Moet ek aanhou vra om vergewe te word?

Hallo!

Ek wil graag weet, as jy iemand te na gekom het, en dadelik besef het dat jy verkeerd is, en jy het die persoon onmiddelik om verskoning gevra, maar die persoon wil dit nie aanvaar of jou vergewe nie – wat doen ‘n mens?  Hou jy aan en maak die persoon dalk net nog kwater, of los jy dit en weet dat Jesus jou vergewe het, want dit is opreg?

Dankie

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink ‘n mens moet besef hoe moeilik dit soms vir ons is om ander te vergewe wanneer hulle ons baie seergemaak het of te nagekom het! Ek dink daarom nie ons hoef te verwag dat ander ons dadelik sal vergewe wanneer ons hulle daarvoor vra nie. Dis goed om die mense teenoor wie ons verkeerd gehandel het, die tyd en ruimte te gee wat hulle nodig het om dinge vir hulleself deur te werk. Ek dink wel dit maak dit vir hulle makliker om te weet dat ons erken dat ons verkeerd opgetree het en dat ons om vergifnis vra. Maar ons het almal soms eers tyd nodig om die pyn of onreg te verwerk, en partykeer selfs om eers agter te kom of die ander persoon opreg is in hulle berou.

Ek glo dat wanneer ons ‘n verhouding met Jesus het en verstaan dat dit ten diepste slegs Hy is wat ware genesing vir ons pyn bring, dan sal ons altyd op die punt kan kom om ander te vergewe. En tog is vergifnis nie iets wat ek van ander kan eis nie. Vergifnis is baie soos liefde – ‘n mens kan dit slegs vrylik gee. Daarom dink ek dat as ‘n mens berou getoon het teenoor iemand en vergifnis gevra het (en ja, weet dat Jesus jou vergewe het), dan moet ‘n mens maar geduldig wees en nie karring nie. Vir daardie persoon om tot die punt te kom om jou te vergewe is ‘n saak van persoonlike geestelike groei. Ons moet dus aanvaar, al is dit ook moeilik, dat tot en met so ‘n persoon jou nie kan vergewe nie, sal die verhouding nooit regtig kan herstel nie.

Ek stel voor dat jy daarom voortdurend sal wys dat jy steeds omgee, selfs al wil die ander persoon dit nie weet of raaksien nie. Maar weerhou jou van die versoeking om herhaaldelik te sê jy’s jammer – jy het reeds om vergifnis gevra. Die bal is nou aan die ander persoon se kant waar hy/sy dit een of ander tyd, as die verhouding belangrik genoeg geag word, moet kan terugspeel.

Ons moet almal soms daaraan herinner word dat verhoudings tussen mense nooit perfek is nie, ons almal maak foute. Ons moet besef dat verhoudings baie kosbaar is en nie sommer prysgegee behoort  te word nie. Foute is daar om uit geleer te word (dus daarom nie mislukkings nie) en wanneer ons dit reg hanteer kan dit die verhouding self sterker laat word.

Ek hoop hierdie perspektief kan vir jou iets beteken.

Groete
Udo

 

Hallo Udo,

Baie dankie.  EK kan nie sê ek voel beter oor die hele situasie nie, maar ja ek verstaan en sien dinge nou anders as voorheen en my hart voel ligter.  Ek dink ek moet dinge in my lewe en huwelik en tussen vriende net een dag op ‘n slag vat en onthou dat dit nie my tyd is nie, maar Sy tyd.

Weereens baie dankie.

Winkelsmidt

 

Hallo Udo

Wat word bedoel met die term “standing in the gap” vir iemand? Is dit Bybels?
Party mense beweer dis om namens iemand vergifnis te vra. M.a.w. as iemand my seergemaak het en ek wil daardie persoon vergewe, dan i.p.v. om vir haar in persoon jammer te sê, neem ‘n ander persoon sy “plek” sodat ek haar kan vergewe en sy kan jammer sê (namens die ander persoon) vir my. Ek voel nie gemaklik daarmee nie. Mense verwys na skrif soos, Nehemia 1, Daniel 9, Esra 9 en 1 Joh 5:16.

Ek sien uit om te hoor wat jy sê.

Lekker dag.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek verstaan die idee van “standing in the gap” as ‘n manier van voorbidding vir bepaalde sake. Die gedagte het waarskynlik sy oorsprong by verse soos Eseg 13:5 en Eseg 22:30, maar ook miskien in gedeeltes soos Neh 4:13.

Die idee om egter teenoor ‘n onpartydige persoon te sê dat jy hulle vergewe, klink vir my onbybels. Ek kan ook nie sien hoe die gedeeltes waarna jy verwys so ‘n gedagte ondersteun nie.

Ek kan wel sien hoe so ‘n manier van doen, die persoon aan wie die onreg gedoen is, sielkundig beter kan laat voel. Maar ek dink dit berus op valsheid, want die persoon wat jou die onreg aangedoen het, is mos nie die persoon wat jou om vergifnis gevra het nie.

Tog wil ek hier ‘n paar dinge noem. Die eerste is dat ons nie afhanklik is van ander se vergifnis om heel te word van ons seer nie. Daarvoor weet ons dat ons by die Here heling vind en dat ‘n deel van sulke heling beteken dat ons hulle wat ons seergemaak het, sal kan vergewe (op ‘n stadium) al vra hulle nie daarvoor nie. Ek dink ook nie dat ons ander kan dwing om skuld te erken vir hoe hulle ons seergemaak het nie. Natuurlik wil ons dit graag hê en ‘n verhouding kan slegs werklik herstel as dit gebeur. En tog is dit wel moontlik en Bybels (as ons eers weer gesond is van ons seerkry) om teenoor hulle wat ons seergemaak het, openlik te bely dat hulle ons seergemaak het, maar dat ons hulle daarvoor vergewe het. As hulle dan hulle skuld erken en om vergifnis vra, dan is dit goed so en kan dit baie vir die herstel van die verhouding beteken. Maar as hulle nie doen nie, dan het ons hulle ten minste die kans gegee om gesond te word van hulle eie skuldgevoelens en pyn. Ons is egter dan nie verantwoordelik vir ander se versuim om daardie kans te gebruik ter wille van die verhouding nie.

Ek weet hierdie saak (oor vergifnis) is ‘n baie moeilike aangeleentheid en hoewel ek glo in die waarde van bogenoemde benadering, probeer ek glad nie vir jou raad gee nie, want ek weet nie presies wat jou omstandighede is nie.

Ek hoop dit help. Laat weet gerus as iets onduidelik is of as ek jou nie mooi verstaan het nie.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.