Eienskappe van ‘n ambassadeur

deur Udo Karsten

Is dit moontlik om ‘n Christen te wees sonder om ook ‘n volgeling van Christus te wees? Klink miskien na ‘n snaakse vraag en iemand sal dalk vinnig antwoord deur te wys dat die woord ‘Christen’ uit die naam ‘Christus’ afgelei is. Inderdaad. Die feit is egter dat mense hulle maklik met die naam van Christus sal vereenselwig, maar nie besef dat dit noodwendig volgelingskap impliseer nie.

Wat is ‘n volgeling van Christus? Jesus Christus was ‘n baie spesifieke persoon wat vir ‘n baie spesifieke saak gestaan het. Inderwaarheid was sy persoon en sy saak onlosmaaklik verbind. Hy was die Seun van God wat hom vir die koninkryk van God beywer het. Vir ‘n volgeling van Christus impliseer dit ‘n toewyding, soos Christus, tot bepaalde aktiwiteit. Dis nie bloot ‘n gedistansieerde bewondering, ‘n tipe sentimentaliteit, rondom die naam van Christus nie. Om in die naam van Christus te glo beteken om Christus se belange te verteenwoordig – en dis ‘n aktiewe strewe.

Die vraag is nie of ‘n Christen ‘n verteenwoordiger van Christus is nie, maar watter soort verteenwoordiger hy of sy is. Daar is goeie verteenwoordigers en minder goeie verteenwoordigers (en as ons eerlik is selfs slegte verteenwoordigers). Tog kan alle Christene daarna streef om beter verteenwoordigers van Christus te wees. Daar is veral drie areas waarop ons as Christene kan konsentreer om beter verteenwoordigers van Christus en sy koninkryk te word, nl. die groei in kennis, die toepassing van wysheid en die ontwikkeling van karakter.

Kennis. ‘n Ambassadeur is ‘n gestuurde verteenwoordiger, iemand wat deeglike kennis dra van wie hy verteenwoordig of wat die boodskap is waarvoor hy gestuur is. Ons as Christene moet dus nie nalaat om in studie (en nie bloot oppervlakkige lees nie) van die Bybel, sowel as boeke oor bepaalde onderwerpe van Christelike belang, gemoeid te wees nie. Ons kennis kan ‘n verskil maak in die mate waartoe ons daaraan werk om dit te bekom. Dit gaan nie hier oor besonder intellektuele vermoë of net ‘n opgaar van kennis nie. Dis eenvoudig dat Christene sal weet wat hulle glo en hoekom hulle dit glo.

Wysheid. ‘n Ambassadeur is ook ‘n diplomatiese verteenwoordiger. Omdat ons in Christus se koninkryk met mense te doen het, is takt en respek in ons kommunikasie en omgang met mense, onontbeerlik. Mense wat vasgevang is in die koninkryk van duisternis kan nie maar net oorrompel word met woorde of idees waarvan hulle dalk niks mag verstaan nie. Wysheid beteken dat ons moeite, tyd en baie geduld aan die dag sal lê om seker te maak dat die mense met wie ons paaie kruis, die boodskap wat ons bring, sal verstaan (selfs al sou hulle dit ook op die ou end nie aanvaar nie.)

Karakter. ‘n Ambassadeur is iemand wie se boodskap deur sy optrede ondersteun en benadruk word. Dit is waarskynlik die mislukking in hierdie een enkele aspek wat Mahatma Ghandi, ‘n Hindoe, eenmaal laat opmerk het: “I like their Christ, [but] I don’t like their Christians.” ‘n Christen is onwrikbaar verbind tot ‘n strewe in optrede, in woord en daad, wat niks minder nie as ‘n weerspieëling van Christus se karakter behoort te wees. Dit beteken nie dat enigiemand sonder foute of sondige neigings is nie. Dit beteken wel dat ons as Christene nie ons foute ontken of ons sonde probeer wegsteek nie, maar dat wanneer ons daarvan bewus word, ons onophoudelik daarteen sal weerstand bied.

Om op elkeen van hierdie areas te fokus, is om doelbewus na ambassadeurskap te strewe. Die groei in elkeen van hierdie areas bring ‘n toenemende motivering mee om as Christene ‘n verskil te maak in en vir die koninkryk van God.

Hierdie skrywe is ‘n aanpassing uit ‘n praatjie deur Greg Koukl. Besoek gerus sy webtuiste by www.str.org vir goeie inligting rakende verskillende onderwerpe van Christelike belang.

Therefore, we are Christ’s representatives, and through us God is calling you. We beg you on behalf of Christ to become reunited with God. 2 Corinthians 5:20

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.