Denominasionele brille

Geagte Udo

Ek het ‘n hekel aan denominasioneel-gebonde denke, denke wat soos brille voor mense se oë funksioneer. Wat ek bedoel is iets soos bv die volgende. Iemand vra my oor die hoop in my is (1 Pet 3:15), sê oor lewe na die dood. Wanneer ek antwoord is my antwoord in werklikheid my denominasie se siening in stede van die Skrif self.

My begeerte is dat daar ‘n dag moet aanbreek wanneer ons verby denominasionele grense (Baptis, Metodis, Gereformeerd, ens.) sal argumenteer na die Skrif self toe. Nou as jy Pagan Christianity (‘n kontradiksie en tog so waar) gelees het, dan sou my volgende vraag dalk nou vir jou beter sin gemaak het: hoe sou ‘n teologie of apologetiek gelyk het wat gebou was op “’n kerk sonder mure”??? Ek kan nie dink aan ‘n rede hoekom ons moet ophou reformeer nie.

Beste groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ons het lanklaas gepraat, ek hoop dit gaan goed.

Ek stem saam dat ‘n mens die gevaar loop vir blindekolle en selektiwiteit deur die Bybel met ‘n bepaalde denominasionele bril  te lees. Tog is dit nie vir my so groot probleem (maar kan ‘n probleem word) om tog ‘n bepaalde denominasionele siening te hê nie. Poog ‘n bepaalde denominasie dan nie om met sy belydenisskrifte (formeel of informeel) ‘n sistematiese geheel daar te stel wat wil help met verantwoordelike skrif-interpretasie nie? Natuurlik moet ‘n mens voortdurend ‘n kritiese oog hou oor jou vertrekpunte en vooroordele en hoe dit verband hou met die hele skrif, maar ek kan nie sien hoe ‘n mens regtig ‘n bepaalde siening vanuit die skrif kan vryspring nie en dat dit verkeerd sou wees om dit op ‘n sistematiese manier in bepaalde belydenisse uiteen te sit nie.

As ek sê ek is ‘n Protestants, Gereformeerd en Evangelies, het ek dan te veel gesê? Maar as ek net sê ek is ‘n Christen en glo in die Bybel, het ek dan nie dalk weer te min gesê nie? Is daar nie baie mense wat sê dat hulle Christene is en dit nie is nie? En is daar nie baie mense wat sê hulle glo in die Bybel, maar dan eintlik ‘n totaal ander teologie aanhang as die ortodokse Christelike geloof nie?

Ek stem saam met jou dat ‘n kerk sonder mure, sonder die starre geinstitusionaliseerde engheid (en dikwels doodsheid) vir baie mense vryheid kan bring en ‘n groter en ware getuienis van wie God is kan wees. Ek pleit ook daarvoor. Maar ek dink daar is ‘n verskil tussen ‘n kerk sonder mure wat ruimte het vir ander se sienings en ‘n kerk sonder grense wat nie kan of wil bely wat sy glo nie.

Goeie wense
Udo

Sien ook:

3 Comments

  1. deurdag en eerlik. ek stem saam met die antwoord op hierdie vraag. wat julle anders maak as ander soortgelyke bedieninge is dat wanneer julle antwoord op ‘n vraag, gorrel julle nie. julle antwoorde is goed deurdenk. baie dankie daarvoor.

  2. Die Bybel is ‘n komplekse boek en moeilik om te verstaan as daar verder as die kern-waarhede bestudeer word. “Denominasioneel-gebonde denke” kan vergelyk word met wetenskaplike modelle wat ‘n raamwerk bied waarbinne Skrif-interpretasie en navorsing geskied. Sekere modelle is goed en lei tot goeie oplossings vir kwessies, ander is swak en lei noodwendig tot ‘n verwronge beeld van die realiteit. Hoe did ookal sy, hierdie modelle is nodig om struktuur te gee aan die studie van God se realiteit, en buite ‘n model kan geen sistematiese en verantwoordbare Skrif-interpretasie plaasvind nie. Jy self het so ‘n model. Bewustelik of onbewustelik. (Ek lag so wanneer ek van “interdenominasionele” kerke hoor net om dan uit te vind hulle is Calvinisties in hulle leer of Pinkster of Charismaties of iets dergliks). Soos goeie navorsers moet ons as Bybelstudente die beskikbare getuienis opweeg om te sien hoe dit in elke model verantwoord word, en dan die beste model kies om die Skrif mee te interpreteer.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.