Geen redes vir God se bestaan

Sien vorige dele van hierdie gesprek:

Udo,

[Jy skryf:]

Hoe weet jy daar is geen bewyse vir die bonatuurlike nie? Wat dink jy is die kriteria waaraan sulke bewyse moet voldoen om as bewyse te dien vir die bonatuurlike?

Alles wat ons weet oor chemie, oor fisika, oor biologie, oor kosmologie dui daarop dat die heelal volgens natuurwette bestaan.  Self antropologie en sielkunde lewer geen bewyse dat geloof in ‘n god of enige ander tipe bonatuurlik mag geregverdig is nie.  Dit is wat ek bedoel met “daar is geen bewyse” vir die bonatuurlike nie.

Bewyse vir die bonatuurlike sou kon insluit:

  • Iets wees wat demonstreer dat ‘n mens na sy dood steeds kan bestaan in terme van ‘n identiteit en geheue
  • Iets wat aandui dat gebed ‘n effek het
  • Iets wat aandui dat die natuurwette nie altyd van toepassing is nie (op ‘n vlak waar dit mense se lewens kan beïnvloed, so nie gedurende die oerknal of binne-in ‘n swart gat nie)
  • Iets wat aandui dat ‘n godsdienstige teks of individu oor kennis beskik wat mense nie self sou kon uitdink of uitvind nie
  • Iets wat aandui dat een godsdiens beter werk as die res, bv ware profesieë, ‘n meer vreedsame samelewing of meer morele lidmate
  • Iets wat aandui dat almal wat nie aan een spesifieke godsdiens behoort nie, daardeur benadeel word (op ‘n manier wat nie aan ander mense kan toegeskryf word nie)

Daar kan natuurlik baie ander maniere wees om dit te demonstreer. 

[Jy vra:]

Wat is dit van die Christelike geloof as sulks wat mense noop om besluite te neem op grond van onbetroubare inligting?

Soos ek reeds verduidelik het: ek glo nie in enige god nie.  Die rede daarvoor is dat ek geen goeie rede kan vind om in ‘n god te glo nie, en baie redes het om nié te glo nie.  Ek is dus van mening dat daar nie goeie redes is om in ‘n god te glo nie.  Dit beteken dat ek van mening is dat gelowiges óf oneerlik is daaroor dat hulle glo, óf glo as gevolg van onbetroubare inligting, bv subjektiewe geloofservaring, vals inligting i.t.v die geskiedenis of blinde vertroue in leiers se outoriteit.

Ek hoop jy verstaan dat dié kritiek nie spesifiek gemik is op die Christelike geloof nie.  Ek het dieselfde opinie oor alle godsdiens, bygeloof en pseudoscience.

[Jy vra:] 

Watter groot probleme in die wêreld bied die Christelike geloof nie oplossings voor nie en waarvoor dit oplossings behóórt te bied?

Ek dink nie dit behoort oplossings te bied nie.  Ek dink dit is onverantwoordelik om mense aan te moedig om dinge “uit ‘n Christelike perspektief” te benader, want terwyl dit moontlik is om voordeel te trek uit tweeduisend jaar se filosofiese denke sal ‘n “Christelike perspektief” altyd ‘n ongegronde aanname (dat God bestaan) in ag neem, wat mense in ‘n foutiewe rigting kan laat dink.

Ek het reeds klimaatverandering genoem as ‘n voorbeeld van ‘n probleem waarvoor daar geen raad is in die Bybel nie, en een wat moontlik vererger word deur mense aan te moedig om “skatte in die hemel” te vergader, eerder as om ernstig oor die planeet se toekoms te dink.

[Jy vra:] 

Wat is dit wat die Christelike geloof spesifiek leer wat slawerny en Apartheid regverdig en wat vrouens, gays of enigiemand anders se regte ontken? (Terloops, dis presies op hierdie punt dat verantwoordelike eksegese ʼn belangrike rol speel, want enigiemand kan die Bybel op ʼn bepaalde manier misbruik om sy eie agenda of ideologie te steun.)

