Maak dit saak of ons bid?

Udo,

Iemand het gesê: “If god is the alpha and the omega, the beginning and the end, knows what has passed and what is to come like it states in the bible, why do people pray and think it will make any difference?”

Hoe sou jy antwoord?

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Baie mense dink dat God se alwetendheid, en spesifiek sy kennis van wat in die toekoms gaan gebeur, beteken dat iets soos gebed daarom sinloos is. Beskou die volgende verskil tussen twee scenario’s, waar die besluit om vir X te bid in beide gevalle my eie keuse is:

  • A: Ek bid op Vrydag, 2 Mei 2014 om twaalfuur vir X en God verhoor my gebed ‘n week daarna.
  • B: Ek versuim om op Vrydag, 2 Mei 2014 om twaalfuur vir X te bid (of enige tyd daarna) en daarom is daar niks vir God om te verhoor nie.

Kan God vooraf weet dat indien ek vir X bid, dan sal Hy my gebed verhoor, maar terselfdertyd ook dat indien ek nie bid nie, dan sal hy nie ingryp nie – en kan hy ook weet wat ek inderdaad gaan kies?

Wel, indien God alwetend is soos Christene glo hy is en as sy alwetendheid dus nie net kennis insluit van wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar ook kennis van dinge wat sou gebeur indien ons sekere dinge doen of versuim om te doen, dan maak dit tog ‘n verskil of ons bid of nie!

Groete

Udo

 

Hi Udo

Ek vra myself gereeld die volgende: Ons weet dat God alwetend is en dat God altyd van beter weet as dit by ons besluite kom. Nou my vraag is hoekom bid ons dan as God dan in elk geval weet wat Sy besluit is?

Ek weet dat gebed deel is van ‘n gesprek met God. Maar dit voel partykeer asof God stil is. Dit voel vir my dat hoe meer ‘n mens weet van God, hoe minder hoor jy van Hom; en hoe minder jy van Hom weet, hoe meer hoor jy van Hom!

Enige raad?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

God se stem is inderdaad soms stiller as ander tye. Maar ek dink nie dit het werklik met ons kennis van God te doen nie. Trouens, ek dink hoe meer ʼn mens God leer ken, hoe meer ‘content’ kan jy wees in die oomblikke wanneer God se stem stil is. Soos wanneer ʼn egpaar na baie jare se getroude lewe, partykeer net in mekaar se teenwoordigheid kan wees en vervuld kan wees, sonder direkte kommunikasie. Dis omdat die een die ander só goed ken dat hul emosies en begeertes aan mekaar bekend is, sonder dat hulle dit eksplisiet hoef te kommunikeer.

Tog is daar baie waarde, in opsig self, wanneer God stil. Dit is dalk ʼn geleentheid om ons eie motiewe of begeertes van naderby te ondersoek. Dis dalk ʼn geleentheid om tot dieper insig in God se wil te kom. Dalk is dit ʼn geleentheid om fyner te probeer luister, en nie aan te neem dat God altyd op die dieselfde manier en tot dieselfde mate hoorbaar is nie.

Gebed is natuurlik ʼn baie persoonlik aangeleentheid, so elke mens se ervaring sal verskil. Al wat ek weet is dat gebed niks met ʼn formule te doen het nie. Te veel mense dink aan gebed as hul toegang tot ʼn ‘genie in ʼn lamp’, asof God gemanipuleer kan word om aan hul behoeftes en drome te voldoen (selfs al is daar niks inherent fout met sulke behoeftes en drome nie!).

Gebed is die interpersoonlike kommunikasie tussen ons en God (waarby die Woord en die Heilige Gees onlosmaaklik betrokke is), en as sulks is dit altyd ʼn dinamiese en dikwels onvoorspelbare interaksie. Ek dink die belangrike punt van kommunikasie is dus nie om op te hou kommunikeer (of die nut van kommunikasie te betwyfel) wanneer kommunikasie soms moeilik is nie, maar om te verwag dat kommunikasie soms moeilik gaan wees en dus aan te hou met ʼn strewe na goeie kommunikasie ten spyte van die moeilike tye (soos enige goeie huweliksberader jou sal kan vertel!)

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.