Help, my kerk frustreer my

Hallo Udo

My probleem is dat ek sukkel om in my kerkverband aan te pas en in te skakel en twyfel of die kerk waarvan ek lidmaat is, suiwer is.

Bietjie agtergrond. Ek ongeveer 2 jaar al bekeer en is vandag betrokke by bediening (bruin plaasgemeenskappe) en by “Sondagskool”. God het my land uit gevat met ‘n uitreik om my oë oop te maak.

Deur die bediening het God aan my gewys dat alles gaan oor Hom, dat hy beheer, besluit, verander, in plek plaas. Ek kan wonderlike getuienisse hieroor  gee. Hy het my gewys hoe lyk mense wat hulle lewe bou op Hom en nie op ‘n tradisionele kerk nie.

Ek is ook betrokke graad 9 Sondagskool en het ‘n sterk dryf om hulle te waarsku oor wettiese reëls van die kerk (wettisme wat lei  tot misleiding). Saam met hulle kyk ons krities en ondersoekend na kerkwees en ook na God. Interessant, hoe meer ons daarmee besig is, hoe meer raak God vir ons duidelik en die kerk meer vreemd. Een van vele voorbeelde is die aannemingsproses en kinders wat net eenvoudig verdwyn. Uit gesprekke met kinders glo hulle dat hulle eers gered is die dag as hulle aangeneem en voorgestel is. So kan ek baie voorbeelde van misleiding noem. Van die grootste kwaad wat ek moes verwerk het, is juis die skuldgevoel wat ek gehad het oor die ongehoorsaamheid aan wettisme. Skuldgevoel oor ek nie die kerk se reëls eerbiedig nie, maar nie besef het dat ek nie ‘n verhouding met Jesus het nie.

Rassisme floreer, dit word net meer aanvaarbaar ingekleur. Die gevoel wat opkom is dat die kerk bloot ‘n gemaksone is vir baie wat nie hul materialistiese ingesteldheid en denke oor die verlede in heroorweging wil neem nie. ‘n Gewoonte word gedien en word verkoop as redding, met ‘n motief wat verdag voorkom. Wedergeboorte en gelowig gehoorsaam is begrippe waarvan selde gehoor word, wat nog te sê oor betrokkenheid by die uitvoering daarvan.

Die gedagte van interkerklik is seker al antwoord. Die begeerte om mense te waarsku is sterk en ek glo dit is wat God wil hê. Die wonder is dat ek weet ek is gered en ek ken die waarheid, die hartseer is dat daar so min ander mense is wat dit ervaar en ek moet dalk my probleem voor God lê en nie by julle nie. My gedagtes het ek al gedeel met mense en die goeie nuus is dat daar baie meer mense is wat wil deel in die Groot Genade en geloofsekerheid wil ervaar as wat die kerk van mening is. Die kerk het ‘n algemene siening dat  ongereddes nie kerk toe kom nie, hulle koppel selfs ‘n verdeling daaraan wat algemeen aanvaar word dat 2 derdes nie kerk toe gaan nie. Die meerderheid wat ek ontmoet het, wat ‘n persoonlike verhouding met Jesus het, behoort aan ‘n klein groep en nie aan tradisionele kerke nie.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou brief. Ek identifiseer 100% met wat jy sê en ek hoor jou frustrasie en ontnugtering.

Ek kom ook uit ‘n bepaalde kerklike tradisie, maar ek het lankal besef dat die institusionele kerk (enige denominasie of groepering), en ware gemeenskap van gelowiges wat erns maak met die Woord, dikwels twee verskillende dinge is. Ek veralgemeen nou natuurlik, want daar is waarskynlik individuele gemeentes in enige Christelike tradisie te vind (ook in jou tradisie) wat werklik daarna strewe om as ‘n verteenwoordiging van die liggaam van Christus te lewe. Ek glo dat strukture tog kan help om dinge gedoen te kry. Maar sodra mense aan die strukture en mensgemaakte reëls/idees begin vashou, dan is dit beslis so dat die Heilige Gees nie meer in mense kan werk nie en dat mense ophou om Jesus-volgelinge te wees.

Kerkwees is veronderstel om te verwys na enige groep mense wat bymekaar kom om hul medegelowiges met hul gawes te dien, om uit te reik na ander met die boodskap van die Evangelie en om die Here saam te leer ken, te loof en te aanbid. Terloops, dit is beslis ook my belewenis dat egte gemeenskap van gelowiges meer tot sy reg kom in ‘n kleiner opset, soos byvoorbeeld ‘n selgroep, as om te dink dit gebeur per definisie in ‘n tradisionele erediens op ‘n Sondag!

Soms beleef ons frustrasie omdat ‘n “kerklike struktuur” in die pad hiervan staan en dan het ‘n mens ‘n keuse van twee dinge: 1) Probeer om ‘n struktuur te help verander sodat dit ‘n middel tot ‘n doel dien en nie die doel opsigself is nie (ons doel is nie om ‘n struktuur in stand te probeer hou nie, maar om verhoudings te bou ter wille van die Koninkryk); of 2) soek na ander gemeenskap van gelowiges wat die Bybelse beginsels van ‘n verhoudingsgesentreerde lewenswyse verstaan en wat erns maak met wat God in sy Woord hieroor aan ons openbaar.

Jy sal wysheid van die Here moet vra om te weet wat jy in jou spesifieke situasie te doen staan. Dit mag wees dat die Here van jou vra om ‘n aktiewe rol te speel in die plaaslike gemeente waarvan jy deel is om verandering te help meebring (natuurlik met die hulp van ander wat soos jy dink). Ek is van mening dat daar beslis groot fout is in die opleiding van predikante waar iets so sentraal aan die Christelike geloof soos die liggaamlike opstanding deur baie teoloë aan Suid-Afrika se kweekskole ontken word. Maar ek dink dat solank dwaalleer nie deursyfer na jou spesifieke gemeente nie, hoef jy jou sekerlik nie daaraan te steur nie (tensy jy, as gevolg daarvan, eerder nie geassosieer wil wees met die denominasie waarin hierdie predikante wat nie meer in die Evangelie glo nie, opgelei word nie.)

Dit mag wees dat die Here jou dus lei om hom te volg saam met ‘n ander groep gelowiges. Ek sou natuurlik nie kon sê wie dit sou wees nie, maar onthou egter dat enige groep mense hul eie stel bagasie en foute na die tafel bring en ‘n mens sal altyd wysheid nodig hê om dinge te bestuur (selfs in ‘n interkerlike groepering). M.a.w. dis nie net strukture wat probleme kan veroorsaak nie, maar ook mense (omdat ons almal geneig is tot sonde en eie gewin).

Oor een ding is ek seker: Jou besorgheid en onvergenoegdheid is ‘n teken van ‘n aktiewe geloof wat daarna streef om ‘n geïntegreerde lewe te leef (een waarin die alledaagse lewe en geloof nie in aparte kompartemente verdeel is nie). Ek wil jou aanmoedig (en wil graag 1 Tim 4:11-16 aan jou voorhou) om aan te hou soek na maniere waarop God die eer sal kry, waar die mense om jou die beste gedien kan word, en waar die Heilige Gees die beste in jou kan werk tot geestelike volwassenheid.

Laat hoor gerus weer van jou as jy graag wil.

Groete
Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.