Ons praat altwee Afrikaans, maar nie dieselfde taal nie!

Sien die vorige gedeeltes in hierdie gesprek:

____________________________________________________________________

André van Zyl antwoord Stefan Louw:

Beste Stefan

Dankie vir jou moeite met ‘n reaksie op my skrywe. Ek wil om verskoning vra dat my naam nie op die vorige skrywe aangebring was nie. Dit was geensins vanweë ‘n behoefte om annoniem te bly nie, maar omdat dit persoonlik aan jou gerig was en persoonlik deur Udo aan jou oorhandig is. Ek was onder die indruk dat jy bewus was van ons bediening, webwerf en dat jy geweet het die skrywe is van my (wat jy al een aand by Udo hulle ontmoet het).

Ek sou graag hierdie gesprek wou laat voortgaan, want ek dink daar is baie ryke geleentheid vir die ontginning van die onderwerp. Dit is ook tot so mate relevant dat ek dit graag verder sou wou ondersoek. My huidige frustrasie is dat dit voel asof ons effens by mekaar verby skryf oor die hele onderwerp. Dit lyk vir my asof jy ervaar dat ek jou verkeerd verstaan en ek beleef self dat jy sekere van die hoof-argumente in my stuk nie raakgesien het nie of verkeerd verstaan het. Ek dink nie dat so misverstand positief is vir die vordering van ons gesprek nie. Ek sou graag wou hê dat beide van ons die konstrukte waarmee ons werk duideliker moet definieer. Dit help nie ons gebruik beide dieselfde terme en bedoel nie dieselfde dinge nie. In die lig van hierdie behoefte, sal ek graag jou antwoorde op ‘n paar vrae wou hê. Ek onderneem om dieselfde vrae op skrif aan jou te beantwoord. Dit sal meehelp om onnodige misverstande uit die weg te ruim sodat die gesprek oor die werklike kernsake kan gaan. Jy is ook welkom om jou eie vrae by te voeg en ek sal poog om hulle so duidelik moontlik te beantwoord.

Hier volg die vrae waarna ek verwys:

  • Glo jy dat daar iets soos ‘n absolute reg of verkeerd bestaan? Kan hierdie absolute morele standard prakties geken word? Indien wel, hoe sou mens weet wat dit is?
  • Wat sou die gebod van die liefde bedoel as daar gesê word dat ond God moet liefhê? Hoe sou mens die liefde prakties uitleef?
  • Is seks tussen twee mense van dieselfde geslag (homoseksuele seks) in beginsel verkeerd?
  • Is seks buite die huwelik in beginsel verkeerd?
  • Wat is volgens jou die basis vir moraliteit?
  • Wat is die rol van die oorspronklike wet wat deur God gegee is in die lewens van vandag se gelowiges? Hierby sluit ek Paulus se voorskrifte in.
  • Wat is jou siening van die Bybel en die manier waarop dit God se boodskap aan die moderne mens oordra?

Ek sou ook graag ‘n paar dinge wou duidelik stel:

  • Ek glo geensins dat ‘n homoseksuele oriëntasie per se verkeerd is nie. In effek glo ek dat dit nie sonde is om homoseksueel georiënteerd te wees nie.
  • Niks kan die gelowige van die liefde van God skei nie, ook nie ‘n homoseksuele oriëntasie nie.
  • ‘n Homoseksuele oriëntasie is nie gelyk aan homoseksuele seksuele omgang nie. Hierdie stelling bou voort op die onderskeid wat beide van ons maak tussen oriëntasie en gedrag. Die basiese lees van die Bybel en verskeie betroubare kommentare is duidelik: Die Bybel sê homoseksuele seksuele omgang is verkeerd. Dit beteken nie dat so persoon daarom tot die hel verdoem is nie. Soos ek in die vorige stuk gesê het, alle Christene sondig steeds en ontvang God se vergifnis. Volharding in die sonde is egter ‘n ander saak, dit is ‘n konstante rebellie teen God.
  • Ek het baie waardering vir die pastorale omgang wat jy met homoseksuele mense het. My gebed is dat hulle die Here se liefde en verlossing mag leerken deur die pad wat jy saam met hulle stap.
  • Ek het nêrens te kenne gegee dat ek ‘n kenner is op die sielkundige aspekte van homoseksualiteit of die pastorale omgang met homoseksueel georiënteerde mense nie (alhoewel ek al heelwat literatuur van beide kante gelees het). Selfs mense met beide hierdie kwalifikasies verskil in elk geval baie met mekaar oor die saak. Indien dit nie jou indruk is dat hulle verskil nie, kan dit dalk wees omdat jy nie beide kante se literatuur lees nie. My relatiewe onkunde diskwalifiseer my nie van die gesprek nie, want ek probeer nie na ‘n oplossing soek waarvoor hierdie tipe kennis noodsaaklik sou wees nie. In my hart en gemoed is daar ‘n soeke na ‘n volhoubare Christelike hantering van die saak sonder die afwatering van die Bybel of die evangelie. Dit is juis daarom dat die twee strome wat in die kerk in stryd is, nie een vir my aanvaarbaar is nie. Die een gee die integriteit van die Bybel prys en die ander die liefde. Ek dink nie een van hierdie twee opofferings is nodig of aanvaarbaar nie. Beide is simplistiese hanterings en kan daarom nie lei tot ‘n werklik volwasse Christelike oplossing nie.

