Wat was die punt van Adrio Konig se aanbieding?

(Sien heel onder vir die ander gedeeltes in hierdie gesprek)

Hallo Udo

Ek het na 20 jaar alle betrokkenheid by formele godsdiens geëindig na ‘n uiters onaangename insident  met ‘n predikant van die laaste gemeente waar ek lidmaat was. My lidmaatskap is summier beëindig.

Dit nadat ek vir 45 jaar as ‘n fanatiese Dopper my geld en goed en massas tyd met toewyding via dié ‘kerk’ aan ‘God toegewy het.

Miskien trek ek nog ‘n Martin Luther op hulle kerkdeur. Nou dat ek afgetree is, het ek tyd om op te vang op agterstallige sake.

Ek is leesverknog en die kern van die probleem het ontstaan toe ek preke krities  begin analiseer het en uitgewys het hoeveel van wat gepreek word nie water hou nie. Ek het ook ernstig probleme met die Doopformulier gekry wat afskop met: Aangesien ons almal in sonde en ellende ontvang word …(twak van Augustinus)

Wat Konig se aanbieding Sondag betref.

Die eerste maatstaf wat ek aanlê wanneer ek na so ‘n aanbieding luister, is universele geldigheid. Wat was die preek dus werd vir mense in ‘n plakkerskamp of mense wat met ernstige persoonlike probleme sit. Wat help godsdiens vir hulle? Watter troos is daar in dat ‘Jesus reg opgestaan het?’ Die aanbieding was suiwer ‘n dogmatiese verantwoording – deur selektiewe gebruik van tekste.

Ek sal met dieselfde Bybel en met dieselfde praktyk van selektiewe aanhaling van tekste kan ‘bewys’ dat Jesus die Romeine onrustig gemaak het met sy verkondiging van dat hy ‘n koning is, mense soos Petrus wat openlik ‘n swaard gedra het was onder sy dissipels, sy groeiende gevolg, sy onverdedigbare skade aan ‘n varkboer se eiendom  omdat hy ‘n bose ‘gees’ uitgedryf het, ens. Sy groeiende gevolg het natuurlik die Fariseërs en Skrifgeleerdes van die ‘hoofstroomkerk’ net so ontstel omdat dit hulle lidmate – en waarskynlik inkomste –gekos het. Veral as jy dink aan die teks wat sê, ‘En die skare was verslae oor sy leer, want hy het  gepraat soos iemand wat met gesag praat.’  Dit het hulle dus gepas om via die Romeine van Hom ontslae te raak. Daar is baie tekste wat ek kan aanhaal en dan ook sê: ‘Kyk ‘n mens na die teks dan is daar ‘n oorwig van waarskynlikheid dat …’

Ek het ‘n toepassing in Konig se aanbieding gemis waarin aangedui word wat die feit dat Jesus ‘reg’ opgestaan het VIR ALLE MENSE OP AARDE – siekes, gesondes, armes, rykes, Boeddhiste, Moslems – beteken.

Tweedens stoei ek met die konsep ‘geestelik’ Wat is dit? Het dit partikels? Is dit ‘n abstraksie soos bv. ‘n idee wat sy oorsprong in die brein het. Wat word daarmee bedoel? Is dit soos Sielkunde wat ‘n onbestaande Siel in sy naam het, terwyl die vak hom besig hou met die wil, denke en emosies van mense?

Die NUWE HERVORMERS beroep hulle ook voortdurend op ‘n ‘geestelike’ dimensie in hulle doen en late – maar niemand kan sê wat dit is nie. Die Bybel sê God is gees. Na Konig se aanbieding Sondag is dit duidelik dat ten minste een van die komponente van die Drie-enige God [Die Seun] het ‘n vleeslike liggaam soos ons. Verstaan ek dit reg?

Laastens bly dit vir my ‘n groot probleem dat daar twee Jesusse in die Bybel is. Die volmaakte goeie en regte Een van die dogma. Wat van die ander een: Hy begin as ‘n arrogante seuntjie wat sy ouers rasend van bekommernis het. Hy is gewelddadig by die ‘opruiming’ van die verkoping by die tempel? Hy het ‘n tong soos ‘n skeermes by geleentheid. Ag so kan ek aangaan.

Die kern van my argument is dat die probleem begin by die Bybel wat kritiekloos as die waarheid aanvaar word. Dis ongelooflik dat ‘wetenskaplikes’ soos Calvyn en Stoker hulle denkkonstruksies eenvoudig op dieselfde omstrede dokument gaan bou het en ‘n giftige dogma geformuleer het wat meer verdoem en weinig vertroos.

En Udo, wie het die waarheid gepraat by die paradys – die duiwel wie se voorspelling in die kol was of God s’n? Wat my betref, sou dit natuurlik goed gewees het as die voorspelling van ‘Julle sal sekerlik sterwe’ waar geword het. Dit sou 7 miljard mense op aarde waarvan byna 80% in ellende lewe slegs, ten goede kon kom. Lees die boek van David Benatar, Oxford filosoof: Better Never To Have Been: The Harm Of Coming Into Existence

Dan is daar miljoene mense op aarde wat sou verkies om liewer nie met die liggaam wat hulle het op aarde sou wou aangaan in die hiernamaals nie – om baie verstaanbare redes – ek weet die dogma sê dat dit irrelevant sal wees – niemand sal bewus wees van hoe sy liggaam is of lyk nie.

Maar op aarde is dit ‘n skrale troos …

Dis sommer net ‘n paar gedagtes – nadenke tot stof.

Ek sou verkies dat die Bybel, Koran en alle basisdokumente vir godsdiens – liefs van die aarde af verdwyn – maar kom ons begin maar by deeglike redigering.

