Publieke gebed

Beste Udo,

Ek is nou al ‘n paar jaar gered en bevry, maar dit voel asof ek net meer koppe stamp met baie praktyke wat so algemeen in gebruik is. Voel soms soos ‘n rol doringdraad, haak aan amper alles. 

Die afgelope week het ek ‘n plaaslike sakekamer  byeenkoms bygewoon. Ek dink ek was voor my bekering laas op so ‘n byeenkoms. Daar het nie veel verander in die uitvoering van so ‘n vergadering se aktiwiteite nie. Hulle open nog steeds met ‘n Christelike gebed en vra die Here om die verrigtinge te lei ens. In die verlede het dit so goed en sinvol voorgekom, maar die afgelope week kon ek net nie deel in die gebed nie. 

Wat intussen gebeur het is dat die sakekamer bietjie werwing gedoen het om nie so erg leliewit te vertoon nie. Daar is ‘n paar mense van ander kulture en ook gelowe betrokke by die sakekamer. Hul verwagting is bloot dat die sakekamer net vir hulle besigheidsgeleenthede sal bied. Vir die sakekamer is dit om verteenwoordigend te vertoon, maar  nou word die Christelike geloof op hulle afgeforseer.

Udo, so bevrydend ek my geloof ervaar en so graag ek wil hê dat elkeen hul redding en vryspraak moet aanvaar en ervaar, so glo ek dat hierdie ‘n hoogmoedige praktyk is en geensins evangelisasie bevoordeel nie. As almal Christene is en daar is konsensus oor ‘n openingsgebed, is dit ‘n ander saak, maar ek dink om as Christen respek te betoon vir ‘n ander se oortuiging, jy die karakter van Christus openbaar en daardeur die evangelie verkondig.

Hierdie praktyk vind baie algemeen plaas en nog ‘n voorbeeld is skole met ‘n Christelike grondslag. Soos ek vir my seun gesê het, ‘n Christelike skool kan maklik ‘n valse gerusstelling bied. Jy moet besin en jou verlossing aanvaar en as jy dit doen in omstandighede buite ‘n gemaksone, is dit net soveel meer sekerder en kragtiger.

Ek hoor graag jou mening.

Groetenis

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy lê wyse oordeel aan die dag en ek stem heelhartig met jou saam. Vir veral ons Afrikaners wat uit ‘n sterk Christelike tradisie kom, is die gebruik om die Here se seën te vra by ‘n geleentheid waar ‘n groep mense bymekaar kom (en daarmee God se gesag en betrokkenheid in die verrigtinge te erken), merendeels ‘n baie goeie gebruik. Die veronderstelling is natuurlik dat die mense by hierdie geleenthede almal Christene sou wees. En met betrekking tot hulle wat dalk nie is nie, sou sulke openbare gebed tog ‘n goeie doel gedien, of so is geredeneer, omdat dit diesulkes se gewete op ‘n goeie manier kon aanspreek!

Ons lewe vandag egter in ‘n samelewing (veral in ‘n post-apartheid Suid-Afrika) waar sulke veronderstellings bloot vals en onvanpas is (en ek sou aanvoer dat dit in baie gevalle in die verlede ook vals en onvanpas was). Veral iets soos gebed, wat ‘n intieme en diep godsdienstige handeling van spesifieke aard is, kan mense met ander geloofsoortuigings of idees maklik teen die bors stuit. Soos jy tereg opmerk, sulke mense voel dan dikwels dat daar nie met sensitiwiteit of oorleg teenoor hulle opgetree word nie.

Vir ons as Christene is dit natuurlik moeilik om te dink dat ons ‘n goeie gebruik moet opgee ter wille van nie-Christene wat dalk geaffronteer sal word deur iets wat ons in Jesus se naam doen. Want het Jesus dan nie self gesê dat elkeen wat hom vir Hom of sy woorde skaam, vir hom sal Jesus Hom skaam nie? (Vgl. Luk. 9:26) Maar is dit regtig wat ons doen wanneer ons erken dat mense hulle eie geloofsoortuigings het en as ons in spesifieke situasies nie bloot aanneem dat hulle ons oortuigings deel nie? Is dit nie juis om wys te wees en om ander mense wat anders dink as ons, se reg om so te doen, te respekteer nie (vgl. Kol. 4:5,6)?

Dis belangrik om te besef dat korporatiewe gebed (m.a.w. wanneer ‘n groep Christene saam bid) ‘n baie spesifieke karakter het. Dis ‘n geleentheid waar ‘n groep mense willens en wetens in Jesus se naam tot God nader. Wat ons ook al dink die positiewe uitwerking van openbare gebed op enige aanhoorders (simpatiek of andersins) daarvan mag hê, bly dit ‘n handeling waaroor daar sosiale eenstemmigheid bestaan weens die feit dat mense Christene sou wees. Ons mag egter nie aanneem dat ander mense, wat hulleself nie as Christene beskou nie, daaraan wil deel hê nie. Ek dink selfs dat dit ‘n subtiele vorm van manipulasie kan wees om vir ‘n gemengde of onbekende groep mense te vra of daar iemand is wat sal omgee as daar gebid word; die meeste mense is te ordentlik of te gereserveerd om sommer so in ‘n groep aan te dui dat hulle tog daarmee ongemaklik sou wees en daarom verdra hulle dikwels eerder die onsensitiwiteit.

Ek dink dat ons as Christene beslis intensioneel moet wees in ons strewe om die Goeie Nuus met ander te deel. Dit begin egter by intensionele en opregte verhoudings met mense, deur opregte belangstelling in dit wat ander glo en respek vir die reg van enigiemand om sy eie oortuigings te handhaaf. Dit is slegs wanneer mense ons as sensitief en respekvol beleef dat daar geleentheid sal wees vir effektiewe gesprek en dan uiteindelik ook vir beïnvloeding. Ons verloor daarom niks deur te erken dat in die meeste situasies is openbare gebed iets wat baie mense dikwels eerder onnodiglik vervreem nie. Laat ons daarom nie ophou om vir mense te bid nie, maar kom ons besef dat om summier saam met ander te bid, dalk op aannames berus waarvan ons ons nie vergewis het nie.

Ek wil laastens net vinnig kommentaar lewer oor die frustrasie wat ek opmerk in die eerste paragraaf van jou brief. Ek wil weer eens met jou saamstem dat daar onder Christene dikwels allerlei maniere van doen en van dink is wat nie regtig deurdag is nie en soms self blatant onverantwoordelik is. Dis dikwels dinge wat baie frustrasie en teleurstelling veroorsaak.

Ek dink dat ons as Christene beslis die verantwoordelikheid het om sulke praktyke en denke op ‘n sagmoedige dog ferm manier aan te spreek. Ons gaan egter maar baie geduld aan die dag moet lê, want sommige optredes en denke het nie oornag tot stand gekom nie en gaan ook nie oornag skielik verander nie. Ek glo egter dat as ons volhou om bepaalde sake met goeie oordeel en takt aan te spreek en uit te daag, en as mense nie summier die gevoel kry dat ons hulle as persone veroordeel nie, dan doen ons ons deel om groter geestelike volwassenheid in optrede en denke by hulle wat die naam van Jesus bely, aan te moedig.

Ek wil jou daarom aanmoedig, Winkelsmidt, om aan te hou om te dink (soos ek sien jy doen) oor die uitwerking van die Christelike geloof in alle areas van die lewe. Daar is te min Christene wat dit op verantwoordelike wyse doen en nog minder wat, ten spyte van die hakerigheid van doringdraad, ander met deernis help om dit ook te doen!

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.