Ses struikelblokke tot apologetiek

deur Udo Karsten

“Removing intellectual objections will not make one a Chris­tian; a change of heart wrought by the Spirit is also necessary. But though intellectual activity is insufficient to bring ano­ther to Christ, it does not follow that it is also unneces­sary.” – James F. Williams

“When people are asking the wrong questions, or not asking questions at all, Christians need to introduce new concepts and suggest new ways of thinking.” – Douglas Groothuis

Is dit nie waar dat ons as Christene soms nie regtig antwoorde het om te gee wanneer ongelowiges ons vra oor die hoop wat in ons leef nie? (1 Pet 3:15) Het ons regtig ’n gesindheid wat toelaat dat sulke vrae aan ons gevra sal word? Is die manier waarop ons leef ’n uitnodiging vir ander om daaroor vrae te vra? Is ons op die uit­kyk vir situasies waar geloofsvrae gevra word en pro­beer ons doelbewus daarby betrokke raak? Of hou ons dikwels eerder ’n lae profiel? En hoe reageer ons wanneer ons wel onvermydelik of toevallig in ’n hoek gedruk voel oor geloofsake?

“Glo maar net,” is dikwels die maklike, maar uiters onbevredigende antwoord op ongelowiges se ernstige en soekende vrae. Onderliggend aan die versoeking om so ’n vinnige antwoord te gee, lê ver­skeie faktore wat onbewustelik ons interaksie met onge­lowiges oor geloofsake beïnvloed. Die apologeet Douglas Groothuis, wys op ses sulke faktore wat maak dat ons as Christene dikwels nie effektiewe getuies vir Christus is nie. Alle gelowiges is geneig om hulleself met tye hier­aan skuldig te maak en daarom is dit goed om daarvan bewus te wees. Die doel is dat ons elkeen in ons eie lewens na maniere sal soek om hierdie faktore teen te werk. Sulke faktore gaan meestal oor gesindhede van ongeërgdheid, irrasionaliteit, onkunde, vrees, hoog­moedigheid en oppervlakkigheid.

Ongeërgdheid: Te veel Christene lyk asof hulle skyn­baar nie omgee dat die Christelike geloof gereeld belaglik voorgestel word nie. Ons geloof word deur baie mense as ’n verouderde, irrasionele en klein-den­kende kulturele verskynsel afgemaak. En tog wend ons dikwels geen daadwerklike poging aan om sulke aantygings in verskillende situasies vanuit ’n duidelike Christelike wêreldbeskouing te beantwoord nie. Dit gaan nie hier oor ’n aggressiewe en reaktiewe houding nie, maar ’n sinvolle alternatief tot, en pro­aktiewe betrokkenheid by, die idees van die huidige kultuur.

Irrasionaliteit: Vir sommige Christene beteken geloof dat hulle iets glo al is daar nie regtig enige getuienis of redes om dit te glo nie. Of selfs nog erger – geloof is om iets te glo ten spyte van die bewyse vir die teendeel, m.a.w. hoe meer irra­sioneel dit is wat jy glo, hoe beter is dit en hoe meer ‘gees­telik’ is die een wat daarin glo! Tog is God se openbaring (in die skepping, in die Woord, of in die Seun) nie irrasio­neel nie en daarom is die geloof daarin ook nie irrasio­neel nie. God vra nie van ons om ons verstandelike ver­moëns op te gee om te kan glo in wat Hy oor Homself bekend gemaak het nie.

Onkunde: Baie Christene is nie bewus van die groot hoeveelheid beskikbare bronne wat ons kan help “om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het” nie (Judas 1:3). Miskien is die rede dat daar te min kerke, organisasies of bedienings is wat klem plaas op Christelike Apologe­tiek. Wat word byvoorbeeld van studente wat in sekulêre universiteite deur ateïstiese professors onder­­rig word, as daar nie ook soms gepreek of geleer word oor iets soos die getuienis vir God se bestaan, die betroubaarheid van die Bybel, die Godheid en opstanding van Jesus, die regverdig­heid van die hel of die logiese teenstrydighede in nie-Christelike wêreldbeskouings nie? Dit is insiggewend om ook te besef wat Christene lees of nie lees nie. Christene is dikwels net geïnteresseerd in die nuutste Christelike top­­-verkopers met allerlei kitsoplossings. Te min Christene maak tyd om bietjie dieper te delf en hulleself uit te daag tot groter vermoë in ’n intellektueel verwarde wêreld.

