Sonde, straf en redding

(Hierdie is ʼn uittreksel van ʼn groter gesprek oor ook ander sake)

 

Udo,

Erfsonde in sy ekstreme vorm (gebore in sonde en op pad hel toe as jy nie gered word nie) het tog sy ontstaan te danke aan Augustine wat later ook deur o.a. Martin Luther en Calvyn op die protestantse teologie toegepas was (http://en.wikipedia.org/wiki/Original_sin). Genesis maak geen melding hiervan in God se uitspraak van Sy straf na Adam en Eva se sonde nie. Ek bevraagteken dit aangesien die hele Eden storie uiters onlogies is en dat dit moeilik is om werklik enige waarheid daarin te kan lees. Natuurlik is dit verder vir my onlogies dat Adam en Eva deur God as eerste mense geskape was gegewe dit wat ons vandag weet, so die hele konsep agter erfsonde val totaal plat.

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Ek dink jy mis die teologiese punte van die Eden-verhaal (Genesis 2-3) omdat jy met ‘n hermeunetiek werk wat die betekenis van die skeppingsverhaal en Eden-verhaal verwring. Hierdie verhale is nie simplistiese historiese verloop soos dit duidelik is jy dink nie (hoewel historiese elemente teenwoordig is, bv. dat Adam en Eva werklike persone sou wees), maar is doelbewus gelaai met bepaalde teologiese motiverings en betekenis.

Wat is die essensie van die idee agter erfsonde? Die kernboodskap van die Bybel is die volgende: God het die mens gemaak om in verhouding met hom te leef. Elke mens staan egter in ‘n gebroke verhouding met God weens sy eie toedoen en die mens se sondige neigings en gedrag is die bewys daarvan. God wil egter hierdie verhouding herstel en die enigste manier is om die oorsaak van die gebrokenheid, naamlik sonde, te verwyder. God doen dit deur sy Seun te stuur om vir die sonde van die mens te sterf. M.a.w. niks wat die mens self kan doen, kan die effek van die sonde elimineer nie en die effek van die sonde is dat die mens altyd van God geskei bly. Deur hierdie daad van Christus as onverdiende genade te erken en te aanvaar, bring ‘n mens weer in die regte verhouding met God. Ons verhouding met God is nie iets wat ons beter as ander mense maak nie (asof ons iets gedoen het wat ons kan laat neerkyk op enigiemand anders nie), maar dis wel iets wat ons in staat stel om al meer te word wat God graag wil hê ons moet wees en waarvoor hy ons geskep het.

Nou, jy kan bogenoemde uiteensetting bevraagteken, maar dit is nie werklik omdat dit onlogies is nie.

  • Jy kan ontken dat God bestaan en ‘n persoonlike verhouding met ons begeer. Maar dis nie onlogies nie: daar is talle redelike aanduidings dat God bestaan en dat hy homself aan die mens in die geskiedenis en in persoonlike konteks openbaar het.
  • Jy kan ontken dat jy in wese tot sonde geneig is (die basiese idee agter erfsonde). Maar dis nie onlogies nie, slegs die mees egotistiese persoon of selfmisleidende psigopaat sonder gewete, sal aanvoer dat hul morele gedrag en strewes honderd persent suiwer en bo verdenking is.
  • Jy kan ontken dat Jesus gesterf en opgestaan het uit die dood (en daarom die effek van sonde asook die dood oorwin het). Maar dis nie onlogies nie, daar is genoeg historiese getuienis vir die fisiese opstanding van Jesus (sien hier, hier en hier) en maak sin as God werklik bestaan en vir Jesus se opwekking verantwoordelik is.
  • Jy kan ontken dat God iets aan die mens se sondige kondisie gedoen het (deur vir ons sonde te sterf). Maar dis nie onlogies nie, miljoene mense deur die geskiedenis het al getuig en getuig daagliks van God se lewensveranderde invloed in hul lewens (terloops, die feit dat mense van ander gelowe ook van bepaalde belewenisse getuig en terselfdertyd die aansprake van die Christelike geloof verwerp, ondermyn nie opsigself die belewenisse van Christene nie).

Daar is daarom ook absoluut niks insiggewend aan die volgende aanhaling wat jy gee nie:

So, in essence, God sent God down to earth, because God loved God’s earthly children, so much, that God had to sacrifice God, to God, to allow God, to change the “sin-rule”, God installed in the first place, and you must telepathically assure God of your allegiance to God, so God can bestow grace upon you, allowing you to enter heaven. Yeah that’s it that’s the gospel.

Die rede waarom jy dink dat dit die absurditeit van sekere fundamentele Christelike beginsels illustreer, is nie omdat daardie beginsels werklik absurd is nie. Die rede is dat wanneer ‘n mens ‘n karikatuur van iets maak, sonder enige intensie om genuanseerd en sensitief met die kwessie ter sprake om te gaan nie, dan is die doel tog juis om dit bloot absurd te laat voorkom! Maar dit sê absoluut niks oor wat werklik die geval is nie.

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.