God se wil en swaarkry

Andre,

In ons omgee-groep wil is die onderwerp van wat God se wil is bespreek en kyk of ons kan sin maak met alles wat om ons gebeur en waarom. Tydens my navorsing in hierdie verband kom ek toe op die volgende bespreking af.

“Ek glo ons leef in ‘n gebroke wêreld vol van geweld, siekte onmin, onwysheid en dan is daar ook natuurlik natuurwette soos behoudswet van momentum, gravitasie, energiebehoud, wrywing en so aan. Kinders word ontvoer en mishandel, vrouens word onderdruk, fratsongelukke gebeur …
DIT GAAN NIE ALTYD GOEDGAAN NIE, WANT ONS WOON IN ‘N GEBROKE WêRELD en ek glo dit is hoe eenvoudig dit is.

God het almal vry gemaak om keuses uit te oefen. Hy sal nooit vir jou besluit nie. Of dit nou geestelike of emosionele of eenvoudige daaglikse roetinebesluite is. As iemand besluit om in jou motor in te breek was dit sy besluit, God het nie geheime agente wat jou terroriseer sodat God jou kan toets nie. God doen nie besigheid saam met die duiwel nie. God weet wat Hy gemaak het, hy weet alles, hy het nie nodig om sy handewerk uit te toets soos ‘n F1 toetsmotor nie. God het ons deur sy bloed gereinig en die reiniging was volkome, hy het nie nodig om ons in ‘n vuuroond te plaas om al die vuilheid uit te kook nie hyself het ons dat skoon gewas. Dit maak my hart so seer as ek sien dat mense dit van God glo.

God gee wel aan ons die “gereedskap” om deur moeilike tye (wat Hy nie bewerk het nie) te kan gaan. Hy praat ook deur sy Gees met ons en lei ons in hierdie wêreld om wyse besluite te neem. Ons hoor maar net nie altyd wat hy vir ons probeer sê nie. God sal nooit ‘n egskeiding oor jou pad stuur nie of ‘n alkoholiese ouer of ‘n molesteerder nie. Dit is die gevolg van onwysheid dat sulke dinge gebeur en God sal ons die genesing en uitkoms bring. Hoekom Hy dit nie verhoed het nie, weet ek nie ek dink dit is omdat hy ons almal vrye keuse gegee het.

Ek het beslis nie al die antwoorde op al die vrae nie en verstaan nie hoekom onskuldige kinders onnodig moet ly as hul nie eers gevra het om in hierdie wêreld te wees nie. Ek verstaan nie hoekom baie vroue skukkel om swanger te raak nie terwyl ander een kind na die ander kry wat hul nie eers wil hê nie en ek verstaan baie dinge nie, MAAR EK WEET WAT EK WEL VERSTAAN EN DIT IS DAT GOD ONS SAL BYSTAAN IN SULKE TYE, HY BRING DIT NIE OOR ONS PAD NIE EN TOETS ONS NOOIT.

Ek glo dat God dit vir jou moontlik sal maak dat die situasie ten goede meewerk. Nou sien baie mense hoe die situasie ten goede meewerk en dink nou dit is God wat alles so beplan het, NEE EK KAN NIE DAARMEE SAAMSTEM NIE. As moeilike tye en beproewing God se manier is om mense nader aan hom te trek, moet die hele Zimbabwe mos nou die naaste aan Hom wees? Hoekom gaan dit dat goed met ongelowige mense en baie gelowiges kry swaar?

Ek is jammer dat ek so afgaan, maar ek nie net niks sê nie.”

Kan julle asb vir my leiding in hierdie verband gee.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt.

Baie dankie vir jou e-pos.  Julle is besig om een van die heel moeilikste sake hier te probeer uitklaar.  Sterkte daarmee en mag dit vir julle almal tot seën wees.  Jy sal op ons webwerf sien dat ek ‘n redelike volledige opinie gee oor die probleem van swaarkry (sien “Waar Is God As Mense Swaarkry?”).  Ek gaan nie alles probeer herhaal nie en sou graag daarna verwys as hoe ek die bestaan van ‘n liefdevolle God en swaarkry (evil) versoen.  As jy spesifieke aspekte daarvan wil bespreek doen ek dit natuurlik ook graag.  Laat ek liewers op die onderstaande opinie reageer:

Ek dink dat die belangrikste ding oor ons opinie oor hierdie saak moet wees om te begin vanuit dit wat ons wel verseker van God weet en om dan na die minder seker toe te beweeg.  Wat ek bedoel is dat ons kan seker wees dat God goed, liefdevol en regverdig is (en nog ‘n klomp goed).  Ons moet dit as ons beginpunt neem en dan na die uitwerking hiervan in die lewens wat ons leef is.  Oor presies hoe dit werk is daar diep verdeeldheid en stryery onder Christene.  Mense wil graag ‘n waterdigte standpunt gee wat God se gedrag presies en in elke situasie verklaar…  Ek kan nie eens my vriende se gedrag so verklaar nie, wat nog van die Here s’n.  My opinie is dat ons hier vir mekaar heelwat ruimte moet kan gee.  Binne Bybelse perke kan elke mens maar ‘n opinie formuleer wat vir jou vrede gee.  Dit lyk of die persoon wat jy aanhaal vrede het oor hoe sy dit verstaan en ek dink haar standpunt is Bybels genoeg.  Dit beteken egter nie dat ander mense dit presies so hoef te verstaan nie.  Daar is verseker tekste wat die indruk skep dat God baie meer betrokke is by selfs die slegte dinge.

Ek dink nie die rol van God in swaarkry kan ooit “onder die knie” gekry word nie.  Ons as mense sal nooit die presiese uitwerking en betrokkenheid van God, al dan nie, hierby kan verstaan nie.  Dit beteken nie ons mag nie wonder en worstel nie, maar ons moet met die onsekerheid kan saamleef.

Dan wil ek ook net sê dat ‘n mens in gedagte moet hou dat hierdie saak nie net vir mense ‘n rasionele saak is nie.  Dit is dikwels diep emosioneel en persoonlik.  Mense voel dikwels BAIE sterk oor hul opinies en kry ‘n stuk vrede in hul opinies.  Dikwels het mense vrae en belewenisse uit hul verlede wat die vrae na vore bring.  Mens moenie verwag dat mense koud en rasioneel oor die saak sal kan bly nie.

My opinie sou wees dat as ‘n mens die gesprek in ‘n selgroep voer, jy eers vir mense help om te sien waaroor ons almal saamstem.  Skep dan ‘n ruimte waar mense hul eie standpunte kan stel en van mekaar kan en mag verskil.  Moedig die mense aan om na mekaar te luister en om mekaar ruimte te gee oor die een.

Ek weet nie of ek jou vraag regtig beantwoord het nie.  Ek sou redelik maklik gate in die persoon wat jy aanhaal se opinie kon druk (maar ek dink dit sou met enigiemand se opinie oor die saak kan gebeur), maar ek wou liewers probeer om ‘n konteks van die saak te skets.  Vra gerus nog vrae of herhaal jou vraag as ek dit nie beantwoord het nie.

Sterkte met julle denke oor die saak.

Vrede

André

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.