Verdoem God die mensdom?

Hi Udo

Ek het ‘n vriend wat homself klassifiseer as ‘n “believer in naturalistic pantheism” en hy het die volgende opmerking gemaak op Skype:

“Ek kan net nie indink dat die feite vir my op enige gegewe dag sê dat meer as die helfte van die wêreld se populasie – depending van watter kant jy is van enige geloof  – unsaved is nie! So of jy nou Christen / Muslim is, jy glo basies dat die ander helfte ge-doom is unless hulle na jou point of view oorkom? Dit kan mos nie logies wees nie.”

Sal dit waardeer as iemand miskien sy vraag kan beantwoord. 

Kind regards

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dis ‘n jammerte dat die meeste mense dink (Christene ingesluit) dat dit God se primêre taak is om mense te verdoem. Dit terwyl die Christelike boodskap een van hoop is, van ‘n God wat mense wil red van ‘n lewe van futiliteit. Die Christelike veronderstelling is natuurlik dat alle mense vasgevang in so ‘n lewe van futiliteit. Dis egter presies op hierdie punt dat baie mense vasskop en begin protesteer: “My lewe is g’n futiel nie, ek leef ‘n goeie, morele en sinvolle lewe.” (Terloops, dis interessant dat hierdie tipe stelling meestal vanuit Westerse, individualistiese en relatief welvarende samelewings gehoor word.)

Dit is belangrik om te verstaan wat ek bedoel met “‘n lewe van futiliteit”. Die Christelike wêreldbeeld verduidelik dat daar veral een aspek is waarin alle mense te kort skiet en dit is met betrekking tot hul verhouding met God. Meer spesifiek, om gebore te word is om in ‘n toestand van ‘n gebroke verhouding met God te verkeer.

Na mate ons in ons menswees groei en toenemend bewus word van wie ons as menslike wese is, gebeur daar een van twee dinge. Sommige mense raak bewus van hul eie gebrokenheid (veral hul en ander se morele tekortkominge en mislukkings) en mag dikwels as gevolg daarvan betrokke raak in ‘n soeke na die sin van die lewe; ander mense onderdruk eenvoudig enige erkenning van gebrokenheid en streef daarna om die lewe op hul eie terme te leef en dus ook hul eie lewensin te skep.

Die Christelike wêreldbeeld beklemtoon egter dat mense slegs ware vervulling kan vind ‘n verhouding met God (God soos Hy werklik bestaan) en dat ‘n lewe sonder God uiteindelik op futiliteit uitloop. God het die mens geskep vir ‘n verhouding met hom, m.a.w. ons menswees word toenemende geaktualiseer in ‘n verhouding met God.

Die goeie nuus van die Christelike boodskap is dat God alle mense roep tot ‘n verhouding met Hom, maar dis belangrik om te verstaan dat nie almal na ‘n verhouding met God begeer nie. Selfs diegene wat hul eie gebrokenheid erken en aktief soek na die doel van die lewe, mag kies om met God wat werklik bestaan en hoe hy sin aan hul lewens kan gee, niks te doen te hê nie.

Die vraag is nou: Is dit logies om God verantwoordelik te hou vir die keuses wat mense maak? Die Christelike boodskap draai nie doekies om oor die tipe bestaan wat iemand te wagte kan wees waarvan God nie deel is nie; die hel word in die Bybel met verskeie metafore beskryf om iets weer te gee van wat so ‘n bestaan behels. Maar wat kan God méér doen, as hy dit vir alle mense moontlik maak om in ‘n verhouding met te tree, maar hulle dan nie belangstel nie? Die hel is nie God se manier om spiteful te wees omdat mense eenvoudig nie die regte dinge geglo het nie. God kan en wil niemand egter dwing om eendag in sy teenwoordigheid en in ‘n verhouding met hom te leef nie – vir sommige mense is so ‘n gedagte skynbaar erger as die gedagte aan die hel self. Alhoewel niemand willens en wetens vir ‘n bestaan kies wat met beelde soos vir die hel beskryf word nie, kies baie mense wel vir ‘n bestaan waarvan God uiteindelik glad nie deel is nie, en ongelukkig word so ‘n bestaan met dieselfde beelde beskryf.

Daar is dus niks “onlogies” daaraan dat baie mense, selfs al is dit 99% van alle mense, “unsaved” sal wees nie, inteendeel. Ten diepste veronderstel die idee van Christelike redding dat iemand ‘n verhouding met God begeer, maar God kan niemand red wat nie gered wil word of wat nie wil erken dat hulle redding nodig het nie.

Groete

Udo

Sien ook:

Hoe kan God mense maak wat Hy weet hel toe gaan?

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.