Die god-van-die-gapings

(ʼn Gesprek op Facebook)

Apostaat: Ek is verbaas oor hoe baie mense nog die god-van-die-gapings argument voorsit asof dit iets bewys. Hier verduidelik Neil Degrasse Tyson bondig hoekom dit ‘n probleem is. Sien https://www.facebook.com/therealskepticus/videos/557214244481169/

Udo: Inderdaad, ‘n gebrek aan ʼn wetenskaplike verduideliking vir iets is nie bewys dat God dit gedoen het nie. Terselfdertyd word nie alles wat om verduideliking vra, deur die wetenskap verduidelik nie. Sien ook http://www.reasonablefaith.org/god-of-the-gaps

Apostaat: *nog nie

Udo: Nee, in beginsel.

Apostaat: Hoe weet jy dit?

Udo: Nie alle kennis is wetenskaplike kennis nie.

Apostaat: Hoe sou ‘n mens te werk gaan om uit te vind of daardie stelling nie dalk ook vir God in ‘n gaping plaas nie?

Udo: My stelling het niks met God te doen nie. Dit is ‘n filsosfiese stelling wat op die aard van kennis dui. Die vraag is dus eerder: Kan die stelling, “Slegs die wetenskap bied ware kennis” wetenskaplik bewys word?

Apostaat: Ek kan seker kies watter vrae ek wil vra, nè? My punt is dit:
1. Nie alle kennis is wetenskaplike kennis nie.
2. Kennis oor God is nie wetenskaplike kennis nie.
3. Dus is kennis oor God nie toetsbaar nie.
4. Ons vind meer uit oor alles waaroor daar wetenskaplike kennis moontlik is.
5. Ons kan nie toets of ons enigiets nuuts uitgevind het oor die nie-wetenskaplike kennis nie.
6. Proposioneel raak kennis oor God kleiner mettertyd.

Udo: Kom ek probeer weer. My antwoord op jou vraag het te doen gehad met die aard van kennis en die punt van my weervraag was bloot om daarvan as demonstrasie te dien. Die waarheid van die stelling plaas God nêrens in ʼn gaping nie; jou vraag is daarom eenvoudig misplaas.

Kom ons kyk na die stellings wat jy maak:

  1. “Nie alle kennis is wetenskaplike kennis nie.” Korrek.
  2. “Kennis oor God is nie wetenskaplike kennis nie.” Korrek.
  3. “Dus is kennis oor God nie toetsbaar nie.” Ja, kennis van God is nie wetenskaplik toetsbaar nie, want God is nie ʼn wetenskaplik toetsbare entiteit nie.
  4. “Ons vind meer uit oor alles waaroor daar wetenskaplike kennis moontlik is.” Korrek, maar daar is meer kennis as wat net deur die wetenskap uitgevind kan word.
  5. “Ons kan nie toets of ons enigiets nuuts uitgevind het oor die nie-wetenskaplike kennis nie.” Wat jy hier bevestig is die beperking van die wetenskapsmetodologie, m.a.w. dat dit nie kan uitspraak lewer oor kennis in nie-wetenskaplike velde nie. Weer eens, nie alle kennis is wetenskaplike kennis nie en nie alle kennis word verkry deur die metodologie van die wetenskap nie. Ander velde (bv. histories, juridies, eties, metafisies, wiskundig/logies, ens.) het almal hul eie ondersoekmetodes maar wat met wetenskaplike toetsbaarheid niks te doen het nie.
  6. “Proposioneel raak kennis oor God kleiner mettertyd.” As ek met jou saamstem, soos ek reeds aangedui het (het jy ooit die artikel gelees waarna ek verwys het?), dat God nie in die gapings van wetenskaplike kennis te vinde is nie, waar en hoe raak kennis van God kleiner? Nie een van jou stellings 1 – 5 regverdig hierdie uitspraak nie. So verduidelik gerus.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.