Hier is my vrae…

Goeie dag Udo

Daar is soveel dinge waaroor ek vrae het, en goed wat nie vir my sin maak nie, dat ek seker ‘n 5000 woord opstel vir jou sal kan skryf.

Van die groot vrae wat ek het is:

  • Ander gelowe voel net so sterk oor hulle god, so hoe weet ons dat die geloof wat ons volg die regte een is?
  • Hoekom laat God slegte dinge toe om te gebeur?
  • Is die Bybel nie net propaganda wat deur die eeue saamgestel is nie, en hoe weet ek dit is waar?
  • Hoekom sê God drank is sleg maar verander self water in wyn?
  • Hoekom sê God “Eer jou vader en moeder”, maar ook per implikasie dat meng jou nie met die semels? So as jou vader en moeder nie gelowiges is nie, wat staan my te doen?

Ek kan aangaan, maar ek dink jy kry die idee. Ek en ‘n vriendin het nou al lekker gesels, maar sy dink ook dalk moet ek met jou kom praat.  Sy praat van ek moet die Bybel lees vir antwoorde, maar hoe lees ek iets wat nie op die stadium vir my “werklik” is nie?

Ek is in ‘n NG kerk omgewing grootgemaak, en tot vandag toe kan ek nie verstaan hoe mense die Gees van God aanvoel, en in tale praat ensovoort nie.

  • Hoekom gebeur dit nie met my nie?
  • Is ek anders?
  • Wat maak my anders?

Maar ja, voor ek te lank aangaan, dit is van my “concerns” wat ek het.

Asseblief verstaan ek is nie uit om te probeer bewys dat God NIE betsaan nie, maar slegs om vrae te vra rondom my geloof.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie dat jy vrymoedigheid geneem het om vir my te skryf. Ek verstaan dat dit soms maar effe moeilik is om ‘n mens se gedagtes op skrif te sit, en dan nog boonop aan ‘n vreemde persoon te rig. Ons kan gerus op ‘n stadium ‘n koffie êrens gaan drink (ek sien jy werk in Pretoria) en lekker gesels as jy lus is. Maar vir eers dink ek dis regtig goed om jou gedagtes/vrae op skrif te orden. Ek vind dat dit dikwels help as ‘n mens jou vrae en worsteling presies probeer formuleer sodat ‘n mens stelselmatig en met fokus daarmee en daardeur kan werk. In ‘n verbale gesprek mis ‘n mens ook soms die implikasies of nuanses van wat iemand anders gesê het, terwyl ‘n mens in korrespondensie meer tyd het om na te dink en vir opklaring te vra waar nodig.

Verder wil ek vir jou sê dat ek altyd baie opgewonde is om met mense te gesels wat eerlike vrae het oor hul geloof. Ek noem spesifiek “eerlike vrae”, want een van die eerste dinge wat ek altyd eers probeer peil is of mense regtig na antwoorde soek. Sommige mense gebruik hul vrae as ‘n manier om hulle te distansieer van die sake waaroor hul vrae vra (‘n soort skeptiese afsydigheid wat stelselmatig by volslae ongeloof eindig) eerder as om werklik te wil probeer verstaan. En daar is niks méér futiel as om met iemand te probeer gesels wat eintlik klaar sy/haar “mind” opgemaak het (onwrikbaar so) en daarom nie regtig belangstel om na rede te luister nie.

Ek het egter onmiddellik die indruk gekry dat jy opreg is in jou vrae en dat jy werklik opsoek is na sinvolle antwoorde rondom jou geloof. Wel, ek wens regtig dat meer Christene wou doen wat jy doen, dit is, vrae vra oor hul geloof met die oog op beter begrip en intellektuele integriteit. Ek kry dikwels die gevoel dat baie Christene heimlik voel dat hulle nie te diep wil delf of vrae wil vra oor hul eie geloof nie, want hulle is bang hulle kom dalk agter dat alles wat vir hulle geleer is of wat hulle geglo het, eintlik net lugkastele is en nie gronde in die werklikheid het nie. En, so voel hulle, die ontnugtering en teleurstelling sal dan net te groot wees.

