Vrae oor die siel

Hi Udo

Sê maar net as ek besig is om die punt te mis en meer moet bekommerd wees oor die hier en nou.  Ek verstaan dat n mens nie alles nou kan weet nie, want sekere dinge is seker ook nie beskore vir ons om nou te weet nie, maar ‘n mens mag seker maar wonder?  Die konsep van verewig in die verlede tot verewig in die toekoms dink ek is in elk geval iets wat ‘n mens (of ten minste ek) maar moeilik begryp, want dit kan nogal lank raak!  Die probleem is partykeer dat ‘n mens nie altyd die vrymoedigheid het om met ‘n Dominee van aangesig tot aangesig sulke vrae te vra nie, want jy voel half simpel en dink jy gaan hom nou aanstoot gee deur jou snaakse vrae (alhoewel ek ook seker is dit is nie so nie en dat hulle dit ook met graagte sal verduidelik). Om wel die vrae neer te skryf en te stuur gee jou ook bietjie meer kans om daaroor na te dink, en partykeer ook die antwoord nog voor jy dit stuur.

Om terug te kom na die antwoord, so as ek reg verstaan dan word jou siel basies geskep op dieselfde tyd as wat jou fisiese bestaan geskep word.  Ons siele sal na ons tydjie hier op aarde dan vir ewig op die einde van die dag hemel of hel toe gaan.  As die siel dan geskep is, kan ‘n siel dan ‘doodgemaak’ of vernietig word dat dit glad nie meer bestaan nie? Ek weet nie mooi hoe om dit te stel nie, maar byvoorbeeld: as ek ‘n klip vat kan ek dit stukkend slaan, verbrand of iets anders, maar ek kan die klip nie maak verdwyn nie (miskien omdat ek dit in die eerste plek nie gemaak het nie!) ‘n Mens kan seker nie die twee wêrelde so direk met mekaar vergelyk nie.  Wel, is dit nie op ‘n manier soos Satan wat ons probeer breek, maar ons nie kan maak verdwyn nie, want hy het ons nie gemaak nie?

Weereens jammer as my verbeelding so bietjie oorboord gaan, maar is die heelal (die fisiese wêreld) dan geskep as ‘n tipe toets vir ons lojaliteit.  Word ons dalk voorberei vir dit waarvoor God ons dalk in die volgende lewe kan gebruik (nie dat God n mens se help nodig het nie)? Of is dit net om te sien of ons goed genoeg is om hemel toe te gaan? Jesus het wel vir ons sonde gesterf en ek glo dit.  Dit maak mos dan dat jy nie meer soveel op jou rapport moet kry om te kwalifiseer nie, want almal wat opreg glo dat Hy vir ons sonde gesterf het en volgens Sy wil probeer leef, kry outomaties ‘n A+.  Dit is seker bietjie te eenvoudig gestel maar ek hoop jy verstaan wat ek probeer sê.

Ek kan seker nie buite die perke van die wêreld dink nie, maar ek wonder byvoorbeeld wat ‘n mens in die hemel vir ewig sal doen?  Miskien is dit verkeerd van my om eers so te dink. Dis bietjie moeilik vir my om die geesteswêreld sonder die fisiese voor te stel, want dan is dit amper asof almal net so in die lug hang of sweef.  Sal die hemel dan eendag ‘n nuwe fisiese plek wees of sal dit meer soos n geestestoestand wees of heel iets anders?

Dankie vir die geduld en die webwerf en voel asseblief vry om te sê as ek bietjie die punt mis, sal nie aanstoot neem nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Moet regtig nie verskoning vra vir enige vraag wat jy vra nie. Enige vraag is welkom en enige vraag waaroor ‘n mens opreg wonder, hoe snaaks en eenvoudig dit ook al mag voel, verdien aandag. (En ja, jy’s reg, sommige vrae se antwoorde is nie regtig binne ons beskikbare vermoë om te gee nie, maar ons kan wel ons beste probeer met dit wat wel binne ons vermoë is!)

