Was God onverantwoordelik?

Udo,

In die tuin van Eden plant God o.a. die boom van kennis van goed en kwaad en sê vir Adam en Eva dat as hulle daarvan eet, dan sterf hulle. Is dit nie soos vir ‘n pa om ‘n geweer voor sy kinders neer te sit en dan onskuldig te pleit as hulle dit optel en hulleself skiet nie?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die verhaal in Genesis 1-3 is meer gesofistikeerd as wat baie mense besef en daarom is dit maklik om die punt daarvan te mis. Sommige mense bevraagteken allerlei wetenskaplike en historiese details daarin sonder om die moeite te doen om werklik die skrywer se bedoeling met sy verhaal te probeer verstaan.

Soos enige goeie storieverteller sou doen, word die verhaal met literêre kreatiwiteit en intelligensie saamgestel om ‘n spesifieke boodskap op ‘n spesifieke manier oor te dra. Ons moet daarom versigtig wees om die skrywer nie vlak te kyk met ‘n simplistiese lees van die teks nie.

Enige verhaal met ‘n goeie storielyn het verhaal-elemente wat bydra om ‘n spesifieke scenario op te stel en wat dan tot ‘n draaipunt, klimaks of ontknoping in die verhaal lei. Vervolgens ‘n oorsig van Genesis 1-3 in baie breë trekke en hoe ‘n verhaal-element soos die boom van kennis van goed en kwaad moontlik verstaan kan word.

Die skrywer begin sy verhaal in Genesis 1 deur aan te dui met hoeveel sorg God skep, planmatig en doelbewus, totdat omstandighede goed en reg is vir die kroon van Sy skepping, die mens. In Genesis 2 verskuif die fokus van die verhaal uitsluitlik na die mens en hoe God selfs verder met groot sorg in al die mens se behoeftes voorsien. Die skrywer wil terselfdertyd ‘n spesifieke verhoudingsdinamika tussen God en mens beklemtoon, en dit doen hy wanneer daar in Gen 2:16-17 vir die eerste keer gesproke kommunikasie tussen God en mens plaasvind. Hierdie eerste kommunikasie is belangrik vanuit die verhaalsoogpunt omdat die skrywer ‘n baie spesifieke doel daarmee het. Veral twee belangrike aspekte kom na vore.

Eerstens bevestig die skrywer die onderskeid tussen Skepper en skepsel (God inisieer kommunikasie met ‘n opdrag) en tweedens wys hy op ‘n bepaalde verhoudingsdinamika tussen God en mens met hierdie opdrag: God sal sorg en die mens moet Hom daarvoor vertrou. Deur gebruik te maak van die verhaal-element van die boom van kennis van goed en kwaad skep die skrywer ‘n kontras tussen God se sorg en die mens se vertroue. Dit veroorsaak spanning in die verhaal, want hoewel dit duidelik is dat God die mens se algehele welsyn in belang het (die hele Genesis 2 is bewys daarvan), is dit terselfdertyd binne die mens se vermoë is om God se opdrag te verontagsaam en daarmee sy goedheid te wantrou. (Iemand wat meen dat die teks op hierdie punt eintlik maar net sê “kyk hierdie boom – as jy eet, is dit verby met jou” is soos die slagter wat kommentaar lewer op die chirurg se prosedure in ‘n breinoperasie.)

Soos met enige verhaal vra die spanning wat hierdie verhaal-element van die boom van kennis van goed en kwaad meebring, vir ontsluiting. Die ontknoping van die verhaal begin in Genesis 3 waar die skrywer vertel hoe die mens hul posisie voor God ontken (die skepsel begeer om soos die Skepper te wees, om die onderskeid tussen Skepper en skepsel dus op te hef) en hoe dit die verhoudingsdinamika ondermyn (God se sorg word gewantrou en die mens eien homself outonomie toe). Die skrywer stel nog ‘n nuwe verhaal-element bekend (die slang) om hierdie ontknoping te help fasiliteer.

Die uiteindelike gevolg is dat die mens die gevolge van hul keuse op verskeie vlakke beleef (Gen. 3:14-19), maar die mees ingrypendste gevolg is hul gebroke verhouding met God: hulle word uit die Tuin van Eden verban. Die res van die Bybel bied voorbeeld na voorbeeld van die gevolge van die mens se verset. Terselfdertyd bied dit ook, tot en met die hoogtepunt van Jesus se lewe en sterwe aan die kruis en opstanding daarna, voorbeeld na voorbeeld van hoe God bemoeienis maak met die mens, ten spyte van hul volgehoue verset, sodat hulle in ‘n verhouding met Hom herstel kan word.

