Lady Gaga: Goeie Oordeel of Veroordeling

Hi Udo

Het julle ‘n opinie oor Lady Gaga? Hoef ons nie te judge nie? Kan ons maar net almal lief hê? Ek sal so bly wees as dit so is! J Dit maak sin né, want ongelowiges het nie dieselfde baas as ons nie en ‘hoef’ dus nie volgens sy reëls te lewe nie (behalwe dat ons weet die reëls is daar om ons te beskerm).

So wat sê julle?

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die inhoud van Lady Gaga se musiek (die lirieke en video’s) is beslis nie iets waarby ‘n Christen kan aanklank vind nie. Sy verdien spesifiek om aangespreek te word veral omdat sy haarself as ‘n Christen (!) beskou. Paulus is nogal streng oor mense wat hulleself Christene noem, maar nie soos Christene optree nie (sien 1 Kor. 5:11-13). Ons moet egter versigtig wees om in ons oordeel nie veroordelend te wees nie…

Goeie Oordeel en Veroordeling

Daar bestaan dikwels ‘n redelike mate van onsekerheid by baie Christene oor die begrip “oordeel”, veral na aanleiding van Jesus se woorde in Matteus 7:1, “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie”.

Daar is twee verskillende implikasies van die woord oordeel wat dikwels met mekaar verwar word, naamlik om goeie oordeel aan die dag te lê (“to have good judgement”) en om veroordelend  te wees (“to be judgemental”). In plaas daarvan dat ons as Christene goeie oordeel aan die dag lê (goeie morele oordeel ingesluit, maar nie eksklusief daartoe beperk nie) in ons verhoudings met ander en met betrekking tot die kultuur waarvan ons deel is, kom ons dikwels as veroordelend voor. Dit mag help om hierdie saak bietjie van naderby te bekyk, juis omdat Christene soms sukkel om die regte onderskeid te tref en toe te pas.

David Kinnaman skryf in sy boek, unChristian: What A New Generation Really Thinks About Christianity And Why It Matters (‘n baie insiggewende boek wat elke Christen moeite kan doen om te lees), dat volgens ‘n meningsopname onder Amerikaanse jongmense is een van die drie grootste persepsies waarmee Christene geïdentifiseer word dat hulle veroordelend is. In baie gevalle mag sulke persepsies vals wees, maar Kinnaman wys daarop dat dit ongelukkig so is dat realiteit dikwels deur persepsies gedryf word. Hy draai nie doekies om wanneer hy die volgende erken nie:

“Let’s face it. Outsiders have a legitimate beef. We are, more than we realize, too anxious to judge others. We deserve the label judgmental.”

Maar dan vra Kinnaman waarom hierdie etiket dan so dikwels om ons as Christene se nekke gehang word:

“But why is that? Jesus gives a clear example of pursuing people, of accepting people at face value. Often he scandalized others by hanging out with the least desirable people in the culture, and his teaching is unambiguous: do not judge others or you’ll face the same yardstick: remove the log from your eye before pulling the splinter form you friend’s eye; and you do not have the right to condemn others, unless you are sinless (see Matt. 7:1-5). How have Christians gotten so far from this?”

In ‘n ander gedeelte van Jesus se bergrede in Matteus 5-7, sê Hy dat sy volgelinge die sout en lig van die aarde is. Maar hier is die vraag: Hoe is ons sout wat smaak gee en lig wat dinge duideliker maak (sodat mense iets van wie God is in ons kan sien en Hom sal verheerlik) as mense ons as veroordelend beleef? Daarom dat Kinnaman maan:

“A critical distinction for Christians is the difference between condemning people (i.e. being judgemental) and helping them become soft-hearted – aware of, and sensitized to God’s standards.”

Hy wys daarop dat ons as Christene bewus moet wees van die implikasies van veroordeling:

“Being judgemental pushes people away from God’s purposes, and people become repulsed by an image of Jesus that is not at all like the real thing.”

Dit is die manier, die gesindheid waarop ons met mense omgaan, wat dikwels bepaal hoe ontvanklik hulle uiteindelik vir die Christelike geloof en vir God se inspraak in hulle lewens is. Daarom dat Kinnaman sê:

“Yet an entire generation of those inside and outside the church are questioning our motives as Christians. They believe we are more interested in proving we are right than that God is right. They say Christians are more focused on condemning people than helping people become more like Jesus. Could this be telling us we have lost something in the way we articulate and describe God’s expectations? Are we more concerned with the unrighteousness of others than our own self-righteousness?”

Kinnaman verduidelik wat dit beteken om veroordelend te wees:

“To be judgmental is to point out something that is wrong in someone else’s life, making the person feel put down, excluded, and marginalized. Some part of their potential to be Christ followers is snuffed out. Being judgmental is fueled by self-righteousness, the misguided inner motivation to make our own life look better by comparing it to the lives of others.”

