Julle fundamentalisme en dogma is onaanvaarbaar

Beste Udo, Roedolf en Johan

Ek het al die dokumente van Dialoog se website (www.dialoog.co.za) afgetrek en deurgelees. Julle is maar presies soos die ander ‘kerke’ wat ek ken. Daar is nie juis veel plek vir dialoog nie. Die hele set-up is fundamentalisties en tipies gebou op ‘n dogma wat berus op ‘n selektiewe aanhalings uit die Bybel. Die Bybel is eintlik net die vlag waaronder julle vaar. Die vraag is egter die dogma.

Ek is al so moeg om te hoor dat jy net aanvaarbare morele norme kan hê en handhaaf as jy ‘n gelowige is. Alle ander mense is dus by default immoreel.

Ek het vanmiddag gaan sit en begin skryf aan ‘n raamwerk om met julle in dialoog te tree. Ek het egter opgehou so ‘n ent weg toe ek besef hoeveel keer ek nou al met ‘godsdienstiges’ presies dieselfde goed gepraat het. Op die ou einde stem almal saam maar ongeag my geldige argumente verkies hulle om blindweg te bly GLO en hulle nie aan feite te steur nie.

Ek het respek vir die soeke na die waarheid, maar ek glo nie daar is veel oopkopdenkendes onder julle nie. Ek weet eintlik nie wat wil julle bereik deur te sê dat julle dialoog en oopkopdenkers is, as julle eintlik bedoel dat julle klaar die waarheid beet het en ‘dialoog’ beteken bloot ‘n geleentheid skep vir julle om ander te oortuig.

‘n Mens kan net sowel inskakel by enige NG, Dopper of Hervormde gemeente – jy sal geen verskil agterkom nie, behalwe dat julle vreeslik ‘cool’ probeer wees en geykte Engelse woorde op die regte plekke ingooi.

Ek weet nie eers of dit iets werd is om met julle kontak te maak nie. Wat julle betref hang ‘n ou soos ek mos maar net ‘n valse GELOOF aan,  terwyl julle s’n die ware geloof is.

Wat volg, is maar my kommentaar op die dokumente wat julle op die internet het.

Dogma:

My slotsom is dat julle gemeente dieselfde dogmatiese fondament as die kerk in die breë het.

Dit berus op ‘n kritieklose aanvaarding van die volgende:

  • Die mens is volmaak geskape.
  • Die mens was ongehoorsaam.
  • Die ongehoorsaamheid kan net vergewe word deur God se Seun te offer.
  • Die kruisigingoffer het plaasgevind en nou moet almal ‘n lewe lei van dankbaarheid,
  •  Dit behels die voortdurende selfversaking aan die een kant  en verkondiging van die lof van Jesus aan die ander kant.

Elke gemeente –selfs binne kerkverbande- gebruik die bostaande geraamte en hang dan daaraan wat hulle dink die raamwerk die beste sal dien. Solank daar bybelgelees,gepreek, gebid en gesing is, is daar voldoen aan die minimumvereistes.

My probleem met  bostaande dogma is dat daar uiters selektief tekste uit die Bybel aangehaal word om die dogma te dra.  Daar is byvoorbeeld twee beelde van Christus in die Bybel. Die een is die liefdevolle, wyse, vergewensgesinde opofferende Christus. Die ander is ‘n gewelddadige, onverdraagsame, snydende tong, veroordelende en skadeberokkende en arrogante Christus.

‘n Mens hoef nie baie slim te wees om te sien watter een van die twee die gunsteling by dogmatici is nie.

Die gevolg van hierdie selektiewe gebruik van die Bybel, is dat min gelowiges nog regtig weet wat alles in die  Bybel staan. Die Bybel is gereduseer tot net die vlag. Die skip en sy lading is alles dogma. Wanneer iemand skepties staan teenoor die bostaande  dogma, is gelowiges  vinnig om te sê: Dit staan in die Bybel –wat natuurlik waar is.

Maar dis ‘n halwe waarheid. Daar is genoeg ander verwysings in die Bybel om ‘n heeltemal teenoorgestelde dogma te kan dra.

Solank  gelowiges van bogenoemde dogma  nie erns maak daarmee om weg te doen met ‘onnodige’ bagasie in die Bybel of voetnote in te  sit nie, sal hulle ongeloofwaardig in die oë van elke skeptiese,denkende mens bly.

Die Bybel:

Oor die Bybel soos hy tans daar staan, kan ‘n mens eindeloos debatteer. Ter wille van ‘n afskop wil ek net na drie sake verwys.

God het gesê dat Adam en Eva sal sterf as hulle ongehoorsaam is. Die duiwel het gesê: Julle sal nie sterf nie maar soos gode word wat die verskil tussen goed en kwaad ken. Die vraag is nou: Wie het die waarheid gepraat en wie nie.

Solank Lukas hoofstuk 16 in die Bybel bly, kan geen gelowige hoegenaamd kla oor korrupsie nie.