Ek stem saam!  Enigiemand kán die Bybel misbruik vir sy eie ideologie.  Dit is hoekom dit nie verantwoordelik is om jou ideologie op die Bybel te baseer nie.  Gebruik liewer feite.  Gebruik liewer navorsing.  Gebruik liewer die werk wat ander mense reeds gedoen het en bou daarop.  Hou in gedagte dat hulle verkeerd kan wees, en vra jouself of jy oortuig is.  En as jy nie is nie, demonstreer hoekom jy reg is.  As jy nie kan nie, probeer harder om te verstaan hoe hulle by hulle oortuigings uitgekom het.

[Jy sê:] 

“Dogmatiese skeptisisme” verwys daarna dat iemand so oortuig is dat hy nie iets oor sekere dinge kan weet nie, dat hy geen teëspraak duld nie.

Ek verwelkom teëspraak.  As ek dit nie kon duld nie, sou ek nooit jou epos geantwoord het nie.  Wat ek nie sal doen nie, is om stil te bly as ek iets hoor wat ek dink vals en skadelik is.  Ek verstaan dus steeds nie hoekom jy dié frase gebruik om my te bskryf nie.  Sou dit meer akkuraat wees om te sê ek stem nie saam met jou nie?

[Ek het gesê:] “Ek weet dat ons in hierdie huidige wêreld bestaan.  Ek weet nie of daar nog ‘n wêreld sal wees nadat ek sterf nie.”

[Waarop jy reageer:]

Vergelyk jou laasgenoemde sin (wat bloot maar op agnostisisme dui) met wat jy voorheen geskryf het, dan sal jy verstaan waarom ek verwys het na dogmatiese skeptisisme: “hierdie wêreld is die enigste een wat ons verseker kan weet ons ooit sal hê” As jy verseker weet hierdie wêreld is die enigste een wat ons ooit sal hê, hoe is jy dan werklik oop vir ander moontlikhede en is verdere gesprek hieroor dan werklik sinvol? Terloops, hoe weet jy dat hierdie wêreld die enigste een is wat ons verseker kan weet ons ooit sal hê? M.a.w. wat is dit van hierdie wêreld wat maak dat ons verseker kan weet dat ons nooit ʼn ander sal hê nie?

Dit was nooit my bedoeling om te sê “Ons weet verseker dat hierdie wêreld die enigste een is wat ons ooit sal hê” nie.

Ek kon miskien dit duideliker gestel het in die eerste plek, maar ek is ook nie oortuig dat my oorspronklike frasering regtig só gelees kon word nie.  Dit gesê, daar is nie enige goeie rede om te dink dat individuele mense in enige sin bly bestaan na hulle dood nie.

[Jy skryf:]

Ek verstaan jou motivering. Daar is baie dinge wat die wêreld ʼn beter plek maak, maar dit sluit nie die Christelike geloof daarby uit nie. Die Christelike geloof is ook nie iets waarvoor daar geen getuienis is nie.

Die feit dat die Christelike geloof bestaan beteken nie dat dit op enige waarheid gebaseer is nie.  Dit is heeltemal moontlik vir godsdiensbewegings om te onstaan en te groei sonder dat die god wat aanbid word ooit bestaan het.

[Jy skryf:]

Dis inderdaad my onmiddellike ervaring van God wat die beste begronding is vir my oortuiging dat God bestaan. My onmiddellike ervaring van God lê op dieselfde vlak as my onmiddellike ervaring dat ʼn spesifieke sonsondergang of melodie baie mooi is, of my morele ervaring dat dit verkeerd is om my kat te martel, of my geheue-ervaring dat ek eiers gehad het vir ontbyt, of my verstandservarings dat ek nou aan ʼn pienk olifant dink of in pyn is of dat dit waar is dat ʼn stelling nie op dieselfde tyd en op dieselfde manier beide waar en vals kan wees nie, of my emosionele ervaring dat ek hartseer is. Ek ervaar al hierdie dinge op ʼn manier wat op ʼn totaal subjektiewe vlak lê, maar wat ek geen rede het om te betwyfel dat dit terselfdertyd ook ʼn objektiewe werklikheid verteenwoordig nie. My ervaring van God is soortgelyk aan hierdie ervarings. Dis ʼn ervaring wat nie gereduseer kan word tot iets anders of ander redes nie – dis onmiddellike en direkte ervaring.