Dit is mense se persepsie van Christene se gesindheid teenoor ander mense wat as veroordeling beleef word. Selfs al bedoel Christene nie noodwendig hul uitsprake van morele afkeur as ‘n refleksie oor die waarde van enige persoon nie, maar as ‘n verwerping van die sonde, kry baie mense steeds die indruk dat Christene juis die persoon verwerp.

In een van Kinnaman se onderhoude maak iemand die volgende opmerking:

“Christians talk about love, but it doesn’t feel like love. I get the sense they believe they are better than me, even though their life seems about the same as mine.”

Kinnaman verduidelik hoe ons gesindheid, baie meer tel as ons woorde:

“Have you ever heard the Christian mantra, ‘Hate the sin, but love the sinner’? It is not a direct quote from the Bible, but it reflects the ideal most Christ followers embrace. They would like to extend grace and love toward others (the sinner), while firmly rejecting those attitudes and behaviors that contradict God’s standards (the sin). The problem is outsiders don’t think we are honest with ourselves. One of our interviews was with Jeff, a twenty-five-year-old agnostic from Oklahoma. He actually mentioned the catchphrase in the conversation: ‘Christians talk about hating sin and loving sinners, but the way they go about things, they might as well call it what it is. They hate the sin and the sinner.’ If our primary fixation is on the sin, it is virtually impossible to demonstrate love to an individual. Think of it: many outsiders, the broken people who need Jesus most, picture Christians as haters.”

Wanneer ons as Christene sê dat dit belangrik is om ander mense lief te hê (wat sondaars is soos ons) sonder om hulle te (ver)oordeel, dan is die vraag nie regtig of ons die splinter in iemand anders se oog mag uithaal nie (lees weer Matt 7:5). Want wie wil nou met ‘n splinter in sy oog rondloop? Die belangrike vraag is of ander ons genoeg vertrou (omdat hulle regtig voel dat ons hulle aanvaar ten spyte van hulle sonde) om ons toe te laat om hulle te help om die splinter uit te haal. (Terloops, die meeste mense weet reeds waar hulle tekort skiet en daarom beleef hulle ander se oordeel dikwels as iemand anders se vinger in hul oog wat reeds seer is van ‘n splinter). Dink daaraan, as jy ‘n splinter in jou oog het, gaan jy werklik gemaklik wees om iemand wat nie eintlik mooi kan sien nie (soos iemand met ‘n balk in sy eie oog!) te vra om die splinter uit jou oog te haal? Ons as Christene se gesindheid teenoor mense met splinters in hul oë, is soms presies dit wat balke in ons eie is. Mense sien dit raak en beleef ons veroordeling as skynheilig en arrogant. Ons moet daarom nie verbaas wees as mense vyandig (lees: self-beskermend) is as ons al te gretig blyk te wees om ongenooid in sensitiewe oë te krap nie.

Die probleem is dus nie dat God ‘n bepaalde standaard het waarvolgens balke sowel as splinters uit mense se oë verwyder moet word nie. Die probleem is dat wanneer Christene in sekere kontekste na God se morele standaard verwys, dan kry mense dikwels die indruk dat Christene bloot hul eie gevoelens van morele en geestelike meerderwaardigheid probeer regverdig deur die manier waarop hulle klem lê op die verfoeilike gedrag van ander. Nog ‘n opmerking van iemand in Kinnaman se onderhoude:

“Christians like to hear themselves talk. They are arrogant about their beliefs, but they never bother figuring out what other people actually think. They don’t seem to be very compassionate, especially when they feel strongly about something.”

Dit is ongetwyfeld so dat baie mense ‘n reaksie het teen die blote idee dat God ‘n morele standaard het (waaraan hulle nie voldoen nie) en daarom stel hulle die Christelike geloof summier gelyk aan veroordeling. Sulke mense se antagonisme teenoor Christene is eintlik ‘n aanduiding van hul verwerping van God. Maar dit waaroor Christene tereg sterk voel, soos God se morele standaard, kan nooit gebruik word as ‘n lat om ander mee pak te gee nie. Dis jammer dat baie mense se antagonisme teenoor God eintlik dikwels baie te doen het met hoe hulle Christene beleef as met wie God werklik is. Niemand kan aan God se morele standaard voldoen nie en daarom is ons afhanklik van God se genade in ons lewens. Dis juis Christene wat hierdie feit die beste behoort te verstaan. Dis juis hierdie boodskap wat mense van Christene behoort te hoor.

Hoe is ons as Christene dan sout en lig vir die wêreld? Hoe is ons in die wêreld (waar ons mense ten goede kan beïnvloed – sien 1 Kor. 5:9-10), sonder om van die wêreld te wees (en self daardeur beïnvloed te word)?

Wel, in wat tot dusver gesê is behoort die volgende paar dinge duidelik te wees.

