Die Dood Van Waarheid (Oor Die Postmodernisme)

deur André van Zyl

“Make a decisive dedication of your bodies as a living sacrifice, holy and well pleasing to God, which is your reasonable service and spiritual worship.  Do not be conformed to this world (this age), [fashioned after and adapted to its external, superficial customs], but be transformed by the entire renewal of your mind [by its new ideals and new attitude] so that you may prove what is the good and acceptable and perfect will of God.” Romeine 12:1-2 (Amp) Verkort

“It is hard to witness to truth to people who believe that truth is relative (“Jesus works for you; crystals work for her”).  It is hard to proclaim the forgiveness of sins to people who believe that, since morality is relative, they have no sins to forgive.” Gene Edward Veith

“Wees versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” Spreuke 4:23

1. Inleiding

Die wêreld waarin Christene vandag lewe is vreemd.  Verskeie morele standaarde en aanvaarbare gedragspatrone wat deur die eeue heen as reg en onveranderlik beskou is, word nou skielik bevraagteken en selfs verwerp.  Dit is ook nie net buite-kerklikes wat die vrae vra nie, baie vrae kom vanuit die kerk self.  Die Christelike geloof maak definitiewe waarheidsaansprake oor verskeie sake.  Hierdie aansprake veroorsaak baie emosie by kritici en dit lei dikwels tot aanvalle op die Christelike geloof en die idees wat dit onderlê.

In die verlede was die lyne tussen reg en verkeerd duidelik vasgestel.  Reg was reg, verkeerd was verkeerd en sonde was sonde.  Vandag lyk dit asof reg en verkeerd vasgevang geraak het in ‘n grys mis van onsekerheid (relatiwiteit).  Reg en verkeerd hang van die individu af.  Sending is skynbaar sonde, want elkeen kan glo wat hy wil.  Goeie oordeel word gesien as veroordeling en dít word nie toegelaat nie.

Waar kom al hierdie veranderinge vandaan?  Waar pas Christene en die Evangelie in hierdie mengelmoes van idees en optrede in?

Die beskrywing hierbo skets ‘n prentjie wat mense se denke in die “postmoderne” tyd weerspieël.  Postmodernisme het grootliks ontstaan as ‘n rebellie teen die idees van modernisme.  Wat dit presies beteken om in ‘n postmoderne tyd te leef, is ‘n moeilike vraag om te beantwoord.  Postmodernisme probeer doelbewus vaag en ontwykend wees en word ook nie deur ‘n duidelike stel beginsels onderlê nie.  Dit is juis omdat postmodernisme nie duidelik omskryf is nie, dat dit moeilik is om kritiek daarop uit te spreek.  Al is postmodernisme ‘n doelbewuste “vae” lewensbeskouing, kan daar steeds duidelike denkpatrone en onderliggende filosofieë geïdentifiseer word wat onlosmaaklik deel is daarvan.  Sodra hierdie idees en filosofieë geïdentifiseer is, word dit makliker om die uitdagings wat postmodernisme tot gevolg het sinvol aan te spreek.

Sekerlik die belangrikste konsep wat postmodernisme onderlê, is die gedagte dat niemand die waarheid akkuraat kan beskryf nie.  Elke waarnemer kan slegs “sy perspektief” op die waarheid gee.  Hierdie individuele perspektief op die waarheid is volgens postmoderniste tot so mate deur die persoon se eie denke en persepsies beïnvloed dat dit nie betroubaar is nie.

2. Historiese konteks

Postmodernisme het nie uit die lug geval nie.  Daar kan ‘n duidelike lyn vanuit die geskiedenis getrek word tot by die denkpatrone wat vandag in postmodernisme gesien kan word.  Een manier om die konteks waarbinne postmodernisme ontwikkeling het te verstaan, is om die geskiedenis in drie hoof tydperke te verdeel. Elkeen van hierdie tydperke kan weer verder geanaliseer word om die onderliggende idees en sosiale patrone wat in daardie tyd dominant was, te identifiseer.  ‘n Opsomming van hierdie vergelyking is as Addendum A aan die einde van hierdie studiestuk beskikbaar.

2.1. Van tydperke en filosofieë

Elk van die tydperke wat vervolgens bespreek gaan word, word deur spesifieke idees of filosofieë onderlê.  Dit is belangrik om ‘n onderskeid te tref tussen die tydperk waarin iemand leef (moderne tyd) en die aanvaarding en uitleef van die onderliggende filosofie (modernisme).

Die filosofie wat ‘n spesifieke tydperk onderlê, is dikwels baie teoreties en diep onder die oppervlak versteek.  Die onderliggende filosofie is egter bepalend vir hoe mense in daardie tyd sal optree.  Deur die onderliggende filosofie uit te ken en te verstaan, word die redes vir die gedrag van die mense van ‘n spesifieke tyd duideliker.

2.2.Die drie hoof tydperke

A.  Pre-modernisme

  • Die pre-moderne tyd omvat die tydperk voor die uitbreiding van die moderne wetenskap.
  • Die regering en die kerk was die hoofbronne van gesag (wat nooit bevraagteken is nie).
  • Die bestaan van God is as vanselfsprekende aanvaar.
  • Meeste mense was arm en ongeletterd.
  • Die vlak van kulturele en godsdienstige diversiteit in die samelewing was baie laag.
  • Sosiale verandering het bykans glad nie plaasgevind nie en sosiale rolle was vas.
  • Elke gemeenskap se kultuur was samehangend (gedeel deur die mense van die land of streek).
  • Vanweëdie isolasie van elke groep was daar relatief min blootstelling aan buitestanders.

B.  Modernisme

“Modernists view the world, including humans, as one gigantic machine, placing their faith in rationality (the ability of humans to understand their world), empiricism (the belief that knowledge can only be gained through our senses), and in the application of rationality and empiricism through science and technology.” Dennis McCallum

Die moderne tyd is die era wat op die pre-moderne tyd gevolg het.  Dit is ook die tydperk waaruit die Westerse wêreld op die oomblik beweeg.  Die aanvang van die moderne tyd was die gevolg van ‘n paar belangrike gebeure wat die mens uit die pre-moderne tyd geskud het:

  • Die Hervorming het die kerk se gesag begin aftakel.  Gewone mense is bemagtig om self die Bybel te lees en hulle was vir die eerste keer vry om vrae te vra.
  • Die Industriële Revolusie.  Die ontwikkeling van masjinerie het vervoer, handearbeid en produksie gerevolusioneer.  Fabrieke het tot stand gekom en stede het vinnig gegroei.
  • Darwin se evolusieteorie en wetenskaplike ontwikkeling het ‘n opskudding veroorsaaken in die nuwe atmosfeer van vryheid, het die wetenskap en die filosofie opgebloei.  Die evolusieteorie en ander denkveranderinge het die mens se posisie as die “kroon van die skepping” ontken en sodoende die mens se inherente waarde aangetas.