Wat baie Christene egter nie duidelik genoeg besef nie, is dat die Christelike geloof nie wegskram van rigiede ondersoek nie en dat om te glo nie beteken dat jy jou verstand of common sense moet afskakel nie. Die Christelike geloof het ‘n ryk en lang intellektuele tradisie (van die vroegste kerkvaders af) waarin daar nie net verduidelik word oor wat geglo word nie, maar ook hoekom dit geglo word (m.a.w., hoekom dit redelik is om bepaalde dinge te glo).

Met dit alles wil ek jou maar net gerus stel dat jy nie hoef skuldig te voel oor al jou vrae nie, inteendeel, ek wil dit aanmoedig! Verder wil ek jou ook vanuit my eie perspektief as iemand wat al geruime tyd denkend met die Christelike geloof omgaan, meedeel dat die Christelike geloof as wêreldbeeld beslis bevredigende antwoorde kan bied. Dit mag dalk bietjie tyd en moeite verg om daarby uit te kom, maar niks wat die moeite werd is om te doen, is ooit net maklik nie.

Kom ons kyk nou spesifiek na die vrae wat jy genoem het (ek weet jy het nog baie ander vrae en jy kan enige tyd nog iets vra as jy wil).

Ander gelowe voel net so sterk oor hulle god, so hoe weet ons dat die geloof wat ons volg die regte een is?

Die vraag is na watter godsdiens die beste verduideliking bied van hoe die wêreld regtig is (‘n mens noem dit ‘n wêreldbeeld). Die belangrike punt om te verstaan is dat dit nie werklik gaan oor hoe sterk iemand VOEL oor sy geloof nie, maar of dit wat iemand glo ooreenstem met realiteit. So m.b.t. tot die Christelike geloof sal ‘n mens wil weet hoe dit wat Christene glo ooreenstem met die werklikheid. So byvoorbeeld glo ons dat God bestaan, maar is daar enige goeie redes om te glo dat Hy werklik bestaan? (want dan is ateïsme vals, maak nie saak hoe sterk iemand daaroor VOEL nie). Verder glo Christene ook dat God ‘n persoon is, maar is daar goeie rede om so te glo eerder as dat Hy ‘n onpersoonlike krag of realiteit is? (want dan is New Age geloof en sekere tradisies in Boeddhisme en Hindoeïsme vals, maak nie saak hoe sterk iemand daaroor VOEL nie). Dan glo Christene ook dat Jesus deel is van ‘n drie-enige God wat mens geword het, op aarde geleef het, gekruisig is en daarna fisies uit die dood opgestaan het. Maar is daar goeie rede om te glo dat Jesus werklik ‘n Goddelike natuur deelagtig was en dat die opstanding werklik plaasgevind het? (want dan is beide Islam en Judaïsme hieroor verkeerd, maak nie saak hoe sterk iemand daaroor VOEL nie).

Ek is oortuig dat die aansprake wat die Christelike geloof maak oor hoe die wêreld regtig is, korrek is, want ek is oortuig dat hierdie aansprake deur getuienis vanuit verskeie rigtings ondersteun word en dus nie net blindelings geglo hoef te word nie. Daar is goeie filosofiese argumente (wat ook deur die wetenskaplike getuienis ondersteun word) wat dui op die bestaan van ‘n persoonlike Skepper-God (sien bv. hier). Daar is ook goeie historiese getuienis dat Jesus wel was wie Hy gesê het Hy was en dat die gebeure rondom sy opstanding werklik plaasgevind het (sien bv. hier). My oortuigings as Christen is dus nie in ‘n gevoel gegrond nie, maar in ‘n klomp goeie redes.

Ek wil egter noem dat daar ‘n ander baie sterk stuk getuienis is wat persoonlik swaarder weeg as al die ander en dit is my persoonlike verhouding met God. Hierdie verhouding is egter nie gebaseer op gevoel nie, maar in vertroue – vertroue in wie God is en in sy liefde vir my. Maar later meer hieroor.

Hoekom laat God slegte dinge toe om te gebeur?

