Bevestig jou aansprake uit die Bybel, asseblief

(Sien heel onder vir die ander gedeeltes in hierdie gesprek)

Haai Udo

Ek neem kennis van jou skrywe. 

Ek sal egter verkies dat jy uit die Bybel jou aansprake bevestig en nie uit sekondêre bronne nie. 

Ek weerhou my spesifiek daarvan om nie te sê: Dawkins sê dit … en Calvyn dat. 

Net soos wat my Spaghettimonster nie kan bestaan behalwe as dit deur ‘n menslike brein uitgedink is nie – kan nie enige god bestaan as hy/sy/dit/ nie deur die mens uitgedink is nie. 

Anders sou  Bybels die wêreld vol gelê het toe Adam en Eva in die paradys beland het. Of hulle dit sou kon lees weet ek nie en in watter taal dit was weet ek ook nie. … 

Laat my dink aan die grappie van die ou oom wat vreeslik ontsteld was toe die Hollandse Bybel in Afrikaans vertaal is. Sy beskouing was dat as Hoog Hollands goed was vir sy Verlosser – is dit goed genoeg vir hom ook!!!!

Jy is welkom om steeds te korrespondeer, maar ons hou ons by die grondteks. Eers as ons die Bybel uitgesorteer het –kan ons aanbeweeg na die denkers en filosowe toe. 

Vriendelike groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Waarom moet ek my aansprake uit die Bybel bevestig? God bestaan of hy bestaan nie, wat ook al in die Bybel of enige ander godsdiens se geskrifte staan. Waarom dink jy staan ek verplig om na die Bybel verwys as ek of enigiemand anders oor die bestaan van God nadink? (Miskien dink jy dat God skielik gaan verdwyn as jy kan wys dat die Bybel bloot ‘n klomp versamelde liegstories is, maar as jy so dink is jy filosofies naïef.)

En wat bedoel jy met “sekondêre bronne”? Hoe maak ek gebruik van “sekondêre bronne” as ek bloot verwys na denkers wat erns maak met die vraag na God se bestaan? Jy mis dus heeltemal my punt wanneer ek na ouens soos Alvin Plantinga en William Lane Craig verwys. My punt was eenvoudig dat hulle as voorbeelde dien van intelligente mense wat in hulle werke wys dat geloof in God nie rasioneel ongegrond is nie, en dien daarom as teenspraak vir jou verdagte opinie dat Christene of ander teïste bloot blindelings in God glo, asof God ook maar net iets soos die vlieënde spaghettimonster is.

Jy sê: “Net soos wat my Shaghettimonster nie kan bestaan behalwe as dit deur ‘n menslike brein uitgedink is nie – kan enige god bestaan as hy/sy/dit/ nie deur die mens uitgedink is nie.” Niemand stry daarmee dat God nie bestaan as hy/sy/dit net in mense se verbeelding bestaan nie. Maar so ‘n aanspraak is toutologies en mis die punt heeltemal, want die vraag is of God inderdaad net in mense se verbeelding bestaan. Vir iemand wat sê dat hy agnosties is, is jy egter nogal sterk oortuig dat God NIE bestaan nie, m.a.w. dat die bestaan van God (teisme) bloot deur mense uitgedink is. So, vir iemand wat sodanige sterk oortuigings het, luister ek graag na jou argumente dat God slegs in mense se verbeelding bestaan, m.a.w. iets soortgelyks aan hoe ek gewys het dat die spaghettimonster ‘n verbeeldingskepping is (sien Die spaghettimonster en ander vreemde vlieënde voorwerpe).

Ongelukkig verstaan ek glad nie die relevansie of die logika van jou verwysing na Bybels wat die wêreld sou vol lê as God werklik bestaan nie. Probeer gerus weer verduidelik. Om egter eerlik te wees weet ek nie of dit enigsins gaan help nie, want jou probleme met die “grondteks” lê baie duidelik by jou benadering tot die Bybel (soos ek en ander al voorheen aan jou uitgewys het). Met alle respek, jy het ‘n meer fundamentalistiese lees van die Bybel as die meeste fundamentaliste wat ek ken.

Groete

Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.