Die idees (filosofieë) van die modernisme

  • Optimisme oor die toekoms het in die moderne tyd opgebloei.
  • Die mediese wetenskap het gevorder en baie voorheen noodlottige siektes kon nou genees word.
  • Naturalisme (die siening dat die waarneembare natuur al is wat daar is) vat pos.  Hiervolgens bestaan daar nie ‘n geestelike dimensie of enigiets bonatuurlik nie.
  • ‘n Ander hoof-idee is “Scientism” (onderlê deur die filosofie van logiese positiwisme) wat as Wetenskaplike Materialisme vertaal kan word.  Dit is die standpunt dat die wetenskap die enigste bron van ware kennis oor die wêreld bied.  Enige siening wat in stryd met wetenskaplike materialisme is word as onwetenskaplik afgemaak en is dus iets wat nie op “feite” berus nie.
  • Die individu is baie belangriker as die gemeenskap en elkeen leef vir homself.  Die mens word as ‘n ontwikkelde dier beskou en elkeen word deur sy behoeftes gedryf.

Godsdiens in die modernistiese tyd

Die tradisionele idee van ‘n skepper God, wie se Seun mens geword het en wat deurentyd in sy skepping betrokke is, word in die moderne tyd vervang met deïsme of ateïsme.

  • Deïsme is die siening dat indien daar ‘n God bestaan, hy nie ‘n persoonlike wese is nie, maar eerder ‘n onpersoonlike krag wat die wêreld tot stand gebring het.  Hierdie God van deïsme is ook heeltemal onkenbaar en onbetrokke by die skepping en die verloop van die geskiedenis.
  • Ateïsme is die siening dat God nie bestaan nie.  Hiervolgens is dit onwetenskaplik om in die bestaan van God te glo.  Die wetenskap kan alle verskynsels wat voorheen aan God toegeskryf is op ‘n natuurlike manier verklaar.  Die bestaan van God kan nie wetenskaplik bewys of nagevors word nie en is dus nie ‘n onderwerp waaroor kennis ingewin kan word nie.  Godsdiens is volgens hierdie siening ‘n primitiewe oorblyfsel van die pre-moderne tyd wat op onkunde en bygeloof gegrond is.

C.  Oorgang na Postmodernisme

Modernists believe in determinacy; postmodernists believe in indeterminacy.  Whereas modernism emphasizes purpose and design, postmodernism emphasizes play and chance.  Modernism establishes a hierarchy; postmodernism cultivates anarchy.  Modernism values the type; postmodernism values the mutant.  Modernism seeks the logos, the underlying meaning of the universe expressed in language.  Postmodernism, on the other hand, embraces silence, rejecting both meaning and the Word… Modernism is interested in depth; postmodernism is interested in surfaces.  Postmodernism attempts to re-order thought and culture on a completely different basis, accepting reality as a social construction…Ihab Hassan in G.E. Veith

Postmodernisme is ‘n reaksie op die idees van modernisme en staan in sommige gevalle die idees lynreg teen.  Die grootste gevaar vir waarheid is nie die duidelike valsheid (modernisme) nie, maar eerder die halwe waarheid (postmodernisme).  Die duidelike valsheid kan raakgesien en direk beveg word, maar die halwe waarheid lyk en voel dikwels instinktief heeltemal reg.  Die kern van die gevaar lê in die invloed wat postmodernisme op die denke van die alledaagse mens het.

Volgens Douglas Groothuis kan die volgende redes vir die oorgang van modernisme na postmodernisme uitgewys word:

  • Die Renaissance se visie van die mag van die denke (rasionaliteit) en universele kennis het misluk. ‘n Massiewe toename in kennis het wel gelei tot verbeteringe in die lewensomstandighede van die gemiddelde mens, maar dit was nie die enigste gevolge nie.  Ander gevolge van die toename in kennis, sluit die ontwikkeling en gebruik van die atoombom en ander wapens van massavernietiging in.  In die moderne optimistiese tyd beleef die mensdom die skokke van twee wêreldoorloë.  Die getuienis uit die geskiedenis wys duidelik dat rasionele denke nie die beloofde Utopia tot gevolg gehad het nie.
  • Die postmoderne mens leef in ‘n kosmopolitiese (gemengde kulture) en inligting-oorversadigde omgewing.  Hierdie twee faktore maak dit moeilik om ‘n verenigde wêreldbeskouing te ontwikkel.  Daar is geen vaste punt vir die mens om vanaf te oordeel nie.  Alle denke en gebeure word op ‘n gelyke voet geplaas en dit word bykans onmoontlik om goeie oordeel uit te oefen sonder om van veroordeling beskuldig te word.
  • Diversiteit in terme van verskillende godsdienste, filosofieë en perspektiewe maak die idee van ‘n godsdiens of filosofie wat universeel is, onaanvaarbaar.  Om te sê dat een godsdiens of filosofie die enigste regte een, is om te impliseer dat al die ander verkeerd is.  Enige standpunt wat impliseer dat ander mense se standpunte verkeerd is of kan wees, word vandag as beledigend en hoogmoedig beskou.
  • Die kosmopolitiese en pluralistiese (aanvaarding van die verskille tussen kulture en mense) omgewing laat nie ‘n vaste sin van die self en persoonlike identiteit toe nie. Elkeen moet aanpas by die bestaande diversiteit sonder enige vorm van vastigheid soos in ‘n meer homogene samelewing gevind kon word.
  • Taal word gesien as ‘n tydgebonde skepping van die mens, wat nie die werklikheid objektief kan weergee nie. Hierdie wantroue in die vermoë van taal om die waarheid weer te gee, veroorsaak ‘n oordrewe skeptisisme oor die waarheid van enige menslike weergawe van gebeure.

According to postmodernists, all reality is virtual reality. G.E. Veith

3. Wat is Postmodernisme?

Om Postmodernisme akkuraat te definieer is baie moeilik.  Daar bestaan nie ‘n universeel aanvaarde definisie nie.  Die volgende aanhaling van McCullam gee ‘n goeie beskrywing van ‘n samelewing in die postmoderne tyd.

Postmodernists believe that things like reason, rationality, and confidence in science are cultural biases.  They contend that those who trust reason – and things based on reason, like science, Western education, and governmental structures – unknowingly act out their European cultural conditioning.  This conditioning seeks to keep power in the hands of the social elite.  Thus tolerance becomes the cardinal virtue.  Under postmodernist way of thinking, the principles of cultural diversity means that every likeminded group constitutes a culture that must be considered as good as any other culture… The post-modernist sins are “being judgemental”, “being narrow minded”, “thinking you have the only truth” and “trying to enforce your values on anyone else.”  Those who question the post-modernist dogma that “there are no absolutes” are excluded from the canons of tolerance.  The only wrong idea is to believe in truth; the only sin is to believe in sin.

