Die spaghettimonster en ander vreemde vlieënde voorwerpe

Het jy geweet daar is ‘n vlieënde spaghettimonster in ‘n wentelbaan om die aarde? Hy het al miljoene volgelinge op aarde en hulle vergader daagliks in Pastafabrieke met die naam Fattis & Monis. Hier voer hulle elke dag kerklike rituele uit. Jy sal die wil van die monster in elke pastaresep vind. En daar is min mense op aarde wat nie glo dat spaghetti goed is vir hulle nie. Daar is selfs pasta fanatici (Pastagodsdiens fundamentaliste) wat glo dat om enige iets anders as pasta te eet, gevaarlik is.

Ek soek bewyse dat dit nie so is nie. Ek glo dit, so ek hoef niks te bewys nie.

Antwoord:

Dit is by baie ateïstiese en agnostiese skeptici mode om verbeeldingsryke entiteite te postuleer en dan daarop te wys dat dit net so absurd is om in die bestaan van hierdie entiteite te glo as in die bestaan van God. Die bekendste kontemporêre voorbeelde hiervan is die Invisible Pink Unicorn en die Flying Spaghetti Monster, albei variasies op die filosoof Bertand Russell se verwysing na die bestaan van ‘n buite-ruimtelike teepot wat bloot te klein is om met die sterkste teleskoop waar te neem. Die punt met sulke verbeeldingskeppings is gewoonlik tweeledig. Eerstens wil skeptici daarmee sê dat niemand enige goeie rede het om te glo dat sulke entiteite werklik bestaan nie, en tweedens, as ‘n punt van analogie, dat die bestaan van God ook maar net nog ‘n voorbeeld is van ‘n entiteit wat uit die duim gesuig is.

Bertrand Russell wou met sy verwysing na ‘n buite-ruimtelike teepot spesifiek aandui dat wanneer sommige teïste op ateïste se onvermoë wys om te kan bewys dat God nie bestaan nie, dit nie daarom beteken dat God wel bestaan nie. M.a.w. net omdat iemand nie kan bewys dat daar nie ‘n baie klein teepot êrens in die buitenste ruimte bestaan wat nie met ons sterkste teleskope waargeneem kan word nie, beteken nie dat daar wel so ‘n teepot bestaan nie. Hierdie aspek van Russell se argument is onkontroversieel. As die bestaan van so ‘n teepot (of die bestaan van God) nie weerlê kan word nie, dan beteken dit nie dat die teepot (of God) daarom per implikasie bestaan of dat dit selfs redelik is om te glo dat die teepot (of God) bestaan nie. (Dit is so selfs al is dit waar dat die afwesigheid van bewyse (evidence) vir die teepot (of God), nie noodwendig ‘n onbetwisbare bewys is van die afwesigheid van die teepot (of God) nie.)

Die onderliggende probleem met Russell se argument lê egter by die rede vir waarom hy sy argument in die eerste plek na die tafel bring. Russell, net soos baie ander ateïste en agnostici, is daarvan oortuig dat daar inderdaad ‘n afwesigheid van bewyse (evidence) is vir die bestaan van God. Dit is vanweë hierdie afwesigheid van bewyse, so word aangevoer, dat teïste daarom genoop voel om ateïste daarop te wys dat hulle ook nie kan bewyse lewer dat God nie bestaan nie, asof dit die teïs se saak sou versterk. Ons kan egter saamstem dat Russell se argument wys dat dit die teïs nêrens bring deur so te argumenteer nie.

Maar is dit werklik so dat daar geen argumente bestaan wat as getuienis dien vir die bestaan van God nie? Van die wêreld se mees vername filosowe dink die vraag na God se bestaan kan met intellektuele integriteit en eerlikheid bespreek en beredeneer word (sien bv. Alvin Plantinga). Daar is egter dikwels ‘n hele aantal persepsies en aannames oor die aard en omvang van die getuienis vir God se bestaan wat dit meestal besonder moeilik maak om met sommige ateïste en agnostici ‘n sinvolle gesprek daaroor te voer. Ek noem drie probleemareas.

Eerstens is daar dikwels die aanname dat getuienis vir die bestaan van God aan empiriese standaarde moet voldoen. Russell se teepot-argument mag die indruk skep dat die bestaan van ‘n onwaarneembare teepot en die bestaan van God op dieselfde vlak lê. Die feit is egter dat hierdie twee entiteite byna niks in gemeen het nie; ‘n teepot is per definisie ‘n fisiese, geskape en lewelose voorwerp; God is per definisie ‘n onstoflike, ongeskape en persoonlike entiteit. Skeptici wat daarom eis dat God se bestaan deur die wetenskaplike metode ondersoek en bevestig moet kan word, verwar bepaalde epistemologiese kategorieë. ‘n Mens vors byvoorbeeld nie die geskiedenis na deur wiskundige teorieë te toets nie; ‘n ondersoek na wat in die geskiedenis gebeur het en na wat ‘n geldige wiskundige teorie is, behoort tog elk deur die toepaslike metodiek ondersoek te word. Ongelukkig heers die aanname dikwels dat indien iets nie deur die wetenskap bewys kan word nie, dan is dit onmoontlik om werklik iets daaroor te weet en is die mees redelike gevolgtrekking dat dit waarskynlik nie bestaan nie. Maar die wetenskap het beslis nie ‘n monopolie in die kennisdomein nie (dink bv. aan kennisaansprake vanuit historiese navorsing, etiese oortuigings en juridiese beslissings).