Christus word verbatim aangehaal die nag in Getsemane. Tog staan dit baie duidelik dat ALMAL geslaap het.  Hy was alleen  wakker. Die  woorde wat aan Hom toegedig word, is dus waarskynlik ‘n versinsel wat later deur iemand ingeskryf is om bostaande dogma van God se seun wat moet sterf,  geloofwaardigheid te gee.

Wat Christus betref stem ek saam met die Nuwe Hervormers. Hy het vir die Romeine ‘n ergernis begin word deur sy uitlatings da thy ‘n koning is. Die Romeine het net een koning aanvaar en dit was die keiser in Rome. Die feit dat Christus se gevolg al groter geword het en die feit dat hy saam met mense soos Petrus wat openlik en uitdagend ‘n swaard gedra het, geassosieer het, het hom ‘n bedreiging van die vrede gemaak. Omdat die Jesus se gevolg bestaan het uit mense wat gedros het uit die hoofstroomkerk, was hy nie baie geliefd by die Skrifgeleerdes en ander godsdienstiges nie. Die formele kerk  was ontsteld oor die hoeveelheid lidmate wat hulle verloor het. Dit het hulled us goed gepas om die Romeine aan te stig om Christus te kruisig.

Moraliteit:

Ek weet nie waar die saadjie vandaan kom wat godsdiens as ‘n voorvereiste stel vir die ontwikkeling van morele gevoeligheid nie. Die geskiedenis wemel van voorbeelde van ongelowige mense wat die voorbeeldigste lewens gelei het en van gelowiges wat absoluut immoreel was. In lg. geval kan ons maar net aan koning Dawid dink. Hy het veel slegter as Saul opgetree,maar Saul is ‘n skurk en Dawid ‘ ‘n man na God’s hart’!!!!!!

Dis die soort inkonsekwensies wat deur die kerk verdra word, dat denkende en bevraagtekenende vrydenkers  die kerk verlaat. En gewoonlik as baie ontnugterde mense as gevolg van die kerk se hardvogtigheid. Die kerklike establishment het net eenvoudig te veel om te verloor aan bates en aansien, as om te luister na die kritiese stem van mense wat kan sien die keiser is kaal en dit sê.

Die HANDVES VIR MENSEREGTE is ‘n dokument wat uit die Humanisme gegroei het –nie die Teïsme nie. Hierdie Handves doen miljoen maal meer vir aanvaarbare moraliteit as bv. die tien gebooie of die Sjariawette van die Moslems. In die Christendom word vrouens  de facto –in praktyk-op gelyke voet as mans in die kerk gestel. Maar laat ‘n vrou nou waag om te bewys dat sy net so ‘n goeie [of beter!] diaken, ouderling of predikant kan wees as ‘n man-dan sien jy hoe vinnig spring die gelowige mans om die wette[de jure] uit die Bybel te gaan haal oor vrouens wat hulle plek moet ken.

Teïsme, Ateïsme, Agnostisisme:

Van die drie, is slegs die Agnostisisme ‘n intellektueel houdbare posisie. Niemand weet of kanbewys dat daar ‘n god is nie. Dit is so dat dit ‘n tergende vraag bly: Waar kom alles vandaan. Dis duidelik buite die mens se vermoë om dit te kon skep. Maar of daar ‘n god is of nie is daar 7 miljard opinies oor. En die een kan so reg of verkeerd wees as die ander.

Waaroor verseker diep oor geargumenteer kan word, is dit wat deur MENSE gesê word oor God. Oor dit wat deur mense in boeke neergeskryf is as finale waarheid oor gode en hulle betrokkenheid by die skepping en die gevolge van die versinsels wat ‘n mens se hare te laat rys.

Op watter gronde kan ‘n mens ‘n Sangoma wat mense doodmaak vir ‘muti’ veroordeel. Veral as hy sê dat dit sy geloof is. Die Christen se geloof sê ; Maak Christus dood. En in die naam van Christus –en ander gode-is miljoene onskuldige mense deur die eeue al genadeloos  afgemaai.

Wat die finale waarheid oor godsdiens is, weet g’n mens nie –op die stadium in elk geval. Maar daar is geen manier waarop gesê kan word dat di t wat tans handel dryf onder die naam van godsdiens op aarde getuig van liefdevolle sorgsame gode wat net die beste belang van elke mens/dier/skepsel wil dien nie. Hoegenaamd nie!

Wat God betref is my standpunt  tans bloot: Ek glo nie aan die bestaan van ‘n God nie, maar ek mis hom voorwaar.

