Jesus, die kruis en geloofsekerheid

Hallo Udo

Ek het my pastoor gevra of daar ooit ‘n manier is om te weet of jy hemel of hel toe gaan. Hy sê toe dat as jy ‘n honger het vir God en elke dag jou Bybel lees en jou lewe net vir God leef, sal jy hemel toe gaan.  Sy antwoord pla my egter, want ek probeer om my lewe reg te leef en goed te doen, maar ek maak nie altyd tyd om Bybel te lees en tyd met God te spandeer nie.

My vriendin het een keer gesê dat ons Jesus moet leer ken, maar ek verstaan nie regtig hoekom God ons so lief het dat Hy Sy Seun vir ons sonde laat sterf het nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink daar is baie mense wat nie verstaan wat dit beteken om seker te wees dat hulle hemel toe gaan nie. Ek stem natuurlik saam met jou pastoor dat ‘n mens wel kan seker wees dat jy hemel toe gaan. Maar hier is die verrassende ding: sekerheid hang nie af van hoe ‘n goeie lewe jy dink jy moet lei nie. As dit so was, dan is dit eintlik onmoontlik om seker te wees, want niemand van ons kan aan die standaard voldoen van wat ‘n “goeie lewe” werklik is nie. God bepaal daardie standaard – nie ons nie.

Wat beteken dit dan om te sê dat Jesus vir ons sonde gesterf het? Wel, die eerste ding om te verstaan is dat die feit dat niemand aan God se standaard vir ‘n goeie lewe kan voldoen nie, “sonde” genoem word. Ons is almal sondige mense in vergelyking met God wat sondeloos (Heilig) is. En dit is juis omdat God Heilig is dat daar ‘n skeiding is tussen mens en God, ‘n breuk in ons verhouding met God wat ons nie self kan herstel nie (a.g.v. ons sondige aard as mense).

So, hoe kan daardie breuk tussen ons en God dan herstel word? Die antwoord is dat Jesus dit moontlik gemaak het toe hy aan die kruis gesterf het. Omdat Jesus self ook God was, het hy die sonde wat ‘n skeiding tussen ons en God veroorsaak, op Hom geneem en toe, as’t ware, saam met die sonde gesterf. (Dit is omdat Hy vir ons lief is dat hy dit gedoen het, want om vir ewig van God geskei te wees weens ons sonde is ‘n verskriklike ding om te beleef.) Dit beteken dat sonde nou nie meer in ons pad staan om ‘n verhouding met God te kan hê nie. Die manier om ‘n verhouding met God te begin is bloot deur te glo dat God so ‘n verhouding moontlik gemaak het toe Jesus aan die kruis vir jou sonde gesterf het. Met ander woorde, dis nie wat ons doen, soos om ‘n goeie lewe te probeer lei, wat ons in die regte verhouding met God bring nie, maar wat ons glo Jesus gedoen het wat ons in die regte verhouding met God bring. Hierdie geloof het onder andere die volgende implikasies:

  • Ons kan seker wees dat ons hemel toe gaan, omdat Jesus vir ons sonde gesterf het (dis sonde wat ons uit die hemel gehou het).
  • God verbind Hom deur sy Heilige Gees aan ons lewens sodat ons nou kan leef soos wat hy wil hê (ons leef dus ‘n goeie lewe omdat God ons deur sy Gees in staat stel om dit te doen en nie omdat ons daardeur God se guns probeer wen nie).
  • Ons is nou kinders van God en alhoewel ons soms nog sonde gaan doen, is ons in staat deur die Heilige Gees se krag om die sonde in ons lewe te oorwin en al meer te groei na geestelik volwasse mense.

Net om weer op te som: dit is geloof in wat Jesus vir ons gedoen het, wat ons sekerheid gee dat ons hemel toe gaan. As hierdie geloof die begin van ons verhouding met Jesus is, dan beteken dit natuurlik dat dit nodig is om Hom beter te leer ken. Daarom word dinge soos Bybelstudie, gebed en tyd saam met ander gelowiges belangrik, nie omdat dit dinge is wat ons doen om God te beïndruk nie, maar omdat dit maniere is om Hom beter te leer ken. Wat God van ons vra as ons werklik glo dat Jesus vir ons sonde gesterf het, is nie maar net om ‘n goeie lewe te lei nie, maar om Hom te leer ken. Dit is wanneer ons Hom al beter leer ken, dat die leef van goeie lewe algaande iets word wat ons is en nie meer iets wat ons probeer doen nie!

Skryf gerus enige tyd as daar iets is waaroor jy vrae het.

Groete

Udo

Sien ook die volgende gedeeltes in hierdie verband:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.