Hoe praat ek met my New Age vriendin?

Udo,

Kan jy my dalk help met die volgende. Ek het ʼn vriendin wat aanklank vind by New Age spiritualiteit. Hoe tree ek met haar in gesprek? Hier is van die dinge wat sy glo of wat haar pla:

  • Ek lei af sy kom uit ‘n soort van Christelike agtergrond. Sy is glad nie vyandig in gesprekke nie. Haar belangstelling lê in die sielkunde en joga.
  • God is vir haar “universeel” en “in almal”.  Ernstige Christene dien dus dieselfde God as sy, maar sy dien Hom op haar eie manier hoewel ander maniere ook reg is. Seker maar die idee dat alle paaie na die hemel lei.
  • Sy dink dis baie erg dat iemand kan aanspraak maak om reg te wees, wanneer baie ander mense (en sy inkluis) vrede en geestelike vryheid op ander plekke gevind het. Nou stuur ons hulle hel toe, terwyl hulle eintlik goeie mense is. Hoe kan dit regverdig, goed, genadig of liefdevol wees? Die idee van hel is dus vir haar onaanvaarbaar.
  • Haar grootste beswaar oor die Bybel is die feit dat dit so oud is, en so baie oorvertaal is. Sy dink dis ‘outdated’ en verseker nie die oorspronklike weergawe nie.
  • Die boek ‘Conversations vir God’ was blykbaar baie invloedryk op haar lewe. Ek sal graag wil hoor as jy meer hiervan weet.

Baie dankie vir jou hulp!

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Hier is ‘n paar opmerkings wat dalk kan help.

Ja, baie mense word groot in ‘n nominale Christelike omgewing, maar wat hulle van die Christelike geloof weet verkrummel dikwels by die eerste tekens van weerstand. In hierdie geval het jou gespreksgenoot skynbaar al lankal reeds ‘n klomp New Age idees gesluk sonder veel weerstand.

Goed, ek stel voor jy spandeer ‘n bietjie tyd op die volgende kwessie. Daar is eintlik twee kwessies: 1) Haar eie siening van God en 2) haar siening van wat Christene se siening van God is. Sy dink dis dieselfde, maar dis redelik eenvoudig om te wys dat dit nie die geval is nie.

Wat sy moontlik nie besef nie is dat haar eie siening ‘n baie spesifieke idee van wie of wat God is veronderstel (al is sy nie bewus daarvan nie) en dat sy dit moet kan regverdig (al weet sy nie hoe nie). Die eerste ding wat ons dus van haar wil weet is: Wie of wat is God? Die tweede is: Hoe weet sy dit?

Ek stel voor dat jy probeer om haar daarop te wys dat die enigste manier waarop sy kan aanvoer dat Christene (of aanhangers van ander gelowe) dieselfde God as sy aanbid, is as dit inderdaad dieselfde God is. Met ander woorde, hoe vergelyk haar siening van God met wat Christene oor God glo (sien bv. die skakels na artikels hier onder). Help haar om haar eie oortuigings te verbaliseer en moet vir eers nie probeer om die sinvolheid daarvan uit te daag nie. Probeer terselfdertyd wys waar haar sienings verskil van wat Christene glo. Die fokus is dus op wat sy glo en dit gaan nie hier nou daaroor om te probeer argumenteer dat Christene se siening oor God reg is nie; jy wil bloot die punt maak dat daar hier van twee verskillende sienings sprake is. Spandeer genoeg tyd aan wat sy oor God glo, maar wees duidelik (waar dit nodig is) waar Christene iets anders oor God glo.

Die ander ding wat belangrik is, is om haar te vra oor hoekom sy glo wat sy glo. Met ander woorde, as sy X oor God glo, wat is die ondersteunende redes vir waarom dit redelik is om te glo dat X wáár is. Wees egter versigtig hier. Die meeste mense (Christene ook!) het nog nooit werklik nagedink oor wat – om nie eers te praat van hoekom – hulle sekere dinge glo nie, veral as dit by God kom. So hoewel ‘n mens wil weet hoekom sy bepaalde dinge glo, gaan so ‘n gesprek haar dalk op die verdediging plaas en ongemaklik laat voel. Wees dus maar versigtig om haar nie onnodig “on the spot” te plaas of “stupid” te laat voel nie. Die punt is egter dat die verantwoordelikheid nie net by ons as Christene lê om te verduidelik wat en hoekom ons bepaalde dinge glo nie (of onsself teen aanvalle en wanpersepsies te verdedig nie), maar dat die aanhangers van enige wêreldbeskouing so ‘n verantwoordelikheid het.

In ‘n latere gesprek kan jy, omdat jy weet wat sy oor God glo en jy die punt gemaak het dat dit twee verskillende sienings oor God verteenwoordig, ook die volgende onder haar aandag bring: Verduidelik dat jy ter wille van haar argument sal aanvaar dat geen geloof se siening die regte een is nie. Verduidelik egter dat as niemand se siening reg is nie, dan is haar eie siening ook nie reg nie. En tog sou sy al baie spesifiek uitgespel wat sy oor God glo. Die punt is bloot dat dit nie logies sin maak om alle sienings oor God as ewe reg of ewe verkeerd af te maak nie. Sommige gelowe glo teenstrydige dinge (is God ‘n immateriële persoon of onpersoonlike energie?) en twee teenstrydige sienings is per definisie nie albei “ewe reg” nie. En as alle gelowe “ewe verkeerd” is, dan is geen geloof reg nie, ironies genoeg selfs die geloof wat sê dat almal verkeerd is!

Die doel met bogenoemde benadering tot hierdie gesprek (wat beslis nie in een geleentheid alles gaan gebeur nie en ook nie so klinies gaan wees as wat ek dit laat klink nie), is bloot om haar bewus te maak dat wat ‘n mens glo gemotiveer moet kan word. Dit help nie ‘n mens voel bloot goed oor wat jy glo as dit dalk nie die waarheid is nie of as dit slegs blinde geloof is nie. Wat ‘n mens dan later in verdere gesprek sal aanspreek is haar wanpersepsies oor die Christelike geloof, dinge soos die hel en ander dinge wat haar daarvan weerhou om die Christelike geloof ernstig op te neem. (sien bv. Hoe kan God mense maak wat Hy weet hel toe gaan?)

Wat “Conversations with God” aanbetref: Persoonlik het ek dit aanmatigend en filosofies uiters ongesofistikeerd gevind. Jy kan die volgende lees oor die basiese idees daarin: http://en.wikipedia.org/wiki/Conversations_with_God

Terloops, die siening dat die Bybel so baie oorvertaal is dat dit onbetroubaar geword het, is gegrond in totale onkunde. Ek sou nogal die oorsprong van hierdie idee by jou gespreksgenoot wou ondersoek, want ek dink sy is hieroor bloot oningelig en mislei. Maar soos ek aangedui het, dis ‘n gesprek vir later. (Hier is ʼn artikel wat hierdie kwessie aanspreek: God se Woord en Bybelvertalings)

Okay, weereens, my voorstelle hier is nie bedoel om ‘n resep te wees nie, want daar is nie resepte wat geld in gesprekke met mense nie. Dis bloot ‘n riglyn wat dalk jou gesprek meer spesifieke fokus kan gee.  Laat weet egter enige tyd as ek met iets van hulp kan wees.

Groete

Udo

Oor die eksklusiwiteit van alle gelowe:

Oor die verskille tussen Islam en die Christelike geloof:

Oor Hindoeisme en die Christelike geloof:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.