Jesus, die duiwel of die see?

Sien die ander gedeeltes in hierdie gesprek:

____________________________________________________________________

André van Zyl reageer op Stefan Louw

Inleiding

Daar het onlangs ‘n artikel met die titel “Duiwel of see” in die “Beeld’ verskyn wat ‘n verkorte weergawe van ‘n artikel op die Internet is. Die artikel het treffende (dog sensasionele) grafika as bykomstigheid gehad wat ‘n half oop deur uitbeeld met ‘n kennisgewing in helder rooi letters wat sê “Gays: REG VAN TOEGANG VOORBEHOU”. Hierdie artikel deur Stefan Louw verdien verdere aandag.

Die artikel benader die debat oor homoseksualiteit deels uit ‘n nuwe hoek en daar word verskeie baie goeie punte gemaak. Tog steun die artikel ook op ‘n paar halwe waarhede en drogredenasies wat tot ‘n paar aanvegbare gevolgtrekkings lei.

Punte van ooreenkoms

Die artikel is veral waardevol in die kritiek wat op die kerk en die media uitgespreek word oor die sensasionalisering van die gay-debat. Die debat word uitgebuit om punte te wen in die interne kerk-debat en om koerante en tydskrifte te verkoop. Daar word ‘n sterk punt gemaak oor die verlies aan objektiwiteit in die media en die vervanging daarvan met ‘n overt subjektiewe benadering waarin polarisasie aangemoedig en ondersteun word.

Verder bring die artikel die verkeerde hantering van die gay-kwessie in die kerk duidelik na vore. Die verwerping van mense wat deel van die gay-gemeenskap vorm en die veroordeling vanaf die kerk se kant word uitgewys. Hierdie verwerpings-kultuur het nie ‘n veilige ruimte gelaat vir homoseksueel georiënteerde mense om hul verhouding met die Here binne die kerk uit te leef nie. Die kritiek wat Louw op altwee hierdie sake uitspreek is baie geldig en goed gemotiveerd.

Die stemming en inhoud van die artikel dui ook op ‘n baie sensitiewe hantering van die saak. Daar word op ‘n volwasse manier daaroor nagedink. Met die eerste oogopslag, lyk dit nie asof Louw een van die twee kante kies wat volgens hom in die kerk-debat bestaan nie. ‘n Nadere lees van die artikel dui egter wel op ‘n sterk voorkeur vir die sogenaamde pastorale benadering. Verder is daar heelparty belangrike kwessies waaroor daar nie direk in die artikel uitspraak gelewer word nie; Tog moet hierdie kwessies aangespreek word. Dit sou interessant wees om direkte antwoorde te hoor oor sake soos die oorsake van homoseksuele oriëntasie. ‘n Mens sou ook wou weet hoe die Bybelse uitsprake oor homoseksualiteit dan hanteer moet word. Om met ‘n wye algemene stelling te insinueer dat ‘n bepaalde hantering van Bybelse uitsprake oor homoseksualiteit grens aan flagrante eksegetiese opportunisme is ‘n arrogant en onverantwoordelik. Veral as daar geen poging aangewend word om so stelling te motiveer nie. Ook is daar ‘n vraag na die verdere implikasies van die relativering van die Bybel op moraliteit in die samelewing.

Probleme met die artikel

Daar is beslis ‘n paar probleme met Louw se standpunt soos in die artikel vervat. Sy standpunt val goed op die postmoderne oor, maar neem nie die praktiese implikasies in ag nie. Hierdie implikasies het betrekking op die beskouing van kerkleer en die praktiese uitleef van ‘n Bybelse moraliteit. Die argumente wat in die artikel gebruik word, bevat ‘n hele paar onbewese stellings wat as feite op die tafel gesit word:

In ‘n verduideliking van die standpunt wat Louw ondersteun begin hy die paragraaf met: “‘Pastorale omgang toon…” In die daaropvolgende gedeelte word geïnsinueer dat daar bewyse bestaan dat homoseksualiteit niks met die keuse van ‘n individu te doen het nie, maar dat die persoon ‘n magtelose slagoffer is van genetika, omgewings- en sosiale faktore wat “voor puberteit” die persoon se seksuele oriëntasie “vaslê”. Hierdie oriëntasie sou dan ook nie na puberteit kan verander nie. Indien Louw hierdie stelling kon bewys (toon) sou dit die hele debat op sy kop keer. Daar is egter geen studies wat onomwonde bewyse of verklarings vir die oorsprong van die verskynsel van homoseksualiteit bied nie. Daar kan in die navorsing bewerings gemaak en gespekuleer word, maar geen klarigheid oor die oorsake of die veranderbaarheid van ‘n homoseksuele oriëntasie word gebied nie.

‘n Belangrike vraag wat uit die bogenoemde punt vloei is: Is die mens regtig ‘n slagoffer van omstandighede en genetika? Indien die antwoord op hierdie vraag “ja” sou blyk te wees, sou dit baie morbiede implikasies vir die mens se lot hê. Om die waarheid te sê, sou hierdie gevolgtrekking alle mense tot slagoffers van omstandighede en genetika verdoem. Tog is die boodskap van die evangelie juis die teenoorgestelde. Die bevrydende boodskap van die evangelie is dat mense nie slagoffers of slawe van eksterne faktore is nie, inteendeel, hulle is meer as oorwinnaars in Christus. Slawe van Christus wat vry is om hom te dien.

Tweedens wys Louw op die aandeel wat die kerk daaraan het om mense na ‘n gay-subkultuur te dryf. Hier het hy ‘n geldige punt: Die kerk het nie in die verlede ‘n veilige hawe geskep vir gay mense nie. Louw kan egter nie met sy redenasie die blaam ten volle op die kerk laat rus nie. Dryf die kerk mense na Casinos deur nie dobbelmasjiene in die kerk toe te laat nie? Mense wat dit reeds vir hulself geregverdig het om na dobbelhuise toe te gaan, vervies hulle maklik vir die kerk wanneer hulle gedrag nie goedgekeur word nie. Hoewel die kerk in die geval van die gay-debat in die verlede die mens én sy sonde verwerp het (wat verkeerd was), is die oplossing nie om nou die sonde saam met die sondaar te aanvaar nie. Homoseksuele mense moet in die kerk verwelkom en aanvaar word, maar daar kan nie van die kerk verwag word om hulle dade wat in stryd met die Bybel se riglyne is goed te keur nie. Die gay-subkultuur is nie ‘n skepsel van die kerk nie, dit sal bly voortbestaan maak nie saak wat die kerk doen nie.

Derdens blyk dit dat Louw ‘n baie ontoereikende siening het van die onderliggende kwessies deur sy analise en interpretasie van die wet/genade aspek en die boodskap van Romeine. Die boodskap wat Jesus kom predik en kom uitleef het en wat Paulus so duidelik in die brief aan die Romeine bevestig, spreek van ‘n onvoorwaardelike aanvaarding van die sondaar. Dit beteken totale versoening met God vir die sondaar, sonder verdienste van sy eie kant af, deur die soenoffer van Christus. Hierdie aanvaarding van die sondaar kom egter nie sonder ‘n heilige haat vir die sonde nie. Die sonde van die mens is juis die rede waarom Christus so moes lei en uiteindelik sterf. Dit was die duurste prys wat nog ooit vir enigiets betaal is. Die gelowige behoort nou as eiendom en slaaf aan God en wil en moet uit dankbaarheid aan God gehoorsaam en toegewyd lewe. Jesus het nooit sonde gerelativeer asof dit in een situasie sou geld en nie in ‘n ander nie. Hy wys dit af en sê mense moet ophou sondig. Hy releveer WEL die gevolge van die sonde (die ewige dood). Hy plaas dit in die regte verband deur self die straf daarvoor aan sy eie liggaam te dra. Paulus weerspreek glad nie hierdie gedagte nie. Hy roep die sonde by die naam en Romeine 8 dien om ons te herrinner dat die straf van hierdie dade reeds gedra is. Dit is beslis nie die daad wat gerelativeer word nie, maar dit beteken terselfdetyd dat die natuurlike en logiese gevolge daarvan ons nooit van die liefde van Christus sal skei nie.