Die vorige twee skrywes…

Ek spreek in my oorspronklike stuk agt spesifieke sake aan. Ek sou op ‘n stadium in die toekoms graag jou reaksie op elkeen van die punte wou hê, want ek dink meeste van hulle is sentraal tot die debat. Ek kon antwoorde op so drie of vier in jou vorige skrywe opspoor, maar daar is nog ‘n hele paar uitstaande sake. Vervolgens sal jy my reaksie op jou laaste skrywe vind. Ek kan onmoontlik nie op alles wat jy in jou antwoord gesê het reageer nie. Dan sal ons weer by mekaar verby praat en nie werklik vorder in die gesprek nie.

My persepsie was dat sekere dele van my skrywe jou nie werklik aangestaan het nie. Hier en daar sou ek van die bewoording wou verander as ek weer na die stuk gaan kyk, maar ek vermoed as jy rustig en in konteks weer na die opmerkings oor “volkome blaam vir die gay subkultuur” en “genade welvaartsteologie” gaan kyk, jy sou besef dat dit ‘n ander betekenis impliseer as wat jy daaraan toedig. Veral die gedeelte oor ‘n “genade welvaartsteologie” is van belang. Die NG kerk het in die verlede alle sonde op ‘n praktiese vlak begin ignoreer (nie werklik in die kerk aangespreek nie) en net genade gepredik. Ek vermoed die feit dat homoseksualiteit ‘n seksuele sonde is en omdat die oriëntasie dikwels iets is wat overt sigbaar is, het die kerk dit uitgesonder met die “verwerp en verwyder” behandeling (so ook dinge soos ongehude moeders en owerspel). Hierdie ignorering van sonde is waarna ek verwys het as ‘n “genade welvaartsteologie”. Hiermee saam het die liefdevolle tug en die aanspreek van lidmate oor hul sonde (en aansporing tot ‘n heilige lewe) uit die kerk verdwyn.

Jy sê in jou reaksie dat jy nie die skep van ‘n nuwe moraliteit voorstaan nie. Wat is die ontwikkeling van ‘n “inklusiewe Christelike seksuele etiek” anders as ‘n nuwe moraliteit? Die kerk was nog altyd bekend dat daar ‘n “bybelse seksuele etiek” gepredik is wat uitsprake teen losbandigheid en homoseksualiteit ingesluit het. Die kerk het in die verlede soms nie hierdie uitsprake in liefde gemaak of geïmplimenteer nie, maar dit hef nie die Bybelse fundering vir hierdie leerstellings op nie. Jou voorstel is defnitief in daardie opsig “nuut”. Jy kan nie aanspraak maak dat jy op ‘n praktiese vlak iets voorstel wat in die harte van die apostels of die vroeë kerkvaders geleef het nie. Al manier wat dit ‘n “terugkeer” kon wees is as jy sou voorgee om beter as enige van die genoemde mense en groepe te verstaan wat Jesus met die liefdesgebod bedoel het. Die kerk se seksuele etiek was nog nooit in die verlede dieselfde as jou voorstel nie. Jy wil ‘n tradisionele verstaan van die Bybel oor homoseksuele seks wat vir baie langer as 2000 jaar bestaan (die Jode het dit ook so uit die Ou Testament verstaan) ophef en met die vae idee van “liefde” vervang. Liefde vir God en die naaste vind gestalte in die wet. Dit is hoekom God die wet gegee het, maar die mens het dit verdraai en wetties begin toepas. Johannes het die volgende hieroor te sê:
“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam” (I Johannes 5:2-3)

Oor die opsomming van die wet stem ek met jou saam. Dit vind uitdrukking in die liefdesgebod. Die probleem met jou interpretasie hiervan is egter dat Jesus nie die bestaande wette almal opgehef het deur die opsomming van die wet te gee nie. Inteendeel, hy sê pertinent dat hy die wet kom vervul. Die bestaande wette bly geldig, maar die wettiese toepassing daarvan om God se guns te probeer wen is verkeerd. Dit is onmoontlik om guns by God te wen deur die wet te onderhou. Slegs liefde wat vergestalt word in gehoorsaamheid is die gepaste dankbaarheidswerk. Hierdie gehoorsaamheid is egter nie aan die mens se idee van wat “liefde” sou wees nie, nie eens ‘n klomp eienskappe wat uit die Bybel afgelei kan word nie. Volgens die verse in I Johannes wat ek hier bo weergegee het, is liefdevolle optrede moontlik teenoor ander, as daar gehoorsaam aan die wet teenoor hulle opgetree word deur iemand wie se hart aan die Here behoort en daarom met liefde gevul is. Slegs dan (in gehoorsaamheid aan die wet) word die toetse vir die liefde wat jy gee (hoe dit toegepas word) geldig.

