Wonderwerke is onmoontlik

Udo,

Hoe kan enige iemand nog glo in “fairy-tale”-verhale soos Jona se vis of Noag se ark? Dis nie net onwaarskynlike gebeure nie, dis wetenskaplik onmoontlik.

WInkelsmidt

 

Hallo Winkelmsidt

Met ‘n “feë-verhaal” mag ‘n skrywer natuurlik ‘n baie belangrike en geldige morele punt probeer maak, selfs al is die karakters daarin fiktief. En wat wetenskaplik onmoontlik is, is slegs onmoontlik omdat daar in ‘n geslote sisteem van natuurlike oorsake altyd, ten minste in beginsel, ‘n voorspelbare natuurlike gevolg is. Maar leef is ons werklik bloot in so ʼn geslote sisteem van fisiese oorsaak en gevolg?

Die twee punte wat ek wil maak is soos volg:

  • Enige verhaal in die Bybel moet op meriete ondersoek word vir die tipe literatuur wat ter sprake is en vir ander kontekstuele oorwegings wat die relevante agtergrond bied waarteen die verhaal verstaan moet word. Daar is byvoorbeeld sommige kundiges wat meen dat die verhaal van Jona eenvoudig nie tot die historiese genre hoort nie (maar wel ‘n verhaal met historiese elemente en verwysings). Wat Noag se ark betref is daar kundiges wat aantoon dat die verhaal in globale terme uitdrukking vind, maar dat die vloed opsigself dui op ‘n plaaslike rampverskynsel in die Mesopotamiese area. My doel is nie om hier ‘n uitspraak te maak oor die historisiteit van enige van hierdie verhale nie. Ek wil bloot aantoon dat om antieke tekste in hul breër konteks te verstaan, nie maar net van jou vereis om te kan léés nie. Terselfdertyd is dit egter moontlik om die boodskap en intensie van die skrywer raak te sien, sonder om dadelik bewus te wees van die kompleksiteit rondom die teks.
  • Daar is verskeie voorbeelde van wonderwerke in die Bybel. Iemand wat beweer dat bepaalde gebeure nie plaasgevind het nie omdat wonderwerke onwetenskaplik is, is natuurlik nie besig met ‘n wetenskapsbeoefening nie, maar met naturalistiese filosofie. Daar is niks vanuit die wetenskap sélf wat bepaal dat wonderwerke nie kán plaasvind nie. Dit is wetenskaplik en aanvaarbaar om ondersoek in te stel na geslote sisteme waar oorsake en gevolge met fisiese reëlmaat beskryf kan word. Wat onwetenskaplik is om te beweer dat ‘n sisteem soos ons heelal, ook geslote is. Dis ‘n metafisiese filosofiese voorveronderstelling en nie ‘n wetenskaplik bewysbare stelling nie. As daar goeie redes is om te glo dat ‘n nie-fisiese en persoonlike wese soos God bestaan wat by magte is om tot ‘n fisiese sisteem toe te tree, dan is dit eenvoudig vals om te beweer dat wonderwerke nie kan of kon plaasvind nie. Weereens, my doel is nie om hiermee uitspraak te lewer oor of die vis werklik vir Jona ingesluk het of nie (soos aangedui, daar is ander dinge om ook te oorweeg). Al wat ek hier probeer sê is dat as ‘n wese soos God bestaan, dan is dit nie per definisie onmoontlik dat so ‘n scenario werklik kon afspeel nie.

Groete

Udo

Sien ook Twyfel oor of wonderwerke gebeur

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.