Het jy al ooit ‘n subjektiewe ervaring gehad waaroor jy seker gevoel het en later ontdek het dat jy verkeerd was?  As jy sou verkeerd wees oor God se bestaan, hoe sou jy te werk gaan om dit uit te vind?

[Jy skryf:]

Daar is egter ook ʼn hordes aktiwiteite wat my onmiddellike ervaring van God beklemtoon en versterk, en inhoud gee aan my verhouding met God wat daardeur oor baie jare geslyp en gevorm is. Soos wanneer ek met die Bybel worstel omdat God daardeur aan die woord is, of wanneer ek die doel nastreef waarvoor God my gemaak het, wanneer ek ander mense liefhet, wanneer ander my liefhet, wanneer ek my vermoëns, talente en gawes gebruik en ontwikkel tot voordeel van ander, wanneer ek ʼn rentmeester is van die hulpbronne tot my beskikking tot voordeel van ander, ensovoorts. (Terloops, om hierdie aktiwiteite te versuim of in ʼn selfdienende of arbitrêre konteks te plaas is om jou ervaring van God te verklein, of dalk selfs te onderdruk of te ontken.)

Addisioneel tot my onmiddellike ervaring en verhouding met God is daar ook ʼn klomp aspekte van hierdie wêreld wat om verduideliking vra en wat ek dink beter verduidelik word as God bestaan as wanneer Hy nie sou bestaan nie. Die bestaan van God as “inference to the best explanation” bied dus addisionele regverdiging vir my oortuiging dat God bestaan.

Het jy regtig eerlik die twee teorieë teen mekaar gemeet?  Ek wil nie nou hier in te veel detail ingaan oor iets wat ander mense beter as ek uitdruk nie, maar as jy tyd het sou dit dalk nuttig wees om na Sean Carroll se praatjie God is not a good theory te luister.  Ek sal graag wil hoor wat jy daarvan dink.  

Groete

Apostaat

 

Hallo Apostaat

Jy skryf:

Alles wat ons weet oor chemie, oor fisika, oor biologie, oor kosmologie dui daarop dat die heelal volgens natuurwette bestaan.  Self antropologie en sielkunde lewer geen bewyse dat geloof in ‘n god of enige ander tipe bonatuurlik mag geregverdig is nie.  Dit is wat ek bedoel met “daar is geen bewyse” vir die bonatuurlike nie.

Hoe sou die feit dat die heelal volgens natuurwette funksioneer die bestaan van God ondermyn? En wat is dit van die antropologie en sielkunde wat geloof in God ongegrond maak?

Bewyse vir die bonatuurlike sou kon insluit:

  • Iets wees wat demonstreer dat ‘n mens na sy dood steeds kan bestaan in terme van ‘n identiteit en geheue

Ek herinner my aan iemand wat presies so ʼn demonstrasie geëis het en hoe hy toe daarop gereageer het (sien Johannes 20:24-29). Uit wat jy al geskryf het, weet ek natuurlik dat jy die historisiteit van wat twee duisend jaar gelede in die Nuwe Testament opgeteken is bevraagteken. So kom ons gesels daaroor: hier is iets (Jesus se opstanding) wat met die eerste oogopslag presies aan jou kriteria voldoen. Hierdie gebeurtenis was verantwoordelik dat ʼn klein groepie vreesbevange en teleurgestelde mense (wie se Messias doodgemaak is) skielik so oortuig geraak het van wat hulle gesien en gehoor het, dat hulle oornag in vreeslose en selfversekerde draers van ʼn bepaalde boodskap geword het en almal hulle lewens op die ou end daarvoor gegee het. Waarom het Jesus se opstanding egter volgens jou nooit gebeur nie en waarom is die getuienis daaroor onbetroubaar?  (Sien bv. hier.)