3.1. Tekens van die tye

Die gevolge van postmodernisme deursuur die hele samelewing.  Die meerderheid mense sal die spore van die onderliggende filosofie in hul eie denke gereflekteer sien.  Die kans is skraal dat enige mens wat deur die massamedia met ‘n oormaat postmodernistiese gedagtes gebombardeer word, nie daardeur beïnvloed sal word nie.  Die volgende eienskappe en optrede kan in ‘n samelewing wat postmodernisme ter harte geneem het, gesien word:

  • Oormatige politieke korrektheid wat selfs algemene optrede van werknemers reguleer deur beleid. Byvoorbeeld “gelyke” voordele vir voorheen benadeelde groepe wat dikwels oormatig tot hul voordeel strek.
  • n Weerstand by opvoedkundiges om kinders te beoordeel.  Die rede hiervoor is dat daar geglo word dat kinders ‘n “etiket” kry wat lewenslank by die kind bly.  So kan kinders amper nie meer ‘n jaar op skool druip nie, want dit sou hulle etiketteer.
  • Oormatige verdraagsaamheid (toleransie).  Geen mens mag ‘n ander se kultuur kritiseer of ‘n beoordelende uitspraak maak oor iemand anders se morele keuses nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die aanvaarding wat die Amerikaanse nasie vir oud-president Bill Clinton gegee het na sy owerspel en publieke leuens.
  • Verminderde klem op Westerse opleiding en medisyne en verhoogde klem op multikulturele opvoeding en alternatiewe medikasie.  In Suid-Afrika word sangomas byvoorbeeld nou as dokters erken.
  • Weergawes van die geskiedenis wat wetend belangrike feite uitlaat om die idees van voorheen benadeelde minderhede te bevorder.  Voorbeelde kan ‘n feministiese of gay weergawe van die geskiedenis insluit.
  • Nuwe aanvalle word op Christelike sending geloods omdat dit kwansuis kulturele identiteit sou vernietig.
  • Die idee dat “manlikheid” en “vroulikheid” sosiale kondisionering is.  Dinge soos parfuum en klere is deesdae in “unisex” beskikbaar, omdat daar skynbaar geen onderskeid tussen mans en vrouens is nie.
  • Vyandigheid teenoor die wetenskap.
  • Die idee dat een mens nie ‘n ander se lewe of kultuur kan beoordeel nie, want hulle realiteite verskil te veel van mekaar.
  • Die idee datintuïsie en gevoel die mens meer van die werklikheid kan leer as denke. In so samelewing word besluite op grond van gevoel geneem en nie op grond van denke nie.
  • Mense het ‘n “kitskos-mentaliteit”. Met hierdie verbruikersmentaliteit word die individu en sy behoeftes die middelpunt wat alle besluite rig.
  • Belangstelling in geestelikheid, maar verwerping van tradisionele Christenskap. Baie mense hang byvoorbeeld verskillende vorme van New Age godsdienste aan.
  • Morele verval in die samelewing. Die beste voorbeeld hiervan is oud-president Bill Clinton van Amerika. Ten spyte van sy buite egtelike verhouding en die daaropvolgende leuens, word hy steeds deur baie mense as ‘n held beskou.
  • Oormatige klem op die bewaring van die omgewing. Mense sal hul eie lewens opoffer om diere te red en die omgewing te beskerm.
  • ‘n Anti-tradisie benadering bepaal dat alles wat tradisioneel aanvaar was nou voor die voet verwerp word.
  • Inligtings-oorlading. In die postmoderne tyd word die mens oorlaai met kontekslose inligting.  Daar word gedurig nuwe inligting deurgegee en dikwels word ernstige inligting direk na of voor ‘n ligsinnige stuk uitgesaai.  Dit dra by daartoe dat die individu sy vermoë verloor om tussen belangrik en onbelangrik te onderskei.  So verloor die mens sy sensitiwiteit en ‘n element van sy menslikheid.

3.2. Logika en ander tipes denke

Voor daar verder na die eienskappe van postmodernistiese filosofie gekyk gaan word, is dit belangrik om drie spesifieke punte van kritiek te verstaan.  Die volgende drie konsepte sal gereeld in die kritiek op postmoderne denke gebruik word:

  • Logika dikteer dat geen stelling wat homself weerlê, ooit waar kan wees nie.  As iemand byvoorbeeld sou sê:  “Jy kan my maar glo, ek lieg altyd.” is dit onmoontlik dat die stelling waar kan wees.  Een opsie is dat die persoon wel nou die waarheid praat en dus nie altyd lieg nie, of tweedens jok die persoon nou ook en kan hierdie stelling nie waar wees nie.  So stelling is ook nie maar toevallig vals of dalk onder ander omstandighede waar gewees het nie.  ‘n Selfweerleggende stelling is noodwendig vals, met ander woorde, altyd, onder alle omstandighede vals.
  • Postmoderniste gee nie om om hulself te weerspreek nie.  Hulle sal dikwels twee dinge wat mekaar direk weerspreek deel maak van hulle filosofie en steeds verwag dat hulle uitsprake ernstig opgeneem moet word.
  • Postmoderniste lewer dikwels geldige kritiek, maar maak baie oordrewe afleidings.  As gelowiges moet daar gepoog word om die geldige deel van die kritiek ter harte te neem, maar die oorreaksie te identifiseer en te ignoreer.

3.3. Die filosofiese onderbou van postmodernisme.

Die volgende algemene eienskappe van postmodernistiese filosofie kan uitgeken word.  Al die eienskappe is nie noodwendig sleg nie.  Verskeie van die eienskappe is egter in lyn met die Christelike lewensbeskouing, maar die spesifieke klem en/of verbuiging daarvan soos in die postmoderne denke gesien kan word, skep probleme.

  • Relativisme

Relativisme is die idee dat waarheid nie bepaal word deur die realiteit buite die waarnemer nie, maar deur ‘n groep of die individu self.  Hiervolgens word waarheid nie ontdek nie, dit word geskep.  Omdat waarheid direk van die individu afhanklik is,is daar geen universeel geldende waarhede nie.  Elkeen en elke situasie bepaal wat reg en verkeerd is.  Dit beteken iets kan reg wees vir een persoon en verkeerd vir die ander, sonder dat daar ‘n teenstrydigheid is. Dit is belangrik om daarop te let dat dit wel moontlik is dat twee partye beide verkeerde opinies oor die werklikheid kan hê, waarvan die een minder verkeerd is as die ander.  Die realiteit bly egter steeds dat beide partye verkeerd is.  Volgens postmoderniste is daar egter geen absolute kennis en geen absolute morele standaard nie.

Die onderliggende selfweerlegging:  Postmoderniste is van mening dat daar geen universeel geldende absolute waarheid is nie.  Is hierdie stelling slegs ‘n opinie of is dit ‘n universeel geldende absolute waarheid?  Is dit onder alle omstandighede en vir alle tye waar? Indien die antwoord op die vraag “ja” is, is die postmoderniste besig om aanspraak te maak om ‘n stukkie absolute waarheid aan te hang.  Maar het hulle nie nou net gesê daar bestaan nie so iets nie?  Hulle sê in effek “Dit is absoluut waar dat daar geen absolute waarhede bestaan nie”.  Die praktiese implikasies daarvan om te sê dat daar geen absolute morele standaarde is nie, bring die selfweerleggende aard van die filosofie duidelik aan die lig. Hierdie aspek van postmoderne filosofie is ook nie leefbaar nie.  Dit is maklik om te sê dat daar nie so iets soos reg en verkeerd is nie, maar indien die spreker self die slagoffer van onreg word, is die ervaring gewoonlik heeltemal anders.  Mense (selfs postmoderniste) beroep hulle op die feit dat dit wat hulle aangedoen is, moreel verkeerd is.

