Help, my broer is ‘n ateïs

Beste Udo,

Ek worstel nou al ‘n paar weke met die gedagte hoe om my jonger broer wat saam met my in ‘n Christelike huis grootgeword het en as sogenaamde Christen grootgeword het, se ongeloof – of eerder totale gebrek aan geloof – aan te spreek. Ek het self eers in my 30’s tot bekering gekom en vir Jesus as my persoonlike verlosser aangeneem. Dit is vir my verskriklik om te weet dat my broer homself as ateïs verklaar deurdat daar volgens hom te veel teenstrydighede in die Bybel voorkom. Veral die feit dat hy nie verantwoordelikheid kan neem dat hy gebore is aangesien hy nie daarvoor gevra het nie, en daarom is hy nie onderhewig aan straf soos die Woord van God dit baie duidelik stel. Elke mens word in sonde ontvang en gebore en ons moet eers tot bekering kom alvorens ons gered kan word. Sy siening is ook dat hy nie kan glo in ‘n God wat alle mense wat nie in Jesus Christus glo, laat verlore gaan nie. Ek voel dat toe ek een Sondagoggend na julle uitsending oor RSG geluister het wat Christelike Apologetiek is, dit vir my die antwoord op my gebede was. Ek glo dat  deur julle bediening, die Heilige Gees ook in sy hart ‘n verandering kan teweegbring. Ek wil graag hê dat julle hom direk kontak en uitnooi na so ‘n gespreksgeleentheid, want hy is verskriklik sinies en sal die hele kwessie as ‘n foefie afmaak indien ek hom self kontak.

Baie dankie by voorbaat.

Groete in Christus

Winkelsmidt

 

Beste Winkelsmidt

Dankie vir jou brief. Ek kan sien dat jy werklik besorg is oor jou broer en dat jy graag op ‘n manier in sy lewe wil inspraak lewer. Ek verstaan ook dat dit ‘n sensitiewe en moeilike saak is, omdat dit vir my klink asof hy nie eintlik na jou wil/sal luister nie. Verskoon tog die effe langerige brief wat ek vervolgens vir jou skryf, maar ek dink dis goed om in ag te neem wat alles belangrik is wanneer ‘n mens met ander in gesprek wil tree.

Ek dink dis belangrik om te besef dat alle mense se geloof of ongeloof uit sekere komponente bestaan. Een van hierdie komponente is die wils-aspek. Vir sommige mense is dit wat hulle op sigwaarde wil of nie wil glo nie, so oorheersend dat hulle byvoorbeeld glad nie belangstel om ernstig oor God na te dink nie. En dis ongetwyfeld so dat ‘n mens nie iemand teen sy wil kan forseer om in iets te glo nie. Daarom is dit baie moeilik om na siniese of dogmatiese mense deur te dring, veral omdat hulle nie eintlik ‘n ondersoekende gees het nie en daarom nie regtig oop is vir ander of nuwe insigte nie.

Alhoewel ‘n mens se wil ‘n aspek op sy eie is (en dit het ‘n sterk morele onderbou), word dit grootliks beïnvloed deur twee ander komponente: die emosionele en intellektuele aspekte van menswees (eintlik staan al drie komponente in ‘n komplekse wisselwerking tot mekaar). Ek dink daarom dat as ‘n mens ‘n poging wil aanwend om regtig ‘n invloed in iemand se lewe uit te oefen, dan is dit belangrik om veral aan hierdie twee komponente aandag te gee.

Ek wil eerstens ‘n paar dinge sê oor die emosionele aspek van ‘n mens se lewe. Ons het almal bepaalde emosies wat as ‘n filter dien vir hoe ons situasies in die lewe en verhoudings met ander mense ervaar. Sommige negatiewe emosies is verantwoordelik vir skeefgetrekte persepsies oor dinge en wat mense byvoorbeeld daarvan weerhou om ernstig oor God na te dink. Dit is wanneer ons mense kan help om daardie emosies te begin identifiseer dat ons miskien ook die persepsies kan help verander. Dikwels het mense slegte ervarings gehad wat verband hou met geloof in God. Soms is iemand deur ‘n selferkende Christen seergemaak of het hy/sy bewus geword van  skynheilige mense wat hulleself Christene noem. Of soms is iemand se verwagtinge verydel nadat ‘n gebed skynbaar nie beantwoord is nie. Of iemand het dalk noemenswaardige verlies in sy/haar lewe ervaar en blameer God so daarvoor dat niks skynbaar die bitterheid en onsteltenis kan temper nie. Hierdie is alles voorbeelde van dinge wat daartoe kan bydra dat sekere emosies ‘n struikelblok kan word in mense se denke oor God of aanvaarding van sy betrokkenheid in hul lewens.