  • Iets wat aandui dat gebed ‘n effek het

Wil jy hiermee impliseer dat alle getuienis van almal wat al daaroor getuig het, aandui dat hulle hulleself mislei het of laat mislei het, of dalk selfs bloot gelieg het, oor die effek van gebed in hul lewens?? Hoe weet jy dat gebed (kommunikasie tussen mens en God) vir niemand nog ooit werklik enige effek gehad het nie?

  • Iets wat aandui dat die natuurwette nie altyd van toepassing is nie (op ‘n vlak waar dit mense se lewens kan beïnvloed, so nie gedurende die oerknal of binne-in ‘n swart gat nie)

Jy verwys natuurlik na die idee van wonderwerke. Ek sou ʼn wonderwerk egter nie definieer as omstandighede waar natuurwette nie van toepassing is nie. Ek sou ʼn wonderwerk definieer as omstandighede waar ʼn verwagte uitkoms beïnvloed word deur die invloed van ʼn eksterne faktor – d.i. God se handeling. Dink so daaraan. Die verwagte uitkoms as ʼn glas uit my hande glip is dat dit op die harde vloer onder my gaan stukkend val (volgens die wet van gravitasiekrag). As iemand met goeie reflekse wat naby my staan egter die glas kan vang, dan word die verwagte uitkoms verander deur ʼn eksterne faktor. Die enigste manier om die konsep van ʼn wonderwerk te ontken is dus om te ontken dat daar iemand soos God kan bestaan wat as die eksterne faktor sou dien wat op natuurwette kan inwerk om ʼn ander uitkoms teweeg te bring.

Dit net terloops. Want my vraag aan jou is dieselfde as oor die effek van gebed. Wil jy hiermee impliseer dat alle getuienis van almal wat al daaroor getuig het, aandui dat hulle hulleself mislei het of laat mislei het, of dalk selfs bloot gelieg het, oor hul ervaring van ʼn wonderwerk?? Hoe weet jy dat niemand nog ooit werklik enige wonderwerke ervaar het nie?

  • Iets wat aandui dat ‘n godsdienstige teks of individu oor kennis beskik wat mense nie self sou kon uitdink of uitvind nie

Natuurlik kan mense allerlei kreatiewe goed uitdink onder die vaandel van “godsdiens”. Die vraag is nie of iemand iets kan uitdink nie. Dit gaan oor of iets wáár is.

Daar is verder inderdaad baie dinge wat ons potensieel nie op ons eie kan uitvind nie. Ek noem een voorbeeld. As ons in die Nuwe Testament byvoorbeeld lees dat “Jesus vir ons sonde gesterf het”, dan is dit inderdaad moontlik dat dit iets is wat iemand bloot uitgedink het. Maar, as die stelling “Jesus het vir ons sonde gesterf” ooreenstem met wat werklik die geval is, dan is dit nie iets wat ons andersins sou uitvind as iets wat waar is, behalwe as God dit geopenbaar het nie. Of hoe?

  • Iets wat aandui dat een godsdiens beter werk as die res, bv ware profesieë, ‘n meer vreedsame samelewing of meer morele lidmate

Om te vra dat daar ʼn duidelike aanduiding moet wees vir hoe een godsdiens beter werk as ʼn ander is meer gekompliseerd as wat ʼn mens mag dink, maar ek dink inderdaad dis ʼn goeie kriteria. Tog is daar baie dinge wat ʼn rol kan speel in waarom ʼn spesifieke godsdiens skynbaar nie werk nie.