  • Konstruktivisme.

Hierdie konsep impliseer dat kulture en individue nie onafhanklik bestaan en geken kan word nie.  Beide kultuur en individualiteit word gekonstrueer (gebou) deur die omgewing en die samelewing.  Hiervolgens is die mens nie ‘n individu wat onafhanklik bestaan nie, maar slegs ‘n konstruksie van sy kultuur en tyd.  Daar bestaan dus geen algemene menslikheid met algemene beginsels en eienskappe nie.  Elke individu is totaal geïsoleerd en sonder betekenis want hy is slegs ‘n skepsel van sy kultuur.  Alle denke sou daarom ook ‘n sosiale konstruksie blyk te wees.  Geen mens kan weet dat hy die waarheid ken nie, want sy denke is deur sy kultuur bepaal.  Soos modernisme die dood van God nagestreef het, streef postmodernisme die dood van individualiteit na.

Die onderliggende selfweerlegging:  Indien dit waar is dat alle kulture en individualiteit gekonstrueer is, hoekom moet hierdie denkers se idees as waar aanvaar word?  Dit volg tog logies dat hulle idees ook slegs sosiale en kulturele konstruksies moet wees wat nie hul denke of enige vorm van waarheid kan weerspieël nie.  As konstruktivisme dus nie “waar” is nie, maar slegs ‘n sosiaal gekonstrueerde idee, ontstaan die vraag oor wat daarmee gemaak moet word?

  • Die absolute suspisie van taal

Voortvloeiend uit die vorige punt is taal ook slegs ‘n sosiale konstruksie en kan nie die realiteit akkuraat weergee nie.  Verskillende tale beskryf dinge verskillend en kan dus nie betekenis deel nie.  Indien taal nie waarheid sou kon weergee nie, het elke persoon het sy eie storie of narratief (wat die waarheid verberg), met ‘n onderliggende meta-narratief (onderliggende storie) wat die werklike betekenis bevat.  Hierdie suspisie van taal beteken dat geen teks op die oog af waarheid kan weerspieël nie en daar moet na die onderliggende “waarheid” gesoek word.

Die onderliggende selfweerlegging:  Postmoderniste gebruik taal om ‘n akkurate beskrywing te gee van die onvermoë van taal om dinge akkuraat te beskryf,.  Is die taal wat hulle gebruik nie ook ‘n sosiale en kulturele konstruksie nie?  Hoe kan hulle idees oor die werklikheid wat in taal uitgedruk word, geglo word as hulle self sê niks wat in taal uitgedruk word  behoort geglo te word nie?

  • Mag as die belangrikste doel van alle optrede en taal.

Volgens hierdie idee gebruik die huidige sosiale elite hul idees en taal om die status quo te onderhou.  Hierdie filosofie is ‘n oorblyfsel van die idees van Marx wat beweer het dat alle optrede en besluite gegrond in die motief van die behoud van mag.  Die postmoderne standpunt is dat voorheen benadeelde groepe nou bevoordeel en aangemoedig moet word.  So word die rol van vrouens en homoseksuele mense baie sterk na vore gedruk.  Debat en denke is ondergeskik aan retoriek en propaganda.

Die onderliggende selfweerlegging:  Indien alle idees en taal oor mag gaan, gaan postmoderne denkers se standpunte ook oor mag.  Dan moet geglo word dat hulle ook die status quo probeer beskerm.  Indien postmoderniste self met ‘n magspel besig is, moet hulle idees tog nie aanvaar word nie, maar eerder teengestaan word.

  • Dekonstruksie

Dekonstruksie is die volgende konsep wat direk uit die voorafgaande suspisie van taal en magspeletjies vloei.  Dit verwys na ‘n tegniek wat postmoderne akademici gebruik om by die “werklike” storie (narratief) uit te kom.  Hulle neem enige verhaal en poog om die onderliggende magspel in die teks raak te sien en so die werklike betekenis te “ontmasker”.  So sal ‘n verwysing in die Bybel na God as ‘n manlike figuur se meta-naratief dui op die mansgedomineerde wêreld waarin dit geskryf is.  Volgens postmoderniste poog die skrywer om hierdie onderdrukking te onderhou en versterk.

Die onderliggende selfweerspreking:  Indien dekonstruksie op die postmoderne skrywers se eie skryfwerk toegepas word, sal die “werklike” betekenis ontdek kan word.  Daar moet aanvaar word dat hulle self met ‘n magspel besig is en dat hulle poog om hul eie saak te bevoordeel deur die toepassing van dekonstruksie op die werk van ander.  Die vraag ontstaan ook of dit vir een persoon moontlik is om ‘n ander se skryfwerk op ‘n geloofwaardige manier te dekonstrueer.

  • Verdraagsaamheid (Tollerance)

Verdraagsaamheid word deur postmodernisme verhef tot die absolute en enigste gewenste deug.  Alle individue se siening moet aangehoor en aanvaar word as net so waar as alle ander sienings.  Geen beoordeling van ‘n standpunt word toegelaat nie, omdat niemand kwansuis ‘n ander persoon se “waarheid” kan beoordeel nie. Verdraagsaamheid word nie beskou as ‘n positiewe eienskap waardeur ander die ruimte gegee word om hul standpunte te stel nie.  Die realiteit is egter dat dit hier eerder beteken dat geen waarheid objektief en geen waarde normatief is nie.  Met ander woorde verkeerde idees word nie meer verdra (al is hulle verkeerd) nie, verdraagsaamheid soos dit in postmodernisme toegepas word impliseer dat daar geen verkeerde idees meer is nie.

Die onderliggende selfweerlegging:  Postmodernistiese verdraagsaamheid predik aanvaarding van alle idees.  Daar word egter nie bedoel alle idees nie.  Met alle idees word bedoel alle idees wat nie aanspraak op absolute of eksklusiewe waarheid maak nie.  Postmoderniste wat verdraagsaamheid so hoog aanslaan word self geheel en al onverdraagsaam as Christene sê Jesus is die enigste weg na die Vader.

  • Pluralisme en multikulturaliteit

Pluralisme beteken in hierdie konteks die onversoenbaarheid tussen groepe.  Elke mens is deel van ‘n groep en kan nie van groep verwissel, ander groepe verstaan of deel van ‘n groter groep word nie.  Die groep waarvan iemand deel is, word ‘n boksie waarin die persoon vasgevang is.  Dit impliseer dat niemand reg of verkeerd is, of kan wees nie, want almal is verskillend en het verskillende perspektiewe en elkeen moet met hulle unieke perspektiewe aanvaar word. Indien alle kulture en waardes relatief is hoef nie een daarvan ernstig opgeneem te word nie.

Die onderliggende selfweerlegginging:  Postmoderniste sien hulself as die een “groot” groep waarvan almal deel is, maar beweer terselfdertyd dat geen so groter groep bestaan nie.