Maar hoe help ons ander dan om persepsies te verander deur die onderliggende emosies te identifiseer en in perspektief te plaas? Wel, dit gebeur in die konteks van ‘n verhouding, deur geduld te beoefen en mense se vertroue te wen sodat mense stelselmatig kan begin veilig voel om hul harte met ons te deel. Dit is wanneer mense aanvaar voel, en nie veroordeel nie, dat daar ‘n veilige ruimte geskep word waarbinne mense oor hul vrae en twyfel kan praat. Dit is wanneer mense voel dat ons régtig probeer verstaan en regtig hóór wat in hul kwesbare binneste leef, dat daar werklik ‘n kans bestaan dat mense ons op ons beurt sal toelaat om dinge te sê wat dalk nuwe en vars perspektief en insig kan bring.

Daarom, al is dit meer tydsaam en verg dit meer moeite, is dit dikwels eers nodig om wanneer ons inspraak in mense se lewens wil lewer, eers na hulle harte te luister. Want dit wat die hart omsingel, maak dikwels dat mense nie kan hoor wat vir hulle verstand bedoel is nie.

Tog is daar baie mense wat baie ontvanklik is wanneer dit kom by rasionele nadenke oor God, veral as ‘n mens aan hulle kan wys dat die verstand en die geloof nie in opposisie staan nie. Mense ervaar hul lewens as sinvol wanneer daar integrasie is, m.a.w. waar al die aspekte van menswees in harmonie tot mekaar staan. Daarom smag baie mense ook na intellektuele bevrediging in hul geloofsraamwerk. Ongelukkig is dit baie kere in kerke die geval dat hierdie integrasie nie aangemoedig word nie. Mense vra gedurig vrae oor God, die Bybel en geloof, maar die antwoorde is nie bevredigend nie en stoot mense dikwels weg. Op die ergste word daar dikwels geantwoord dat sulke vrae ‘n teken van ongeloof is, dat wat belangrik is, is om te bloot te glo, nie om te probeer verstaan nie. In baie ander gevalle doen die antwoorde op die beste diens om die hart aan te spreek, maar steeds nie die verstand nie. Sulke antwoorde kom neer op hoe belangrik dit is om die liefde bo alles na te streef, maar dit skep dikwels die indruk dat dit dus nie so belangrik is om ook spesifiek te weet wat ‘n mens glo en hoekom jy dit glo nie. Sulke antwoorde maak die praktiese uitleef van geloof (wat wel baie belangrik is) los van die inhoud van jou geloof (wat net so belangrik is).

Dit is die taak van die Christelike apologetiek om te wys dat geloof in God verantwoordelik met die intellektuele aspek van ‘n mens se lewe omgaan. Dit neem mense se vrae ernstig op, maar doen selfs meer: dit wil mense ook uitdaag om alles deeglik te ondersoek en nie tevrede te wees met ‘n tipe geloof wat van jou verwag om jou oë styf toe te knyp en dan die donkerte in te spring nie.

Hier is dus my opsommende raad vir hoe ‘n mens ander moet benader wat lyk asof hulle skepties staan teenoor die Christelike geloof:

  • Besef dat mense ‘n wil van hul eie het, en dat niemand anders behalwe hulleself verantwoordelik is vir wat hulle glo of nie glo nie. Ook kan ‘n mens niemand forseer om anders te dink of te glo nie. Tog kan ons wel pogings aanwend om ‘n invloed in mense se lewe uit te oefen sodat hulle dalk ‘n treetjie nader aan God sal gee.
  • Om bepaalde mense te beïnvloed is dit dikwels nodig om eers bewus te raak van moontlike emosionele struikelblokke in hul denke oor God wat aangespreek behoort te word. So ‘n bewuswording en aanspreking kan dikwels slegs gebeur as ons langtermyn verhoudings met mense kweek waarin mens veilig genoeg kan voel om mettertyd oor hierdie dinge te praat en hulle ook meer bereid sal wees om jou insette te aanvaar.
  • Vir mense wat eerlike intellektuele vrae vra, of wat ontvanklik genoeg is om na ons te luister, kan en moet ons intellektueel bevredigende antwoorde gee. Dit beteken egter dat ons dikwels self eers die moeite sal doen om ons eie geloof en hoe dit verband hou met alle aspekte van die lewe, beter te verstaan (hiervoor bied die dissipline van Christelike Apologetiek die ideale hulpbronne).

Winkelsmidt, ek sal beslis vir jou broer ‘n epos stuur om hom uit te nooi om te kom luister na die sprekers (en ook die temas noem) by ons konferensie. Hopelik sal hy ook na ons webwerf gaan kyk en as hy werklik opsoek is na antwoorde of verduidelikings, dan hoop ons dat hy ons sal kontak. Veel meer as om hom op so ‘n manier die geleentheid te bied om dinge te ondersoek, kan ek nie regtig hier doen nie. Maar natuurlik kan en moet ‘n mens aanhou bid dat die Heilige Gees voortdurend met hom sal werk.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.