Die aarde is geskep as ‘n ideale plek vir lewe:

Hierdie standpunt kry ‘n mens by die Kreasioniste en I.O.[INTELLIGENTE ONTWERP] aanhangers. Die teendeel hiervan is nader aan die waarheid. Dit is wetenskaplik bewys dat die aarde beter is met die vernietiging van lewe as die skep en onderhouding daarvan. Daar is genoeg bewyse dat 90% van spesies wat op aarde geleef het, verdwyn het en slegs fossielspore of dns nagelaat het. ‘n Mens hoef bloot te kyk na die hoeveelheid medici, hospitale, inrigtings om te besef hoe kwesbaar die mens vir die harde werklikheid van die planeet is. Ironies genoeg is hierdie ‘kunsmatige’ instandhouding van veral menselewens die perfekte resep vir die onvermydelike uitwissing van die mens. Die planeet is reeds oorbevolk met omtrent 6 miljard mense. Na my mening is dit reeds te laat om die situasie om te keer. As ‘n mens kyk na die skokgolwe wat in die ontwikkelde wêreld veroorsaak is deur swak finansiële staatsbestuur aan die een kant en die roekelose optrede van verarmde gemeenskappe bv in die RSA –lyk die toekoms nie goed nie.

Die aarde se natuurlike hulpbronne kan eenvoudig nie 7 miljard mense op ‘n eerstewêreld lewenspeil versorg nie. Die druk op hulpbronne lei nou al tot internasionale oorloë [oor beheer oor oliehulpbronne bv.] Hoe groter die druk op toegang tot die hulpbronne hoe meer sal mense mekaar vernietig in die natuurlike oorlewingsdrang van die sterkste wat oorleef.

Evolusie:

Daar bestaan ‘n wanpersepsie by gelowiges dat evolusie maar net ‘n ‘ander ewe onbewysbare  teorie’ as die Bybelse skeppingsverhaal.

In die wetenskap  het die ‘ teorie-stertjie’ lankal afgeval omdat evolusie   wetenskaplik bewys is deur onafhanklike herhaling, kontrole,kruiskontrole. Evolusie is nie ‘n godsdiens of ‘n mite of versinsel nie. Dus ‘n noukeurig nagevorste konsep wat veral deur fossielrekords, DNA oorblyfsels en bestudering van ooreenkomste tussen lewende organismes in terme van hulle atomiese samestelling, genetiese verwantskap ens. Wat die mens dus tans sien is die resultaat van ‘n PROSES  wat reeds biljoene jare aankom en vir nog biljoene jare sal aanhou afhangende van hoe die lank die aarde nog bestaan. Elke lewende organisme is ‘n voorbeeld van ‘n oorgangstadium. Daar is goed in my wat nie in my ouers was nie en daar is goed in my kinders wat nie in my was nie.

Boere wat beeste selekteer vir bv. melkproduksie is met kunsmatige evolusie besig. Die beste presteerders word uitgesoek, en die swakkes geslag. Dan word die bestes van die bestes gehou tot die optimale punt bereik is; survival of the fittest. So ook saaiboere wat saad selekteer. Duiweboere selekteer die wat die vinnigste kan vlieg. ‘n Uitstekende buffelbul is onlangs vir  R 20 miljoen verkoop. Sy pelle is slagpale toe vir ‘n bietjie biltong.

Evolusie is dus nie ‘n alternatiewe godsdiens nie. Dis ‘n wetenskaplik bewese feit dat lewensvorme oor tyd deur mutasie, aanpassing en oorlewing van die sterkste tot stand kom. Dit verskil wel radikaal van die Bybel se weergawe van die skepping. Dit is egter vir gelowiges om die moed van hulle oortuiging te hê en uit te spel dat wat in die Bybel staan ‘n oënskynlike geldige uitgangspunt was toe die Bybel geskryf is. Oor tyd is dit egter bewys dat dit nie die toets vir  wetenskaplike geldigheid kan slaag nie en dus argiewe toe moet gaan-net soos wat evolusie argiewe toe sal gaan as daar ‘n nog geldiger teorie ontdek word

Ek hoop julle uitstappie in die Moreletakloof was gesellig. By geleentheid kan ek julle saam met my deur Mamelodi neem – waar ‘n mens die ander kant van die munt ook sien en dan ‘n gesprek/debat hou oor goddelike betrokkenheid/afwesigheid in die skepping.

Moet asb nie my kommentaar sien as ‘n afskiet van julle oortuigings  terwyl ek niks beter kan oplewer nie. My posisie is baie duidelik. Ek respekteer die ‘sosiale kontrak’ wat ek met my medemens het soos dit verwoord is in die Handves vir menseregte. Ek is ‘n voorstander van godsdiensvryheid, maar verset my teen enige poging van godsdienstiges om onbewysbare stellings op ander af te forseer bv wat tans gebeur dat staatskole wat veronderstel is om sekulêr te wees, steeds godsdiens promoveer.

Dan kry jy die soort dwaasheid van politici wat ‘Christelik Nasionale Onderwys propageer of aanspraak maak daarop dat hulle sal regeer tot die wederkoms van Christus!!! 

Vriendelike groete

Winkelsmidt

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.