Ons nie geroep om mense te oordeel of te veroordeel nie, maar om hulle lief te hê. Ons taak as Christene is dus om mense met God se genade te bedien en nie met God se standaarde te veroordeel nie. Dit beteken dat ons verhoudings met mense bou ten spyte van hoe hulle lyk, wat hulle sê en wat hulle doen. Dis slegs wanneer ons dit doen, dat ons geleentheid het om dalk mense se harte te leer ken. Dan sal ons agterkom hoe baie mense meedoënloos gery word deur skuldgevoelens wat sonde noodwendig in enige mens se lewe meebring en kan ons simpatie hê omdat ons dit self al ervaar het. Dan sal ons ervaar dat baie mense, wanneer hulle veilig voel en aanvaarding beleef, gereed is om te erken dat hulle lewens nie aan God se standaarde voldoen nie. En dan, wanneer ons dalk eers saam met hulle moes huil oor die seer in hulle lewens, dan beleef hulle dikwels bevryding en werk God deur ons om genesing en inkeer te bring. Niks hiervan is iets wat met veroordeling bereik kan word nie. Dis wat dit beteken om goeie oordeel (wysheid en onderskeiding) aan die dag lê, in ons verhoudings met mense. In Kolossense 4:5-6 staan die volgende:

“Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”

Goeie oordeel beteken egter beslis ook dat ons sal weet wat God se standaarde is vir Geesvervulde lewens. Dit is baie belangrik, want die wêreld bied aan ons opsies vir maniere van dink en van doen en van meedoen, wat God se morele standaarde en doel vir ons lewens beslis teenstaan en ondermyn. Ons het daarom beslis ‘n verantwoordelikheid om ingelig te wees oor wat in die wêreld rondom ons gebeur, en oordeel aan die dag te lê vir watter effek bepaalde idees en gedrag in ons lewens kan hê. Die implikasie hiervan is dat sommige vorme van gedrag en idees eenvoudig vermy behoort te word (en ja, mekaar daarteen te waarsku), terwyl ander duidelik en aktief teëgespreek behoort te word ter wille van die beskerming van weerlose mense en die langtermyn gevolge daarvan (sien ook Efesiërs 5:10-12).

Maar hier is die belangrike punt wat nie misgekyk mag word nie: Ons moet oordeelkundig en wys wees in hoe ons bepaalde optredes en denke in hierdie wêreld evalueer en daarop reageer, maar veroordeling en ‘n liefdelose gesindheid teenoor die mense in hierdie wêreld, is nooit deel van ons roeping as Christene nie. Ons moet ook daarteen waak om nie vas te haak by als wat sleg en verkeerd is in die wêreld of toelaat dat ons ingetrek word by allerlei smeerveldtogte of samesweringsteorieë wat geen werklike doel dien nie. Ons verantwoordelikheid as Christene is veel eerder om ‘n positiewe en konstruktiewe bydrae te maak tot die kultuur en samelewing waarvan ons deel is. So ‘n bydrae behoort proaktief en aantreklik te wees, iets waarvan mense notisie sal neem en ‘n duidelike alternatief bied vir die banale en verbeeldingloosheid waarmee mense so dikwels in vandag se wêreld gekonfronteer word.

Kinnaman sê in sy boek dat mense aangetrek word deur aanvaarding en opregte respek, maar dat hulle weggestoot word deur verwerping en ‘n houding van meerderwaardigheid. Hy vra dan hoe sulke respek lyk en gee ‘n paar baie eenvoudige riglyne vir dit wat wedersydse agting bevorder. Hier is ‘n kort opsomming daarvan:

  1. Ons kan leer om beter na ander te luister om hulle te verstaan en minder te praat.
  2. Ons moet mense nie etiketteer (label) nie. Dit plaas mense in boksies en niemand waardeer dit om tot ‘n bepaalde kategorie gereduseer te word nie.
  3. Ons moenie altyd so slim probeer klink en voorgee dat ons al die antwoorde het nie, dit klink arrogant en verhinder wedersydse gesprek.
  4. Ons moet leer om onsself in ander se skoene te plaas. Ons moet probeer verstaan hoekom ander doen wat hulle doen en nie net besorg wees oor wat hulle doen of nie doen nie.
  5. Ons moet opreg wees in ons vriendskap met ander sonder om ‘n agenda te hê. Mense kom gou agter as ons vriendskap met hulle vir ons bloot ‘n geleentheid is om hulle te evangeliseer of in die kerk te probeer kry. Ware vriendskap beteken opregte belangstelling in ander, sonder dat mense altyd aan ons verwagtinge hoef te voldoen.

Dit is wanneer ons sensitief is vir wie mense is, waar hulle vandaan kom en hoekom hulle sekere dinge doen en sê (empatie betoon), dat ons moontlik agente vir lewensverandering kan wees, draers van hoop en genade sal wees, en sout en lig vir die aarde is.

Sien ook die volgende verwante antwoorde:

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.