Skynheiligheid en die kerk

Hallo Udo

Ons loof Salomo vir al Sy wysheid maar hy was ‘n veelwywer.  Wanneer het God besluit jy mag nou weer meer as een vrou hê?  Hierdie dinge is kultuurgebonde. En dan: Geliefde, Geesvervulde en navolgenswaardige karakters soos die ds Solly’s, katolieke priesters – pedofiele (Rooms Pedofiele Kerk) en verskeie mense wat JUIS ‘n punt maak om hul geloof openbaar uit te leef/liefde vir die Here,  en gruweldade pleeg – hoofsaaklik seksuele vergrype.  Dis ‘n absolute bevestiging dat die kerk korrup is, dat mense hulle geloof misbruik om ander uit te buit, dat hulle vals is, geldhonger, ens.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dis interessant dat die Bybel nêrens probeer om die morele karater van sy hoofkarakters weg te steek of toe te smeer nie. Die Bybel skets ‘n prentjie van die menslike natuur soos dit werklik is: vol foute, sonde en tekortkominge. Maar nêrens word hierdie dinge goedgepraat nie (ook nie Salomo se veelwywery nie) en nêrens is daar enige aanduiding dat enige mens (behalwe Jesus) in hierdie aardse lewe sondeloos of perfek is, was of sal wees nie. Selfs nie eers Geesvervulde of navolgingswaardige mense nie.

Hierdie is nie ‘n verskoning vir enige persoon (belydende Christen of nie) se laakbare optrede nie, want dit is eenvoudig nie ʼn weerspieëling van die Christelike standaard nie. Hier is die baie belangrike punt: ‘n mens meet nie die meriete van ‘n saak aan die misbruik daarvan nie! Die kerk het nog altyd geglo dat die standaard vir ons Christelike lewens by Christus sélf te vinde is en nie primêr by sy volgelinge nie.

Die kerk as die liggaam van Christus vind uitdrukking as menslike instansies en bestaan uit sondige mense, en as sodanig is dit altyd kwesbaar vir korrupsie en valsheid. Maar die kerk is meestal selfkrities genoeg om haar foute te erken en vergifnis daarvoor te vra en om diegene in haar eie geledere aan te spreek waar woorde en dade nie ooreenkom nie. Weer eens, dit maak nie enige vergrype enigsins verskoonbaar nie, maar die kerk is nie oral en altyd bloot blind vir morele vergrype nie.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.