Tweedens is daar ook dikwels ‘n misplaaste verwagting oor die aard van bewyslewering in die vraag na God se bestaan. Skeptici neem dikwels aan dat ‘n mens nie geoorloof is om in die bestaan van God te glo indien die argumente of getuienis vir sy bestaan nie dwingend is nie (sodat dit altyd en deur almal aanvaar sal word). Sulke skeptici dring aan op ‘n tipe wiskundige sekerheid, ‘n absoluut onbetwisbare bewys vir God se bestaan. Die feit is egter dat hierdie tipe bewyslewering en die gepaardgaande sekerheid, in byna geen area van die lewe haalbaar is nie. Dit beteken egter nie dat ‘n mens nie genoegsame getuienis kan bekom waarvolgens verantwoordelike beslissings bo redelike twyfel gemaak kan word nie. Daarom is die gesofistikeerde teïs se aanspraak nie dat hy die bestaan van God bo alle twyfel kan bewys nie en voel hy ook nie onder verpligting om dit te kan doen nie. Die teïs is eerder verbind tot die meer beskeie aanspraak dat dit meer redelik is om te glo, volgens bepaalde aspekte van die wêreld waarin ons woon, dat God bestaan as om te glo dat hy nie bestaan nie.

Derdens is daar meestal ‘n soort ongeërgdheid by baie ateïste en agnostici (en ongelukkig by sommige teïste ook) oor enige idee van getuienis/argumente vir die bestaan van God. Die onderliggende aanname blyk meestal te wees dat al sulke “argumente” al lankal (sover terug as Hume en Kant) weerlê is en dat teïste bloot naïef is deur na sulke strooihalms te gryp. Die meeste skeptici glo dat die mens die idee van ‘n God of gode geskep het as ‘n manier om hulself te troos in ‘n onseker en gevaarlike wêreld vol teleurstelling. Verder is ateïsme vir sommige by verstek waar juis omdat daar nie eenstemmigheid is oor die haalbaarheid van argumente vir God se bestaan nie. M.a.w. vir een of ander rede is die aanname dat dit in ateïsme se guns tel dat daar verskillende opinies is oor of die argumente vir God se bestaan slaag al dan nie. Hoewel baie professionele filosowe nie die argumente vir die bestaan van God aanvaar nie, beteken dit egter nie dat daardie argumente daarom noodwendig en summier vals is nie. Baie van hierdie skeptiese filosowe neem sulke argumente ernstig op en maak dit nie maar net af as naïewe redenasies nie. Vir sommige ander ateïste en agnostici is dit egter dikwels ‘n uitgemaakte saak dat sulke argumente geen aandag verdien nie, en word dit sommer met die wuif van die hand as belaglik of onbelangrik afgemaak. Die onbeholpe manier waarop hulle dikwels met die argumente omgang wanneer hulle tog die moeite ontsien, verraai egter meestal hul onkunde en ateïstiese fundamentalisme.

William Lane Craig is ‘n teïs en filosoof wat glo dat daar baie geldige argumente is wat die hipotese dat God bestaan, méér waarskynlik maak as die hipotese dat God nie bestaan nie. Van die elemente in van hierdie argumente sou die volgende wees:

  • Alle getuienis dui daarop dat die heelal nie selfskeppend was of ewig is nie. Watter hipotese bied die beste verduideliking vir die oorsprong van die heelal: ateïsme of teïsme?
  • Alle getuienis dui daarop dat ‘n heelal baie spesifieke eienskappe besit wat koolstofgebaseerde lewe moontlik maak, maar dat daardie eienskappe nie bloot toevallig of selfs noodwendig moet wees wat dit is nie. Watter hipotese bied die beste verduideliking vir hierdie spesifieke eienskap van die heelal: ateïsme of teïsme?
  • Morele waardes en verpligtinge het geen objektiewe begronding in ‘n suiwer naturalistiese heelal nie, tog dui alle getuienis daarop dat ons bepaalde menslike optrede werklik as reg en verkeerd, of goed en sleg ervaar. Watter hipotese bied die beste verduideliking vir die bestaan van objektiewe morele waardes en verpligtinge: ateïsme of teïsme?

Bogenoemde bespreking dien nou as konteks vir ‘n ondersoek na die bestaan van die “vlieënde spaghettimonster”.

