Die verskil tussen God se tug en straf

Hi Udo

Ek wil graag hoor of jy my kan help met duidelikheid oor die feit dat God nie meer straf nie, omdat Jesus die straf vir ons gedra het, maar in Hebreërs lees ons van God se tug.  Wat is die verskil en hoe moet ons dit interpreter?

Groete daar

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vraag, ek dink dis belangrik om die regte onderskeid te tref tussen die Bybelse konsepte van straf en tug. Ek dink die idee wat baie mense ongelukkig van God het, is dat hy soos iemand is wat met ‘n lat rondloop en links en regs straf uitdeel vir elke sondige daad wat hy mense sien doen. Ek dink nie so ‘n idee hou rekening met God se genade en liefde en met sy leiding in ons lewens nie.

Ek haal die volgende gedeelte aan wat ek êrens anders geskryf het:

“Die idee van straf in die Bybel word meestal geassosieer met die gevolg van sonde vir ‘n persoon wat die Here nie ken of wil ken nie. Veral in die Nuwe Testament word straf met die oordeelsdag by Christus se wederkoms in verband gebring (sien bv. Matt. 25:46). As Christene is ons egter glad nie sulke straf te wagte nie, omdat Jesus die straf wat ons verdien, in ons plek gedra het (sien Gal 1:4, en ook 1 Joh. 4:17-18). Tog beleef ons as Christene, steeds die teregwysig van God wanneer ons sonde doen. Ek gebruik spesifiek die woord teregwysing eerder as straf en wel vir die volgende rede. Straf word dikwels verstaan as die verdiende en negatiewe gevolg op ‘n verkeerde daad. Die gevolg van sulke straf is dikwels minimale of geen gedragsverandering nie, en nog minder van ‘n verandering in gesindheid/denke. Ons is byvoorbeeld bang vir die straf (boete) op ‘n spoedoortreding en dit maak dat ons stadiger ry (gedragsverandering), veral as ons weet dat daar ‘n kamera êrens is, maar hoeveel van ons hou by die spoedgrens omdat dit die goeie en regte ding is om te doen?

God straf ons egter nooit sommer net bloot omdat ons verkeerd optree nie. Sy straf is altyd dissiplinering en teregwysing, om te wys wat reg is, om ons daarmee te help om te doen wat reg is en nog belangriker, om ons te help om reg te dink oor wat reg en verkeerd is (sien Rom. 12:2, Ef. 4:23-24). God is soos ‘n ouer was sy kind dissiplineer, nie sodat die kind hoofsaaklik moet leer wat verkeerd is nie, maar sodat die kind kan leer wat reg is en hoekom dit reg is en dan dit wat reg is in doen en late sal nastreef. Iemand wat nie sy of haar kind dissiplineer nie, het daardie kind nie werklik lief nie, want so ‘n kind word groot sonder enige morele rigting of gevoel van sekuriteit (sien Heb. 12:5-12, Openb. 3:19).

‘n Laaste opmerking oor God se teregwysing. Een van die skadelikste dinge wat ons as Christene kan doen is om na ander mense se omstandighede waar daar pyn en lyding betrokke is, te kyk en dit dan, vanuit ons perspektief, aan God se teregwysing op sonde te koppel (sien egter Joh. 9:1-3, en lees ook oor al die misplaaste antwoorde wat Job se vriende as oorsake vir sy lyding aangebied het). Ons moet egter almal self in ons omstandighede met God, ons Vader wat vir ons baie lief is, worstel om Sy moontlike teregwysing te onderskei van verskeie ander faktore wat ‘n rol kan speel in ons omstandighede. Die Here roep ons om mekaar in sulke omstandighede te bemoedig, maar ons moet baie versigtig wees om maklike antwoorde op komplekse en persoonlike situasies aan te bied.”

Jy kan gerus ook na die volgende twee kort relevante artikels kyk:

Beste groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.