Die eerste vraag is na wat die spesifieke oortuigings is van ʼn bepaalde godsdiens wat tot bepaalde gedrag sal lei. Is daardie gedrag moreel geregverdig? Indien nie, dan dui dit op ‘n spesifieke godsdiens se interne inkonsekwentheid en werk daardie godsdiens nie op daardie vlak nie.

Tog is daar ander faktore wat ʼn rol kan speel by waarom dit soms kan lyk asof ʼn bepaalde godsdiens, as dit inderdaad intern konsekwent is, skynbaar nie werk nie.

So byvoorbeeld is die sentrale boodskap van die Christelike geloof dat God die mens tot ʼn verhouding met Hom roep en hoe Hy dit moontlik gemaak het (uit liefde en genade). Die aanspraak en verwagting is, inherent tot die boodskap van die Christelike geloof, dat die effek om tot so ‘n verhouding met God toe te tree, tot ʼn nuwe identiteit en ʼn nuwe lewe sal lei, ʼn identiteit en lewe wat gemotiveer word deur die identiteit, karakter, voorbeeld en optrede van Jesus.

Wat is die faktore wat egter kan inmeng in hoe Christene hul oortuigings uitleef? Eerstens moet gesê word dat nie almal wat hulleself Christene noem werklik Christene is nie (in byna enige groepering van mense rondom ʼn saak is daar ʼn persentasie nominale verteenwoordigers). Tweedens verwaarloos baie mense wat wel Christene is hul verhouding met God en dus hul identiteit en die dinge wat tot hul nuwe lewe hoort. Derdens veronderstel ʼn nuwe lewe en identiteit in Christus nie dat enige Christen kan aanspraak maak op morele perfeksie nie. Christenskap het te doen met toewyding aan ʼn proses van groei, wat beteken dat morele mislukking steeds, ten spyte van groei en vordering op die pad na geestelike volwassenheid, soms sal manifesteer.

Die interne konsekwentheid van die Christelike geloof, sowel as die getuienis oor die verandering in baie mense se lewens sowel as samelewingsveranderings (ek dink aan William Wilberforce, Martin Luther King, Moeder Teresa, Beyers Naude, ens.) is daarom nie onbeduidend vir die feit dat die Christelike geloof werk en direk voortvloei uit die Christelike boodskap nie. Dat daar voorbeelde is waar dit skynbaar nie werk nie, het dit te doen met ʼn kombinasie van die faktore wat ek reeds genoem het, en word soms verder gekompliseer deur die effek van aktiewe weerstand by mense wat die Christelike geloof vir watter rede ook al teë staan.

Is ek oortuig dat die Christelike geloof beter werk as enige ander? Ja, inderdaad, maar ek is nie naïef oor die faktore wat ʼn rol speel om so ʼn persepsie te ondermyn nie.

Terloops, hoe begrond jy die standaard waaraan iets moet voldoen waarvan dit gesê kan word dat dit “beter” werk? M.a.w. wat maak ʼn “vreedsame samelewing” beter is as enige ander? Wat maak iets moreel? Wat maak dat ʼn mens van iemand se optrede kan sê, “Dis reg” of “Dis verkeerd”? Wat is die standaard waarteen jy “reg” en “verkeerd” meet?

(Jy noem ook van “ware profesie”. Jy dink daar is geen betroubare voorbeelde van sulke profesie in die Bybel nie. Maar voorbeelde moet maar op meriete ondersoek word.)

  • Iets wat aandui dat almal wat nie aan een spesifieke godsdiens behoort nie, daardeur benadeel word (op ‘n manier wat nie aan ander mense kan toegeskryf word nie)

Die vraag na die waarheid van die Christelike geloof is natuurlik opsigself ʼn aanduiding daarvan of ʼn mens benadeel gaan word deur dit te aanvaar of nie. M.a.w. om enigiets as vals te beskou wat waar is, is tot jou nadeel. Die lewe is vol voorbeelde van mense wat dinge vir hulleself regverdig en rasionaliseer sodat hulle iets wat vir julle goed sou wees eintlik as nadelig beskou. So hierdie kriteria is direk gekoppel aan bepaalde waarheidsaansprake wat tot bepaalde optrede sal lei.

