Gebed, God se Almag en God se Alwetendheid

Hallo Udo

Twee eienskappe van God is dat Hy Alwetend EN Almagtig is. Wat ek nie verstaan nie is hoe beide hierdie eienskappe gelyktydig waar kan wees. Hier is my dilemma: As God nou alreeds weet wat in die toekoms gaan gebeur, dan beteken dit dat die toekoms alreeds bepaal is en onveranderd sal plaasvind. Dit sou skynbaar beteken dat God nie die toekoms kan verander nie en daarom nie Almagtig sou wees nie; en as Hy sou ingryp om die toekoms te verander, dan lyk dit asof hy nie Alwetend was nie?

Hierdie probleem is veral ook relevant as dit kom by gebed. Hoekom sal ‘n mens tot God oor die uitkoms van ‘n saak bid as dit dan al reeds vooraf bepaal is hoe daardie spesifieke saak gaan verloop?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou vraag. Ek dink dit is nogal ‘n belangrike vraag, bloot omdat ek dink dat dit belangrik is om oor die wese van God na te dink. Te veel mense het ‘n wasige en gebrekkige begrip van God en hoe ons oor God dink het dikwels ‘n direkte invloed op hoe ons ons lewens leef. Dink maar aan die invloed wat dit op mense se lewe kan hê wanneer ‘n begrip van God se liefde nie ook God se heiligheid en regverdigheid in ag neem nie.

Nog ‘n rede waarom hierdie soort bepeinsing vir my belangrik is, is omdat ek glo dat Christene ook denkers moet wees. Die aanklag is dikwels dat Christene intellektueel bekrompe is. Christene word duidelik nie juis gekenmerk vir hulle intellektuele robuustheid en entoesiasme nie. Dat Christene dikwels ‘n klomp verwarrende en selfs teenstrydige dinge glo, is vir buitestaanders dikwels nie eers meer snaaks nie – hulle verwag dit eerder!

Probeer ek hiermee sê dat die Christelike geloof op die krag van die intellek berus? Nee, glad nie – self ‘n klein kindjie kan die waarheid van die kruis verstaan en geloof in Christus hê. Maar geloof wat nie intellektueel begrond kan word nie, is beslis verdag. Hiermee probeer ek ook nie sê dat ons ‘n wese soos God en al sy handelinge met ons intellek kan omvat nie. Maar om die beperkinge van jou intellek te erken, beteken nie dat jy nie samehangend kan wees in wat jy glo en hoekom jy dit glo nie. Dis nodig dat Christene, met God se hulp, erns hiermee maak en verantwoordelikheid vir hulle denke aanvaar.

Goed, dit bring ons by jou vraag: Kan God verander wat hy vooraf weet?

Nee, God kan nie wat hy weet in die toekoms gaan gebeur, verander nie. Maar dis nie omdat dit vir hom “onmoontlik” is nie, want die vraag veronderstel dat God nie by die toekoms betrokke is nie. Maar as God self betrokke is by alles wat in die toekoms gaan gebeur, dan is dit eintlik onsinnig om te vra of God die toekoms kan verander. Hier is dus geensins sprake van ‘n beperking in die almag van God nie, want hoekom sal God iets wil ‘verander’ waarby hy self betrokke is? Om te sê dat God op ‘n sekere tyd in die toekoms P gaan doen, maar omdat hy weet hy gaan P doen, kan hy nie meer Q doen nie, is irrelevant. Hoekom sou God Q wil doen as hy dit reeds goedgevind het om P te doen?

Die konsep van God se ‘Alwetendheid’ hou dus rekening met die vrye wil van sy skepsels, met God se eie planne, sowel as sy vermoë om sy planne te volvoer (sy Almag), en daarom is daar niks om te ‘verander’ nie. Om dus te vra of God kan verander wat hy vooraf weet, is soos om te vra hoe ‘n vierkantige sirkel lyk.

Die rede waarom skynbare logiese teenstrydighede baie keer opduik m.b.t. Goddelike kenmerke, is omdat daar nie altyd begrip is vir die logiese beperkinge sowel as die logiese samehang van hierdie konsepte nie. So byvoorbeeld is dit onmoontlik vir God om te lieg, nie omdat God nie Almagtig is nie, maar omdat hy ook Moreel Perfek is. Of nog ‘n voorbeeld: Kan God ‘n almagtige wese skep? Nee, maar nie omdat God nie Almagtig is nie, maar juis omdat hy Almagtig is. Die begrip Al-magtig beteken per definisie dat daar nie nog ‘n Almagtige wese kan bestaan nie.

Net ‘n laaste opmerking oor God se alwetendheid. Jy is reg om daarop te dui dat God se alwetendheid per definisie beteken dat dinge noodwendig op ‘n bepaalde manier gaan gebeur. Dit is egter belangrik om te besef dat die feit dat God weet dat dinge op ‘n bepaalde manier gaan gebeur (en dat hy self daarby betrokke is), nie beteken dat sulke voorkennis die oorsaak is dat dit so gebeur nie. So byvoorbeeld is dit wat God weet, nie oorsaaklik vir wat wesens met vrye wil doen nie (anders is God verantwoordelik vir mense se sonde), maar dat hy dit weet veronderstel dat dit so sal gebeur. Norman Geisler verduidelik:

“[I]f God has infallible foreknowledge of the future, including our free acts, then everything that will happen in the future is predeter­mined, even our free acts. This does not mean these actions are not free; it simply means that God knew how we were going to use our freedom – and that He knew it for sure. …Our free actions are determined from the standpoint of God’s foreknowledge, but they are free from the vantage point of our choice.”

In verband met gebed: Die verloop van ‘n spesifieke saak, waarvan God vooraf weet, is soos dit is vir ‘n wye verskeidenheid van redes: omdat mense daarvoor bid; omdat God in sy wysheid op ‘n spesifieke manier daarby betrokke is; omdat mense vrye wil beoefen; omdat die realiteit gemaak is om op ‘n spesifieke manier te funksioneer en omdat Satan ook ‘n invloed kan uitoefen. As ons nalaat om te bid (veral vir dit waarvoor God ons vra om te bid), kan daar miskien ‘n heel ander uitkoms wees, omdat God waarskynlik op ‘n ander manier betrokke sou wees –  maar waarvan God nogtans ook vooraf sou weet.

Weer eens is dit belangrik om te verstaan dat dit wat God vooraf weet nie die chronologiese oorsaak is van dit wat gaan gebeur nie. Maar omdat God dit weet, is dit bloot ‘n logiese afleiding dat dit so gaan gebeur.

Gebed is ‘n essensiële deel van ons verhouding met God. Sou dit ‘n verskil in iemand se lewe maak of so ‘n persoon nooit sou bid nie en of so persoon wel sou bid? Ja! Hoekom? Want God is op ‘n baie spesifieke manier betrokke in die lewe en wêreld van iemand wat bid omdat hy of sy in ‘n aktiewe verhouding met God staan. Daarom maak dit ‘n groot verskil of iemand bid of nie – selfs al weet God vooraf wat iemand se gebede gaan wees en hoe hy dit gaan verhoor.

Goeie wense

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.