Ons sien hierdie benadering ook in die voorskrifte van Paulus. Hy was juis iemand wat homself baie sterk uitgespreek het teen die verkeerde toepassing van die wet (wettisisme of soos jy dit noem moralisme). Lees die hele I Kor 6. Paulus versoen gemaklik die veroordeling van die lys van verkeerde dinge (insluitend homoseksualiteit) met die uitleef van die liefdesgebod. Lees veral weer verse 15 en 20. As ons deur Jesus se bloed losgekoop is, behoort ons as mense in totaliteit (insluitend ons liggame) aan God. Nou kan ons mos nie hierdie twee goed (die liefdesgebod en die wet soos ons dit in die Bybel aantref) van mekaar skei en sê ons fokus net op die liefde soos ons dit verstaan nie.

Paulus sê in Galasiërs 5:13-18: “Julle broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” … Wat ek bedoel is dit: Laat julle lewens steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.”

Interessant hoe Paulus hier weer die liefdesgebod, die wet en die gehoorsaamheid kombineer. Net na die einde van die aangehaalde verse lys hy juis van die eienskappe van die sondige natuur. Hierdie eienskappe van die sondige natuur kom grootliks ooreen met die lyste waarby homoseksualiteit op ander plekke ingesluit sou wees. Dit is vir my moeilik om te sien hoe jy homoseksuele seks in konteks van die uitsprake van die hele Bybel kan herklassifiseer as iets wat moreel neutraal is. Ek verstaan nie die gronde waarop jy hierdie herklassifikasie doen nie. Die eienskappe van die sondige natuur word juis deur Paulus as “natuurlik” beskryf. Mens sou basies kon sê ons het almal een of ander aangebore “oriëntasie” wat deel is van ons sondige natuur. Paulus veroordeel ook nie ons “oriëntasies” nie, maar wel die uitleef daarvan. Hoekom sal dit die uitleef van ‘n homoseksuele oriëntasie uitsluit?

Jy hou ook nie van die term “postmodern” nie. Tog toon jou standpunt duidelike tekens van relatiwisme en humanisme. Ek sê nie jy is volledig postmodern in jou siening nie, maar dit toon duidelike en onteenseglike tekens van postmoderne invloede (‘n onderwerp waaroor ek wel redelik goed belese is).

Daar is veral een deel van jou reaksie wat my dronkslaan. Jy sê dat selibaatskap (my skrywe impliseer tog duidelik selibaatskap in die sin van die onthouding van seksuele omgang) ‘n keuse is wat tussen die persoon en God lê. Hiermee impliseer jy dat dit moontlik sou wees vir my as ongetroude persoon om te kies om seksuele omgang te hê met ‘n vrou buite ‘n huweliksverhouding, sonder dat dit verkeerd is. Solank dit net in die gees van die “liefde” geskied met die eienskappe wat jy daarvoor lys teenwoordig. Ek het gewonder wat jou raad aan my sal wees as ek jou pastoraal kom sien omdat ek oorweeg om saam met my meisie in die bed te spring?

Die volgende vrae kom natuurlik by my op: Wanneer is die verhouding lank genoeg aan die gang om dit te regverdig? Maande? ‘n Jaar? Hoeveel van die eienskappe van die liefde moet hoe gereeld gewys word voor seks nie verkeerd sou wees nie? Wanneer is seks buite die huwelik dan losbandigheid (waarmee jy wel ‘n probleem het)? Hoe maak jy hierdie onderskeid? Of is losbandigheid ook eintlik nie verkeerd nie? Wat is dan fout met die gay subkultuur behalwe dat dit onaangenaam sou wees vir party mense? Hierdie standpunt oor seksuele moraliteit is ‘n absoluut relatiwistiese standpunt wat nie Bybels geregverdig kan word nie. Die Engelse term “a slippery slope” is ‘n goeie beskrywing vir hierdie lyn van denke oor moraliteit. Paulus impliseer duidelik in I Kor 6 dat elke Christen se liggaam aan Christus behoort. Die wet is vervul in hom en die vraag is nie meer; “Wat wil ek graag met my liggaam doen?” nie. Die vraag is nou; “wat is ek bereid om te doen met hierdie liggaam wat met die bloed van Christus gekoop is en nou aan hom behoort?” Skielik is my behoeftes (hetro- of homoseksueel) nie meer die maatstaf nie. Ek wil weet wat die Here se maatstaf is vir reg en verkeerd en die Bybel is duidelik teen losbandige seksuele verhoudings (waarby homoseksuele seks ingesluit word).