  • Eklektisisme

Eklektisisme is ‘n “meng en pas” benadering.  Postmoderniste neem dele van enige filosofie, godsdiens of denkrigting wat hulle pas en konstrueer hul eie filosofie, godsdiens of denkrigting.  Aspekte uit teenstrydige godsdienste of denkrigtings word in postmodernistiese filosofie versoen terwyl die teenstrydighede geïgnoreer of as onbelangrik afgemaak word.

Die onderliggende selfweerlegging:  Postmoderniste tree baie paternalisties op deur hul aandrang op eklektisisme.  Hulle steur hulle nie aan besware deur kenners van ‘n spesifieke veld of godsdiens dat sekere feite onversoenbaar is met sekere ander feite nie.  Sonder ‘n in diepte kennis besluit postmoderniste dat hierdie kenners verkeerd is en alle besware word geïgnoreer.

Vanuit die bogenoemde eienskappe kan verskillende positiewe en negatiewe aspekte wat in die filosofiese onderbou van postmodernisme vervat is afgelei word.  ‘n Opsomming van hierdie aspekte word in die volgende tabel weergegee:

Positiewe aspekte Negatiewe aspekte
· Sonder ‘n oneindige en persoonlike God, is kennis en rede onseker 

· Mense is meer subjektief as wat hulle wil erken

· Eie kultuur verblind mense dikwels vir die goeie eienskappe van ander kulture

· Mense is sosiale wesens en die sosiale omgewing beïnvloed hul denke en waardes direk
· Blinde geloof in die huidige status quo (stand van sake) is nie goed nie

· Postmodernisme weerspreek hulself deur logiese denke te gebruik om die waarde van logiese denke aan te val 

· Die beperkinge van die  mag van taal en kultuur word oordryf
· Probleme met wetenskaplike objektiwiteit en neutraliteit word oordryf

· Probleme met vertaling en interpretasie van taal word oordryf

· Probleme met die verstaan van ander mense se realiteit word oordryf

· Die bestaan van die self word ontken en dit is foutief

· Om te beweer dat ander uitsluitend en onderdrukkend is, en dan self onderdrukkend en uitsluitend op te tree is teenstrydig

· Hulle vervang waarheid met mag wat onderdrukking vir ander voorspel

4. Die versoenbaarheid tussen Christenskap en postmodernisme

Die teenstrydige aard van postmodernisme word soos volg deur G. E.Veith opgesom:

Postmodernism encourages selfishness without individuality; subjectivity without identity; licence without freedom.  For all of its talk about culture, postmodernism lacks culture… Postmodernism stresses tolerance, pluralism, and muliculturalism, but in its dismissal of all beliefs, it trivializes all cultures and tolerates none.  The contradictions of postmodernism are the contradictions of attempting to live without God, who alone can redeem our humanness.

Ryan Dobson stel dit soos volg:

Moral relativism doesn’t follow its own rules, the rules it judges everyone else by.  We’re tolerant of all – except you, you and you.  There is no standard of right and wrong – except when you violate what we say is right.  You can follow any religion you please – as long as it’s on our list of accepted ones.  We love to hear alternative voices – but if you try to talk to us about Jesus, we will silence you.  We’re totally in favour of “anything goes” morality – unless you use that freedom with my girlfriend, or cut me off in traffic, or steal from me.

Dit is onmoontlik om op ‘n praktiese vlak met ‘n selfweersprekende lewensfilosofie saam te leef.  Die volgende illustrasie benadruk die punt.  Ravi Zacharias is per geleentheid op ‘n toer geneem deur ‘n universiteit se biblioteek wat deur ‘n postmoderne argitek ontwerp is.  Daar was deure wat teen ‘n muur oopmaak, trappe wat nêrens heen lei nie en verskeie ander sinnelose dele van die ontwerp wat die teenstrydighede van postmodernisme weerspieël.  Daar is toe aan Ravi gevra wat hy van die gebou dink.  “Baie indrukwekkend!” was sy reaksie, “het julle die fondamente ook so gebou?”

Die onderliggende idees aan postmodernisme is onleefbaar omdat dit nie samehangend is nie. Die mens besef dit byna instinktief.

Volgens Veith kan die volgende algemene maar irrasionele reaksies op hierdie teenstrydighede van postmodernisme by mense wat dit probeer uitleef geïdentifiseer word:

  • Die aanvaarding en verwelkoming die betekenisloosheid van alles.
  • Die ontkenning van kompleksiteit en die tendens om skuiling te soek agter simplistiese slagspreuke en beelde.
  • Die fokus op slegs die mens se eie wêreld, omdat niks universeel is nie.  Dit lei tot passiwiteit.
  • Die skep van ‘n eie taal.  Elke subkultuur skep hul eie taal met ‘n eie betekenis.

Wat behoort ‘n Christen se reaksie op dit alles te wees?  Hoe kan Christene op ‘n konstruktiewe manier die uitdagings wat postmodernisme bied aanspreek?  Die antwoord wat Christene die wêreld bied, moet op twee vlakke lê: Verbaal (teoreties) en met dade (prakties).  Die Bybel gee die opdrag dat elke Christen sy eie gedagtes gevange moet neem en aan Christus gehoorsaam moet maak (II Kor 10:5).  Hoe kan Christene dit prakties in die geval van postmodernistiese invloede om Christene se denke doen?

Douglas Groothuis gee die volgende raad aan gelowiges wat op die uitdagings van postmodernisme wil reageer:

  • Soek met alles in jou na die Waarheid.  Gelowiges moet die bewys wees dat daar wel absolute waarheid is en dat dit geken kan word.  Dit moet met ‘n groot mate van nederigheid gepaardgaan.  Gelowiges moet dit ondubbelsinnig stel dat hulle wel kennis van absolute waarhede het, maar terselfdertyd moet hulle erken dat hulle nie volledige kennis van alle absolute waarhede het nie.
  • Waarheid impliseer liefdevolle konfrontasie.  Gelowiges moet bereid wees om vir die waarheid op te staan en die gepaardgaande konfrontasie in liefde te hanteer.  Die wêreld het nodig om oor valsheid gekonfronteer te word al gaan hulle nie noodwendig daarvan hou nie.
  • Leer en predik met ‘n heilige bewustheid van die realiteit.  Moenie stellings maak wat nie gestaaf en verdedig kan word nie.  Wees realisties in alles wat gesê word sodat die Christelike boodskap sy geloofwaardigheid behou.
  • Aanbid God in waarheid en in gees.  Hierdie idee het verlore gegaan vir die postmoderne mens.  Dit moet teruggebring en prakties aan hom gewys word.