Paulus het nie sy bedoeling in die brief aan die Romeine oopgelaat vir ‘n interpretasie soos wat Louw maak nie. Romeine 6 is een van die verbindingsgedeeltes wat die argumente in Romeine 1 en 8 met mekaar in verband bring. Die hele gedeelte is van toepassing, maar hier word net verse 15 en 16 aangehaal:
“Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is.”

Vierdens stel Louw dit dat die “natuurlike onderskeid” tussen mense nie meer dien as onderskeid in die kerk nie. Hiermee plaas hy homoseksualiteit op dieselfde vlak as geslag, ras en ouderdom. Homoseksualiteit het egter in teenstelling met die ander aspekte ‘n morele karakter. Waarom sou Louw wil beweer dat homoseksualiteit op dieselfde vlak as ras lê? Is dit omdat dit geneties bepaal sou wees of is dit omdat dit nie verander kan word nie? Soos reeds genoem, is nie een van hierdie twee punte bewese feite nie. Genetika speel ‘n belangrike rol in baie van die negatiewe neigings en gedrag van mense wat nie vir Louw aanvaarbaar sou wees nie. Pedofilie, drankmisbruik en owerspeligheid het almal ‘n genetiese komponent. Nie een van hierdie aspekte is veranderbaar slegs deur keuse nie en val in hierdie opsig in dieselfde kategorie as homoseksualiteit. Die enigste manier waarop Louw se argument kan stand hou is om die morele karakter van homoseksualiteit te ontken. Is seksualiteit ooit amoreel? Om hierdie vraag te beantwoord is dit eenvoudig nodig om dit in die konteks van ‘n verhouding te plaas. Indien seksualiteit regtig amoreel is, kan daar verskeie liefdevolle seksuele verhoudings buite die huwelik, voor of sonder die huwelik selfs tussen volwassenes en kinders bestaan. Hierdie ontkenning sou inpas by die polities korrekte, postmoderne standpunte wat op gevoel berus. Hierdie standpunte en gevoelens is en kan nie genoeg wees om die Bybel te weerspreek nie. Maak nie saak hoeveel gay mense ons ken en maak nie saak hoeveel simpatie ons met hul situasie het nie. Die Bybel is in ‘n baie permissiewe samelewing aan mense geskryf wat bewus was van homoseksuele praktyke. Tog word homoseksualiteit gelys saam met die dade en geneigdhede waarvoor die mens wel verantwoordbaar is en wat ‘n morele karakter het. Om te sê dat alles onderdanig moet wees aan die beginsel van liefde en dat ‘n monogame liefdevolle homoseksuele verhouding daarom christelik regverdigbaar sou wees, is ‘n foutiewe redenasie. Christelike moraliteit is gegrond in wat God in gehoorsaamheid van mense vra en nie in wat mense voel liefdevol sou wees nie.

Paulus noem ‘n verskeidenheid amorele eienskappe wat nie in die kerk ‘n verdeling tussen mense mag bring nie (ras, geslag ens.), maar hy sluit nie homoseksualiteit hierby in nie. Inteendeel homoseksualiteit word geplaas tussen die lys van sondes wat ‘n definitiewe morele basis het. Moderne navorsing en verstaan van homoseksualiteit het definitief nie genoeg getuienis na vore gebring om hierdie verdeling wat Paulus maak en wat in die kerkleer vasgelê is omvêr te werp nie.