Jou verduideliking van die tekste in Romeine verskyn nie in Beeld onder die “skepping-herskepping” nie. Dit is onder die opskrif “Dis nie wie jy is nie”. Jy bespreek in hierdie gedeelte die “aanvaarbaarheid” van homoseksualiteit aan die hand van Romeine. My kritiek staan vas. Die veroordeling van homseksuele seks word nie opgehef of gerelativeer nie, dit word net gestel dat selfs nie die sonde die mens van die liefde van God kan skei nie. Ek stem nie saam met jou dat die noem van homoseksualiteit dien as deel van die natuurlike teologie nie. In die Afrikaanse vertaling word Paulus se beskrywing juis vertaal as “on-natuurlike omgang”. Paulus spreek in Romeine 1 verskeie sake aan. Mense wat die natuurlike onderskeid wil gebruik om die kerk te verdeel (wat hy nie aanvaar nie) en mense wat God verwerp of sê dat sy wil nie geken kan word nie (hy sluit homoseksuele seks by die lys van sondes in). Na ‘n herlees van Romeine 1 tot 8 is daar net een manier waarop ek kan sien hoe jy by jou standpunt uitkom. Indien jy ‘n homoseksuele oriëntasie gelyk stel aan noodwendige homoseksuele seksuele omgang. Indien dit die geval is weerspreek jy jouself. Jy sê juis oriëntasie is moreel duister, maar dade wys die toestand van moraliteit. Hoe kan jy homoseksuele seksuele interaksie hierby uitsluit? Wat is jou gronde hiervoor? Omdat dit natuurlik sou wees, ‘n aangebore geneigdheid? Die Bybel wys homoseksuele seks af as sonde. Dit is juis ‘n daad wat dui op die morele aard van die persoon wat die oriëntasie het. Dit is essensieel dat enige redenasie oor moraliteit konsekwent op andere morele sake toegepas kan word. Indien dit nie kan nie, is die geldigheid daarvan onder ernstige verdenking. Indien dieselfde maatstaf vir ander “oriëntasies” (soos seks buite die huwelik) toegepas word, impliseer dit definitief ‘n oop deur vir losbandigheid en sonde.

Laastens stem ek met jou saam dat die evangelie op een vlak wel oor die mens se geluk gaan. Hier is die bedoeling egter definitief nie die mens se tydelike aardse geluk of die uitleef van jou natuurlike menswees nie. My verwysing na “geluk” was juis met die bedoeling om te impliseer dat gelowiges nie altyd op die aardse sin gelukkig sal wees, hulle behoeftes vervul gaan kry of gaan hou van wat hulle moet doen nie. In daardie opsig gaan die evangelie nie oor die geluk van die mens nie. Soos CS Lewis een keer opgemerk het, dit is die verskil van die liefde vir ‘n Vader in die hemel en die liefde vir ‘n Oupa in die hemel. Die een sal alles toelaat wat die mens wil hê (Oupa), die ander (Vader) nie.

Ek sien uit na die verdere gesprek en jou reaksie.
Groete.
André

Postscriptum

Stefan het hierdie mail beantwoord deur voor te stel dat ons liewers gaan koffie drink om die saak verder deur te gesels. Ons het gaan koffie drink, maar ek gaan in regverdigheid nie probeer om die aard en inhoud van daardie gesprek weer te gee nie. Dit wat ek onthou sal te subjektief wees en nie die ware trant en inhoud van die gesprek kan weergee nie. Ek sal net die volgende algemene opmerkings maak. Die gesprek het in ’n baie goeie gees verloop, maar dit was moeilik om mekaar se standpunte op baie aspekte te aanvaar. Ons het op ’n punt gekom waar ons besluit het om van mekaar te verskil oor hierdie saak, sonder dat ’n direkte oplossing voor die hand liggend is.

Die AntWoord bediening is ons nog lank nie klaar geworstel oor hierdie saak nie. Ons besef ook dat ons nie die oplossing hiervoor op ons eie sal kan kry nie. Ons pleidooi sal wees dat die Bybel as God se Woord ernstig opgeneem en verantwoordelik hanteer sal word en dat al die mense wat by hierdie saak betrokke is terselfdertyd met liefde hanteer sal word.

Indien enige standpunt wat AntWoord hier stel onduidelik is, iets is waarmee jy saamstem of iets is wat jou ontstel, kontak ons gerus per e-pos om dit verder te bespreek. Ons sal baie graag met jou wil gesels.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.