Daar kan natuurlik baie ander maniere wees om dit te demonstreer. 

Inderdaad, en al die dinge wat jy reeds hier genoem het, sou juis ‘n bepaalde aanduiding kon wees van die bonatuurlike.

Soos ek reeds verduidelik het: ek glo nie in enige god nie.  Die rede daarvoor is dat ek geen goeie rede kan vind om in ‘n god te glo nie, en baie redes het om nié te glo nie.  Ek is dus van mening dat daar nie goeie redes is om in ‘n god te glo nie.  Dit beteken dat ek van mening is dat gelowiges óf oneerlik is daaroor dat hulle glo, óf glo as gevolg van onbetroubare inligting, bv subjektiewe geloofservaring, vals inligting i.t.v die geskiedenis of blinde vertoue in leiers se outoriteit.

So watter van die redes waarna ek in Is God real? verwys het, dink jy is gebaseer op moontlike oneerlikheid, onbetroubare inligting, subjektiewe ervaring, valse inligting of blinde vertroue in leiers se outoriteit? Kom ons gesels details.

En wat is van jou baie redes om nie in ʼn god te glo nie?

Ek hoop jy verstaan dat dié kritiek nie spesifiek gemik is op die Christelike geloof nie.  Ek het dieselfde opinie oor alle godsdiens, bygeloof en pseudoscience.

Ek verstaan dit. Die probleem is dat jy met die implisiete voorveronderstelling werk dat alle gelowe dieselfde tipe ongesubstansieerde aansprake maak en dan stel jy dit nog boonop gelyk met bygeloof en pseudoscience. Maar jy kan dit nie maar net aanneem nie, jy moet dit demonstreer. Ek fokus spesifiek op die aansprake van die Christelike geloof; die waarheid in aansprake van ander gelowe, in sover dit van die Christelike geloof verskil, is mos ʼn heeltemal aparte vraag.

Ek dink nie dit behoort oplossings te bied nie.  Ek dink dit is onverantwoordelik om mense aan te moedig om dinge “uit ‘n Christelike perspektief” te benader, want terwyl dit moontlik is om voordeel te trek uit tweeduisend jaar se filosofiese denke sal ‘n “Christelike perspektief” altyd ‘n ongegronde aanname (dat God bestaan) in ag neem, wat mense in ‘n foutiewe rigting kan laat dink.

Apostaat, ek verwys weer na Is God real? Watter van die redes wat daar genoem word is voorbeelde van “ʼn ongegronde aanname dat God bestaan”?

Jy het die aanspraak gemaak dat die Christelike geloof geen oplossings bied vir die groot probleme in die wêreld nie. Ek wou bloot weet na watter probleme jy verwys? Dankie, jy het één genoem: klimaatsverandering (sien onder). Nog ander?

Ek het reeds klimaatverandering genoem as ‘n voorbeeld van ‘n probleem waarvoor daar geen raad is in die Bybel nie, en een wat moontlik vererger word deur mense aan te moedig om “skatte in die hemel” te vergader, eerder as om ernstig oor die planeet se toekoms te dink.

Dis redelik om te verwag dat iemand wat homself eens op ʼn tyd as ʼn Christen geïdentifiseer het, darem die heel basiese sou verstaan van waaroor sy eie geloof gegaan het. So, en ek sal graag jou antwoord wil hoor, wat is jou verstaan van die bedoeling en boodskap van die Bybel as geheel?

Die Bybel is natuurlike nie ʼn ensiklopedie vir inligting oor alles en nog wat nie (Sean Carroll se suggestie in hierdie rigting ten spyt) en gee ook nie voor om dit te wees nie. ʼn Mens kan nie van die Bybel iets maak wat dit nie bedoel was om te wees nie. Klimaatsverandering soos ʼn magdom ander kwessies is eenvoudig nie op die agenda in die Bybel nie en daarom is daar nie spesifieke toeligting daaroor nie. Tog is daar meestal afleibare beginsels wat sou geld wanneer spesifieke kwessies ter sprake is.