Vrees: In vandag se postmoderne samelewing word die woord ‘verdraagsaamheid’ (tolerance) dikwels met byna heilige ontsag gebruik. Inderdaad kan dit nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik ’n gesindheid van verdraagsaamheid is in ’n wêreld vol sondige en gebroke mense nie. Dit is egter in die wêreld van idees dat daar groot ver­warring bestaan oor wat verdraagsaamheid beteken. Baie Christene is bang dat ’n openbare erkenning en Bybelse getrouheid aan die evan­gelie se eksklusiewe aansprake, hulle onver­draagsaam sal laat voorkom in die oë van hulle wat nie die evangelie aanvaar nie. Die gevolg is dat nie genoeg Christene bereid is om hulle geloof in uitdagende en openbare situasies, soos by die skool of by die werk, te verduidelik of te verdedig nie. Hulle vind dit moeilik om met ander in gesprek te tree oor wat hulle glo en hoe­kom hulle dit glo. Dikwels is daar ‘n vrees vir verwerping of soms bloot dat hulle ander sal affronteer. Die grootste belediging wat iemand vandag skynbaar kan ontvang is om die etiket van ‘onverdraagsaamheid’ om die nek gehang te word. Christene moet egter besef dat hulle glo wat hulle glo omdat hulle glo dat dit waar is. Verder moet hulle besef dat enige ander spesifieke waarheid in ’n wêreld van idees, per definisie eksklusief is. Dit beteken dat nie alle teenstrydige idees terselfdertyd en op dieselfde manier waar kan wees nie. As daar dus ’n spesifieke waarheid is wat sekere mense glo en ander nie, is dit dan nie juis nodig om die valse idees te ‘verdra’ en mense met onvoorwaardelike respek en geduld daarop te wys dat die waarheid noodwendig eksklu­sief is nie? Sodoende kan ’n mens verdraagsaam wees en ander mense aanvaar en liefhê, sonder om bang te wees om nie met hulle idees saam te stem nie.

Hoogmoedigheid: Aan die ander kant van die spektrum is daar die arrogansie van die ‘alwetende’ en dominerende Christen. So iemand is dikwels meer geïnteresseerd om met ’n dodelike arsenaal argu­mente enige beswaar met kliniese sekuurheid uit die weg te ruim, as dat die waarheid in liefde bekend gemaak of verdedig word. Dit is maklik om in die strik van intellektuele verwaandheid te trap, maar so ’n gesindheid is niks anders as sonde nie. Die waarheid wat aan ons toevertrou is, is ’n gawe uit genade, nie ons eie intellektuele prestasie nie. Dit is boonop die Heilige Gees se werk om mense te oortuig van die waarheid van die evangelie – ons verantwoor­de­likheid en voorreg is bloot om hierdie waarheid in liefde en met duidelikheid bekend te maak. Om die waarheid aan ander te bring sonder liefde is arrogant en om liefde te wys sonder die fondasie van waarheid neig om in sentimentaliteit te ontaard. Arrogansie vier ook dikwels hoogty waar Christene mekaar as ketters afmaak vir die minste rede. Natuurlik is dit gelo­wiges se verantwoordelikheid om teen enige vorm van valsheid te waak. Christene moet egter in nede­righeid daarteen bedag wees om nie ander gelowiges sleg te sê of sommer summier die ergste van hulle te dink wanneer daar na hul mening nie genoeg ooreenstemming oor sekere sake is nie.

Oppervlakkigheid: Christene wat opgewonde raak oor apologetiek moet ook versigtig wees om nie sommer maklike antwoorde op moeilike vrae te probeer gee nie. Ongelukkig moedig ons verbruikerskultuur ons dikwels aan tot kitsoplossings en die ‘regte’ teg­nieke. Ons mag egter nie formule-agtige argu­men­te memoriseer en dit opdis as deurdenkte ant­woor­de op komplekse vrae nie. In ons omgang met mense is dit nodig om empatie te hê met die mens agter die vraag. Ons moet probeer luister na die dieperliggende saak in die vraag wat gevra of beswaar wat geopper word. Ons moet werklik die leef en gedagtewêreld probeer verstaan van hulle wat redes gee vir hoekom hulle Christus nie wil of kan volg nie. Hierin is elke mens anders, maak nie saak hoe eenders al die skeptiese besware mag lyk nie. Dit is terselfdertyd nodig dat ons op die spesifieke vrae wat gevra word sal reageer en nie ’n ant­woord probeer gee op dit wat nie gevra is nie. Christene moet daarom eerlik wees en erken wanneer hulle nie spesifieke antwoorde op sekere vrae het nie. Ons hoef soekende mense nie met allerlei tegnieke te paai nie, maar kan eerder streef na opregte dialoog. Soos wat ons met integriteit saam met ander na die waarheid soek, sal ons intellektuele horisonne algaande verbreed.

“Not only that – count yourselves blessed every time people put you down or throw you out or speak lies about you to discredit me. What it means is that the truth is too close for comfort and they are uncomfortable.” (Matthew 5:11 MSG)

“God wants us to grow up, to know the whole truth and tell it in love – like Christ in everything. We take our lead from Christ, who is the source of everything we do.” (Ephesians 4:15 MSG)

“Be wise in the way you act toward those who are outside the Christian faith. Make the most of your opportunities. Everything you say should be kind and well thought out so that you know how to answer everyone.” (Colossians 4:5-6 GW)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.