Hierdie is ook ‘n baie belangrike vraag, want ‘n mens sou dink dat as God liefdevol en almagtig is, dan sal Hy alle slegte dinge wat in die wêreld gebeur, sou en kon keer. Ek wil hier as antwoord fokus op net een aspek van hierdie vraag en dit is op die feit dat God die mens met ‘n baie spesifieke kenmerk geskape het en wat die implikasies daarvan is. God het die mens geskape met die vermoë om morele keuses te kan maak, m.a.w. die mens het die vermoë om tussen goed en sleg, en tussen reg en verkeerd te kan kies. Indien die mens nie so ‘n vermoë gehad het nie, dan sou ons nie van “mense” kon praat nie, maar miskien eerder van iets soos robotte wat vooraf geprogrammeer is om bepaalde dinge te doen. Dink daaraan: om in ‘n wêreld te leef waarin ons nie ‘n keuse het om iemand lief te hê nie, is ‘n wêreld waarin liefde nie bestaan nie (daar bestaan nie iets soos gedwonge liefde nie; liefde is per definisie iets wat ‘n mens vryelik gee, en daarom moet ons kan kies om lief te hê).

Die implikasie van hierdie vermoë om keuses te maak (m.a.w. vrye wil) is verder dat bepaalde keuses bepaalde gevolge het. As keuses nie gevolge gehad het nie, dan beteken dit eintlik dat ons keuses niksseggend is en in effek dat ons nie ‘n werklike keuse gehad het nie. Hier is ‘n denkoefening om dit te illustreer: Gestel ek het die keuse om vanuit een van twee glase voor my te drink. Ek weet dat een glas water in het en dat die ander een gif in het (wat soos water proe en ruik), maar ek weet nie watter een is die suiwer water nie. Gestel verder dat ek ook weet dat as ek wel die gif sou drink, dan sal dit geen gevolge vir my inhou nie (dit sou wees asof ek die suiwer water gedrink het). Die vraag is nou: maak dit regtig saak uit watter glas ek drink? En as dit nie regtig saak maak nie, het ek dan werklik ‘n noemenswaardige keuse gehad om mee te begin?

Dit is vir hierdie rede dat die wêreld vol voorbeelde is van hoe mense dikwels onmenslik teenoor ander optree, mense wat slegte of verkeerde keuses maak wat bepaalde gevolge het. Ons is ons as wesens geskape wat (noemenswaardige!) keuses kan maak. Ons beleef dikwels die uitwerking van ander se slegte en verkeerde keuses, maar God laat dit in ons lewens toe omdat Hy daaroor besorg is dat ons werklik noemenswaardige keuses kan maak (God kan natuurlik wel soms kies om wonderbaarlik in te gryp, sodat die uitkoms van sekere keuses anders verloop, maar ons hoef nie God se goedheid in twyfel te trek wanneer dit nie gebeur nie). Die punt is dit: ‘n wêreld waarin God heeltyd verhinder dat mense slegte keuses maak, of heeltyd die slegte gevolge van bepaalde keuses verhinder, is niks anders as ‘n wêreld waarin ons eintlik geen noemenswaardige keuses kan maak nie. In so ‘n wêreld is ons weer eens maar net robotte en nie werklik mense met vrye wil nie.