Neem klimaatsverandering as voorbeeld. Reeds so vroeg as die verhaal in Genesis 1 kry ʼn mens stof tot nadenke wat hier relevant is. As God alles wat hy geskep het as goed verklaar het en as Hy die mens dan ʼn opdrag gee om daaroor te heers, dan maak dit die mens tog verantwoordelik vir dit wat God goed gemaak het. Op grond hiervan alleen is dit nie moeilik om te sien waarom ʼn Christen besorg sou wees oor die vermybare faktore wat tot klimaatsverandering, en die vernietiging wat daarmee gepaard gaan, lei nie.

Wat dink jy, en probeer gerus maar eksegeties verantwoordelik wees, beteken dit om “skatte in die hemel bymekaar te maak”? Verduidelik dan ook gerus hoe hierdie idee in opposisie staan met ʼn besorgdheid oor die aarde se toekoms. Ek sien uit om van jou te hoor.

Ek stem saam!  Enigiemand kán die Bybel misbruik vir sy eie ideologie.  Dit is hoekom dit nie verantwoordelik is om jou ideologie op die Bybel te baseer nie.  Gebruik liewer feite.  Gebruik liewer navorsing.  Gebruik liewer die werk wat ander mense reeds gedoen het en bou daarop.  Hou in gedagte dat hulle verkeerd kan wees, en vra jouself of jy oortuig is.  En as jy nie is nie, demonstreer hoekom jy reg is.  As jy nie kan nie, probeer harder om te verstaan hoe hulle by hulle oortuigings uitgekom het.

Nee, jy sit die pot mis. Om die Bybel te misbruik, beteken om die werklike betekenis en bedoeling daarvan te verdraai vir jou eie gewin. En dit is presies wat baie mense doen met ʼn bepaalde vooropgestelde ideologie, maar wat geen belang het by hoe ʼn mens te werk gaan om enige teks verantwoordelik te interpreteer nie. Die vraag oor of die Bybel met valsheid te doen het, is ʼn aparte vraag. Dit help tog nie om te sê dat die Bybel vals is as dit duidelik is dat iemand nie die moeite gedoen het om werklik te probeer verstaan wat dit werklik wil sê nie. Of hoe?

Ek verwelkom teëspraak.  As ek dit nie kon duld nie, sou ek nooit jou epos geantwoord het nie.  Wat ek nie sal doen nie, is om stil te bly as ek iets hoor wat ek dink vals en skadelik is.  Ek verstaan dus steeds nie hoekom jy dié frase gebruik om my te bskryf nie.  Sou dit meer akkuraat wees om te sê ek stem nie saam met jou nie?

Die manier waarop ʼn mens kommunikeer kan ʼn aanduiding wees van dogmatiese skeptisisme. Ek is bly om te hoor jy verwelkom teëspraak en ek het al in my eerste e-pos aangedui dat ek wel dink dat ons ʼn goeie gesprek kan hê. Ek het egter ook gesê dat ek oplet na sekere dinge in mense se skrywes wat dui op dogmatiese skeptisisme wat suksesvolle gesprek belemmer. Ek het bloot een voorbeeld daarvan aan jou uitgewys, of jy dit nou so bedoel het of nie.

Dit was nooit my bedoeling om te sê “Ons weet verseker dat hierdie wêreld die enigste een is wat ons ooit sal hê” nie.

Ek kon miskien dit duideliker gestel het in die eerste plek, maar ek is ook nie oortuig dat my oorspronklike frasering regtig só gelees kon word nie.  Dit gesê, daar is nie enige goeie rede om te dink dat individuele mense in enige sin bly bestaan na hulle dood nie.