Groothuis gee die volgende argumente wat die Christelike saak teenoor postmodernisme sal help stel:

  • Die postmoderne standpunt val inmekaar omdat dit selfweerleggend (self-refuting) is.  Dit kan nie die diepste behoeftes van die mens bevredig nie.
  • Die ontstaan en bestaan van die heelal as tydgebonde sisteem wat op ontwerp dui, word ten beste verklaar deur ‘n ongebonde Skepper wat van niks buite Homself afhanklik is nie.
  • Die enigste basis vir objektiewe morele wette is die bestaan van ‘n objektiewe morele wetgewer wat die bron en standaard van hierdie wette is.
  • Die Christelike perspektief beskryf die mens as meer as ‘n dier (onttroonde adelstand).
  • Die geestelike ervarings in die Bybel en die geskiedenis van die Christelike geloof kan nie slegs as mites en/of drogbeelde beskryf en afgewys word nie.
  • Christenskap maak ‘n verskeidenheid geskiedkundige aansprake wat hul klimaks bereik in die aanspraak dat Christus uit die dood opgestaan het.  Die bestudering van geskiedenis wys dat hierdie aansprake redelik en geloofwaardig is.
  • Die enigste aanvaarbare verduideliking van die aansprake wat Jesus oor homself gemaak het, is dat hy was wie hy gesê het hy is.  Die ander moontlikhede van ‘n ghoeroe, ‘n leuenaar, ‘n versteurde ens. maak nie sin nie.
  • Die verdediging en aanvaarding van die evangelie is die belangrikste saak wat bestaan.  Dit is ‘n saak van hemel of hel en daarom behoort dit nie ligweg hanteer te word nie.
  • Die Geesvervulde Christelike lewenswandel met praktiese liefdediens, gebed, meditasie, geloofsgemeenskap, kennis ens. vorm saam die kern van die mees omvattende en oortuigende “betekenis vir die lewe” wat aan die mensdom bekend is.

Is dit moontlik om ‘n Christen te wees en postmoderne filosofie te glo en uit te leef?  Die antwoord op hierdie vraag is ‘n onomwondenee.  Mense wat in ‘n postmoderne samelewing leef sal sonder uitsondering deur die tydgees beïnvloed word.  Die postmoderne tydgees maak egter in die meeste gevalle aansprake wat teenstrydig is met die Christelike geloof.  Beide kan onmoontlik waar wees, die aanvaarding van die een, beteken noodwendig die verwerping van die ander.

Baie mense los die probleem van die spanning tussen postmodernisme en Christenskap op deur hul lewe in afdelings te verdeel.  Hulle aanvaar postmodernisme as hul lewensbeskouing en beskou hulle Christenskap as iets wat slegs in ‘n geestelike dimensie uitgeleef word.  Hierdie “geestelike dimensie” het gevolglik ‘n baie beperkte uitwerking op mense se denke en optrede in ‘n praktiese lewenswêreld.  Dit is ‘n dualistiese beskouing, terwyl Christenskap ‘n verenigde lewensbeskouing vereis van iemand wat in sy totale menswees aan God behoort.  God wil hê mense moet hom met hul hele hart, siel en verstand liefhê.  Die vraag kan met reg gevra word of ‘n postmodernistiese toepassing van Christenskap nog werklik Christenskap is?  Hier word nie ‘n uitspraak oor redding gemaak nie.  Die probleem is egter dat die betekenis van Christen wees tot so mate deur ‘n postmoderne siening beperk word, dat dit nie meer Christenskap is wat die gemeenskap en die res van ‘n persoon se lewe daadwerklik beïnvloed nie.

Postmodernisme en Christenskap is twee lewensbeskouings wat direk met mekaar in stryd is.  Die volgende tabel illustreer ‘n paar van die belangrike verskille:

Saak Postmodernisme Christenskap
Sonde Bestaan nie Realiteit wat die mens van God skei
Waarheid Bestaan nie of kan nie geken word nie Bestaan, is deur God geopenbaar en word in Jesus mens
Relativisme Alles is relatief God en die Bybel is die standaard
Mens Onbelangrike dier Na die beeld van God geskep, maar het geval
Individualiteit Bestaan nie werklik nie Deur God geskep en ewigdurend
Moraliteit Tyd en individu gebonde Deur God bepaal en in die Bybel voorgeskryf
Bybel Mense-woorde en idees oor God, oop vir dekonstruksie God se Woord deur mense op skrif gestel.  God in die Bybel geopenbaar met ewige en absolute waarhede
Redding Onnodig Deur Jesus se kruisdood is mens met God versoen
Jesus Profeet.  Christenskap werk vir sommige mense, maar nie vir ander nie Seun van God wat redding bring aan almal wat hom aanneem.  Geen redding buite hom nie
Opstanding Mite met betekenis Geskiedkundige gebeurtenis
Multikulturaliteit Onmoontlik Sigbaar in die universele kerk

5. Christenskap en waarheid

Een van die belangrikste implikasies van postmodernisme vir die mens, is die dood van waarheid.  Volgens postmodernisme is alle kennis relatief.  Met ander woorde iets is slegs waar vir die individu, maar nie vir almal nie.  Dit sou impliseer dat die evangelie waar is vir die Christen, maar nie vir die Moslem nie.  Postmodernisme skep ‘n situasie waar alle gelowe, insluitend die Christelike geloof, onbelangrik is.  Met ander woorde, die vraag het verander van “Watter godsdiens is reg?” na: “Wat maak dit saak?”  Dis onbelangrik.  ‘n Belangrike vraag wat hieruit voortvloei is: “Waarom dan nog enigsins sendingwerk doen?”  Die logiese gevolgtrekking as alles relatief is, sou wees dat alle sendingwerk onmiddellik gestaak behoort te word.

5.1. Ooreenstemmingsbenadering tot waarheid

In die verlede is die ooreenstemmingsbenadering (correspondant view) tot waarheid as vanselfsprekend aanvaar.  Hierdie siening impliseer dat ‘n stelling of met die werklikheid ooreenstem en dan waar is, of van die werklikheid verskil en dan vals is.  ‘n Voorbeeld sou wees as die stelling “Dit reën nou hier buite” gemaak word.  Indien daar by die venster uitgekyk word en reëndruppels gesien word, is die stelling waar (ooreenstemmend met die werklikheid).  Indien dit nie buite reën nie, (nie-ooreenstemmend) is dit vals.

Hierdie siening van die waarheid word deur postmodernisme aangeval en verwerp.  Volgens die postmodernistiese siening, is die mens te subjektief in sy taal en kultuur vasgevang om enige stelling te kan maak wat objektief waar is.  Enige stelling is slegs die spreker se persepsie van die werklikheid, maar wat nooit die werklikheid self weerspieël nie.

Ironies genoeg word hierdie standpunt met erns gestel en verdedig, asof dit “waar” sou wees vir almal onder alle omstandighede.  Weereens maak die postmoderniste hier aanspraak daarop om kennis te hê wat volgens hulle eie filosofie nie bestaan nie.  Hulle dring aan op ‘n waarheid wat die werklikheid in alle mense se lewens weerspieël, maar terselfdertyd word daar gesê niemand kan ooit sulke waarheid ken nie.  Postmoderniste is gemaklik om met hierdie blatante teenstrydigheid saam te leef.  Vir die Christen is die verdediging van die ooreenstemmingsbenadering tot waarheid baie belangrik.  Die verdediging van die konsep van die bestaan van iets soos waarheid berus grotendeels hierop.

