Waar kom God vandaan?

Hi Udo,

Ek sukkel om partykeer vir ander mense of vir myself uit een te kan sit waarvandaan God kom. Ons almal weet dat Hy die aarde geskape het en dat Jesus Sy seun is, maar waar kom Hy vandaan. Volgens my is dit maar net iets wat ons moet glo en vertrou.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die vraag oor waar God vandaan kom of wie dan vir God gemaak het as God alles gemaak het, is ‘n vraag wat baie mense vra en waarmee ook menige ouer al gekonfronteer is. Ek dink dis ‘n belangrike vraag omdat die antwoord daarop ‘n mens baie kan help om iets van die aard van God te verstaan. Miskien sal dit jou verbaas, maar ek dink nie die antwoord op hierdie vraag is iets wat ‘n mens maar net blindelings hoef te glo of te aanvaar nie. Ek dink daar is goeie redes om dit te kan glo.

Wat is die onderliggende aanname wanneer die vraag, “Waar kom God vandaan?” gevra word? Met so ‘n vraag word bewustelik of onderbewustelik geïmpliseer dat God ook ‘n tipe ding is wat êrens vandaan sou kom. M.a.w. ons dink dat God soos ‘n mens, ‘n gebou of selfs die heelal is. En ons weet tog dat ons van ons ouers afkom en hulle weer van hulle ouers, ensovoorts. Of dat die huis waarin ons woon eens op ‘n tyd nie bestaan het nie, dat dit op ‘n stadium gebou moes gewees het. Of dat navorsing in die kosmologie aandui dat die heelal ‘n baie besliste oorsprong gehad het – dat alle materie, ruimte en selfs tyd ‘n begin gehad het.

Die probleem met die onderliggende aanname oor God is eenvoudig dit: hoekom dink ons dat God ‘n entiteit is wat êrens vandaan sou kom, ‘n oorsprong het of geskape is? Hoekom dink ons dat God dieselfde tipe ding is as ‘n mens, ‘n gebou of die heelal?

Baie mense redeneer dat as alles ‘n oorsprong het, en as die heelal se oorsprong God was, dan moet God ook mos ‘n oorsprong hê. Die idee dat alles ‘n oorsprong of ‘n oorsaak moet hê is egter nie ‘n logiese vertrekpunt nie. As alles ‘n oorsaak het, dan moet daar noodwendig ‘n oneindige hoeveelheid oorsake vir iets en vir alles wees. Die probleem met ‘n oneindige hoeveelheid oorsake is dat daar geen gevolg (‘n spesifieke gebeurtenis) kan wees sonder ‘n eerste oorsaak nie. As daar byvoorbeeld nie ‘n eerste domino (‘n eerste oorsaak) was wat ek omstamp sodat dit die ander in my ry gestapelde domino’s een vir een omstamp nie, dan sal die laaste domino in daardie ry van domino’s nooit val nie (inteendeel, sonder ‘n definitiewe begin sou geen van my domino’s ooit val nie).

Om te sê dat alles ‘n oorsaak het is dus nie korrek nie. Om egter te sê dat alles wat ‘n begin het, ‘n oorsaak het, sou die korrekte manier van dink wees. M.a.w. alles wat begin gebeur, moet ‘n oorsaak hê vir waarom dit begin gebeur het. As die heelal ‘n begin gehad het (en die wetenskap dui aan dat dit het), dan moes die heelal ook ‘n oorsaak gehad het. Dit beteken egter nie dat die oorsaak van die heelal self ook ‘n oorsaak of ‘n begin sou hê nie, want dis moontlik dat daardie direkte oorsaak, die oorsaak van alles was (onthou die beginsel van die domino’s: as daar altyd maar nog ’n oorsaak vir ’n oorsaak is, dan kan daar eintlik nooit enige gevolge wees nie). Indien dit wel die eerste oorsaak is, dan moet dit noodwendig ‘n beginlose oorsaak wees (want, weereens, as dit ‘n begin gehad het moes dit ‘n oorsaak gehad het en kon dit dus nie die eerste oorsaak van alles wees nie). Die belangrike punt is die volgende: as die ganse fisiese en ruimtelike heelal die gevolg van hierdie oorsaak was, dan kan hierdie oorsaak nie self fisies of ruimtelik wees nie, want daar was geen fisiese realiteit om mee te begin nie. Dit geld ook vir die ontstaan van tyd: die oorsaak van die begin van tyd moet per definisie buite tyd bestaan.

Ons kan dus ‘n paar dinge aflei oor die oorsaak van die heelal: dit is nie-fisies, ruimteloos en tydloos, in effek kan ons dus sê dat die oorsaak van die heelal nie ‘n begin of ‘n einde het nie. Ons kan verder byvoeg dat dit ook baie kragtig moet wees om die heelal uit niks te kon voortbring; ons kan selfs aanvoer dat dit persoonlik moet wees om te kon kies om die heelal voort te bring (gegewe dat daar niks is wat bepaal dat die heelal noodwendig of vanself sou begin nie (niks kom uit niks!) Al hierdie kenmerke is dinge wat mense (selfs mense soos Aristoteles en Plato wat nie die Bybel geken het nie) al van die vroegste tye aan die idee van God toegeskryf het. En, vir diegene wat erns maak met die Bybel is dit natuurlik ook presies van die kenmerke van ‘n God wat Homself in sy Woord aan mense geopenbaar het.

Is daar dus goeie rede om te glo, deur versigtig na te dink oor iets soos die oorsprong van die heelal, dat God nie ‘n oorsaak of begin gehad het nie en dus nie êrens vandaan gekom het of geskep is nie? Maak dit daarom sin as daar in die Bybel geskryf staan: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige”? (Open 1:8)

Wel, ek dink dit doen.

Groete

Udo

Sien ook:

Who made God?

Is die Kalaam kosmologiese argument geldig?

(Sien veral William Lane Craig se webwerf www.reasonablefaith.org vir meer inligting oor die konsepte wat hier genoem is.)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.