God se Alwetendheid en die mens se sonde

Die volgende vraag het in ‘n uitgawe van Beeld se briewe-kolom verskyn:

Ek is in my vroeë sewentigerjare en het al enkele kere die volgende versugting gehad:

As die almagtige God die heelal met sy biljoene sterre en planete en biljoene ligjare se afstande en die aarde met sy groot prag en verskeidenheid gemaak het, kon hy nie maar die mens só gemaak het dat hy nie kan sondig nie? Want dan het ons vandag nog in die paradys gebly en was alles baie makliker. Maar ons het geleer God het die mens goed geskape en dit was die mens se ongehoorsaamheid en eie toedoen dat hy gesondig het: die sondeval.

Daar staan in 1 Pet. 1:18-20 (NLV): “Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinnelose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En die losprys was nie dinge wat vergaan soos goud en silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ‘n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. God het hom lank voor die skepping al hiervoor bestem (eie beklemtoning). God het hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak.”

As Christus lank voor die skepping bestem is om vir ons sondes te sterf, impliseer dit ook dat lank voor die skepping, voor God nog die mens gemaak het, die mens bestem was om te sondig (of dat God geweet het sy maaksel gaan sondig). Dit bots vir my met wat ons geleer het, naamlik dat sonde slegs die mens se skuld is. En dit ruk weer aan die fondamente van ons hele geloof, die sondeval en Christus se kruisdood. Is daar ‘n teoloog of iemand wat hierdie gedeelte kan verklaar?

Udo se AntWoord:

Die vrae waarmee die skrywer van die brief worstel is die eerlike vrae van baie mense. In essensie is daar twee verwante vrae: 1) Kon ‘n almagtige God mense gemaak het wat nie sou sondig nie? en 2) As God geweet het dat mense sou sonde doen, is God dan nie ten minste deels verantwoordelik vir die feit dat die mense wat Hy geskape het, sonde doen nie (dus, is Hy nie die uiteindelike oorsaak van sonde nie)?

Om te begin sien hoe ‘n redelike antwoord op die eerste vraag kan lyk, is dit nodig om die vraag effens uit te bou om die volle implikasies daarvan beter te begryp: Kon ‘n almagtige God mense met vrye wil gemaak het waarin dit gewaarborg was dat hulle nie sou sondig nie? M.a.w. is dit moontlik om te waarborg dat ‘n wese wat God geskep het met die vermoë om te kan kies tussen reg en verkeerd nooit verkeerd sal kies nie? Die antwoord hierop is eenvoudig nee, en dit het absoluut niks met God se almag te doen nie, maar met die aard daarvan om iets met vrye wil toe te deel. (Terloops, God kan, selfs al is Hy almagtig, ook nie vierkantige sirkels maak nie!)

Vrye wil beteken om werklik ‘n keuse te kan uitoefen (hoe beperk die keuses ook al mag wees). Die enigste manier om te waarborg dat ‘n wese altyd die goeie sal doen, is as daardie wese nie die inherente vermoë het om die teendeel te kan kies nie. Maar as daar nie so ‘n vermoë tot keuse is nie, dan kan ons nie meer van ‘n ‘mens’ praat nie, maar moet ons eerder begin soek na konsepte soos ‘robot’ of ‘marionet’. Ons weet egter intuïtief dat daar ‘n kwalitatiewe verskil is tussen ons as mense en ‘n robot. Byvoorbeeld, wanneer ‘n mens ander liefhet (soos o.a. vir God) omdat hy/sy ‘n keuse kan uitoefen om so te doen, dan gee dit ware betekenis aan die konsep van liefde. In teenstelling is ‘n robot wat iets doen omdat dit so geprogrammeer is en dus nie anders kan nie, se optrede moreel glattendal betekenisloos (‘n robot kan nie liefhê nie en om so te dink is so goed as om van vierkantige sirkels te praat). Daarom is God se besluit om ‘n wese met vrye wil te skep, werklik goed (dit het inherente waarde). Dis goed in ‘n manier waarop die skep van ‘n wese sonder vrye wil (al is dit dan sodoende gewaarborg om altyd die ‘regte’ dinge doen) dit nooit kan wees nie.

Dit is egter belangrik om te besef – as antwoord op die tweede vraag – dat die feit dat mense die vermoë het om verkeerd te kón kies, nie beteken het dat die mens noodwendig verkeerd moes kies nie. As die mens van die begin af noodwendig moes sonde doen, dan beteken dit in effek dat die mens nooit regtig die vermoë tot keuse gehad het nie en dus nie anders kón as om sonde te doen nie. Dit is presies op hierdie punt waar baie mense foutief redeneer. Sommige mense dink dat omdat God vooraf geweet het dat die mens sou sonde doen, dit daarom terselfdertyd ook beteken dat die mens noodwendig moes sonde doen. Wat mense dalk bedoel om te sê, of dan eerder behoort te sê, is dat die mens noodwendig sou sondig (dit is tog wat God se voorkennis impliseer), maar nie dat die mens noodwendig moes sondig nie (want anders, soos aangedui, het die mens nie werklik vrye wil gehad nie).

Dit is dus belangrik om uitsluitsel te hê oor wat God se voorkennis impliseer en wat nie. Dit is foutief om te dink dat omdat God iets vooraf weet, en dit daarom bestem is om so te gebeur, dat God terselfdertyd die oorsaak is dat dit gebeur. Alwetendheid is ‘n Goddelike eienskap wat buite die mens se ervaringsveld lê, maar dit doen absoluut niks aan die feit dat om te weet dat iets gaan gebeur, beslis nie dieselfde is as om die oorsaak daarvan te wees nie.

Om op te som: God het die mens met die vermoë geskape om te kon kies tussen reg en verkeerd. Hierdie vermoë is goed in opsigself, selfs al was daar die inherente potensiaal (let wel, nie die noodwendigheid nie) vir verkeerde keuses. God het in sy alwetendheid geweet dat die mens sou sonde doen (die potensiaal het ‘n werklikheid geword tydens die sondeval), maar omdat die mens ook werklik vry was om nié te sondig nie, is God geensins verantwoordelik vir die feit dat die mens wel gesondig het nie. Die mens het self gekies om sonde te doen en daarvoor rus die blaam vierkantig op die mens se skouers.

Wat eintlik ongelooflik is, is dat God juis ten spyte van wat Hy vooraf geweet het, steeds besluit het om ons as mense te skep, selfs al het Hy presies geweet hoe geweldig duur dit Hom sou kos om ons van ons sonde te verlos. Dit is so dat Petrus se woorde (“God het hom lank voor die skepping al hiervoor bestem”) vir sommige om intellektuele bevrediging vra. Maar dis byna ondenkbaar dat ‘n mens nie ook by ernstige nadenke oor hierdie woorde, geweldig geraak sal word deur die diepte en omvang daarvan nie.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.