5.2. Die verdediging van die ooreenstemmingsbenadering tot waarheid

Daar sal vervolgens ‘n kort saak uitgemaak word ter verdediging van die ooreenstemmingsbenadering tot waarheid:

In enige taal gebruik mense stellings waarin waarheidsaansprake vervat is deur ‘n spesifieke perspektief op ‘n saak te stel.  Alle stellings is of waar of vals.  Dit is onleefbaar om te sê dat ‘n stelling vir die spreker waar kan wees, maar vir alle ander mense vals.  Die meerderheid filosowe deur die eeue het die ooreenstemmingsbenadering tot waarheid gebruik en verdedig.

Logiese wette bepaal dat die ooreenstemmingsbenadering waar is.  Postmoderniste stel dit dat die wette van logika mens-gemaak is.  Hulle is egter verplig om self logiese wette te gebruik om hul standpunt te verdedig.  Daar is geen ander denkwyse aan die mens bekend as die wette van logika nie.  Twee van die wette wat die ooreenstemmings-benadering ondersteun is:

  • Die beginsel van uitgesluite middel wat dit stel dat iets of waar of vals is, nie iets tussen in nie.
  • Die beginsel van nie-teenstellendheid (non-contradiction) stel dit dat iets nie op ‘n spesifieke tyd en op ‘n spesifieke manier dit self en die teenoorgestelde daarvan kan wees nie.

Volgens postmoderniste maak taalverskille dit onmoontlik om ‘n stelling te maak wat waar is.  Dit sou dieselfde wees as om te sê, omdat mense met verskillende vervoermiddels reis, hulle nie by dieselfde bestemming kan uitkom nie.  Dit is duidelik nie waar nie.

Die essensie van die vraag is of iets waar kan wees sonder dat iemand dit waargeneem of geweet het.  Volgens postmodernisme word die waarheid geskep en nie waargeneem of ontdek nie.  Volgens postmodernisme is niks waar onafhanklik van die skepping of waarneming daarvan nie.  Hierdie idee is inherent selfweersprekend, want die waarheid daarvan kan nie waargeneem word nie, net afgelei word.  Dus moet dit onafhanklik van waarneming daarvan waar wees.  Waarheid hang van die werklike stand van sake af, nie van die waarnemer nie.  Indien drie getuies (wat op dieselfde tyd en plek iets waargeneem het) ‘n gebeurtenis beskryf en een se storie stem glad nie met die ander twee ooreen nie, is die logiese afleiding dat een van die twee partye die waarheid praat en die ander lieg.

Facts are stubborn things; and whatever may be our wishes, our inclinations, or the dictates of our passions, they cannot alter the state of facts and evidence.  Thruth is neither pigmented nor gendered.  There is no “black truth” or “white truth” or “red truth” or “gay truth” or “womans truth” or “male truth”. Truth is a property of only those statements, propositions and beliefs that match objective reality; it matters not who utters them, where they are uttered or why they are uttered. Douglas Groothuis

5.3. Waarheid in die Bybel

Die manier waarop die Bybel met die konsep van waarheid omgaan is belangrik. Volgens Groothuis kan die Bybelse siening van waarheid soos volg opgesom word:

  • Waarheid word deur God geopenbaar, dit word nie uitgevind of gekonstrueer nie.
  • Objektiewe waarheid bestaan en kan geken word. God is die bron van objektiewe waarheid oor homself en oor sy skepping.  Die objektiewe waarheid wat God openbaar moet deur elke individu (subjektief) aan homself toegeëien word.
  • Christelike waarheid is van nature absoluut. Dit beteken God se waarheid verander nooit, dit is en bly sonder uitsondering waar.
  • Waarheid is universeelen geld dus oral, vir alles en almal.
  • Die waarheid van God is ewigdurend, van groot skaal en nie modegebonde of oppervlakkig nie.
  • Waarheid is eksklusief, spesifiek en gebaseer op antitese (reg of verkeerd)
  • Christelike waarheid is ‘n sistematiese en verenigde front.  Alle waarhede pas by mekaar in.
  • Christelike waarheid is ‘n doel opsig self, nie ‘n middel tot ‘n doel nie.

6.Postmodernistiese neigings in die kerk en teologie

And Jesus said unto His disciples, “Go into all the world, teaching all men to live any way they want, and urging each to find his or her own path to God.  Let not any one of you make someone feel inferior or victimized because of their beliefs.  Above all, be tolerant.  Verily, verily, I say unto you that what you believe and how you live do not matter, so long as you are sincere.”  Leaving that place, Jesus led His disciples to Jerusalem where they broke bread in the upper room.  There he addressed them again, saying, “I am one of the ways, one of the truths and just one possible life.  If you are basically a good person, you’re okay in my book.  And if you choose to come to the Father (or Mother, if you prefer) through Me, that’s cool.  Now go forth to live according to whatever feels good to you.”  And there was much rejoicing. Ryan Dobson

Die postmoderne parafrase van die woorde van Jesus staan in skrille kontras met die werklike uitsprake van Jesus soos dit in die Nuwe Testament gevind kan word.  Ironies genoeg is dit juis hierdie idees wat in baie Christene se harte leef en selfs van baie kansels af verkondig word.  Die aanhaling verteenwoordig ‘n mengsel van die idees van postmodernisme en die Bybel.  Soos die aanhaling hierbo illustreer, kan hierdie vermenging nie plaasvind sonder om die hart van die evangelie uit te ruk nie.  Die kerk is geroep om in die postmoderne tyd die evangelie sonder vermenging of afwatering aan die mense te bring op ‘n manier wat die postmoderne hart kan bereik.  Die inhoud van die Christelike boodskap is dus onveranderbaar, maar die aanbiedingswyse is aanpasbaar by die eienskappe en behoeftes van die mense van die postmoderne tyd.  Hierdie aspek sal vervolgens in meer detail bespreek word.

Modernisme het alle godsdienste as bygelowe wat op valsheid geskoei is probeer afmaak.  Daarteenoor veroorsaak postmodernisme ‘n menigte nuwe godsdienste.  Elkeen skep ‘n godsdiens wat hom pas en daarom is elke groep se godsdiens dus slegs op ‘n subjektiewe manier net vir hulle waar.  Spesifieke gelowe word nie meer as vals afgemaak soos in die moderne tyd nie, want elkeen het die reg om te glo wat hy wil.  Elke godsdiens het ook presies gelyke waarde en dus is een nie meer reg as die ander nie.  Die gevolg hiervan is dat alle gelowe heeltemal irrelevant is vir enige persoon buite daardie spesifieke geloofsgroep.  Indien postmodernistiese filosofieë waar is sou sending per implikasie sinneloos en selfs skadelik wees.  Hoe sou dit moontlik of reg wees om ander te lei om tot bekering te kom?  Daar is dan nie geen godsdiens wat reg is vir almal nie.