Vyfdens stel Louw dat die debat oor homoseksualiteit in wese Armeniaans is. Dit sou net waar wees indien die kerk die afsweer van ‘n homoseksuele oriëntasie as ‘n voorvereiste vir redding sou stel. Daar is egter min Christene wat hierdie standpunt sou inneem. Alle mense kan tog deur die verlossingswerk van Christus met die Vader versoen word sonder om eers iets op te gee of enige ander vorm van verdienste van hulle kant af. Die vraag ontstaan egter oor wat die dankbaarheids-werk behels wat volg op die volkome verlossing van ‘n sondaar? Kan natuurlike drange en of behoeftes hiervan uitgesluit word bloot omdat hulle ter wille van die argument aangebore of geneties sou wees? Filipense2:5 sê. “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…” Paulus gaan voort om te verduidelik hoe Jesus alles wat hy was en kon wees aan die Vader as offer opgegee het. Jesus het ‘n keuse gehad om sy Godheid in al sy krag uit en majesteit uit te leef (Matt 26:53). Sy keuse was egter eerder om gehoorsaam te wees.

Sesdens beweer Louw dat daar iets ekstra van gays mense in die kerk verwag word. Dit is waar dat die kerk in die verlede ’n “verwerp en verwyder”-leer voorgehou het. Hierdie leer het egter opgehou om die waarheid van ‘n dankbare en gehoorsame lewe aan alle lidmate te verkondig, maar in stede daarvan is ‘n genade-“welvaartsteologie” opgerig en gepredik. Die waarheid waarop hierdie teologie gebou is, is wel dat die mens uit genade alleen en deur die werk van Christus alleen, deur geloof alleen gered word. Hierdie genade boodskap is egter losgemaak van die logiese en onafwendbare gevolg wat daaruit voortvloei, naamlik ‘n lewe van toenemende heiligwording en gehoorsaamheid aan God. Dit is een van die redes waarom die kerk geloofwaardigheid en haar vermoë om ‘n impak op die samelewing te maak, verloor het. Geredde mense sonder dankbare gehoorsame lewens, weerspreek met hul lewens die boodskap wat hul monde verkondig. Die oplossing is nie om alle mense se sonde in die kerk toe te laat nie, dit is eerder om alle lidmate weer in die kerk te begin aanspreek en aanspoor tot gehoorsame lewens.

Die sewende punt wat Louw maak is deur te vra of daar van iemand verwag kan word om die seksuele komponent van sy lewe op te offer om Christen te wees. Louw laat dit klink asof iemand nie volwaardig mens kan wees sonder dat hierdie komponent geaktualiseer is nie. Wat dan van ongetroude gelowiges of priesters wat nooit trou nie? Onderdruk hierdie mense ‘n deel van hul menswees wat ‘n onnatuurlike toestand is en tot allerlei probleme sou lei? Die skrywer van hierdie artikel is ‘n ongetroude man en daar bestaan in sy gemoed geen twyfel dat seksuele aktiwiteit iets sou wees waaraan hy nooit sal deelhê in sy Christelike wandel, indien hy nie sou trou nie. Dit is ‘n keuse, nie uit dwang nie, maar uit dankbaarheid en gehoorsaamheid aan God se voorskrifte in die Bybel.

Laastens beroep Louw homself op ‘n nuwe inklusiewe seksuele moraliteit wat binne die kerk geskep moet word. Hierdie voorstel laat egter ‘n vraag ontstaan: Wat is die motivering vir die voorgestelde verandering van ‘n siening oor moraliteit (sien punt 4), wat al vir duisende jare bestaan. Is dit gegrond op ‘n nuwe insig of verstaan van die Bybel? Tog is dit twyfelagtig dat moderne teoloë skielik met ‘n betroubare “nuwe” verstaan vorendag sou kom. Iemand moes dit al in die afgelope 2000 jaar raakgesien of verstaan het. Indien die voorgestelde nuwe moraliteit nie op die Bybel gegrond is nie, maar op humanistiese idees en moderne invloede in die kerk, is dit gedoem om baie meer skade as goed te doen. Die mens en sy veranderende idees kan nooit as basis vir Christelike moraliteit dien nie.

Daar is nie ‘n behoefte aan ‘n nuwe moraliteit nie, daar is ‘n behoefte daaraan om die ou moraliteit weer ernstig op te neem (nie volgens kerkleer nie, maar volgens die Bybel, sien punt 4) en om dit uit te leef. Jongmense is vandag baie deurmekaar en seksueel permissief. Dit sluit hetro- en homoseksuele verhoudings in. Hulle soek vryheid en betekenis hierin, maar eindig op as slawe van hul eie drifte. Jesus roep die mensdom om hom te volg as slawe en beloof om elkeen wat aan hom onderwerp, heeltemal vry te maak.

