God se almag en swaarkry

Ek worstel met die idee dat God almagtig is en dan mos enige iets kan doen???

Wat ek bedoel is die volgende. Ek lees in die Psalms (en dit is hoe ek geleer was in die kerk) hoe God ons sal bewaar en behoed en dit net altyd sal goed gaan (ek verstaan ook dat ons gehoorsaam moet wees) ens., ens. Ek weet ook dat God sekere moeilike uitdagings oor jou pad sal toelaat en bring want Hy toets (bv. Abraham met Isak, Job ens.) ons. (Jakobus)

Maar hoe kan ek dit dan glo as Hy toelaat dat bv. Johannes die Doper onthoof raak. Die dissipels sterf ʼn marteldood ens.??? En nou dat ek daaraan dink. Sy eie seun?? (Het dit te doen met ʼn groter doel?)

Maar waar laat dit my in my worsteling? Kan ek dan bid en glo dat ek ʼn nag sal oorleef alleen op ons plaas? Sorrie vir die boldness, maar ek wil graag antwoorde hê op hierdie vrae wat my haunt.

ʼn Familielid (66 j.) is byvoorbeeld gediagnoseer met terminale kanker. Wat sê ek? Is dit God se wil of is dit die sondige wêreld (dis die standaard antwoord is wat ek kry)?

Of verstaan ons sekere dinge eenvoudig nie???

Dankie dat ek mag vra en jy elke keer eerlik antwoord. Mag Vader jou seën in jou diens.

Jesus groete.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy kan gerus enige tipe vraag vra. Hoe anders sal ʼn mens by die waarheid uitkom? En dis goed dat jy dit met eerlike emosie kan doen.

Ek dink dit mag jou dalk verbaas om te hoor dat God se almag nie beteken dat hy enigiets kan doen nie. God belowe ook nêrens in die Bybel dat dit met ons nét goed sal gaan nie, selfs al dink iemand verkeerdelik dat dit is wat die Psalms leer. Lees gerus die volgende (effe langerige) artikel waarin ek oor hierdie dinge skryf: http://www.antwoord.org.za/2014/05/god-in-beheer Miskien kan ons dan daarna verder oor ‘n paar goed gesels.

Kan jy steeds bid dat die Here jou sal beskerm? Ja, natuurlik, maar so ʼn gebed is nie ʼn vrywaring van enigiets nie. Dis eerder ʼn soort belydenis van ons totale afhanklikheid van God omdat ons in ʼn verhouding met hom leef deur die inwoning van sy Gees. Dit beteken dat ons nie in vrees lewe vir wat moontlik kán gebeur nie, en dat selfs al gebeur slegte dinge met ons omdat God dit toelaat (ek verduidelik die dinamiek hiervan in bg. artikel), dan kan ons God se karakter steeds vertrou en het ons insig/perspektief en middele tot ons beskikking (weereens deur die Heilige Gees) om enigiets te hanteer (sien ook bv. Rom. 8:35-39).

Wat sê ons vir ander te midde van hul lyding en vrae daaroor? Wel, dit hang af wie hulle is, watter tipe vrae hulle vra en waarom hulle dit vra. Byvoorbeeld, ken hulle die Here en watse tipe verhouding het hulle met Hom? Is hulle vrae ʼn aanduiding van ʼn sterk emosionele worsteling te midde van hulle eie pyn en frustrasie? Of is dit vrae wat gereed is vir ʼn sobere besinning oor die suiwer kognitiewe elemente hier ter sprake? Is hulle skepties en ontnugterd, of oopkop en ondersoekend? Dis alles aspekte wat gaan bepaal hoe ʼn mens die kwessie van lyding en swaarkry met mense gaan benader.

Maar lees gerus die voorgestelde artikel en dan praat ons weer as jy wil.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.