Die skrywers van die evangelies (veral Markus en Lukas wat nie twee van die twaalf dissipels was nie) het dan op hul beurt hierdie inligting by die dissipels gekry en dit op ʼn bepaalde manier in hulle verhale gebruik.

Daar is ook ander moontlikhede. Veronderstel die volgende scenario (volgens die sinoptiese evangelies) rakende die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het:

Jesus en sy dissipels kom in Getsemane aan en hy vra drie van hulle om saam met hom te gaan bid. Dan vra hy hierdie drie dissipels om saam met hom te waak en bid, terwyl hy ‘n entjie verder (‘n klipgooi ver) op sy eie gaan bid. Dan begin Jesus bid en volgens die Evangelie-skrywers, is dit ‘n gebed van ten minste drie sinne lank. ʼn Ruk later gaan Jesus na die drie dissipels terug, kry hulle aan die slaap en vra hulle dan: “Kon julle nie eers een uur saam met my wakker bly nie?”

Uit hierdie scenario is dit redelik om die volgende af te lei: Dis nie dat Jesus se gebed van drie sinne ‘n uur lank geduur het nie, maar dat daardie drie sinne skynbaar die belangrikste is of miskien die eerste sinne is van ʼn langer gebed, en wat ten minste een van die drie dissipels op ‘n afstand (ʼn klipgooi ver) kon hoor as Jesus hardop sou gebid het (wat nie ongewoon was vir hoe Jode gebid het nie). Die dissipels het egter weldra in daardie uur aan die slaap geraak en elke keer as Jesus hulle kom wakker maak en dan weer gaan bid het, kon hulle hoor dat hy min of meer dieselfde gebed begin bid het voordat hulle weer aan die slaap geraak het. Die dissipels kon selfs by fakkellig of selfs maanlig, die donker strepe op Jesus se gesig gesien het wat soos bloed lyk, elke keer as hy hulle kom wakker maak het.

Is dit ‘n redelike verduideliking van wat gebeur het en waarom ten minste een van daardie drie dissipels daardie spesifieke drie sinne van Jesus se gebed kon onthou? Selfs al is dit net ʼn moontlikheid, dan is dit tog ʼn verduideliking vir hoe sulke details in die Evangelie-verhale gevind kan word.

So, hier is dus twee moontlikhede, nie een waarvan ons weet of dit presies so gebeur het nie, maar wat jou vriend se probleem opklaar soos hy gevra het.

Laastens. Jou Moslem-vriend sê dat hy aanneem dat jy die Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar, maar las dan die volgende woorde in hakies by: “(God verbatim aan die woord)”. Nou,  geen ingeligte Christen sal aanvoer dat om te sê dat God se Woord onfeilbaar is, beteken dat “God verbatim aan die woord” is nie. Dit is eerder wat Moslem glo oor die metode waaronder die Koran deur die engel Gabriel aan Mohammed gedikteer is.

Die Christelike inspirasieleer van die Bybel verduidelik dat God die spesifieke woorde van menslike skrywers, elkeen met hul unieke persoonlikhede, agtergronde en skryfstyle, gebruik het om sy wil en sy spesifieke boodskap bekend te maak. Natuurlik is daar gedeeltes waar Jahweh in die Ou Testament of Jesus in die Nuwe Testament verbatim aangehaal word. Tog is daar niks fout met die idee nie dat Jahweh of Jesus se kommunikasie soms op ʼn opsommende wyse in die Bybel weergegee word sodat net die kruks daarvan neerslag vind. In ander gevalle kon die teenoorgestelde plaasgevind het, soos ʼn uitbreiding of ʼn parafrasering op iets wat Jesus sou gesê het omdat dit die betekenis daarvan duidelik maak.

Dit is hierdie tipe omgaan met taal en idees (wat met die gebruik van ʼn hele spektrum van stylfigure gepaard gaan), en die manier waarop mense hulself in geskrewe vorm uitdruk ter wille van hul lesers, wat alles in gedagte gehou moet word wanneer ons nadink oor die Goddelike inspirasie van die Bybelse teks. Dit veronderstel nie noodwendig valsheid of onbetroubaarheid soos mense dikwels dink nie.

Winkelsmidt, hiermee dan my kommentaar op die gesprek tussen jou en jou Moslem-vriend. Miskien beteken dit vir jou iets.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*