Die vraag is nou: Is dit naastenby analogies om die skrywer se gebruik van die verhaal-element van die boom van kennis van goed en kwaad, te vergelyk met ‘n pa wat sy gelaaide geweer voor sy onskuldige kinders neersit? In die lig van bogenoemde raamwerk van die verhaal in Genesis 1-3 en die res van die Bybel, is so ‘n analogie karikatuuragtig en hou dit geensins verband met die bedoeling van die verhaal nie. Oorweeg die volgende:

  • Die punt wat die skrywer maak is dat die welsyn van die mens as skepsel juis in hul vertroue op God se sorg gesetel is. Die skrywer gebruik die verhaal-element van die boom van kennis van goed en kwaad om spanning te skep tussen die mens se vermoë en besluit om wél van die boom te eet (om God dus te wantrou) en die mens se vermoë en besluit om aan God getrou te wees. Daar is egter geen rede om te dink dat God nie deurentyd liefdevol, goed en regverdig is nie. Daar is geen vergelyking te tref met ‘n onverskillige pa wat doelbewus ‘n gelaaide geweer voor sy kinders neersit nie, want die punt van Genesis 2:16-17 is dat om in God se sorg te vertrou die mens se welsyn verseker.
  • Die feit dat God aan die mens verduidelik wat die gevolge is om van die verbode boom te eet (m.a.w. die gevolg van ‘n skepsel wat nie in sy Skepper se sorg vertrou nie) wys opsigself waar die vermeende analogie misluk. God praat ondubbelsinnig met die mens en alle aanduiding in die verhaal is dat die mens presies verstaan wat die implikasies is van ongehoorsaamheid aan God se opdrag (en om Hom dus te wantrou). As ‘n mens dan nou op hierdie punt wel ‘n analogie móét maak (en daarmee die eintlike punt van die verhaal effe mis), dan is ‘n dit veel beter om te dink aan ‘n instrukteur wat ‘n rasionele persoon onderrig oor die potensiële gevare van ‘n geweer. Dan, sodra die instrukteur sy rug draai, gaan tel die leerling die geweer op, kyk in die loop en trek die sneller!
  • In aansluiting by die vorige punt: Die teenwoordigheid van die boom van kennis van goed en kwaad as verhaal-element, dui spesifiek ook op die mens se vermoë om morele keuses te kan maak. Adam en Eva weet wat ‘goed’ en ‘kwaad’ is, maar om van die boom te eet sou ‘n bepaalde ervaringskennis veronderstel wat met wantroue gepaard gaan. Die vermoë om morele keuses te maak is opsigself egter ‘n goeie eienskap. Dink byvoorbeeld aan wat liefde is. In watter opsig kan daar gesê word dat ek iemand liefhet as ek nie die keuse uitoefen om daardie persoon lief te hê nie? Dis juis omdat ek liefde kan weerhou, dat my besluit om vir iemand lief te wees, betekenis kry. Die feit dat Adam en Eva gekies het om God te wantrou, wys daarop dat God nie ‘n wêreld kon maak waarin Hy kon waarborg dat almal sou kies om Hom te vertrou en lief te hê nie. Vir liefde om liefde te kan wees moet daar altyd die potensiaal wees om liefde te kan weerhou en moet daar dus ‘n vrye besluit wees om lief te hê. Liefde kan nie geforseer word nie. Hierdie feit spreek nie tot God se gebrekkige almag nie; dit gaan oor watter tipe wêreld Hy gekies het om te aktualiseer – een met rasionele en verantwoordelike wesens soos mense (en engele) en nie een met robotte nie.
  • ‘n Laaste punt om te maak oor waarom die analogie van die geweer ‘n wanvoorstelling is van die Christelike boodskap, is om daarop te let dat die mens se keuse om God se sorg te wantrou, nie onmiddellik tot hul dood gelei het nie. Dit het die mens wel op ‘n pad geplaas wat uiteindelik tot die dood sou lei, maar die hele Bybel, en veral Jesus se kruisdood en opstanding, vertel van die goeie nuus van hoe die mens weer met God versoen kan word. Sodoende is die mens nie onvermydelik uitgelewer aan die gevolge van die dood nie; daar is beslis ‘n nuwe herstelde lewe en verhouding met God moontlik. Die wonderlike boodskap van die Bybel is dus dat God dit deur Jesus moontlik gemaak het dat ons nie onvermydelik aan gevolge van ‘n gelaaide geweer (die feit dat die mens God wantrou het) uitgelewer is nie, juis omdat Hy ‘n God van liefde is wat begeer dat niemand verlore sal gaan nie (sien Esegiël 18:23,32, Esegiël 33:11, 1 Timoteus 2:4, Titus 2:11, 2 Petrus 3:9).

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.