Slot-woorde

Die diepste bedoeling van die evangelie is die liefde vir God en die naaste, maar nie in die postmoderne betekenis van die woord “liefde” nie. Liefde soos dit in die evangelie na vore kom, gaan oor opoffering en gehoorsaamheid. Dit gaan nie oor die mens nie, maar oor sy Meester; nie oor die aanvaarding van natuurlike eienskappe nie, maar oor die herskepping van stukkende mense. Die evangelie verloor sy betekenis wanneer dit verval in ‘n mensgesentreerde dokument wat oor die mens se geluk en die bevestiging van die mens se waarde gaan. Die evangelie van genade stel die teenoorgestelde. Die mens is gebroke, waardeloos en korrup, maar uit genade stuur God sy Seun en koop die mens los met Jesus se soen-offer. Dit gaan nie oor die mens se “geluk” nie, maar oor sy redding.

Dit is nie ‘n wetgebasseerde of ‘n mensgebasseerde boodskap nie. Dit sentreer rondom Jesus as die uitdrukking van God se liefde, God wat die mens geskep het en nou sy eie skepsel koop om weer aan Hom te behoort. Een van die logiese implikasies hiervan is dat die mens uit liefde en dankbaarheid aan God gehoorsaam gaan wees, al hou hy nie altyd van wat God vir hom sê nie.

Daar kort nie ‘n volwasse of gesofistikeerde inklusiewe hantering van hierdie saak nie. Daar kort ook nie ‘n wettiese veroordeling van homoseksueel georiënteerde mense nie. Dit is die twee opsies waarvoor Louw die leser stel. Is daar ‘n derde alternatief? Die Bybel stel een voor. Dit is nie die maklike alternatiewe van alles insluitende aanvaarding óf van wettiese verwerping nie, dit is die radikale derde alternatief wat Jesus kom illustreer het. Liefde vir die sondaar, maar haat vir die sonde.

Daar kort ‘n liefdevolle aanvaarding en verwelkoming van die homoseksueel georiënteerde mens soos Christus dit sou gedoen het. Hierdie liefdevolle aanvaarding van die mens moet gekombineer word met die waarheid van die res van die Bybelse boodskap. Dit is vir geen Christen lekker om vir iemand vir wie jy lief is te sê “Jy is verkeerd” nie. Om egter te sê “Jy is verkeerd” beteken nie dat minder liefde aan ‘n persoon wat verkeerd is betoon word nie. Ook die homoseksueel georiënteerde mens mag nooit voel dat hy nie aanvaar en liefgehê word nie. Daar mag nooit ‘n meerderwaardige veroordeling wees nie. Dit is die boodskap van die Bybel. Alle gelowiges beleef hierdie boodskap wanneer die Bybel uitspraak lewer op ons sondige menswees. In hierdie opsig vorm alle Christene deel van ‘n gemeenskap van “Wounded Healers” soos Henry Nouwen die term gebruik. Almal het hul eie sonde en swakhede, elkeen het hul eie stryd om ‘n dankbare gehoorsame lewe te leef, en elkeen is ewe welkom. Nie een sonde is erger as ‘n ander nie. Nie een gelowige word vanweë hul swakheid verwerp nie, maar gelowiges is ‘n groep mense wat mekaar aanspreek en aanmoedig tot groter gehoorsaamheid en heiligheid.

Mag die kerk die derde alternatief kies en nie een van die twee wat huidiglik voorgestel word nie. Hierdie alternatief beloof moeilike tye met baie saam swoeg en saam huil. Dit is nie ‘n eenvoudige alternatief soos blote aanvaarding of verwerping nie. Slegs die derde alternatief is ‘n volwasse alternatief wat die potensiaal het om ‘n langtermyn Christelike oplossing te bied.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.