So, ‘n deel van die antwoord op hierdie vraag is dat God beide liefdevol en almagtig is, maar omdat hy wesens soos ons gemaak het wat keuses kan maak wat bepaalde gevolge inhou, laat Hy baie dinge in ons lewe toe sonder om direk daarmee in te meng. Dit beteken egter nie dat God afsydig teenoor ons of teenoor ons omstandighede staan nie. Hier is wat ek weet wanneer God sekere dinge in my eie lewe toelaat wat my laat swaarkry en wat nie is soos wat ek gehoop het dit sal wees nie. Ek weet dat God die groter prentjie raaksien en dat Hy by magte is om sodoende selfs die sleg in my lewe kan bewerkstellig tot ander of my eie voordeel (dis nie noodwendig tot my eie voordeel nie, maar iets wat met my gebeur is dalk iets wat die Here in iemand anders se lewe ten goede kan gebruik). Ten diepste vertrou ek die Here dat Hy nie iets in my lewe sal toelaat wat Hy my nie ook die krag gee om te kan hanteer nie. En selfs al maak ek nie staat op sy krag in daardie moeilike tye nie (vir watter rede ook al), weet ek verder dat hy steeds by my is, al kan of wil ek dit nie in daardie donker tye erken nie (ek praat nou as iemand wat vir baie jare met erge depressie geworstel het). Hierdie vertroue is egter nie iets wat ‘n mens sommer net oornag opbou nie, maar is iets wat ‘n mens oor baie jare se ervaring met die Here en met die uitdagings van die lewe geleer het om te doen. Uit die aard van die saak is dit daarom baie moeilik om aan iemand anders wat deur ‘n moeilike tyd gaan te probeer verduidelik wat dit is om op die Here te vertrou as hulle dit nog nooit werklik in hulle eie lewe gedoen het nie. Ek dink dit is een van die redes waarom ‘n mens veral moet leer om op die Here te vertrou wanneer dit goed gaan, want dan, as die sleg van die lewe kom, weet ‘n mens wat dit is om in ‘n vertrouensverhouding met die Here te leef. Dan is dit nie soos iemand wat net die Here se naam soos ‘n towerspreuk aanroep wanneer hulle in die moeilikheid is, maar in werklikheid geen verhouding met die Here het nie (dit wil natuurlik nie sê dat God nie dikwels ook sulke noodkrete hoor en verhoor nie).

Kyk gerus ook hier vir nog ‘n perspektief oor die probleem van swaarkry en God se betrokkenheid in ons lewens. Sien ook hier.

Is die Bybel nie net propaganda wat deur die eeue saamgestel is nie, en hoe weet ek dit is waar?

Christene is oor die algemeen baie oortuig dat die Bybel die Woord van God is, maar is nie altyd by magte om ‘n verduideliking te gee vir waarom dit redelik is om te glo dat die Bybel vertrou kan word vir wat daarin staan nie (terloops, om te sê dat die Bybel betroubaar is omdat dit die Woord van God is, is nie regtig ‘n argument nie, want daar moet tog goeie rede wees om te kan glo dat die Bybel die Woord van God is). M.a.w. hoe weet ons dat wat in die Bybel geskryf staan werklik is wat oorspronklik so neergeskryf is? En hoe weet ons dat wat die skrywers neergeskryf werklik so gebeur het?

In antwoord op bogenoemde vrae gaan ek jou na die volgende reeks artikels verwys waarin ek gereageer het op iemand anders se soortgelyke vrae. Begin hier.

Hoekom sê God drank is sleg maar verander self water in wyn?

In my eie lees van die Bybel het ek nog nooit die indruk gekry dat die God sê dat drank opsigself sleg is nie. Wat ek wel lees dat God ‘n probleem het met dronkenskap en dronkenskap gaan gepaard met die misbruik van alkohol. Maar enigiets kan misbruik word – seks en geld is nog voorbeelde. Net soos drank/alkohol is dit egter nie seks en geld opsigself waarteen God gekant is nie, maar teen die misbruik daarvan, misbruik wat lei tot dinge soos losbandigheid en geldgierigheid. Lees gerus ook hier.

Hoekom sê God “Eer jou vader en moeder,” maar ook per implikasie dat meng jou nie met die semels? So as jou vader en moeder nie gelowiges is nie, wat staan my te doen?

Die gedeelte waarna jy verwys is waarskynlik 2 Korintiërs 6:14-18 en spesifiek vers 15, waar daar staan: “Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?” In die konteks van hierdie gedeelte verduidelik Paulus aan die Korintiër-Christene dat hulle ‘n spesiale status het – hulle is die tempel van die Lewende God. Die implikasie is dat hulle lewens in baie opsigte anders sal wees as die mense rondom hulle, dat hulle ‘n ander visie en ander waardes gaan hê as ongelowiges, en dat daar dikwels ‘n konflik van belange sal wees wanneer die gelowige en nie-gelowige in baie noue verbintenisse op bepaalde terreine van die lewe beweeg. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die baie intieme gebied van die huwelik. Dit maak nie regtig sin dat een persoon wat ‘n intieme verhouding met God het, met ‘n ander persoon wat niks met God te doen wil hê, in die huwelik sal tree nie. Twee sulke mense se diepste oortuigings sal te veel verskil en dit sal ‘n nadelige invloed op so ‘n huwelik hê (sien ook hier).