Ek verstaan dat ʼn mens partykeer iets sê wat jy nie so bedoel het nie. Maar vanuit ʼn analitiese en semantiese oogpunt het woorde bepaalde implikasies. Jou twee sinne beteken beslis nie dieselfde nie, en daar is ʼn reuse verskil tussen agnosties wees oor iets (ek weet nie dat X nie) en dogmaties skepties (ek weet verseker dat ek nooit iets van X sal weet nie) daaroor.

Ek aanvaar dus dat jy nie tans goeie rede het om te dink dat daar lewe na die dood is nie, en dat jy oop is vir die getuienis wat moontlik wel as goeie rede kan dien?

Die feit dat die Christelike geloof bestaan beteken nie dat dit op enige waarheid gebaseer is nie.  Dit is heeltemal moontlik vir godsdiensbewegings om te onstaan en te groei sonder dat die god wat aanbid word ooit bestaan het.

Die feit dat die Christelike geloof bestaan beteken ook nie dat dit op valsheid gebaseer is nie. Want dis heeltemal moontlik dat ateïste geen rede kan sien dat God bestaan nie (veral as God nie ʼn materiële entiteit is nie), en dat God steeds bestaan. Of hoe?

Inderdaad, die feit dat mense in God glo (en selfs wáár hulle aan hulle geloof kom) is nie opsigself ʼn aanduiding dat Hy werklik bestaan nie – maar ook nie dat hy nie bestaan nie. Die vraag is na wat ons redelik kan verwag om van God te wete te kom, indien hy wel bestaan.

Het jy al ooit ‘n subjektiewe ervaring gehad waaroor jy seker gevoel het en later ontdek het dat jy verkeerd was?  As jy sou verkeerd wees oor God se bestaan, hoe sou jy te werk gaan om dit uit te vind?

Ja, om seker te voel oor iets en later te ontdek jy was verkeerd, is deel van almal se ervaring. Hoe sou ek te werk gaan om uit te vind of ek verkeerd is oor my onmiddellike ervaring van God? Die oorwig van getuienis (evidence), natuurlik. Soos met enige van die ander voorbeelde van onmiddellike ervaring wat ek genoem het, is dit die getuienis wat op die teendeel wys wat my sal oortuig dat my ervaring ongegrond is en daarom ʼn illusie is van een of ander aard.

Jy mag dalk dink dat ek geïnteresseerd is in ʼn naïewe tipe apologetiek waarin ek bloot probeer verdedig wat ek lankal reeds vas glo. Maar dis eenvoudig nie waar nie. Ek stel intens belang in wat werklik waar sou wees en maak daarom erns met dit wat op die teendeel sou kon dui.

Het jy regtig eerlik die twee teorieë teen mekaar gemeet?  Ek wil nie nou hier in te veel detail ingaan oor iets wat ander mense beter as ek uitdruk nie, maar as jy tyd het sou dit dalk nuttig wees om na Sean Carroll se praatjie God is not a good theory te luister.  Ek sal graag wil hoor wat jy daarvan dink.  

Watse “twee teorieë” praat jy van?

En probeer maar gerus die detail verstaan van wat ander mense sê – jy wil tog nie skuldig wees aan blinde vertroue in iemand se outoriteit nie. So kom ons gesels details: wat is dit van wat Sean Carroll in sy lesing gesê het wat die redes vir God se bestaan soos waarna ek in Is God real? verwys het, ondermyn?

Groete

Udo

 

(NS: Apostaat kies om nie verder aan ons e-pos gesprek deel te neem nie, maar plaas die volgende op sy Facebook-blad:

“Ken jy iemand wat sê dat God die beste verduideliking is wat ons het vir die heelal? Dit is gewoonlik nie die rede hoekom iemand in God glo nie, maar eerder ‘n regverdiging wat hulle later uitdink en dan sonder veel navorsing verkondig. In hierdie video verduidelik Sean Carroll in eenvoudige taal hoekom God nie ‘n goeie teorie is nie.”

Vir my reaksie hierop en ons voortgaande gesprek, sien hier.)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.