Nie alle gelowiges besef die direkte teenstrydigheid tussen die filosofiese onderbou van postmodernisme en Christenskap nie.  In Suid-Afrika kan die effek van postmoderne filosofieë baie duidelik in die werk van die Nuwe Hervormers en ander liberale teoloë gesien word.  Ook die alledaagse kerklike belewenis van gelowiges en die erediens het verander.  Nie net dit nie, maar elke gelowiges wat in die kerk sit word direk deur postmodernisme in die samelewing en populêre media beïnvloed.

Daar moet gewaak word teen die skadelike element in die aanvaarding van die postmoderne denke.  Gelowiges moet ten volle in die wêreld wees, maar nie van die wêreld nie.  Daar gaan vervolgens na van die sigbare tekens van postmodernisme in die kerk verwys word met ‘n kort stukkie kommentaar.

Terwyl Modernisme probeer het om van alle godsdienste ontslae te raak, skep postmodernisme aanhoudend nuwe godsdienste…  Die meeste van die godsdienste het as onderliggende bousteen die idee dat die mens eintlik goddelik is, die skepper van sy eie heelal. G.E. Veith

  • Postmoderne godsdiens en Christenskap vra nie meer “wat is waar?” nie, maar “wat wil ek hê moet waar wees”.  Hierdie gedagte lei daartoe dat fantasie as waarheid aanvaar word al is dit geheel en al in stryd met die Bybel.
  • Anti-rasionalisme in die kerk. Denke word ondergeskik gestel aan gevoel en belewenis.  Die gevolg hiervan is dat dit wat goed voel as waar en reg aanvaar word.  Hoewel die kerk se liturgie wel die moderne mens moet aanspreek, kan die leer van die kerk nooit op gevoel berus nie.  Gevoel verander van dag tot dag en het baie min waarde vir die kennis van die waarheid.

Die ou paradigma het geleer, dat as jy die regte lering het, sal jy God ervaar.  Die nuwe paradigma sê dat as jy God ervaar, het jy die regte lering.  Objektiewe leer (doctrine) word geminimaliseer om plek te maak vir subjektiewe gevoel.  Gevoel word in wese die kriterium vir die lering self. G.E. Veith

  • In postmoderne kerke word teologie (die kennis van God) dikwels vervang met terapie.  Die sielkunde het sy plek en behoort ook in die kerk gebruik te word.  Die erediens is egter eerstens ‘n geleentheid waar die Bybel uitgelê en in lidmate se lewens toegepas moet word.  Die sielkunde mag nooit die evangelie vervang nie.
  • Konsumerisme (verbruikersingesteldheid). Die lidmate beweeg weg van die dien van God, na die dien van die self.  In die postmoderne tyd tree lidmate op soos mense wat ‘n kitskos-restaurant besoek.  Hulle kyk die spyskaart deur en besluit of hulle van die kos, die kelners, die atmosfeer of selfs die musiek hou en indien nie, los hulle dan die restaurant vir die nuutste gier.  Mense verbind hulle nie meer aan ‘n kerk of ‘n gemeente nie en is bereid om vir enige rede te skuif.  Dit impliseer dat die kerk (soos die restaurant) daar is om die lidmaat se behoeftes te bevredig.

Die volgende opsomming van die verskille tussen klassieke en postmoderne Christenskap, is uit die boek deur G. E. Veith gemaak:

Klassieke Christenskap Postmoderne Christenskap
Lê klem op die eienskappe (almag, grootsheid, ewigheid, ens.) van God.  Hy is inwonend en interaktief betrokke by sy skepping.  Alle mense het geval en is van God verwyder Sonde is slegs ‘n daad.  Alle mense is onskuldig, maar volg Adam se slegte voorbeeld.  Die mens is nie gebroke en verlore nie
Die mens se probleem is sy ewige en totale verlorenheid Die mens se probleem is sy onkunde.  Hy weet nie hoe lief God hom het nie
Die verlossingswerk van Jesus is die enigste manier om met God versoen te word Daar is baie maniere om gered te word.  Jesus is slegs Christene se voorbeeld
Die mens sal vir ewig lewe in die hemel of die hel Alle mense gaan hemel toe behalwe die wat werklik sleg is

7. Afsluiting

Die postmoderne tyd bring nuwe en unieke uitdagings vir die kerk.  Terselfdertyd is daar ‘n nuwe belangstelling en nuuskierigheid oor geloof.  Die uitdagings van postmodernisme moet met erns en ywer aangepak word, sodat die tydlose evangelie van Jesus as opgestane Heer die lewens van postmoderne mense mag verander.

Die evangelie beloof redding en versoening met God.  Die postmoderne mens probeer homself oortuig dat hy nie redding nodig het nie.  Wanneer mense met die werklike lewensvrae gekonfronteer word, is die illusies van postmodernisme egter nie meer goed genoeg om antwoorde te verskaf nie.  Gelowiges moet in woord en daad hulle geloof in die postmoderne tyd uitleef sodat mense dit kan sien en beleef.  Om dit effektief te kan doen, moet Christene weet en leef wat hulle glo wat prakties beteken dat hulle die Bybel moet ken en moet toelaat dat dit hulle lewens rig en verander.  As hierdie ken en uitleef van die evangelie toenemend gebeur, sal daar soos in Handelinge 2 staan, elke dag nuwe mense wat gered word, by die gemeente toegevoeg word.

Bronne

  • Truth Decay (D. Groothuis)
  • The Death of Truth (D. McCallum)
  • Guide to Contemporary Culture (G.E. Veith)
  • A Time for Truth  (Os Guinness)
  • Be Intollerant  (Ryan Dobson)


Onderwerp Pre-moderne tydgees Moderne tydgees Postmoderne tydgees
God Sekerheid.  Magiese almagtige wese. God is dood en ateïsme is die norm Onsekerheid oor of God bestaan.  Agnostisisme
Wetenskap Min werklike wetenskap (omtrent gelyk aan toordery) Baie prominent & enigste ware bron van kennis.  Verwag dat alles verklaar sal kan word. Skepties oor die wetenskap se waarheidsaansprake
Mens Sosiale wese deur God na Sy beeld gemaak Mens net ‘n dier en rat in masjien Mens skep sy eie waarheid (kultuurgebonde)
Kennis Deur ervaring in die natuur oorgedra van vader na seun Objektief deur die wetenskap alleen verskaf.  Akademies Subjektief op emosie, ervaring en lewensbeskouing gegrond.  Elkeen konstrueer sy eie
Godsdiens Individueel en gesinsverband Institusioneel, gestruktureerd, formeel en geordend Misties, onseker en op ervaring en gevoel gebaseer
Realiteit Lewenservaring Meetbaar en kenbaar Sosiale konstruk en geen absolute
Taal Kommunikasie middel Beskrywend en akkuraat Onbetroubare sosiale konstruk,
Wat is absoluut? Grond, gesin en God Wetenskap is baie seker en vas Niks.  Alle kennis is relatief
Sonde en moraliteit Swart vs wit Swart vs wit Alles is grys

1 Comment

  1. Excellent article! You may also want to consult Michael E. Wittmer’s book “Don’t Stop Believing: Why Living Like Jesus Is Not Enough” on the topic of post modernism.

Leave a Reply to Shaun Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.