Hierdie gedeelte in Korintiërs probeer egter nie sê dat ons nie respek kan of moet hê vir ongelowige mense nie, of nie met hulle interaksie moet hê nie. Inteendeel, ons word geroep om liefde te bewys aan alle mense en op so ‘n manier met hulle in interaksie tree dat dit hulle lewens positief sal beïnvloed (sien bv. Kolossense 4:5-6). Dit geld veral ook vir ons met ongelowige ouers. Selfs al verskil ons diepste oortuigings kan ons steeds met eerbied teenoor hulle optree en selfs vir raad na hulle luister. Maar tog sal daar sekere areas wees waar ons paaie skei en waar ons standpunt sal inneem volgens ons Christelike oortuigings wat sal verskil van ons ouers s’n.

Die laaste vraag wat jy vra het te doen met die Gees van God se teenwoordigheid in ons lewens. Baie mense het die begeerte na ‘n spesifieke belewenis van God as bevestiging van sy teenwoordigheid in hul lewens. Ek is egter nie van mening dat ‘n mens die Gees van God moet kan “aanvoel” om te weet dat jy ‘n verhouding met die Here het en dat Hy teenwoordig is in jou lewe nie. Ek wil weer terugkom na die begrip van “vertroue”. Wanneer ons die Here vertrou volgens Sy beloftes aan ons in Sy Woord, dan leef ons in verhouding met die Here en sal ons weet dat God in ons lewe teenwoordig is. Maar dit het nie primêr met ‘n gevoel te doen nie, want gevoelens kom en gaan.

Ek wil die analogie gebruik van die dinamiek in ‘n huweliksverhouding. Die liefde tussen man en vrou het te doen met commitment/toewyding en die keuse om vir die ander persoon lief te wees. Dis gebaseer op wedersydse vertroue en die wete dat die ander persoon altyd daar sal wees vir die ander omdat hulle ‘n sekere betroubare karakter het. Hierdie liefde is nie eerstens gegrond in gevoelens nie. Natuurlik is daar ook dikwels gevoelens betrokke – ons voel dikwels baie lief vir iemand, maar ander kere is daar dalk konflik en het ons gevoelens van frustrasie of teleurstelling. Maar ten spyte van sulke gevoelens bly ons steeds lief vir ons huweliksmaat omdat ons weet dat ons ‘n vertrouensverhouding het wat groter is as die gevoelens wat ons by tye ervaar.

Op dieselfde manier is ons verhouding met God een waar ons in vertroue met Hom leef. Natuurlik sal ons, in so ‘n verhouding soos ook in ‘n huweliksverhouding, ook dikwels bepaalde gevoelens ervaar wat ons baie naby aan die Here laat voel. Maar ek dink dis ‘n fout om sulke gevoelens opsigself te probeer nastreef as bevestiging van die Here se teenwoordigheid in ons lewens. Dis belangrik om te verstaan dat sulke gevoelens eerder die produk is van ‘n vertroue op die Here en nie opsigself besonder noemenswaardig is nie. Ons strewe is dus nie na bepaalde gevoelens nie, maar eerder na ‘n groter vertroue in die Here.

Daarom wil ek jou verseker dat daar niks fout is met jou as jy nie die Gees van God aanvoel op die manier waarop sommige Christene aanvoer dat ‘n mens moet doen nie. Spreek in tale is nie ‘n aanduiding dat iemand ‘n méér spesiale aanvoeling van die Gees het nie. Spreek in tale is ‘n gawe soos enige ander en nie alle mense het dieselfde of selfs ál die gawes nie. Enigiemand wat sy gawes uitleef, doen so in gehoorsame vertroue en sal by tye baie naby aan die Here voel.

Winkelsmidt, tree asseblief verder met my in gesprek oor enige van hierdie of ander sake as jy wil. En soos ek gesê het, as jy eerder oor ‘n koppie koffie wil gesels dan is jy ook welkom.

Baie groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.