Vriendelike groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek was toevallig by Dialoog gisteraand en kon uit jou vrae aan Adrio in die vraetyd aflei dat jy Winkelsmidt moet wees. Ek wou myself nog kom voorstel, maar het ongelukkig vasgehaak by ‘n klomp ander mense.

Jy het nog nie op my vorige epos gereageer nie, maar uit jou vrae gisteraand klink dit asof jy steeds van mening is dat 1) dogma = kritieklose aanvaarding, 2) dat Jesus met sy gelykenis in Lukas 16 besig was om korrupsie goed te praat en 3) dat daar hoegenaamd geen aanvaarbare verduideliking kan wees vir hoe iets soos Jesus se gebed in die tuin van Getsemane later neergeskryf kon word nie.

Ek verwag nie regtig dat jy moet reageer nie (maar jy is welkom om die gesprek voort te sit), want ek vermoed dat jy só oortuig is van die onbetroubaarheid van die Bybel, dat geen antwoord jou skynbaar tevrede kan stel nie (dit was toenemend vir my duidelik uit jou reaksie op Roedolf se e-pos).

Jou vrae en besware wys oor die algemeen vir my dat jy die Bybel lees en interpreteer op ‘n manier waarop geen historikus of letterkundige dit met enige ander antieke werk sal doen nie. Wat sake verder bemoeilik is dat jy skynbaar oortuig is dat as Christene glo dat die Bybel die Woord van God is dan beteken dit dat daar geen twyfel by mense kan, mag en sal wees oor hoe die Bybel verstaan moet word nie. So ‘n skrifsiening en jou aandrang dat die Bybel slegs geloofwaardig kan wees met ‘n drastiese redigering, laat my egter dink aan iets wat veel beter pas by ‘n Moslem se meganiese benadering tot die oorsprong van die Koran, dat dit direk deur ‘n engel aan mense gedikteer is. So ‘n siening oor hoe die Bybel as God se Woord aan mense ontstaan het, is en was nog nooit deel van ‘n verantwoordelike besinning oor hierdie saak nie.

Jy maak op ‘n stadium in jou e-pos die volgende stelling aan Roedolf: “As die eerste outeur van die Bybel, ’n volmaakte God is, moet die Bybel ook volmaak wees.” Ek sien egter glad nie hoe jou konklusie noodwendig moet volg nie.

Jou aanname hier is skynbaar dat as ons as mense moet moeite doen om sekere dele van die Bybel en die Bybel as geheel, reg te verstaan (met goeie hermeneutiese metodiek), en as die Bybel deur mense geskryf is met hul eie unieke perspektiewe, motiverings en kontekste, dan kan niemand werklik weet wat God vir ons as mense deur die Bybel probeer sê nie.

In die eerste plek impliseer jou argument dat God eintlik glad nie aan mense kan kommunikeer nie, want enige kommunikasie, skriftelik of selfs deur direkte verbale inset (soos ‘n stem uit die hemel – sien bv. Joh 12:28-29 en mense se verskillende reaksies daarop), is onderhewig aan interpretasie. En waar daar mense is wat interpreteer gaan daar verskille wees oor hoe iets verstaan moet word. Maar sou jy daarom wou aanvoer dat dit onmoontlik is vir enigiemand om werklik te verstaan wat met bepaalde kommunikasie bedoel word net omdat sommige dit nie verstaan nie of dalk nie wil verstaan nie?

Tweedens is jou verwysing na ‘n “volmaakte Bybel” vanuit ‘n menslike perspektief problematies. Wat is ‘n “volmaakte Bybel” gegewe die kompleksiteit waaronder die Bybel tot stand gekom het (m.a.w., gegewe dat dit nie bloot ‘n diktaat is nie)? En gemeet aan wie se standaarde van volmaaktheid moet die Bybel voldoen? Aan Winkelsmidt s’n? Of gebruik God dieselfde Bybel wat vir jou so onbetroubaar is om ander te oortuig van die lewensveranderende boodskap daarin en waarby talle mense boonop goeie getuienis vind wat die betroubaarheid daarvan ondersteun. As dit God se doel was om met die Bybel wat ons tans het, diegene te bereik wat bereikbaar is, waarom moet ek besorg wees oor of daar dalk ‘n ander Bybel moes gewees het as die werklikheid is dat geen ander Bybel in staat sou wees om álmal te bereik nie? As dit die geval is, dan is die Bybel volmaak vanuit God se perspektief en nie omdat dit aan een of ander mens se standaarde van volmaaktheid voldoen nie.

Jou argument kom dus eintlik daarop neer dat dit vir ‘n volmaakte God (as eerste outeur/inspireerder) onmoontlik is om onvolmaakte mense (as tweede sekondêre outeurs) te gebruik om sy spesifieke doelstellings te bereik. ‘n Taamlik dogmatiese standpunt om te handhaaf, nie waar nie?

Winkelsmidt, ek aanvaar heeltemal dat jy dink die Bybel onbetroubaar is, maar moet my asseblief nie daarvan beskuldig, net omdat ek ‘n Christen is, dat ek bloot dogmaties met die Bybel omgaan nie. Ek probeer so eerlik as moontlik na die data kyk wat jy op die tafel geplaas het as voorbeelde wat skynbaar ‘n ondermynende invloed sou hê op die betroubaarheid van die Bybel. Huidiglik is daar egter geen rede om te dink dat hoe jy met daardie data werk, my moet laat afsien van die oortuiging dat die Bybel wel betroubaar is nie. Jy kan dalk sommige van my en ander se verduidelikings as spekulasie verwerp, maar jy het nog nie aangetoon waarom dit onredelik of vals is nie.

Ek sien uit om van jou te hoor.

Groete

Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.