Eerstens moet enige suggestie verwerp word dat ‘n teïs per definisie iemand is wat in iets glo waarvoor daar geen rasionele verantwoording is nie. Hoewel iemand nie ‘n rasionele verantwoording hoef te kan gee voordat hulle geregverdig sou wees om in God te glo nie (die Christelike definisie van geloof het te doen met ‘n verhouding en as sulks tree ‘n mens in ‘n verhouding met God deur vertroue en nie deur met argumente te bewys dat Hy bestaan nie), dink ek wel dat God se bestaan rasioneel gegrond kan word.

Dus, as iemand sê dat hy eenvoudig net glo in die vlieënde spaghettimonster (of ‘n onsigbare pienk eenhoringperd of ‘n mikroskopiese teepot in ‘n wentelbaan êrens om die aarde), sonder dat daar enige rasionele redes/getuienis sou bestaan of hoef te bestaan om die realiteit van so ‘n entiteit te begrond, dan het ons gesprek geëindig nog voor dit begin het. Soos die ateïs Bertrand Russell se teepot-argument dit duidelik maak: selfs al kan ek nie bo alle twyfel bewys dat die vlieënde spaghettimonster nie bestaan nie, beteken dit nie dat so ‘n entiteit daarom wel bestaan nie.

Wat ek egter wel kan doen is om positiewe argumente te gee vir waarom ek dink dat dit redelik is om te glo dat die spaghettimonster nie bestaan nie. Of anders gestel, ek kan argumente gee wat die hipotese dat ‘n entiteit soos die vlieënde spaghettimonster nie bestaan nie, meer waarskynlik maak as die hipotese dat dit wel bestaan. Hier is ‘n paar:

  • Eerstens, ons weet dat die vlieënde spaghettimonster nie werklik bestaan nie, omdat Bobby Henderson so gaaf was om te erken dat, en waarom, hy hierdie fiktiewe karakter geskep het. Niemand glo in die bestaan van iets wat hulle weet fiktief is nie. Terloops, hierdie een argument is genoeg om die hipotese bo redelike twyfel te bevestig dat die vlieënde spaghettimonster inderwaarheid nie bestaan nie. Maar kom ons speel die speletjie verder en kyk wat gebeur.
  • Tweedens, ons weet dat die spaghettimonster uit spaghetti en maalvleis sou bestaan (vgl. The Gospel of the Flying Spaghetti Monster, p.63 asook volgens sketse wat die rondte doen). Die implikasie is dat die spaghettimonster dus ‘n fisiese entiteit sou wees. Volgens spaghettimonster-dogma is die monster egter onsigbaar en kan dit dwarsdeur ander materie beweeg (vgl. The Gospel of the Flying Spaghetti Monster, p.65). Ons is egter ‘n rasionele verduideliking verskuldig vir waarom die eienskappe van die spaghettimonster wat uit fisiese spaghetti en maalvleis bestaan, geheel en al anders is as die spaghetti en maalvleis wat ons ken. En as die eienskappe van die spaghettimonster dan nie ooreenstem met normale spaghetti en maalvleis nie, wat se soort entiteit is die spaghettimonster regtig (hoekom is dit dan ‘n spaghetti-monster?) Want as ons dan nie regtig weet waarna na die term “vlieënde spaghettimonster” verwys nie, dan kan ons ook nie werklik ondersoek instel na die realiteit daarvan nie en is die waarskynlikheid groot dat dit net ‘n verbeeldingskepping is…en bevestig dit die vorige argument!
  • Derdens, volgens spaghettimonster-dogma (sien The Gospel of the Flying Spaghetti Monster) het die spaghettimonster die heelal geskep. Ons weet egter uit navorsing in die kosmologie dat die ontstaan van die heelal die ontstaan van alle materie veronderstel en daarom per definisie ook die ontstaan van iets soos die spaghettimonster. Dus kon die spaghettimonster nie die heelal geskep het nie, omdat dit, as ‘n stuk (ewenwel onsigbare) materie, deel uitmaak van die heelal wat begin ontstaan het. Die teenstrydigheid hier dui op valsheid.
  • Vierdens, ons weet dat iets soos spaghetti en maalvleis (dit waaruit die spaghettimonster bestaan) deur mense geskep word en dat maalvleis en spaghetti nie sonder menslike intelligensie sommer net bestaan of toevallig en vanself vorm aanneem nie. Daarom, interessant genoeg, lyk die spaghettimonster al te veel na die produk van intelligente ontwerp (en in hierdie geval, ontwerp deur iemand se verbeeldingskrag), en glad nie na iets wat die oorsaak van intelligensie (soos menslike intelligensie) sou wees nie!

So, in antwoord op die aanvanklike uitdaging: Dit staan enigiemand natuurlik vry om te glo wat hulle graag wil, maar laasgenoemde vier argumente en aanduidings behoort enige redelike mens te oortuig dat die vlieënde spaghettimonster inderwaarheid nie bestaan nie.

Udo Karsten

________________________

Vir ‘n akademies filosofiese bespreking van Bertrand Russell se teepot, sien Brian Garvey

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.