Rakende die siel. Ja, ek dink die siel word geskep by bevrugting en dat geen siel wat eers geskep is, weer vernietig word nie. Dit beteken nie dat God nie ‘n siel kán vernietig nie, net dat Hy dit nie doen nie. Selfs die mens wie se siel Hy geskep het wat op die ou end niks met Hom te doen wil hê (m.a.w. ‘n siel wat verkies om nie in God se teenwoordigheid te wees nie) vernietig Hy nie. Só ‘n siel het dus gekies vir ‘n tipe bestaan waarvan God nie deel is nie en dit noem ons die hel. Laat ek onmiddellik bysê dat ek nie weet watse tipe bestaan ‘n mens in die hel-dimensie gaan hê nie (die Bybel beskryf dit wel met ‘n klomp verskillende metafore wat glad nie aangenaam klink nie!).

Wat die hemel aanbetref die volgende. Ek dink ‘n mens moet ‘n onderskeid tref tussen wat met ons as persone gebeur die oomblik as ons liggame sterf, teenoor hoe ons eendag gaan leef wanneer Jesus se wederkoms die nuwe hemel en aarde inlyf. Die oomblik wanneer ons sterf verkeer ons in ‘n geestesdimensie waar ons in ‘n sielsbestaan (m.a.w. sonder ‘n liggaam) bewus sal wees van God se teenwoordigheid, al dan nie (afhangende daarvan of iemand deel geword het van God se koninkryk terwyl hulle op aarde was – m.a.w. of hulle weergebore was). Ons is egter nie bestem om vir altyd net as siele sonder ‘n liggaam te bestaan nie. Ná Jesus se wederkoms, praat die Bybel daarvan dat ons op ‘n nuwe aarde gaan woon wat God herskep het (m.a.w. dit klink soos een of ander fisiese realiteit) – sien verse soos 2 Petrus 3:10-13, Openbaring 21:1-5, ook Rom. 8:19-23, Heb. 1:10-12). Die beteken dat ons weer met ons liggame verenig sal word (alhoewel dit verheerlikte liggame sal wees soos wat Christus na sy opstandig gehad het) – sien verse soos Filippense 3:21, 1 Korintiërs 15:42-44,48-56, en 1 Johannes 3:2.

Baie mense wonder oor hoekom God ons dan nie van die begin af reeds in hierdie tweede hemelse realiteit geplaas het nie. Ek dink dit is inderdaad soos jy sê dat hierdie aardse realiteit ‘n tipe toets verteenwoordig. Die aarde is ‘n plek waar alle mense se diepste begeertes sigbaar word en nie alle mense se begeertes is om deel te wees van ‘n wêreld waarvan God deel is nie (dit is so omdat God die mens met ‘n vrye wil geskep het en nie as ‘n robot nie). Hierdie lewe dien dus as ‘n soort filter waar slegs diegene wat hulle afhanklikheid van God erken (en daarom ook Jesus se dood vir hulle sonde aan die kruis aanvaar, sonde wat in die pad staan om ‘n verhouding met God te kan hê) bestem is en gelukkig kan wees in die hemelse realiteit (die nuwe aarde).

Ek kan nie sê presies hoe die lewe gaan lyk op die nuwe aarde nie (m.a.w. wat ons alles gaan doen en hoe dit daar gaan wees nie). Die Bybel gee nie baie inligting daaroor nie. Maar ek glo dat ons ons volle mensheid daar gaan kan uitleef (soos wat niemand nog ooit op aarde ervaar het nie) en dat ons daarom nie bekommerd hoef te wees dat dit vervelig of oninteressant sal wees nie. Wat wel anders gaan wees is dat God op ‘n manier aan ons bekend sal wees, wat nie moontlik is in die sondige, gebroke wêreld waarvan ons tans deel is nie (miskien het Adam en Eva voor die sondeval iets hiervan beleef.)

Ek hoop dit beantwoord min of meer jou vrae. Vra egter gerus weer as iets onduidelik is of as daar ander vrae is.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.