Maak die Drie-eenheid sin?

Hallo Udo

Ek vind die kwessie van die “Drie-eenheid” baie belangrik. Dis net dat ons almal weet dat Jesus tog tot iemand gebid het. Maar as Hy dan self God was, tot wie het hy dan eintlik gebid? En ons almal weet dat Jesus gesterf het. Maar wie het Jesus uit die dood opgewek as Hul dan een is? Wat ek ook nie verstaan nie is hoekom God, wat enige vorm kan aanneem, as ‘n vleeslike mens sal aarde toe kom? Baie dankie vir die hulp. Dit word opreg gewaardeer.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek stem saam met jou dat die kwessie van die drie-eenheid baie belangrik is. Dit spreek tot wie God is, asook wie Jesus is – en hierdie is belangrike dinge om te weet as God inderdaad bestaan.

Onthou dat as Christene praat van die drie-eenheid, dan bedoel ons dat daar net een Goddelike wese is, maar dat hierdie wese tegelykertyd in drie persone (Vader, Seun en Heilige Gees) bestaan. Hierdie is natuurlik ‘n moeilike konsep vir ons om te verstaan, want ons is nie regtig bekend met wesens wat as meer as een persoon bestaan nie. As individuele menslike wesens is ons almal mense met net een persoonlikheid. Tog is die idee dat daar een wese kan wees met meer as een persoonlikheid, nie ‘n irrasionele gedagte nie (en ek praat nie nou van Meervoudige Persoonlikheidsversteuring wat ‘n sielkundige afwyking is nie). Dink byvoorbeeld aan saamgevoegde tweelinge soos Abby en Brittany Hensel wat een menslike liggaam deel, maar wat twee onderskeibare persone is (kyk ‘n kort youtube video hier en lees ook hier as jy nie bekend is met hierdie verskynsel nie). Niemand sal sê dat Abby en Brittany twee verskillende wesens is nie, maar ook nie dat hulle net een persoon is nie. Ons sal eerder sê dat Abby en Brittany een menslike wese is wat as twee persone bestaan (of anders gestel: twee siele wat een liggaam deel, selfs al is daar twee breine). Hoewel God se bestaan meer kompleks is as hierdie voorbeeld (onder andere is God byvoorbeeld nie ‘n fisiese wese nie), help dit ons om te besef hoe om effe meer sin te maak van die idee dat God as een wese in drie persone sou bestaan.

Met betrekking tot jou vraag sal ons dus sê dat Jesus, die Seun, tot sy Vader gebid het (m.a.w. daar is twee onderskeibare Goddelike persone wat met mekaar in gesprek is). Of weer eens, dit was die Vader wat die Seun uit die dood opgewek het. Hier raak dinge effens meer kompleks omdat Jesus op sy beurt as ‘n enkele persoon tegelykertyd twee nature gehad het, naamlik ‘n menslike en ‘n Goddelike natuur. Ons is nie bekend met persone wat twee verskillende nature deelagtig is nie, maar weer eens is dit nie die geval dat dit onmoontlik of onlogies is nie (hierdie idee verdien verdere ondersoek waaroor ek nie nou hier gaan uitbrei nie). Die rede waarom dit egter belangrik is om hierdie onderskeid in Jesus se twee nature te verstaan, het te doen met Jesus se sterwe aan die kruis. Toe Jesus gesterf het, het hy nie as Goddelike wese doodgegaan nie (bloot omdat God nie kan sterf nie), maar hy het wel as ‘n menslike wese gesterf. As ‘n mens sterf, dan kan ons sê dat daar ‘n skeiding ontstaan tussen jou fisiese liggaam en die nie-fisiese deel van wie jy is as mens (jou siel). God die Vader het Jesus dus in sy menslike natuur uit die dood opgewek, wat beteken dat die Vader Jesus as persoon (of siel, die nie-fisiese “ek”) weer met sy menslike liggaam (hoewel ‘n verheerlikte liggaam) verenig het.

Bogenoemde mag dalk vir jou kompleks klink en daar is baie onderskeide om te tref en konsepte om te definieer – dinge waaroor ons nie aldag mooi dink of die implikasies ondersoek nie. Maar hopelik verstaan jy iets van hoe Christene verantwoordelik oor hierdie kwessies kan dink.

Die laaste vraag wat jy vra is oor hoekom God dan nou juis mens sou geword het. Ek dink dit het baie te doen met die manier waarop God te werk gegaan het om ‘n verhouding met ons te probeer vestig. Hy het basies tot op ons vlak gedaal ter wille daarvan om met ons te identifiseer en te kommunikeer. Dink so daaraan: ‘n Mier het geen verhouding met ‘n mens nie en daar vind ook geen kommunikasie tussen mens en mier plaas nie. Die ideale manier vir ‘n mens om met ‘n mier te kommunikeer is om, as dit moontlik was, sélf ‘n mier te word (terloops, jy het seker al gesien hoe miere met mekaar deur aanraking kommunikeer). Op ‘n soortgelyke manier kan ons verstaan dat God in Jesus na ons as mense se vlak afgedaal het om op ‘n baie persoonlike manier iets aan ons te probeer kommunikeer van God se liefde en wil vir ons lewens. Lees gerus Phillip Yancey se boek, The Jesus I Never Knew oor hierdie onderwerp.

Winkelsmidt, jy is meer as welkom om verder met my in gesprek te tree of vir meer verduideliking te vra indien nodig. Sien ook die volgende artikel: Julle drie-eenheidsleer is vals

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.